15 Julie 2015. Woensdag.
Volgens
die Griekse Mitologie het Poseidon uit woede ’n rots vanuit Kos gegooi om die
reus, Polyvotis, dood te maak. So is die vulkaniese eiland, Nisyros, gevorm. Die
asem en die wasem en die kreune van die reus is tot vandag nog hoorbaar in die
vulkaan. Dis eintlik Polyvotis wat ons hoor blaas en lawaai.
Om
8:00 saal ons die bromponie, Berty, op en daar trek ons na die vulkaan. Ons
gaan vroeg voordat die busvragte vol toeriste daar kom. Hulle kom 11:00 met met
verskillende ekskursie bote. Ou Berty sukkel die bult op, maar ons kom bo-uit.
Hy het eintlik nogal baie krag vir sy grootte, of eintlik kleinte. Toe ry ons
weer rem-rem af na die krater. Ek hou styf vas en wys Archie op al die gate en
draaie en maan hom om spoed te verminder om die baie skerp draaie. So asof hy
blind is! ’n Regte back seat driver!
 |
Berty die bromponie |
Die
vulkaan is Nisyros se bekendse besienswaardigheid. En die krater, Stefanos is ’n
argeologiese juweel. Die geel sulfur kristalle skitter in die son. Die stoom en
die gasse laat Stefanos na pure krater ruik. Die ou reus, Polyvotis laat die
aarde borrel en sis en stoom. Moenie aan die stoom probeer raak nie, dit brand
en daarvan kan Archie getuig. Sy hand is deur ’n vulkaan gebrand.
 |
Sally en ek |
 |
Vulkaan landskap |
Ou
Berty, die bromponie staan en wag vir ons. Ek sug en sit my helmet op, spring
agterop en daar trek ons. Dis nou nie die tipe motorfiets waar die pop agterop die
fiets sit en haar g-string loer bo haar jean uit nie. Nee, dit die tipe fiets waar
jy hoop en bid hy kom die moerse opdraende uit.
Volgende
op ons lys is ’n dorpie met die naam, Nikia. Dis die gewildste dorpie in
Nisyros. Dit lê hoog in die berge. Die wind waai kwaai en Berty ruk soms so
saam met Gus. Gelukkig bestuur Archie met ’n ferm hand en met al my raadgewings
kom ons veilig bo.
Ons
loop in die straatjies en kyk na die mooi deure en vensters van die huise. Dis weer
amper soos Mykonos. Hier en daar lê ’n lui kat op ’n trap, so asof daar niks verkeerd
is met Griekeland se ekonomie nie.
 |
Nikia |
 |
Ingang |
Berty
neem ons na die volgende dorpie met die naam Emporeios. Die dorpie is bekend
vir ’n natuurlike sauna wat ’n bewys is van die intense vulkaniese aktiwiteit
op die eiland. Magtig, maar dis warm daar binne. Ek verrooi en verkool amper en
dadelik is ek papnat gesweet.
 |
Natuurlike sauna |
Die
dorpie is tipies van die Griekse klein dorpies. Nou straatjies, stegies en
katte. Oral kry ons die reuke van die Griekse mammas wat besig is om te kook.
Ons is ongelukkig nie genooi nie en ons vat toe maar weer die pad.
Die
roete na Mandraki is soms vol wind en ons moet ons sit ken om bo te bly. Ons is
warm en droog en gaan drink ’n lafenis by ’n straatkafee. Ons verken weer vir
Mandraki, want gisteraand was ons net vir ’n kort rukkie daar. Iemand is besig
om seekat uit te droog. Dis seker Griekse biltong.
 |
Griekse biltong |
Toe
is dit tyd vir die laaste skof met Berty terug huis toe. Teen die tyd is ek al
gewoond aan die grassnyer geraas en is ook nie meer benoud nie. Ons kom veilig
tuis na ’n interessante dag van baie opwinding.
Ons
het vanaand ’n ete afspraak saam met Henry, Sally en John. Hulle het ’n kar
gehuur en ons gaan almal vanaand met die karretjie na ’n klein eetplekkie in die
buurdorp, Loutra. Ons almal is pragtig opgetert en reg vir die aand se kuier.
Ons
eet en lag en skerts Ons eet “pork in the oven” en ander mezes. Ons drink
yskoue witwyn en dit word ’n aand om te onthou saam met vriende op ’n verre
eiland in Griekeland.
 |
Archie, John, Sally and Henry |
No comments:
Post a Comment