Monday, June 15, 2015

Tersane Creek.



 13 Junie 2015, Saterdag.


Göcek tot Tersane Creek

Ons het al weer die voorreg om die swartwatertenk uit te pomp. Ons meer alongside vas en die pompman pomp. En leeg is die tenk.

Ons gaan eers na Yassica Adalari, maar is dit ’n malhuis!? Gulets, bote en alles wat op die water vaar is by die plek. Dan is dit nog boonop Saterdag. Ons sien nie kans vir die plesiersoekers nie.

Op pad na Yassica Adalari


Ons kies toe maar die hasepad na Tersane Adasi en bekyk die plek. Ons keuse val op Tersane Creek, 36°40.523 N, 28°54.853 O, 8 myl vanaf Göcek. 

Tersane Creek


Ons gryp ’n boei, maar dit is naby die land. Te naby na my smaak. Archie ontdek nog ’n tou by die boei en maak Maja ook daaraan vas. Toe het Archie die eer om die splinternuwe tou land toe te swem. Hy duik in met die 50m tou en maak dit aan die bollard vas. Ek dink dis die naaste aan die land wat ons nog vasgemaak was. Die rotse en klippe is op ons voorstoep.

Splinternuwe tou
Trek splinternuwe tou
  

Ons doen ons daaglikse landwandeling op die eiland. Behalwe vir 'n klein lappie grond van die restaurant is die hele eiland 'n plaas wat wemel van bokke, skape en beeste. Die mense het nou behoorlik ’n gemengde boerdery. 


Eilandplaas


Die restaurant het sy eie jettie. Ons gaan kyk hoe lyk dit by die restaurant en beskou hulle menu. Dis veronderstel om van die beste lamsvleis in die distrik te wees. Ek moet sê, ek weet darem nie so mooi nie.

Restaurant jettie
Tersane Restaurant


Ek dink ons eie persoonlike kokke, nee, ek bedoel gourmet chefs, op Maja, doen veel beter. Die manne kook vanaand en dis net potte en panne, want elke pot en pan waarop hulle beslag kan lê, word vuilgemaak. Dis hope en hope skottelgoed, maar ons gee nie om nie, want is daai kos lekker!

Gourmet chefs


Dis maalvleis en eiervrug, geurig voorberei het ’n tikkie grondboonbotter, knoffel, tamatie en ek weet nie wat alles nie. Dan word daar holtes in die kos gemaak en vir elke persoon ’n eier in die holte gebreek en gaargemaak. My magtig, maar dis lekker!


Gourmet kos


Nog 'n genoeglike dag in die Turkse paradys nader sy einde. 'n Seiljag seil op die horison verby na wie weet waar...

Aandskoot

Göcek.


12 Junie 2015, Vrydag

Boynüs Bükü tot Göcek

 
Vandag gaan ons na die Göcek, 36°44.970 N, 28°56.606 O, 4 myl om te vaar. Ons groet ons Duitse bure aan die stuurboord kant en daar vaar ons, verder in die die Golf van Fethiya. 

Göcek


Göcek is ’n see van maste, ’n maswoud. Die hart en siel van die plek is jagte. Ons probeer eers die Munisipale Marina, maar die antwoord op die radio kom: ”We are full.” Toe probeer ons maar die Didum Marina. Hulle het plek en hulle ontmoet ons by die ingang. Hulle help ons by ’n benoude plek in en Kaptein Archie hanteer dit meesterlik. Almal sit ’n bietjie handjie by en ons is vas.

Göcek is ’n mooi vakansiedorp met pragtige blomme oral. Dis ook die plek waar ons weer voorrade gaan koop, want die manne moet darem nie honger ly nie. Archie swig ook voor die versoeking om ’n lekker lang tou vir “line ashore” te koop en ons lyk omtrent soos pakesels toe ons die terugtog na Maja aanpak. 

Blommedorp
Marina jetttie
Pakesels

Die aand eet ons vars balik (vis) wat ons by die vismark gekoop het en self in ’n pan gebraai het. Dat sukke gesonde kos so lekker kan smaak!




Boynüs Bükü



11 Junie 2015, Donderdag

Sarsala (Pilloried Cove) tot Boynüs Bükü


Wat ’n luilekker lewe. Ons fladder soos vlinders van die een baai tot die volgende cove. Loomwarm dae, vol sonskyn in die Fethiye Körfezi.

Vandag soek ons die volgende baai op, Boynüs Bükü, 36°42.664 N, 28°53.670 O, 5 myl om te vaar. Leon versoek dat ons by die restaurant jettie moet vasmaak, want hulle is lus om die atmosfeer by die restaurant te geniet. As die gaste praat, wie is ons om te stry. So gesê, so gedaan en met vele hande, ligte werk, meer ons maklik vas.

Boynüs Bükü restaurant
Restaurant jettie
Boynüs Bükü Baai


Die bonus is dat ons ’n lekker warm stort ook kan geniet. Dis een van daai storte wat nie stilstaan nie en heeltyd beweeg. Heen en weer.

Ons maak klaar en Leon en Dirk gaan eerste om vir ons ’n tafel te kry. Al die tafeltjies is langs die water gedek. Dit voel of ons op ’n Kaapse wynlandgoed is. Atmosfeer is in oorvloed.

Die kos oortref ons stoutste verwagting. Tot die baie streng kos kritikus, Archie, sing lofliedere oor die smaaklike kos. Leon eet lamtjops, Archie en Dirk bestel “mix grill” wat bestaan uit sappige hoender, lamtjops, kofta en bees. Ek bestel calamari. Dit word bedien met vier mezes en brood. Ons bestel een bottel duur wyn. 



Ek en die manne
Arch en die manne
Ek en Archie


Wat ’n goeie idee van Leon om hier te kom eet!

Thursday, June 11, 2015

Sarsala Köyü. PilloriedCove



10 Junie 2015, Woensdag

Seagull Bay tot Pilloried Cove

'n Vreeslike vriendelike vroutjie kom daar aangejaag op 'n motorboot. En wat het sy op haar boot? Vars brood! En wat soek ons? Brood! En ons koop 'n klein ronde vars brood vir R40. Dis vrekduur, maar as die mans brood wil hê, moet mens seker betaal.

Vrolike broodverkoopster
 

Ons is vandag soos die Sasol advertensie – ons gaan seker nie ver nie. Dis eintlik net 'n hanetreetjie na Pilloried Cove, 36°39.530 N, 28°51.166 , 'n skrale 2.2 myl. Hier in die Fethiya Körfezi is die baaie naby mekaar en almal is mooi. Ons dae is dan kort en daar is baie tyd om die land te gaan verken.

Na ek en Archie se oggendstap en swem is ons gereed vir ontbyt en daarna vertrek ons. Ons kyk na al die ander baaie, soos Ruin Bay en Wall Bay. Oral is jagte en gulets. 

Ruin Bay


Ons vaar net om die draai en daar is Sarsala Köyü. Ons gaan skrop nes in Pilloried Cove. Dis nou ‘n nuwe vasmaakmetode wat die manne glad nie ken nie. Ons gaan 'n boei gryp. Dit werk so – ‘n oranje boei lê op die water. Dit is met ‘n sterk tou aan ‘n konkreetblok wat op die bodem van die see is, vasgemaak. Jy moet dan stadig met jou boot op die boei afpyl en 'n sterk man staan voor op die snoet en gryp die boei met die boothaak. Jy maak dan jou tou aan die boei vas en maak Maja daaraan vas. 
Pilloried Cove


Ek is agter die helm en vaar stadig na die boei. Archie en Dirk staan reg met die boothaak en die tou. Sekuur stop ek by die boei en die manne gryp en haak en maak vas. Leon maak notas in sy kop vir 'n blitsverkoper wat hy wil skryf. Maklik en gou is ons vas. Dis eintlik 'n baie veilige manier van vasmaak. Gus kan maar waai, Maja sal nêrens gaan nie. Later gaan Archie en Leon en sit 'n tweede tou by net vir veiligheid.

Sit tweede tou by


Soos gewoonlik gaan Livingstone en Kie dadelik op ‘n verkenningstog en gaan om die bos te oorwin. Hulle bly lank weg en kom dan oudergewoonte terug met die nuus en inligting oor al die bome en bosse en klippe en paadjies wat in die gebied is.

Ek en Archie gaan ook land toe en stap toe Sarsala staproete. Dis tussen die bome al langs die see en kom uiteindelik by Ruin en Wall Bay uit. Ai, maar dis lekker om te stap. En ons word beloon met die mooiste uitsig oor Skopea Limani en Fethiye Körfezi. Ek sug van genoegdoening oor die mooi wat vir my beskore is. 

Wat 'n voorreg! En die manne sê dieselle.


Stap te lekker
Boom
Skopea Limani
Skopea Limani
Leon en Dirk
Sag en bekoorlik


Ons sit heerlik op Maja en kyk hoe die dag se laaste sonstrale Maja se vriendinne sag en bekoorlik laat lyk.