Saturday, June 6, 2015

Ekinçik. Dirk verjaar.



5 Junie 2015, Vrydag.

Yat Marin tot Ekinçik


Ons vaar vandag uit die marina op die manne se eerste vaart op pad na Ekinçik, 36°49.768 N, 28°33.127 O, 20.6 myl. En dit nogal op Dirk se verjaardag. Die manne lyk lus vir vaar en daar trek ons. Dis nou nadat ons vir Dirk gesing het.

Ons vaar en gesels en die landskap gaan gly by ons verby. Die kaptein is agter die helm en die bemanning sit en babbel op Maja. Leon sien al weer al wat ’n rots en klip is raak en loer mense met die verkyker af. Dirk sit net en waardeer die omgewing en sê net heeltyd hoe gelukkig is hy om hier saam met ons op Maja in Turkye te verjaar. Dis ’n gelukkige groepie wat hier op die blou see vaar. 

Lekker verjaar, Dirk


Ons kom by Ekinçik en ons gooi anker. Leon en Dirk staan rond en slaan alles gade. Die anker byt lekker en dit lyk of die manne ook tevrede is. Ons drink dadelik ons tradisionele koue drankies om die suksesvolle anker te vier en toe wil die manne dorp toe. Wel, Dinkie is vreeslik gewillig om hulle te neem en hulle roei land toe. Hulle verdwyn tussen die bosse en kom heelwat later eers terug. 

Dorp toe
Landelike Turkye


Ek en ou Arch stry eers ’n bietjie oor dit en dat en toe is dit ons beurt dorp toe met Dinkie. Jy sien, Dinkie is te klein vir vier mense. So, net soos wat daar beurtkrag in Suid-Afrika is, is hier beurtgaan in Turkye onder die Maja-bemanning. 

Ekinçik
Marieks en Maja
Terug by Maja


Die skemer daal silwer en sag hier in die baai en ons geniet dit om na die kleure spel van die veranderende lig te kyk.

Dirk verjaar nog steeds alte lekker. Ons vier nie vanaand sy verjaarsdag in ’n fênsie restaurant nie. Nee, sommer op Maja, met tuisgemaakte groenboontjiebredie en slaai. 

Verjaarsdagmaal


Die verjaardag verrigtinge word afgesluit met ’n kadaifi en koffie en tee. 

Kadaifi


Ons gaan slaap die aand knuppeldik en tevrede in Maja wat ’n wiegelied vir ons wieg.

Friday, June 5, 2015

Marmaris-manne.


4 Junie 2015, Donderdag.

Vandag gaan ons brandstof ingooi. Ons marina het nie brandstof nie, so ons moet Netsel Marina toe vaar, want hulle het ’n vulstasie. Hulle is in die dorp van Marmaris. Ons moet ook ons swartwatertenk laat uitpomp, ’n grillerige eerste vir ons.

Netsel Marina
Op pad na Marmaris


Die manne wil natuurlik dorp toe, so ons gaan hulle by Netsel Marina aflaai, sommer by die vulstasie. Ons maak los en vertrek uit Yacht Marin. Ons vaar heerlik tot by Netsel en Archie parkeer maklik. “Maak vol asseblief!” Hulle pomp die swartwater uit en ek kyk weg. Wil nie sien nie. Die Marmaris-manne klim af en gaan dorp toe, terwyl ek en Archie terug na ons marina vaar. 

Vulstasie
Marmaris se riviertjie
Laning


Ons is maar doenig in en om Maja. Ons klim die dolmus, want ons moet vir Leon en Dirk 15:00 by Tansas Supermark in Marmaris kry vir die aankoop van voorrade. En ons koop hoor. ’n Hele trollie vol wat alles in ’n dolmus gelaai word en marina toe aangery word. Swaar dra al aan die eenkant ...

Trollie vol


Nou moet al daai voorrade ’n plekkie in Maja kry. Die yskas is oorvol. Die stoorplek onder die banke in die saloon is tot barstenstoe vol. Die drinkgoed word onder die vloerbord gestoor. En dit alles om daai manne te voed. Honger gaan hulle beslis ook nie lei nie. Dan het Dirk se ouers, Dirk en Louria Luus, ook vir ons biltong en droëwors saamgestuur. En nie bietjie nie! Ek het behoorlik gekraai van plesier toe ek dit sien. “Duisende dankies julle! Dit gaan heerlik wees en ek gaan bietjie daarvan laat 'wegraak' dat Leon en Dirk nie alles moet opeet nie.”

Dirk is doenig


Die manne lê langbeen op die dek. Leon, skrywer van formaat en filmmagnaat (sy boek “Die pro” word ’n fliek wat September vrygestel word), lees ’n boek soos wat dit ’n skrywer betaam. Dirk, plaasjapie van die Vrystaat,  lê net en geniet sy menswees weg van die plaas, rustig en ontspanne. Dis heerlik om hulle hier te hê en ek beloon hul elkeen met ’n soen op die wang. Die kaptein kry ook een.

Thursday, June 4, 2015

Hier is hulle.



3 Junie 2015, Woensdag.

Vandag is die dag. Leon en Dirk kom vandag, 13:30 met ’n bus van Pamukkale. Ek en Archie is gelukkig vroeg by die otogar (busstasie), want die bus is ’n halfuur te vroeg. Was dit lekker om hulle te sien!

Dirk, ek en Leon


Na twee dolmusritte is die manne weer voor Maja se deur. Dis net breë glimlagte van genot en blydskap om hier te wees.

Voor Maja se deur


Hulle koms word gevier deur raki as ’n welkomdrankie en ons eet ligte laat middagete op die dek. Hulle kan nie uitgepraat raak oor alles wat hulle in hul vyf dae se toer in die mooi Turkye gesien en beleef het nie. Ons gesels en lag en daar is skielik oorvloed van lewe op Maja. Dis lekker!

Welkom drankie
Laat middagete

Marmaris.

2 Junie 2015, Dinsdag

Çiftlik tot Yat Marin
Roete tot op datum - Kuşadasi tot Yat Marin
Vandag gaan ons na Marmaris! Dis waar ons vir Leon en Dirk gaan ontmoet vir twee weke se seil saam met ons. Dis ’n grou dag. Die son verseg om op te kom. Daar is ’n mistigheid in die verte. Ek is moeg, want ek het sleg geslaap. Die wind het die nag gewaai en gewaai.

Oggendskoot - Op pad na Marmaris
 

Ons vaar en daar is die baai van Marmaris. Ons gaan na Yacht Marin vir drie nagte. Vandag is dit net skoonmaak en regmaak. Archie moet ook nuwe huisbatterye gaan koop. Ons koop ook ’n stofsuier om Maja te ontstof. Ek was wasgoed, ons suig al wat ’n lapding is, die matrasse en kussings, die gleufies in die vloere. Die stofsuier lyk en klink soos ’n masjiengeweer. Alles moet reg wees vir die manne wat môre kom.

Marmaris Dorp

Monday, June 1, 2015

Çiftlik. Redding Internasionaal.


1 Junie 2015, Maandag

Serçe tot Çeftlik

Ek droom die nag van sementblokke. Van hoe Maja se ketting om en om die blok draai. Dis so ’n deurmekaar droom, ek kan nie onthou wat alles gebeur het nie.

Toe kom die oomblik dat ons vertrek. Archie begin die ketting optrek. Dit gaan goed. Ons kyk waar die blok is, maar kan nie sien nie, want die water beweeg te veel. (Archie trek in die oggende die anker met die hand op vir oefening.). Hy trek nog en sien toe dat die ketting net langs die blok lê. Ons slaak ’n sug van verligting. Ons het baie lig daarvan afgekom. As jou anker vassit, is dit ure se moeilikheid.

Vandag is ’n geskiedkundige dag. Verlede jaar het Archie en Gerrie die swartwatertenk opgekoppel. Swart water is die produkte van die toilet. Dit word nie meer in die see uitgepomp nie, dit vaar nou saam met ons. Vandag moet dit in werking gestel word, want in dié omgewing kontroleer hulle jou blou kaart om te sien of jy die tenk gebruik. Daar is uitpompstasies waar hulle die grillerige besigheid uitpomp en dan jou blou kaart stempel.

Ons vertrek na Çiftlik, 36°43.057 N, 28°14.459 O, 14.2 myl. Dis ons laaste stop voordat ons by Marmaris inklok vir drie nagte. Gus waai liggies van agter af. En Archie span positief die hoofseil en ons seil vir ’n rukkie. Ou Gus wil maar nie saamspeel nie, hy waai te lig en later trek ons die seil weer in. Dis nou een ding van seil – die waai omtrent altyd te lig of te sterk om lekker te seil. Daarom is ’n seiljag se motor so belangrik.

Turkse kuslyn
Ingang tot Çiftlik


Ons kom by die baai en gooi anker. Dit byt nie, hy sleep ’n hele seetuin op wat ek eers moet afgooi. Ons gooi weer. Dit byt nie. Ons gooi ’n derde keer en dit byt gelukkig. 

Çiftlik restaurant jetties
Klowe van Çiftlik


Ons sien ’n ander seiljag wat met ’n anker sukkel. Die jag, Percey, langs ons wil vertrek, maar die ander jag roep om hulp. Hulle sê iets van hulle anker. Dit lyk of hulle dit nie kan optrek nie. Percey maak ’n tou aan die ander jag vas en probeer haar trek. Die arme mense sukkel en trek en probeer, maar niks. Later is daar ’n paartjie op ’n dinghy met ’n hond wat ook help.

Sukkel met anker
Russe staan reg om te sleep
 

Ons bekyk die storie so en ons besluit Archie moet gaan help. As jy mense help, kom dit terug na jou toe en eendag as jy hulp nodig het, sal jou goeie daad beloon word en jy sal gehelp word.

Hy sit die motor op Dinkie, vat sy snorkel en vasmeerkettings saam en daar trek hy. Almal is doenig en ek hou hulle deur die verkyker dop. Dis nou amper soos die toring van Babel, daar is ’n Suid-Afrikaner, Duitsers en Russe wat almal soos een man die probleem probeer oplos. “Eendragt maak magt.” 

Redding Internasionaal


Archie en die Duitser is in die water. Hulle beloer die anker. Dit het onder ’n groot klipbank ingewig. Jy kan die anker nie optrek of uittrek nie, want dit laat hom net vaster sit. Archie maak sy kettings aan ’n tou vas en laat dit met hulle ankerketting afgly tot op hulle anker en toe kon hulle dit vorentoe uittrek. Dis baie ingewikkeld, Archie sê mens moet met ’n skematiese voorstelling verduidelik, want gewone mense sal dalk nie weet hoe ’n anker werk nie. En sowaar, dit werk! Die anker kom los. Bravo ou Arch! Redding Internasionaal suksesvol afgehandel, na meer as twee ure se gesukkel.

Dis nie die einde van die arme mense se ellende nie. Hulle boot het ’n klein gat in, maar hulle kan nie die water uitpomp nie, want hulle enjin werk nie. Vermoedelik is hulle battery ook pap, want die enjin kan nie die battery laai nie. Hulle moet nou na Marmaris seil om hulp te kry. Die Rus trek hulle uit die baai, hulle span die seile en begin seil. Ek wonder of hulle instrumente werk. Ek hoop hulle bly bo-op die water tot by Marmaris.

’n Groot dankbaarheid vul my hart en my oë. Ek dink aan die tyd toe ons motor verlede jaar gebreek het. Op ’n manier werk alles op die einde goed uit. Mag dit vir die Duitsers ook so wees.