Saturday, September 27, 2014

Turkye. Cappadocia. Lugballon.

26 September 2014.  Vrydag.

As jy dink ek het 'n dag gemis - jy is reg. Ek het 'n dag gemis. Adam verlei vir Eva met 'n tros druiwe en Eva ken nie haar perke nie en eet te veel. Ek weet nie of die druiwe dalk gespuit was nie, of oorryp of vuil (daar's nie water vir afspoel nie), maar ek kry toe daardie 24-uur siekte. En ek wás siek, ek dog ek gaan dood. Ek het heeldag gelê.

Maar vandag is ons lugballonvaart. En ek is so te sê gesond. Hulle kom laai ons 05:45 op. Ek is vreeslik opgewonde. By die kantoor gee hulle vir ons ontbyt, wat ek nie eet nie (as gevolg van my siekbed). Toe is dit ballon toe.

Die manne is besig om die ballon op te blaas. Dit raas en daar is waaiers en vlamme. Eindelik is alles gereed en ons klim in die mandjie. En toe lig die mandjie van die grond. Ons is in die lug!

Vlamme
Ons ballon

Daar is baie min wind en die ballonne sluimer statig deur die lug. Oral sien jy die ballonne sonder haas oor die landskap vlieg. Daar is 'n algehele harmonie tussen die landskap en die lugballonne. Ons vlieg oor Rose-en Red Valley en oor die ander vallei waar ons gestap het.

So uit die lug uit, pluis Archie die staproetes uit. Nou kan hy presies sien waar ons die Rose en Red misgeloop het. Hy beplan toe sommer die staproete wat ons môre gaan stap, sommerso uit die lug uit. Net soos Google Earth.

'n Lug vol ballonne
Soek al die lugballonne
Pragtige landskap
Net-net bokant die riwwe
Studie in pastel
Lugballonne
Terug aarde toe

Ek moet sê dat die ondervinding om in 'n lugballon te vlieg, is baie opwindend. Die effense bang, die amper senuagtige grappies van die mandjiemense, opmerkings van Erdal Yasiş, ons vliënier, (It's my first time...). Jy kan die opwinding aanvoel.

Erdal ken sy storie, hy laat ons rakelings oor die toppe van die riwwe vlieg. Hy gee gas en trek toue om die mandjie bietjie te draai dat jy alle kante kan sien. Aan die einde van ons vlug, land hy die ballon sekuur en presiesie op die waentjie.

Erdal Yasiş in beheer

Dis tradisie om na 'n rit sjampanje te drink en ons maak toe so. Met een verskil - dis 'n alkoholvrye mengel van appel-en perskesap met vonkel daarin. Şerefe!

Skink sjampanje
Şerefe (Cheers)
Drink sjampanje

Friday, September 26, 2014

Turkye. Cappadocia. Kiliçlar Vallei.

23 September 2014. Woensdag.

Vandag is stapdag. Ons gaan die Rose- en Red Valleys in Göreme aandurf. Gestewel en gespoor vat ons die pad. Of so dink ons.

Rose Valley?

Ons stap heerlik. Ons kry ander stapgroepe langs die pad. Hulle het toergidse. Gelukkig het ek ook 'n toergids, ou Arch.

Wel, die Red- en Rose Valleys het ons ontglip. Ons het nooit daar uitgekom nie. Ons land toe in die Kiliçlar Vallei. En ou Arch geniet hom gate uit. Hy klim en klouter in die rotshuise. Van vloer tot vloer. Dis 'n groot avontuur.

Archie by tweede verdieping venster
Archie by derde verdieping venster
Binne-in rotskamer 

Op 'n stadium verlei Adam vir Eva met 'n trossie wilde druiwe wat hy pluk. Ek eet die hele tros op. Terwyl Archie so in die rotswonings rond klouter, ontdek ek nog vele ander variteite van druiwe. Dis ronde klein groenes en lang groenes. Dis ronde en lang swartes. En ek eet my knuppeldik. Kyk, ek hou baie van druiwe.

Ons stap verder en kom op ou rotskerke af.  Om elke hoek en draai is daar 'n mooier en interessanter rotsformasie.

Rotsformasies
Rotsformasies
Rotsformasies

Die paadjie neem ons later deur 'n nou kloof. Archie moes my twee keer as't ware optrek, maar dit was ongelooflik. Die nou pad, die styl regop kranse, net ons twee alleen in die natuur.

Daardie mense het hulle kap geken, want ons kom af op 'n lang onderbroke tonnel van honderde meters. Hulle het dit waarskynlik gebruik om water te kanaliseer. Dadelik klim Archie in die tonnel en hy stap daardeur terwyl ek bo stap. Elke nou en dan sien ek hom voordat hy weer in die tonnel verdwyn.

Die hele dag was 'n heerlike ondervinding. Ek hou maar van stap.

Turkye. Cappadocia. Goremi.

23 September 2014.  Dinsdag.

Ons ry die hele nag bus en 04:13 maak die buswaard ons wakker.  Hulle laai ons, in die donker nag, sommer so langs die pad af. Daar staan ons toe, ek en Archie en nog 'n arme drommel. Ons weet nie herwaarts of derwaarts nie.

Gelukkig vir Goolgle Earth, Archie en die hulp van 'n vreemdeling in die nag, kies ons sak en pak koers na ons Guvën Cave House. Dis 04:30 en gelukkig is hulle voordeur oop en ons gaan binne. Ons kan eintlik ons kamer eers 13:00 kry.

'n Deur-die-slaap man kom daar aan, gee ons 'n kyk, kry ons jammer en sê ons kamer is gereed, ons kan maar solank gaan. Die Turke loop 'n ekstra myl vir 'n mens. Ek het net oë vir daai bed en toe hy sy rug draai, is ons tussen die vere en ons slaap.

Göreme is 'n sprokiespaleis met 'n anderwêreldse skoonheid. Gevorm deur vlae en lae vulkaniese as en miljoene jare se reën en die vloei van rivierwater, het die landskap gevorm.

Die Christene het hier kom skuiling soek en die sagte gesteentes benut en omvorm tot wegkruipplekke in die rotse en selfs onder die aarde gegrawe. Vandag nog kan jy die baie muurskilderye in die baie ondergrondse kerke sien.

Vandag besoek ons die opelug museum, wat ook 'n Wêrelderfenisgebied is. Dit was eers 'n Bizantynde klooster wat twintig monikke gehuisves het en van die 17de eeu het dit 'n pelgrimsgebied geword.

Pottebakkery oppad na museum

Wat 'n gesig! Elke veetjie toring is gebytel en gekap en uitgegrawe en is tot huis of kerk verklaar.

Uitgeholde rots
Elmali Kilise (Appelkerk)
Kerkgraf
Opelug museum
Uitsig oor die vlaktes
Opelug museum

Oppad huis toe neem ons 'n alternatiewe roete tussen deur die rotsformasies. Dit is so sprokiesmooi, en ons vergaap ons aan alles. Oral is gate, of eintlik vensters en deure van ou wonings. Mense het hier gebly. So in die rotse.


Feetjie wêreld
Vreemde landskap
Archie en ek
Rotse met deure en vensters

 Ons geniet die staptog terdeë.

Wednesday, September 24, 2014

Turkye. Yalvaç.

22 September 2014. Maandag.

"What to do, what to do!?"  Die toere wat aangebied word deur die inligtingsentrum, is peperduur.  Een dag se ekskursie kos maklik R1 000. En onthou, Maja het 'n nuwe enjin gekry. Ons sak is plat.

Ons besluit ons gaan sommer Yalvaç toe. Daar gaan nie veel aan nie, maar die pad gaan deur die berge. Ons wag vir die dolmus en ons wag en wag en toe kom dit eers, al klaar vol.

Van die mooi pad sien ek bitter weinig, want ek moet heelpad balanseer om op my klein bankie, wat ek met 'n vrou deel. Al die ander sitplekke is vol.  Die bestuurder bring los stoeltjies vir die staande passasiers en arme Archie ry die hele rit, 30 cm van die vloer af, ongemaklik tussen die sitplekke. "So much for the view".

So ry die boere sit-sit so... Na een en 'n half uur se ongemaklike ry as insittende in 'n oorvol dolmus, kom ons in Yalvaç aan. En dis toe inderdaad so. Ons is die enigste toeriste daar.

Dis toevallig ook markdag op Yavaç maar nie halfpad so opwindend soos Pinar Pazari s'n nie. Ons koop wel 'n kabel vir die kamera en een kilogram Turkish Delight.

Hierdie Turke is wraggies gawe mense. So loop ek en Archie, ietwat verveeld daar rond om die tyd om te kry. 'n Man in 'n netjiese pak klere, staan sterre in die lug, besig om 'n magdom pakkies op te tel. Daar is omtrent twee pakkies markaankope vir elke vinger. Dis tamaties en uiwe, nog ander groente en vrugte en alles en nog wat. Hy sukkel om alles op te tel. Ek en Archie snel hom te hulp, sit die pakkies in die regte vingers. Toe hy alles opgetel het, sit hy dit net daar neer, haal 'n groot tros druiwe uit en oorhandig dit aan ons met 'n breë glimlag. Hy tel toe weer al sy pakkies op en loop glimlaggend weg en ons eet glimlaggend ons tros druiwe.

Een-perdekrag wa ...
... een-silinder wa

Ons stap rond en koop toe betyds kaartjies vir dir terugrit. Dis toe sitplek nr 1 en 2. Langs die bestuurder. Prima plekke. Toe sien ons met die terugrit hoe mooi die omgewing eintlik is.

Eğirdir oorkant die meer

Terug by Egirdir,  stap ons terug Seshuvar gastehuis toe om ons bagasie te kry vir die nagbus wat ons 20:30 Cappadocia toe neem.
Dis 'n lang nag op die bus, agt ure!

Turkye. Pinar Pazari.

21 September 2014.  Sondag.

Sondag is markdag in Pinar Pazari, 'n buurdorpie. Ons klim die dolmus (minibus) en daar trek ons. Ons mis mos nie 'n mark nie. Na 45 minute se ry op 'n baie mooi pad, deur menige appelboorde, is ons daar. Wel, álmal is daar, want dit wemel van mense en hul dinge.

Appels in oorvloed

Dis nou behoorlik Turkye op sy beste. Al die plaaslike inwoners en boere van die distrik is daar.  Almal koop en verkoop, ons ook. Die Turke groet ons en gesels en glimlag. Hulle gee ons 'n stukkie van hul warm harte.

Te koop
"Sunday shoppers"
Markstal
Meestal chillies
Klein koolkoppe ...
... en 'n grote
Olywe by die dosyne
Bone

Die hoogtepunt is middagete. Die skape en bokke word sommer daar in so 'n primitiewe slagpale geslag. Hulle maak dan die heel stuk vleis, van die blad tot die saal, in 'n groot kiln (steenoond) gaar. Dan koop jy die gaar vleis per kilo en jy eet dit sommer so met jou hande. My opgekapte vleis word op 'n klein stofie bedien. Archie besluit op skaapkop. Lekker!!

"Smilies" reg vir die oond
Aan die braai in die kiln
Middagete

Ons koop appels, want dis appelwêreld dié, en druiwe. Die turkish delight kon ons ook nie weerstaan nie. Tot iets vir Maja - 'n skadu dakkie vir daardie warm middagson.

Ons en ons aankope klim die dolmus en ons ry terug Eğirdir toe, moeg gemark.

Tuesday, September 23, 2014

Turkye. Eğirdir.

20 September 2014. Saterdag.

Ons val weer in die pad, na Eğirdir, 'n dorp langs 'n meer met dieselfde naam. Dis 'n lang busrit van vyf ure.

Eğirdir

Ons gaan tuis in Şehsuvar Peace Pension. Dié vreedsame gastehuis is geleë op Yeşilada, die groen eiland, wat met die hoofland verbind is deur 'n mensgemaakte "causeway".

Yeşilada
Eğirdir Meer
Eğirdir Meer

Hier is vis eet 'n moet. Die mama van die gastehuis berei toe vir ons die heerlikste varswatervis voor vir aandete. Eers sop, toe die vis, slaai, bone en snaakse rys. Ons smul.