Thursday, July 24, 2014

Amorgos Eiland. Katapola en Aigialis.

22 Julie 2014. Dinsdag.

Katapola tot Aigialis

Ons besluit ons gaan besoek die chora (dorpie op die heuwel) voordat ons vandag vaar. Ons klim die bus en ry daarheen.

Katapola vanuit die bus

Dis 'n pragtige dorpie en ons loop daar rond. Kyk hier en bewonder daar. Die sweet tap ons af, maar ons doen ons ding. 

Archie, Ansu en Gerrie
Blou

Later loop ons verder in die bloedige hitte na die klooster in die rotse. Die pad daarheen is gevul met die een mooi uitsig na die ander. 

Die pad is lank ...
... maar die uitsig is jou beloning
Blou baai

Die klooster is so gebou dat niks en niemand hulle kan oorrompel nie. Dis hoog op en ons swoeg en sweet die trappe uit. 

Klooster teen die krans
Amper daar

Voor ons die klooster kan betree, moet jy geskik geklee wees. Mans moet langbroeke dra en vrouens toe skouers en rokke. So, dit beteken dat Archie 'n oorgroot langbroek van 'n vreemde weldoener moet leen en aantrek. Toe lyk hy soos Dawid Sekels.

Gert en Dawid Sekels
Ingang na klooster

Die hele klooster binne is baie interessant. Die rots vorm een van die mure. Trappies is so half uit die rotse gekap. Aan die einde gee die priester in swart, met die baard, vir ons 'n glas yskoue water, 'n knertsie geurige likeur en 'n lekker.

Ons neem die bus terug na Katapola en maak klaar om na Aigialis (36°54.354 N, 25°58.544 O), 10 myl verder te vaar. Die see lyk heel anders as gister en ons is verlig en dankbaar. Geen lewensbaadjies vandag nie!

Hoë kranse

Ons gooi anker en soos gewoonlik het ek en Archie 'n woordewisseling oor die saak. Ons baklei soos kat en hond. Arme Gerrie en Ansu.

Die laatmiddag is loom en lok vir Gerrie en Ansu dorp toe. Hulle klim-val, gelukkig sonder voorval, in Dinkie en roei weg. Hulle hou hul lyf aasvöel en kom net betyds vir ete terug.

Aigialis 

Die Griekse aande het 'n bekoring van hul eie.

Bekoorlike Maja

Tuesday, July 22, 2014

Amorgos. Katapola. Blou Maandag.

21 Julie 2014. Maandag.

Agrilos to Katapola

Vandag is Katapola (36°49.628 N, 25°51.797 O) op ons agenda. Dit is 18 myl tot daar. Volgens windvoorspellings gaan Louis vandag waai en loei. Soos gewoonlik.

Die eerste ruk is die see kalmrig. Louis waai nie te erg nie. Ons span die hoofseil, maar die hoofseil is erg gebondel in die mas. Ons trek toe die hoofseil heeltemal uit om dit te ontbondel. Louis neem sy kans waar en ruk en pluk aan die groot seil.

Ons trek die hoofseil in, want die wind waai te erg. Ek stuur wind-op, Archie katrol by die mas, Gerrie beheer die hoofseil se tou en Ansu werk met die "boom" se tou.

Ansu noem dat dit 'n blou Maandag is.

Toe trek ons die genoa uit, nie heeltemal nie, want Louis waai te erg. Ons seil vir 'n ruk totdat Louis heeltemal sy broer, Gus, se streke uithaal en vreeslik begin ruk en pluk. Die kaptein sê ons moet die genoa intrek. Gerrie agter die helm, Archie by die "furler" tou en ek by die genoa se tou. Ons kry dit nie ingetrek nie. Arch trek, maar niks. Later gebruik Archie die katrol om dit in te trek. Wat 'n gesukkel. Die seil en toue flap en klap en ruk en pluk. Praat van 'n lawaai!

Gerrie agter die helm

Na 'n ewigheid is die genoa in. Met die geflap het die sluitskakel, op die tou wat gebruik om die bolseil (spinnaker) op te trek, losgekom en die wind het dit tot die top van mas opgetrek. Archie sal die mas moet klim om dit los te kry. Blou Maandag? Potblou!

Ons motor verder en die see is groot. Almal het weer lewensbaadjies aan.

Berge van Antikeros Eiland

"Ons vaar ons vaar op die Aegean see.
Die rowwe, rowwe Aegean see.
Die golwe, golwe sleur ons mee.
Op die rowwe, rowwe Aegean see".

Ons almal sing dit uit volle bors saam. Die Maandag word ligblou. Ons sing toe sommer ook "O, Ryperd" vir perde op die see. Die kaptein kyk tevrede na sy bemanning. Archie sê: "Rather bemused."

Amorgos Eiland kom nader en ons vaar by Katapola in. Moeg en verlig. Ons is gelukkig toe 'n ander seiljag vertrek en ons kry 'n plek by die dorpskaai.

Amorgos - Amper daar

Die blou Maandag verander na 'n dag met spikkels kleur wat herinneringe bou.

Katapola is 'n veilige hawe vir vier uitgeputte seilers, wat vir twee dae op die kruin van rowwe waters meegesleur is.

Sal Archie die mas opkom? Gerrie katrol hom op, die skare kyk en Arch haak die spaartou los, hoog aan die bo-punt van die mas.

Gerrie katrol onder ...

... Archie maak bo los

Ons voel tuis en welkom in die plek, want dis 'n veilige hawe na die rowwe dag op see. Ons gaan stap in die dorp en 'n vrede kom sit in my hart. Katapola omarm ons met sy opregte eenvoud.

Dorpskerk
Landelike vreedsaamheid
Katapola aan die voet van die berg
Katapola Baai

Wat 'n dag!

Die dag is verby

Sunday, July 20, 2014

Schoinousa Eiland. Agrilos Baai.

20 Julie 2014. Sondag.

Ios tot Agrilos Baai

Gerrie en Ansu se eerste seildag! Hulle skop af met 'n liedjie wat hulle vir hul Kaptein Archie sing. Te pragtig.

Captain Arch and me

Ons maak los en vertrek na Agrilos, (36°51.348 N, 25°31.590 O), 21.6 myl. Dis 'n lang pad en die Poseidon voorspel wind. Ek dink ek moet vir Meltemi, Louis noem. Hy kan vreeslik loei as hy waai. Hy loei sonder ophou. Dit hou net aan en aan en aan.

Ons tref die see en dit is groot. Ek jaag vir Ansu en Gerrie 'n seesiekpil in, net vir ingeval. Louis (Meltemi) waai reg van voor en Maja se motor dreun en sy beur teen die deinings.

Gepantser met ons lewensbaadjies durf ons die see aan. Archie hou die helm styf vas, Ansu en Gerrie sit effe onseker op die dek en ek lê op my plek op die dek. Onthou, arme Gerrie en Ansu het eintlik kom vakansie hou.

O, dis lekker by die see

Die deinings is groot en toe gebeur dit. Gerrie gooi sy hoed in die saloon. Toe hy so inkyk, tref die seesiek hom. En hy voel naar. En hy voer die visse. As die seesiek jou vat, los hy jou nie en wurg elke druppel energie uit jou uit. Ons gaan om die draai en die wind is van die kant en ons span die genoa. En ons seil, rekord spoed van 8.1 knope word bereik.

Seesiek

Ons seil, ons seil op die Aegean see. 
Die rowwe, rowwe Aegean see.
Die golwe, golwe sleur ons mee.
Op die rowwe, rowwe Aegean see.

Hoë kranse

Die pad hou aan en aan, maar raak tog korter en eindelik is die einde genadiglik in sig. Voor ons lê die baai waar ons gaan anker.

Barre land, blou see
Agrilos Baai

Louis waai sonder ophou, sonder moeg word. Aanhoudend. Uitgeput neem ons 'n middagslapie en voel daarna baie beter.

Die aand het Gerrie weer eetlus. Hy voel nou weer klopdisselboom.

Santorini. Gerrie en Ansu.

17 en 18 Julie 2014. Donderdag en Vrydag.

Donderdag.

Vandag kom Gerrie en Ansu met die veerboot. Hulle is laat, meer as 'n uur en die son bak fel neer op Santorini. Eindelik sien ons die veerboot op die horison verskyn.

Wag vir veerboot
Waar is Gerrie en Ansu?

En daar kom hulle. Gerrie toring uit bo die res. Die groetery is roerend. Ons klim die bus na Villa Pavlina.

Hi daar!

Die aand is ons reguit Oia toe saam met Gerrie en Ansu en die res van die bevolking vir die sonsondergang. Ons loop op en af in die stegies en geniet die atmosfeer. Om elke hoek is 'n uitsig om oor liries te raak.

Kerk en see
Oia se windmeulens
Sonsondergang-skare
Oia in die laatmiddagson


Vrydag.

Vandag gaan ons Fira, Santorini se hoofdorp, rooi verf. Elize het gesê dit is die moeite werd. Ons stap dorp toe en draai links, soos Elize gesê het. En sowaar, Fira maak oop voor ons. Elke draai 'n ander uitsig. Dit is prentjiemooi.

Fira
Huisbesneeude krater
Nog 'n bloukoepelkerk
Katolieke kerk van St John the Baptist
Dis mooi binne

Mama Thira se taverna verlei ons tot 'n middagete wat ons in bankrotskap dompel. Ons eet ons middagete, met 'n mooi uitsig wat amper beter is as die kos.

Mama Thira kook
Ek en Mama Thira

Gerrie en Ansu koop asof hulle skatte geen einde het nie. Hulle is geld se baas. Dis ietsie vir die een en ietsie vir daai een. Ons verwyl ons tyd in Fira totdat ons die bus moet kry na die port vir ons veerboot terug na Ios. Gerrie en Ansu het hulle vakansie met 'n hoogtepunt begin.

Terug in Ios is ons bly om vir Maja te sien en dat alles reg is. Gerrie en Ansu loop die plank en hulle is aan boord.

"Gaan die plank my hou!?"
Welkom aan boord

Welkom julle!

Saturday, July 19, 2014

Ode aan Elize en Annette.

17 Julie 2014. Donderdag.

Elize en Annette het op Maja aangekom toe my siel troebel en my lyf mensmoeg was. Hulle was uiters bedagsaam en hulpvaardig.

Elize - My suster was altyd vol begrip en het haar deel dubbel en dwars gedoen. Sy stel ander mense altyd eerste. Ek wil net sê: "Baie dankie vir ALLES, Elize".

Elize het die vermöe om elke straatjie en stegie van elke dorp te "doen". As sy klaar is met 'n dorp, is haar voetspore orals. Sy is 'n uitnemende toeris. En sy het haar goed van haar taak gekwyt as dekhand.

Gunsteling plek - Elize was betower deur Fira op Santorini, die vinknes-dorpie op die rand van die krater en die steil vulkaniese hange wat met hul voete in die see staan. (Eintlik hou sy van alles).

Santorini - Fira

Ervaring - Die dag op die rowwe see. Nie noodwendig lekker nie, inteendeel. Maar dit was 'n ervaring wat Elize nie sommer sal vergeet nie.

Produk van die rowwe see


Annette - Sy het alles met oorgawe geniet en ervaar. Die hele seilondervinding het haar met eksase vervul. Op die dek het sy flink en sekuur gewerk. Dankie Annette.

Gunsteling plek - Annette kan liries raak oor al die plekke, maar haar lekkerste plek is op Maja se dek. Dit sê baie!

Op Maja se dek

Ervaring - Alles op Maja, maar die beste was om Maja helm te vat op die rowwe see.

Vat die helm vas

Veels geluk, Susters van Eva. Wel gedaan!

Suters van Eva


Santorini. Vulkaniese pragstuk.

16 en 17 Julie 2014.  Woensdag en Donderdag.

Mens hoor altyd van Santorini, die vulkaniese eiland. Vandag klim ons die veerboot soontoe om self te sien of dit so wonderlik is as wat almal sê.
Elize en Annette lyk soos pakesels. Hulle glo nie aan lig reis nie. Dis rugsakke en dagsakkies en nog sakke en klein sakkies en ons is op die veerboot en daar trek ons.

"Travelling light ... "
In die veerboot

Na 45 minute meer die boot vas en dit lyk of die duiwel los is op die kaai. Die polisie fluit, die skares met hulle tasse stroom na die busse en klim. Binne 'n ommesientjie is almal oppad na hul bestemming, ons ook. Die vulkaniese landskap is indrukwekkend.

Konsternasie op die stasie
Vulkaniese landskap

Ons kom by Villa Pavlina, ons blyplek vir die volgende twee nagte. Elize en Annette gaan dadelik na Fira, die hoofdorp. 

Een van die hoogtepunte is om die sonsondergang te gaan bekyk op Oia, 'n buurdorp op die noordelikste punt van die eiland, net 'n busrit ver. Ons klim die oorvol bus, saam met die res van die toeriste, want almal is daarheen oppad.

En wat gebeur? Oia betower my so! Die wit huise is op die rand van die krater gebou. Dis prentjiemooi, die wit met die spatsels ander kleur deure en vensterrame. Ons kry vir Elize en Annette ook daar. Al die klein straatjies en stegies is stampvol gepak met mense wat wag vir die son om sy vertoning te lewer. Toe die laaste stokie son verdwyn, gee die skare 'n luide applous.

Oia en die baai
Oia
Wagtende skare
Aandskemering
"Let the show begin"

Die volgende dag groet ons vir Elize en Annette en hulle gaan met die veerboot na Athene.