Friday, June 6, 2014

Lefkas Eiland. Syvota skandes.

5 Junie 2014. Donderdag.

Kalopoulou Baai tot Syvota

Dirk verjaar vandag. Dis vir ons 'n vreeslike voorreg dat die oulike ding saam met ons op 'n Griekse eiland kan verjaar. Baie geluk, Dirk.

Oggendskoot - See en land word een

Toue word losgemaak en ingetrek, anker gelig en weg is ons na Syvota (38° 37.218N, 20° 41.064 O), 11.6 myl op Lefkas Eiland.

Toue word losgemaak

Ons vaar om die punt van Meganisi Eiland met sy ruwe kuslyn en talle grotte. Dirk verjaar voor op Maja se snoet, diep-denkend en omring deur die mooi. Leon wys elke interessante klip en rots en wat nog vir my uit en wonder altyd oor alles. Archie sit agter die helm soos dit 'n kaptein betaam en ek is maar net die seilende sigeuner.

Meganisi se suidepunt
Kythros Eiland

Die waters is blou, soos gewoonlik, maar dit betower my steeds. Ons kom by die Papanikolis Grot. (Elke boek skryf die name anders).

Papanikolis Grot

Ons wil van naderby gaan kyk, maar die manne sê drie is te veel vir Dinkie. Ons gaan sink. Ons redekawel en bespreek wie gaan wanneer en wanneer gaan wie. Toe beveel die kaptein: "Julle al drie klim saam in en gaan tog net!" Ons al drie klim in en gaan toe net.

Die manne roei ons na die grot en op 'n stadium sing ek vir my twee gondeliers. Die grot is groot. In die Tweede Wêreldoorlog het die Grieke 'n duikboot in die grot versteek. Ons bekyk dit van bo tot onder. Toe is ons klaar gegrot.

Op die water dobber ou Arch vir Maja, terwyl hy geduldig vir ons wag. Goeie man, hy. Die manne roei ons terug en ons vaar verder.

Maja vanuit Papanikolis Grot

Syvota kom in sig. Ons kry 'n staanplek, Archie tru en ek gooi anker. Daar is vier helpende hande reeds op die kaai en Gus rus 'n bietjie, so vasmeer is kinderspeletjies. Ou Gus word wakker, en begin kyk waar hy amok kan maak. Hy is baie dwars vandag en waai met sterk vlae.

Syvota

So is Leon besig om te lees en Dirk besig om verder te verjaar op die dek en ek en Archie besig om te blog toe Leon senuweeagtig vir Archie kom roep. Daar is konsternasie buite. Archie is soos blits op die dek. Die Pole het ingekom om vas te meer. Hulle gooi anker en tru in. Gus gryp vir hulle en dryf hulle na die Walliese boot (twee bote van ons af). Hulle haak aan die ankerketting vas en ruk die Walliese se anker los. Toe dryf Gus hulle na die Italianers se boot (langs ons) en hulle sit aan die ankerketting vas. Met moeite en baie lawaai kom hulle los.

Die Italianers
Italianer se ankerketting onder die Pole se boot

Oral help mense met fenders en om af te stoot. Op die kaai neem nuuskierige bystaanders foto's. Dit is 'n skouspel van formaat.

Staan gereed

Toe is dit Maja se beurt. Hulle kiel of roer (rudder) raak verstrengel met ons ankerketting. Maar soos in totaal verstrengel. Die oplossing sou wees om ons ankerketting uit te laat, maar die saak staan so - al ons ketting is reeds uitgegooi, ons het net 'n meter ketting oor. Een van die bemanningslede van die Poolse boot swem onder die boot om te sien wat gaan aan, of om die ketting los te haak. Hulle motor loop, en ons verwag enige oomblik dat die man aan flarde gekap gaan word deur die propreller toe hy onder die boot beland.

Maja se beurt

Archie hou kop. Hy maak die laaste punt van ons ketting vas aan 'n sterk tou om vir die Pole speling te gee en ons ketting pap te maak dat dit kan loskom van hulle kiel. En wonder bo wonder, dit werk en hulle kom los. Toe is daai manne skaam en hulle trek daar weg met 'n spoed, skoon uit die hawe uit oppad na 'n plek waar niemand van hulle skandes weet nie.

Na al die opwinding gaan stap Leon en Dirk hulle rigting en ons stap ons rigting.

Om die opwindende dag af te sluit, neem Leon ons uit vir ete om Dirk se verjaardag te vier en ons ontspan heerlik in die plaaslike Taverna.

Dirk verjaar lekker

Min het ons geweet ...

Thursday, June 5, 2014

Meganisi Eiland. Kalopoulou Baai.

4 Junie 2014. Woensdag.

Vathy tot Kalopoulou Baai

Ek wens dit wil nou somer word. Elke dag is 'n baadjie-dag met die belofte van reën.

Ons het vandag glad nie ver om te vaar nie, net 6.4 myl na Kalopoulou Baai (38° 38.807 N, 20° 45.908 O).

Die see en land en berge rondom ons is baie mooi, maar dis weggesteek onder wolke en mistige deinserigheid. Ons het almal net een begeerte en dit om te kan sien. Die mooi met 'n sigbaarheid te kan waardeer. En om foto's te neem.

Ons is in 'n japtrap in die baai en gooi anker en neem "lines ashore". Dirk merk op dat dit nogal 'n besigheid is om te anker en dan in te duik met 'n tou om vir Maja stewig aan die kant vas te maak.

"Taking a line ashore"

Ons sit en wag vir die verskyning van die son. Dis nie lank nie of son se kind maak sy verskyning en die manne gaan stap en ek en Arch swem. Dis koud en lekker.

Leon en Archie neem vir Dinkie en gaan versamel "treasures" soos Michelle sou sê, op die klipstrandjie, waar rommel uitspoel. Hulle kom in hul skik teruggeroei met die skatte veilig in Dinkie.

Skattejag

Daarna is dit weer my beurt om saam met Leon te roei en ons roei kant toe. Ons stap rond en neem foto's van die Maja-manne, Dirk en Archie. Maja self pronk ewe fotogenies vir ons in die baai. Dirk en Archie besluit om bietjie af te koel en hulle duik en spring soos opgeskote seun in die water.

Sundowners
Opgeskote seuns

Ons ontdek ook dat Leon wel kan glimlag met tande wat wys, toe die kameraman hom in 'n onbewaakte oomblik op film vasgelê het.

Tande wys

Dis 'n afgesonderde ankerplek en veral Archie geniet dit terdeë. Dis 'n pragtige laatmiddag, windstil en ons braai. Na al die veiligheidsmaatreëls is ons gereed en die vuur word aangesteek. Die souvlakis word opgesit en ons monde water en ook nie sonder rede nie, want dit is heerlik.

Souvlakis

Daar heers 'n ligte luim op Maja, almal geniet die ankerplek, terwyl die aand op ons neerdaal.

Marieks en die manne
In ligte luim
Alleen op anker

Die baai is net ons s'n.


Tuesday, June 3, 2014

Meganisi Eiland. Vathy.

3 Junie 2014. Dinsdag.

Vlycho Baai tot Vathy

Die see is weereens 'n spieël. Dis stil, dis baie stil. Ons trek anker op en vaar verby die skeepswrakke wat verwoes lê.

Skeepswrakke
Verwoesting

Daar was in September 2011 'n vreeslike storm in die baai. Dit het begin met donderweer en bliksemstrale so teen 18:30. Die wind het 72 knope gewaai en het versterk tot 100 knope met tye. Golwe het gegroei tot 'n meter hoog in 'n baie beskutte baai.

Vir ongeveer 45 minute het die storm voortgewoed, met reën en sproei wat die sig so verswak het, dat niemand iets kon sien nie. Twee dosyn bote wat in die skeepswerf was, het van hulle stellasies ("cradles") afgewaai.

Ten minste agt bote het gesink en 'n catamaran het omgewaai. Verskeie seiljagte se seile het afgerol en is beskadig. 'n Klomp bote se ankers het aanmekaar gekoek. Dit was 'n wonderwerk dat net een man sy lewe verloor het en dat daar nie meer ongevalle was nie.

Gesink

Ek is baie dankbaar dat ons so 'n vreedsame nag beleef het.

Ons stop by Spartochori en Leon en Dirk stap gou boontoe om die dorpie te gaan besigtig.

Reg vir die dorp

Ons sit in die Taverna en luister hoe die flotilla leier met sy mense praat. Hulle voorspel reën en winde vanaf 15:00. Toe Leon en Dirk terugkom, vaar ons verder na ons eindbestemming, Vathy (38° 39.823 N, 20° 47.107 O), 7 myl.

Spartochori

Dis baie bewolk en die wolke raak swaar.

Oggendskoot - Bewolk

Ons het ook net klaar vasgeanker, toe die eerste sagte reën begin val. Gedurig kom daar nog jagte in en Archie en Leon sit 'n handjie by met die vasmeer. Die kapteins is te dankbaar vir hulle hulp in die wind.

Vasmeermanne

Dit reën met tye harder en met ander tye sagter. Leon en Dirk gaan stap en ons gaan stap ook later. Dit dreig heeltyd om weer te begin reën.

Uitsig oor Vathy
Klein kapel langs die baai
Visnetdobbertjies

Terug by Maja begin Gus te waai. Die boek sê as die Noordweste wind waai, rol die golwe die baai binne en dit kan "bumpy" raak. En wil jy nou meer, die Noordweste wind waai. En sowaar, Maja het 'n geweldige wip in haar romp. Al die seiljagte wip op en af en oral staan kapteins en ander bemanningslede op hulle bote wat die kat uit die boom uit kyk.

Die Italianer langs ons besluit hulle het nou genoeg gewip, hulle waai. Trek anker op en daar is toe sowaar 'n ankerketting vasgehaak aan hulle anker. Toe is Archie en ons bure aan weerskante op die snoet van hulle bote om te sien wie se anker dit is. Almal se ankers is nog styf, so die anker is nie deur die Italianers losgetrek nie. Toe wip almal verlig verder.

Gus waai en waai en later raak sy blaas gelukkig op, die golwe raak minder en platter en die wip al hoe minder.

Dankie tog!

Lefkas Eiland. Vlycho Baai


2 Junie 2014. Maandag.

Lefkas tot Vlycho Baai

Archie se stopsel het uitgeval. Nou het hy 'n groot gat in sy mond. Ons het toevallig gister verby die tandarts geloop oppad dorp toe, so Archie ken die pad en hy gaan 09:20 reguit soontoe. Hy bly lank weg, so ek neem aan hy kan die Griekse tandarts sien. Na 'n klomp: "Keep stil, Mister", en "Don't close, Mister" en "40 Euro, Mister", is Archie se tand gestop. Archie sê dit was nie 'n baie "talkative session" nie.

Ek en die manne is dorp toe vir voorrade, veral groente. Die groente is kleurvol en vars roep om gekoop te word. Na die nodige aankope en sakkies vol groente, loop ons verby 'n bakkery en koop kaaspastei (tiropita) vir middagete. Toe vat ons die pad terug Maja toe.

Koop groente
Kwekery

Ons vertrek 13:30 uit Lefkas Marina en toe word ons honger. Ons smul aan die tiropita en verorber elke kriesel.

Leon (die bakker)

Ons vaar verby Nydri Dorp na 'n oorvol Tranquil Baai waar ons anker gooi. Maja eindig op te na aan 'n norse Fransman, wat ons kwaai aangluur en sê ons is te naby hom, wat ons natuurlik self weet. Ons trek die anker op en vaar verder na Vlycho Baai (38° 41.303 N, 20° 42.303 O), 10 myl, wat net dieper in dieselfde baai lê. Dis oop en daar is ankerplek te kies en te keur.

Nydri Dorp
Vlycho Baai - Noord uitsig
Vlycho Baai - Suid uitsig

Ons gooi maklik anker en sit toe vreedsaam en gesels op die boot. Dirk verras vir my en Leon met 'n glasie ouzo. Dis so flou dat ons hom summier terugstuur. Sy volgende poging is so sterk dit slaan ons asem weg, maar ons drink alte gewillig.

Dirk (die skinker)

Ek stel voor dat ons sangaand moet hou, maar die manne wil nie. Ek dink my sangaand is net 'n onbereikbare droom.  Niemand deel my entoesiasme oor die vrolike gesing van Suid-Afrikaners op 'n stadig-draaiende seiljag, waar die son kleurvol in die water val, op 'n verre Griekse eiland nie.

Die water is heerlik stil en die son sak oor die baai. So stil, sonder harmonieuse stemme wat die aanlug vul.  

Stil, sonder stemme

Sunday, June 1, 2014

Alweer Lefkas.

1 Junie 2014. Sondag.

Gaios tot Lefkas

Ons vertrek vroeg uit Gaios, om presies te wees, 6:00. Dis alweer 'n ver pad, 35 myl.

Dou voor dag

Ons almal sit op die dek. Dirk merk ewe droog op dat hy in spanning wag vir my en Leon se daaglikse konfrontasie. Archie lag oor die vermaaklikheid van die woordestryd van gesproke idees wat heen en weer geslinger word.

Woordestryd

Leon en Dirk gaan toets Maja se snoet uit. Hulle lyk soos twee meerkatte wat hoorloos praat en beduie en wys en geniet. Die een het 'n rooi pet en die ander een het 'n blou pet op. Die koppies kyk en die handjies wys.

Meerkatte

Die kaptein en sy geliefde sit styf teen mekaar op een bankie agter die helm, terwyl Auto vir Maja bestuur.

Dis 'n lang dag op skommel-skommel waters na Lefkas. Ons kom golf vir golf aangerol, in Maja wat ons deining vir deining nader aan ons bestemming bring. Die kant toe en daai kant toe, gooi Maja ons. Ons nader die kanaal by Lefkas, waar die arme sandduin korrel vir korrel weggevreet word deur 'n monster van staal, totdat dit net 'n hartseer hoop sand is.

Sandhoop

Die Engelse vrou op die boot langs ons, is tervergeefs besig op hul boot se snoet om die genoa wat vasgehaak het, los te maak, terwyl die kaptein magteloos deur die vlak water van die kanaal oppad na die brug, probeer om sy boot onder beheer te bring. Gus maak dit ook nie vir hulle maklik nie. So gaan hulle ook later toe al flapperende deur die brug.

Genoa haak vas

Ons almal dam op voor die brug, waar daar eintlik te min plek vir Maja en al haar vriendinne is. Al die seiljagte en hulle kapteins is verlig toe die fluit blaas en die brug té stadig oopswaai. Een vir een glip die vriendinne deur, net om mekaar miskien nooit weer te sien nie.

Maja se vriendinne en Monster

Ons meer alweer vas in Lefkas Marina (38° 49.740 N, 20° 42.730 O).

Lefkas Marina

Ons almal raak rustig en bestaan in harmonie, in anderse eendersheid. Op die loom Sondagmiddag is ons almal op eilande van ons eie menswees en gedagtes, met Maja wat ons liggies hipnotiseer deur die draai  van haar lyf en die klank van haar toue.

 Later gaan ons dorp toe.