Tuesday, June 3, 2014

Lefkas Eiland. Vlycho Baai


2 Junie 2014. Maandag.

Lefkas tot Vlycho Baai

Archie se stopsel het uitgeval. Nou het hy 'n groot gat in sy mond. Ons het toevallig gister verby die tandarts geloop oppad dorp toe, so Archie ken die pad en hy gaan 09:20 reguit soontoe. Hy bly lank weg, so ek neem aan hy kan die Griekse tandarts sien. Na 'n klomp: "Keep stil, Mister", en "Don't close, Mister" en "40 Euro, Mister", is Archie se tand gestop. Archie sê dit was nie 'n baie "talkative session" nie.

Ek en die manne is dorp toe vir voorrade, veral groente. Die groente is kleurvol en vars roep om gekoop te word. Na die nodige aankope en sakkies vol groente, loop ons verby 'n bakkery en koop kaaspastei (tiropita) vir middagete. Toe vat ons die pad terug Maja toe.

Koop groente
Kwekery

Ons vertrek 13:30 uit Lefkas Marina en toe word ons honger. Ons smul aan die tiropita en verorber elke kriesel.

Leon (die bakker)

Ons vaar verby Nydri Dorp na 'n oorvol Tranquil Baai waar ons anker gooi. Maja eindig op te na aan 'n norse Fransman, wat ons kwaai aangluur en sê ons is te naby hom, wat ons natuurlik self weet. Ons trek die anker op en vaar verder na Vlycho Baai (38° 41.303 N, 20° 42.303 O), 10 myl, wat net dieper in dieselfde baai lê. Dis oop en daar is ankerplek te kies en te keur.

Nydri Dorp
Vlycho Baai - Noord uitsig
Vlycho Baai - Suid uitsig

Ons gooi maklik anker en sit toe vreedsaam en gesels op die boot. Dirk verras vir my en Leon met 'n glasie ouzo. Dis so flou dat ons hom summier terugstuur. Sy volgende poging is so sterk dit slaan ons asem weg, maar ons drink alte gewillig.

Dirk (die skinker)

Ek stel voor dat ons sangaand moet hou, maar die manne wil nie. Ek dink my sangaand is net 'n onbereikbare droom.  Niemand deel my entoesiasme oor die vrolike gesing van Suid-Afrikaners op 'n stadig-draaiende seiljag, waar die son kleurvol in die water val, op 'n verre Griekse eiland nie.

Die water is heerlik stil en die son sak oor die baai. So stil, sonder harmonieuse stemme wat die aanlug vul.  

Stil, sonder stemme

2 comments:

  1. Hallo Julle!

    Ai, n baai is darem maar ook n lekker plek om te anker. Ek kan verstaan dat dit Arch se gunsteling is. Rustig en vreedsaam, veral as mens alleen daar geanker is. Geniet die rustigheid.

    Die tandarts het Archie se sak geruk. Maar nou is die tand darem reg.

    Lekker aand
    Liefde
    Exxx

    ReplyDelete