![]() |
Vlycho Baai tot Vathy |
Die see is weereens 'n spieël. Dis stil, dis baie stil. Ons trek anker op en vaar verby die skeepswrakke wat verwoes lê.
Skeepswrakke |
Verwoesting |
Daar was in September 2011 'n vreeslike storm in die baai. Dit het begin met donderweer en bliksemstrale so teen 18:30. Die wind het 72 knope gewaai en het versterk tot 100 knope met tye. Golwe het gegroei tot 'n meter hoog in 'n baie beskutte baai.
Vir ongeveer 45 minute het die storm voortgewoed, met reën en sproei wat die sig so verswak het, dat niemand iets kon sien nie. Twee dosyn bote wat in die skeepswerf was, het van hulle stellasies ("cradles") afgewaai.
Ten minste agt bote het gesink en 'n catamaran het omgewaai. Verskeie seiljagte se seile het afgerol en is beskadig. 'n Klomp bote se ankers het aanmekaar gekoek. Dit was 'n wonderwerk dat net een man sy lewe verloor het en dat daar nie meer ongevalle was nie.
Gesink |
Ek is baie dankbaar dat ons so 'n vreedsame nag beleef het.
Ons stop by Spartochori en Leon en Dirk stap gou boontoe om die dorpie te gaan besigtig.
Reg vir die dorp |
Ons sit in die Taverna en luister hoe die flotilla leier met sy mense praat. Hulle voorspel reën en winde vanaf 15:00. Toe Leon en Dirk terugkom, vaar ons verder na ons eindbestemming, Vathy (38° 39.823 N, 20° 47.107 O), 7 myl.
Spartochori |
Dis baie bewolk en die wolke raak swaar.
Oggendskoot - Bewolk |
Ons het ook net klaar vasgeanker, toe die eerste sagte reën begin val. Gedurig kom daar nog jagte in en Archie en Leon sit 'n handjie by met die vasmeer. Die kapteins is te dankbaar vir hulle hulp in die wind.
Vasmeermanne |
Dit reën met tye harder en met ander tye sagter. Leon en Dirk gaan stap en ons gaan stap ook later. Dit dreig heeltyd om weer te begin reën.
Uitsig oor Vathy |
Klein kapel langs die baai |
Visnetdobbertjies |
Terug by Maja begin Gus te waai. Die boek sê as die Noordweste wind waai, rol die golwe die baai binne en dit kan "bumpy" raak. En wil jy nou meer, die Noordweste wind waai. En sowaar, Maja het 'n geweldige wip in haar romp. Al die seiljagte wip op en af en oral staan kapteins en ander bemanningslede op hulle bote wat die kat uit die boom uit kyk.
Die Italianer langs ons besluit hulle het nou genoeg gewip, hulle waai. Trek anker op en daar is toe sowaar 'n ankerketting vasgehaak aan hulle anker. Toe is Archie en ons bure aan weerskante op die snoet van hulle bote om te sien wie se anker dit is. Almal se ankers is nog styf, so die anker is nie deur die Italianers losgetrek nie. Toe wip almal verlig verder.
Gus waai en waai en later raak sy blaas gelukkig op, die golwe raak minder en platter en die wip al hoe minder.
Dankie tog!
Hallo julle!
ReplyDeleteSjoe dit moes n angswekkende nag gewees het in 2011. Sowaar iemand dood ook. Wat n tragedie.
Is dit nou reentyd daar, want dit reen gedurig. En Gus waai ook gedurig. Is die Griekse eilande maar winderig oor die algemeen, want die groot winde kom mos eers middel Julie. En julle is mos nou in n kalmer see gebied. Eks bly Gus het na n ruk bedaar en alles met julle anker was reg.
Geniet die dag
Liefde
E xxxx
Hi.
DeleteDis die einde van die reënseisoen met die laaste reën wat vir oulaas val. Dis die Noordweste wind wat hier waai, die Meltimi waai waar julle gaan seil, dis 'n ander wind. Die wind kom en gaan maar heeltyd.
Hello Julle Almal. Ons is baie bly om tesien dat julle dit so geniet!! Baie mooi fotos wat Mariekie neem en lekker om dit so saam julle te kan geniet.
ReplyDeleteSpesiaal vir Dirk: Dirk jy moet lekker verjaar. Mag dit vir jou 'n baie mooi en geseende verjaardag wees en hoop jy sal hierdie spesiale verjaardag so tussen die pragtige eilande vir altyd kan saam dra. Geniet dit. Mariekie hou maar vir Leon op sy tone ....ons wil nie he hy moet stomp word nie. Archie ons hoop jy hou kop so met die spul saam op Maja.
Liefde groete van Fanus en Tannie Annie De Villiers
Baie baie dankie Fanus en Tannie Annie.Ons geniet ons self gate uit en kyk oral uit om n ou eilandjie te koop(lekker lag ek ek nou vir die grappie)Dit is n belewenis en n heerlike vakansie.Leon neem ons uit vir ete vanaand,en ons sien uit om van die heerlike Griekse kosse te gaan eet.Baie liefde Dirk.
Delete