Tuesday, June 3, 2014

Lefkas Eiland. Vlycho Baai


2 Junie 2014. Maandag.

Lefkas tot Vlycho Baai

Archie se stopsel het uitgeval. Nou het hy 'n groot gat in sy mond. Ons het toevallig gister verby die tandarts geloop oppad dorp toe, so Archie ken die pad en hy gaan 09:20 reguit soontoe. Hy bly lank weg, so ek neem aan hy kan die Griekse tandarts sien. Na 'n klomp: "Keep stil, Mister", en "Don't close, Mister" en "40 Euro, Mister", is Archie se tand gestop. Archie sê dit was nie 'n baie "talkative session" nie.

Ek en die manne is dorp toe vir voorrade, veral groente. Die groente is kleurvol en vars roep om gekoop te word. Na die nodige aankope en sakkies vol groente, loop ons verby 'n bakkery en koop kaaspastei (tiropita) vir middagete. Toe vat ons die pad terug Maja toe.

Koop groente
Kwekery

Ons vertrek 13:30 uit Lefkas Marina en toe word ons honger. Ons smul aan die tiropita en verorber elke kriesel.

Leon (die bakker)

Ons vaar verby Nydri Dorp na 'n oorvol Tranquil Baai waar ons anker gooi. Maja eindig op te na aan 'n norse Fransman, wat ons kwaai aangluur en sê ons is te naby hom, wat ons natuurlik self weet. Ons trek die anker op en vaar verder na Vlycho Baai (38° 41.303 N, 20° 42.303 O), 10 myl, wat net dieper in dieselfde baai lê. Dis oop en daar is ankerplek te kies en te keur.

Nydri Dorp
Vlycho Baai - Noord uitsig
Vlycho Baai - Suid uitsig

Ons gooi maklik anker en sit toe vreedsaam en gesels op die boot. Dirk verras vir my en Leon met 'n glasie ouzo. Dis so flou dat ons hom summier terugstuur. Sy volgende poging is so sterk dit slaan ons asem weg, maar ons drink alte gewillig.

Dirk (die skinker)

Ek stel voor dat ons sangaand moet hou, maar die manne wil nie. Ek dink my sangaand is net 'n onbereikbare droom.  Niemand deel my entoesiasme oor die vrolike gesing van Suid-Afrikaners op 'n stadig-draaiende seiljag, waar die son kleurvol in die water val, op 'n verre Griekse eiland nie.

Die water is heerlik stil en die son sak oor die baai. So stil, sonder harmonieuse stemme wat die aanlug vul.  

Stil, sonder stemme

Sunday, June 1, 2014

Alweer Lefkas.

1 Junie 2014. Sondag.

Gaios tot Lefkas

Ons vertrek vroeg uit Gaios, om presies te wees, 6:00. Dis alweer 'n ver pad, 35 myl.

Dou voor dag

Ons almal sit op die dek. Dirk merk ewe droog op dat hy in spanning wag vir my en Leon se daaglikse konfrontasie. Archie lag oor die vermaaklikheid van die woordestryd van gesproke idees wat heen en weer geslinger word.

Woordestryd

Leon en Dirk gaan toets Maja se snoet uit. Hulle lyk soos twee meerkatte wat hoorloos praat en beduie en wys en geniet. Die een het 'n rooi pet en die ander een het 'n blou pet op. Die koppies kyk en die handjies wys.

Meerkatte

Die kaptein en sy geliefde sit styf teen mekaar op een bankie agter die helm, terwyl Auto vir Maja bestuur.

Dis 'n lang dag op skommel-skommel waters na Lefkas. Ons kom golf vir golf aangerol, in Maja wat ons deining vir deining nader aan ons bestemming bring. Die kant toe en daai kant toe, gooi Maja ons. Ons nader die kanaal by Lefkas, waar die arme sandduin korrel vir korrel weggevreet word deur 'n monster van staal, totdat dit net 'n hartseer hoop sand is.

Sandhoop

Die Engelse vrou op die boot langs ons, is tervergeefs besig op hul boot se snoet om die genoa wat vasgehaak het, los te maak, terwyl die kaptein magteloos deur die vlak water van die kanaal oppad na die brug, probeer om sy boot onder beheer te bring. Gus maak dit ook nie vir hulle maklik nie. So gaan hulle ook later toe al flapperende deur die brug.

Genoa haak vas

Ons almal dam op voor die brug, waar daar eintlik te min plek vir Maja en al haar vriendinne is. Al die seiljagte en hulle kapteins is verlig toe die fluit blaas en die brug té stadig oopswaai. Een vir een glip die vriendinne deur, net om mekaar miskien nooit weer te sien nie.

Maja se vriendinne en Monster

Ons meer alweer vas in Lefkas Marina (38° 49.740 N, 20° 42.730 O).

Lefkas Marina

Ons almal raak rustig en bestaan in harmonie, in anderse eendersheid. Op die loom Sondagmiddag is ons almal op eilande van ons eie menswees en gedagtes, met Maja wat ons liggies hipnotiseer deur die draai  van haar lyf en die klank van haar toue.

 Later gaan ons dorp toe.

Saturday, May 31, 2014

Paxoi. Gaios. Span daai seile!.

30 Mei 2014. Vrydag.

Agni Baai (Nikolas Taverna) tot Gaios

Ons moet vroeg op. Die pad is lank na Gaios Baai (39° 11.809 N, 20° 11.190 O), 35 myl. Dou voor dag skeur ek en Archie ons Griekse-aand-lywe met moeite uit die bed. Dit reën liggies en ons is moeg, hoor!

Ons sukkel om los te kom en later steek Leon sy kop soos 'n meerkat by die opening uit om te help. Dirk is nog uit soos 'n kers.

Ons vertrek en die reën klaar op. Die wolke loer nog na ons, met 'n dreigement van natreën. Dirk word uit die bed geboender deur die kaptein met die opdrag dat hy na die mooi oggend moet kom kyk. Hy gehoorsaam en bring die slaap met hom saam. Dit verander gou na wakker soos hy bewus word van die mooi.

"The morning after"
Dis mooi buite

Bekroonde skrywer wat Leon is, neem hy alles deur sy wakker oë in en stoor dit êrens in kreatiewe grysstof vir latere verwoording.

Dis windstil, maar dis baadjie-weer. Ons maak die afstand tussen ons en die wolke groter en die son neem sy regmatige plek in en werp sy strale daar ver op die voet van die berg.

'n Brokkie son

Corfu word 'n herinnering en voor ons lê Paxoi en die oop see regs. Die beskutte see van Corfu verander in groter deinings. Gus waai ons tegemoet, en die bevel kom: "Span daai seile!". Ek het 'n vermoede dis Archie se gunsteling woorde.

Leon en Dirk span ewe onhandig saam, maar hulle leer gou van toutrek en seile. Dis 'n lekker bries en ons seil vinnig. Die manne is ongewoond aan die skuinslê en slinger-loop op Maja.

Na 'n uur se seil, trek ons die seile in en berei alles voor vir die vasmeer. Leon en Dirk kry hulle take. Hulle moet met hulle toue afklim op die kaai, ek gooi anker en Arch tru in. Die vasmeer is so maklik met al die hulp en siedaar: "Hallo Gaios!", sonder chaos.

"Welkom in Gaios"

Terwyl die weer nog goed lyk, vat ons die wandelpad, tussen die olyfboorde. Die stamme is kunswerke deur Moeder Natuur gevorm. Leon wil van elke omgevalle boom 'n tafel maak.

Olyfboord
Klipmuur

Ons loop deur 'n "village" waar ek en Leon 'n oomblik van rus het. 'n Witgekalkte muur wat plat is, roep om op gesit te word.

Rusplek langs die pad
Trappe na reservoir
Uitsig vanaf reservoir
Noordelike hawe-ingang
Pragtige kuslyn

Terug by Maja oorval die moeg ons. Ek, Archie en Dirk knip gou 'n uiltjie om ons kragte op te bou na die lang stap én die laat nag vol Griekse kultuur.

Terwyl die son sak, eet ons eie kos in Taverna Maja en oorkant ons eet die skare uit by Taverna Pan en Theo.

Taverna Maja
Nog 'n dag is verby






Friday, May 30, 2014

Corfu Eiland. Griekse verrassing.

29 Mei 2014. Donderdag.


Hulle voorspel reën vir vandag. Dis nie eintlik wat ek en Archie wou hê nie.  Dis vandag die dag van die verrassing vir dir manne, wat ons met die geheime sending verlede Donderdag al gaan reël het. Dit was veronderstel om 'n pragtige dag te wees.

Ons verlaat Mandraki 13:30 en dis koud en mislik. Ons vaar 'n ent toe raak die wolke te swaar en gooi hul druppels na benede. Wat van die verrassing!?

Koud en mislik

Ons nader Agni Baai na twee ure, 7.8 myl. Dit reën en ek gooi anker en die manne maak vas aan die pier (jetty). Dis 'n snaakse besigheid, die gevasmeerdery teen die pier. Ons maak windskeef vas, so aan die hoek van die pier en moet ook 'n tou aan die buurboot se snoet vasmaak.

Windskeef vasgemeer

Ons sit maar in die saloon, want dis te koud buite en knibbel aan droëwors wat Dirk en Louria Luus saamgestuur het.

Ek is benoud dat die hele verrassing deur die mat gaan val, omdat dit so reën. Gaan die ander mense opdaag? Die manne weet nog van niks.
Teen 19:30 kom die eerste watertaxi daar aangejaag. Ons wip op en af in Maja en die mense klim uit en stap vinnig in die koue na die Taverna Nikolas. Ek skep moed. Net daarna kom nog 'n watertaxi aangejaag met die volgende opgewonde gaste. Ek gee die bevel: "Gaan trek aan".

First Mate en Skipper ...
... saam met die bemanning

Die een na die ander watertaxi laai nog mense af en almal is klappertand-uitbundig en opgewonde. Maja wip meer en meer van al die golwe wat die taxi's agterlaat. Met 'n groot gesukkel gaan ons aan wal, want die plank is te kort, en alles beweeg.

Die geheim is uit. Ons het plek bespreek in Nikolas Taverna vir 'n tradisionele Griekse aand, met Griekse kos, musiek en danse. Dis so duur, ons begroting is nou in sy moer.

Toe begin dit. Die musikante speel, die sangeres sing en die wynkraffies word tafels toe gebring. Mense babbel jolig en die voorgereg (meze, brood en tzatziki) word aangedra. Dis heerlik. Alle koue word verdryf deur warm, vrolike harte en monde wat lag en eet en drink.

Skinkborde vol kos

Die Grieke is 'n jolige spul en ons is nog joliger. Ons klap hande, die sangeres sing, die man speel sy bazouki uitstekend. Nog kos kom, slaai, hoender, vark en aartappels en dit raak uitbundiger. Sowat van genot het ek lanklaas gesien.

Die dansers kom te voorskyn en doen Griekse danse. Hulle bring nog wyn (dis ingesluit in die prys). Nikolas, die eienaar, doen 'n spesiale dans en jy hoor net borde breek.

Danseres saam met Leon en Dirk
Nikolas, die eienaar

Hoe later, hoe kwater en die gaste dans saam in 'n lang ry. Die tyd stap aan en nagereg word bedien.

Almal dans ...
... en geniet hulle gate uit

Ek en Dirk dans uitspattig saam met die res van die gaste op die ritmiese maat van die musiek.

Uitgelate

Dit word 'n aand om nooit te vergeet nie!

Thursday, May 29, 2014

Corfu. Corfu loop deur.

28 Mei 2014. Woensdag.

Leon drink tee, Dirk flou koffie en ek en Archie kapteinskoffie. Die kaptein moet kophou met elke bemanningslid se bestelling.

En toe tref ons die dorp. Hulle is dadelik verlief op Corfu. Dirk neem amper meer foto's as Elize. Dis kliek-kliek hier en kliek-kliek daar. As ons net draai, word ons gekliek. Dis foto's van ons wat stap, van ons wat rondkyk, van ons wat poseer, van ons wat ...

Ou Fort toneel
Oppad dorp toe
By die Ou Fort se uitgang
Liston lampe
Archie voor nuwe fort
Ou Paleisboog

Ek wens later sy batterye word pap dat ons kan ontspan, want ons pense moet op 'n permanente basis ingetrek wees, want ons kan enige oomblik gekliek word.

Museum van Asiatiese Kuns
Bizantyse Kerk

Ons loop die dorp plat, eet 'n gyros by 'n straatkafee en loop die dorp nog platter. My beseerde knië roep later halt, maar die manne stap met hulle lang bene en groot pote en ek moet maar byhou.

Etenstyd

Maja se dek lyk baie verleidelik en ons laat ons uitguputte liggame rus. Die atmosfeer van Mandraki is ouwêrelds, die omgewings is besonders mooi, die see is blou en die manne dink hulle is in die paradys.

Die manne en Mandraki