Friday, September 6, 2013

Spartachori. Dag 132.

6 September 2013. Vrydag.


O. Varkos tot Spartachori


Vir mense wat werk, begin die naweek vandag.

Ons hou ook naweek, daarom vaar ons net 7 myl vandag. Ons gaan die Meganisi Eiland verken en eerste op die lys is Spartachori (38º39.660 N, 20º45.615 O). Die dorpie is op die top van die heuwel.

Spartachori op die heuwel



Ons vaar rustig en stadig op die windstil waters. Dis baie mooi hier en baie seiljagte is op die water, elkeen met sy eie agenda. Met 'n wuif van die hand vaar ons by mekaar verby. Vir 'n vlietende oomblik is daar 'n erkenning vir iemand anders as jyself en dan is dit verby. Asof jy daai mens nog nooit gesien het nie en nooit weer sal sien nie. Daarom dat die spreekwoord sê: "Soos verbygaande skepe..."

Oggendskoot - Verbygaande skepe



Ons vaar verby Scorpio Eiland. Dit is 'n privaat eiland van die Onassis familie. Aristotle, sy seun Alexandros en dogter Christina is hier begrawe.

Onassis se Scorpio Eiland



Ons vaar die hawe binne en wil jy nou meer, iemand wink vir ons en staan reg met die vasmeertou. Sommer gou is ons vas.

Hawe



Ons stap heuwel-op dorp toe. Die Grieke slaap, want die winkels is toe. Die uitsig van bo af is baie mooi.

Uitsig van bo
Eerste wit muur met blou hortjies



Ek word baie lief vir Maja.

Onse Maja

Published with Blogger-droid v2.0.10

Agge nee! Dag 131

5 September 2013. Donderdag.

Lefkas tot O. Varkos 


Vandag gaan ons vanaf Lefkas, verder deur die kanaal vaar, en dan na Varkos (38º 45.962 N, 20º 48.253 O), 8 myl.

Lefkas



Ons is nie haastig nie, want dis nie ver nie. Ons kry alles reg, en Archie druk die aansitter om die engin aan te skakel. Al wat Maja sê is: "Hoi, hoi." Agge nee, dit kan nie wees nie. Archie probeer weer. "Hoi". Maja se gô is uit! Haar battery is kapot.

Die blerrie battery. So pap soos 'n leë papsak. Van vat, wil sy niks weet nie. Archie haal die engin se battery uit. Hy vat dit winkel toe. Hulle gaan eers die battery vol laai en dan toets. Hy moet oor 'n uur teruggaan. Ons wag.

Na 'n uur kry hy die nuus. Battery is pê. Achie koop 'n nuwe battery, sit hom in, skakel Maja aan en sy klink so goed soos nuut. En weg is ons. Baie armer, maar met die versekering dat ons battery-probleem vir goed opgelos is. Nou is ons reg vir vandag se suidelike deel van die kanaal.

Terug in die kanaal
Mede kanaalvaarders



Vandag is 'n regte wolkedag. Op elke bergtop is 'n tafeldoek.

Wolkedag
Naby Varkos



Ons anker by Varkos. Dis 'n groot baai. Die wolke lewer vir ons 'n visuele skouspel wat ons terdeë geniet.

O. Varkos- Ankerplek




Maja het 'n effense wip in haar wieg, maar dit pla nie. Ons slaap lekker rustig.


Published with Blogger-droid v2.0.10

Thursday, September 5, 2013

My hare rys. Dag 130.

4 September 2013. Woensdag.


Vonitsa tot Lefkas



Ons verlaat Vonitsa met die kasteel wat rustig op ons afkyk. Die water in die Golf is lekker plat en stil. Ons vaar verby Preveza, vra vir die hawemeester of ons mag kanaal, hy sê weer ja. Gawe man!

Vonitsa se kasteel



Ons is weer op die see en Maja vat ons skommel-skommel na Lefkas dorp (38º49.955 N, 20º42.616 O), op Lefkas Eiland, 17 myl. Lefkas is 'n eiland, bloot omdat dit deur 'n kanaal van die hoofland afgesny is.

Wel, die boek sê as jy die kanaal van die noorde kant benader, is dit "hair-raising". Ons benader die kanaal, raai van watter kant af? Van die noorde kant af natuurlik!

Fort by noord-ingang van Lefkaskanaal



Eerstens sien jy net land, geen kanaal nie. Die golwe spoel een vir een op die strand uit. Waar is die sogenaamde kanaal dan? Ek vra weer vir Archie of hy seker is dat sy koördinate vir die kanaal reg is. Hy is soos die gawe hawemeester. Hy sê ja.

Ons kom nader en nader aan die strand. Ons sien wel 'n ou waterstroompie wat lyk soos die Kraairivier na 'n droogte. My magtig, dís die ingang van die kanaal. Ek hoop Maja is goed op droë grond!

Gaan ons strand? 



Ek weet nie van Archie se hare nie, maar myne rys! Hoe de moer (jammer) kom mens hier deur sonder om te strand! Die kaptein konsentreer. Vat die helm vas, stuur om die skerp draai. Ons is "on tenterhooks", soos die boek sê. Dit lyk vlak, dit ís vlak. Ek verwag dat Maja enige oomblik nou vier-voet gaan vassteek met haar kiel in die sand. Ek verwag die ergste, maar sowaar, ons kom deur.

Ons kyk terug hoe die ander seiljagte deur die ingang  vaar. Dit lyk asof hulle deur die sandduine kom! Nogal "scary", en ek weet nie of ek my verbeel nie, maar almal se hare lyk groot!

Vaar deur sandduine!?
Hulle vat die draai.



 Nou moet ons wag totdat die swaaibrug na die hoofkanaal oopmaak. Die brug maak op die uur oop vir die bote om deur te gaan. Ons is eerste in die ry.  Na 15 minute se wag, gaan die brug oop. Ons vaar deur en voor ons is Lefkas. 

Die brug swaai oop ...
... en almal vaar deur
Lefkas in sig.



Daar is plek by die dorpskaai en daar is sowaar vasmeertoue, maar geen vasmeerman nie en ons moet die hele affêre alleen doen. Ons slaag met vlieënde vaandels.

Lefkas is geleë langs die kanaal en is in 1953 herbou, nadat dit deur aardbewings vernietig is. Dis herbou met stene, houtpanele en sinkplaat. Dit het 'n bekoring van sy eie. Dis 'n werkende dorp, nie net vir toeriste nie. Ons loop deur die strate en geniet die atmosfeer. Almal sit suip en eet (behalwe ons). Ons het sommer op Maja geëet.

Staal kloktoring (na aardbewing opgerig)
Ou kerkie
Sinkplaat- en houtgebou
Sinkplaat taverna
Nog sinkplate



Archie het vandag die alternator laat toets, want hy is nog bekommerd oor ons battery situasie. Dit is piekfyn. Hy het ook 'n nuwe "splitter/isolator" gekoop. Ons het krag op die kaai, so Maja se motor het môre-oggend nie 'n verskoning om nie te vat nie...

Published with Blogger-droid v2.0.10

Tuesday, September 3, 2013

Vonitsa. Dag 129

3 September 2013. Dinsdag

Lourosrivier tot Vonitsa


Ons gaan vandag na Vonitsa (38º 55.289 N, 20º 53.168 O), net 9 myl. Die dorpie is ook in die Golf van Amvrakia.

Oggendskoot - Molshope



Die see hier wemel van aktiviteit. Visse spring, voëls vlieg, pelikane swem doer ver en die water beweeg en borrel van ek weet nie wat alles nie.

Pelikane



Ons vaar rustig deur die vlak water (5 meter) en later word dit darem dieper. 'n Flotilla (dis seiljagte wat in 'n groep vaar, onder leiding van 'n jag met 'n ervare kaptein, wat hulle van plek tot plek neem) kom van voor af.

Boomryk
Stert van die flotilla



Die golf is omring met berge en laat my dink aan die Golf van Kotor, maar nie so indrukwekkend nie.

Ons gooi anker by die dorpskaai, die wind waai ons skeef terwyl Arch tru, maar gelukkig kom 'n weldoener aangedraf tot ons redding. Die ou op die boot langs ons, sit en vreet en hy verwerdig hom nie om te help nie. Hy is nie 'n rêrige seiler nie, want ons bootmense help mekaar.

Dorpskaai
Rus 'n bietjie



Ons stap na die ou kasteel toe, maar daar is 'n groot slot op die hek. Dit is net oop van 07:00 tot 14:30.

Kasteel


Geluk met jou verjaarsdag, Francois!

Published with Blogger-droid v2.0.10

Monday, September 2, 2013

Verlatenheid. Dag 128.

2 September 2013. Maandag.

Preveza tot Lourosrivier


Voor ons vandag ry, moet ons eers supermark toe. Ons voorrade is op en die winkels was gister toe hier op Preveza. Ons stap langs die kaai af, waar die vissersbote besig is om hulle nagvangs te verkoop. Ons koop vars prawns. Die meeste van hulle lewe nog!

Ons koop proviand, trek anker op en vertrek. Vandag gaan ons die Golf van Amvrakia verder verken. Ons is oppad na die Lourosrivier (39º 02.807 N, 20º 47.010 O) en dis maar net 10 myl verder.

Oggendskoot - Bewolk



Dis half mistig en bewolk. Ons vaar rustig in die Golf. Die ankerplek is so half in die middel van nêrens. Dan is die hoogtepunt om in die rivier op te vaar met Dinkie en die voëllewe te geniet.

Ankerplek



Ons gooi anker, maar die ellendige Gus waai. Ons sal wag dat hy gaan lê voordat ons met Dinkie ry. 17:30 besluit ons, of Gus nou waai of nie, ons moet nou rivier toe. Dinkie neem ons. Die rit rivier-op is eintlik niks besonders nie. Die voëls kruip seker weg, want hulle is nêrens te sien nie. Die visse spring darem.

Lourosrivier
Laaglande en berge



Maja staan ver en verlate in die middel van die see, stoksielalleen. Ons ry nog 'n ent met Dinkie. Gus waai nog steeds en ons ry teen die klein golfies om by Maja te kom.

Verlatenheid



Toe tref die "magic" ons. Ons drink 'n glasie wyn op die dek. Ons is alleen. Die visse spring met sierlike boë uit die water uit. Hulle trek meters deur die lug.

Aandskoot



Ons maak die prawns gaar. Dis heerlik om sulke kos te eet, vars uit die see.

Vars uit die see



Verlate. Eensaam en alleen. Dis net ons, ek en my man. Gus het gaan lê, die aand daal oor ons neer. Daar in die vergesig, is liggies wat dofweg blink, wat ons herinner dat daar nog mense op die planeet is. Erens is daar beskawing, mense; nog lewe. Die see is net ons  s'n. Ons maak die golf ons eie.

Tranquility


Geluk lê in eenvoud.

Published with Blogger-droid v2.0.10

Preveza. Dag 127.

1 September 2013. Sondag.

Lygia tot Preveza


Dis lentedag, ek bedoel herfsdag. Ons verlaat die vissersdorp versigtig. Hier is baie versteekte rotse onder die water. Ek staan voor op die dek (die boek sê "put someone up front to con the way in"). Toe  is ek "up front to con the way out".

Ons gaan uit sonder stampe of stote en vat die pad na Preveza (38º 57.483 N, 20º 45.312 O), in die Golf van Amvrakia, 18 myl  verder.

Oggendskoot - Digby Preveza



Die see is stil, Gus lê en ons vaar geduldig saam met Maja tot by die kanaal waardeur jy moet vaar. Jy moet ook op Radiokanaal 12 die hawemeester roep en sy toestemming vra om die kanaal te gebruik. Gelukkig sê hy ja! Daar is vlak plekke, daarom moet jy tussen vier stelle bakens vaar.

Preveza



Ons kom by die dorpskaai aan. Ek gooi anker en Archie tru. 'n Buurman kom vat die toue op die kaai en maak vas. So maklik.

Dorpskaai



Dis nie 'n mooi dorp nie. Dis Sondag en ons stap deur die dorp. Hierdie is 'n spookdorp, alles is toe en niemand is op straat nie. Later sien ons darem nog vier mense. Ons gaan maar terug na Maja.

Kloktoring



Ons word vroeg (17:00) honger, maar die restaurante is toe. Stadig begin die dorp ontwaak. Die restauranteienaars maak oop, mense begin rondstap. Waar almal vandaan kom, weet nugter, maar toe dit donker word, is daar nie genoeg plek op die waterfront om te loop nie. Preveza is alles behalwe 'n spookdorp.

Ons eet heerlik, ek eet kalamari en Archie 'n seekat-arm.

Ek hou van Preveza. Die plek groei op mens.


Published with Blogger-droid v2.0.10