Monday, September 2, 2013

Preveza. Dag 127.

1 September 2013. Sondag.

Lygia tot Preveza


Dis lentedag, ek bedoel herfsdag. Ons verlaat die vissersdorp versigtig. Hier is baie versteekte rotse onder die water. Ek staan voor op die dek (die boek sê "put someone up front to con the way in"). Toe  is ek "up front to con the way out".

Ons gaan uit sonder stampe of stote en vat die pad na Preveza (38º 57.483 N, 20º 45.312 O), in die Golf van Amvrakia, 18 myl  verder.

Oggendskoot - Digby Preveza



Die see is stil, Gus lê en ons vaar geduldig saam met Maja tot by die kanaal waardeur jy moet vaar. Jy moet ook op Radiokanaal 12 die hawemeester roep en sy toestemming vra om die kanaal te gebruik. Gelukkig sê hy ja! Daar is vlak plekke, daarom moet jy tussen vier stelle bakens vaar.

Preveza



Ons kom by die dorpskaai aan. Ek gooi anker en Archie tru. 'n Buurman kom vat die toue op die kaai en maak vas. So maklik.

Dorpskaai



Dis nie 'n mooi dorp nie. Dis Sondag en ons stap deur die dorp. Hierdie is 'n spookdorp, alles is toe en niemand is op straat nie. Later sien ons darem nog vier mense. Ons gaan maar terug na Maja.

Kloktoring



Ons word vroeg (17:00) honger, maar die restaurante is toe. Stadig begin die dorp ontwaak. Die restauranteienaars maak oop, mense begin rondstap. Waar almal vandaan kom, weet nugter, maar toe dit donker word, is daar nie genoeg plek op die waterfront om te loop nie. Preveza is alles behalwe 'n spookdorp.

Ons eet heerlik, ek eet kalamari en Archie 'n seekat-arm.

Ek hou van Preveza. Die plek groei op mens.


Published with Blogger-droid v2.0.10

1 comment:

  1. Hi! Ek is bly die aanvanklike lewelose dorp was op die end toe aangenaam. Wat n lekker verrassing! En dit lyk of julle medeseilers behulpsaam en vriendelik is. Die dorpskaai is baie mooi. Eintlik is elke plek mooi.

    Geniet dit!
    Liefde
    Elizexxxx

    ReplyDelete