Sunday, August 11, 2013

Sing seeman sing. Dag 105.

10 Augustus 2013. Saterdag.


Kotor tot Bigova


Hulle het reën voorspel vir vandag. Daar is wolke, maar die son skyn. Archie roof gratis internet en doen eers bietjie sake op die rekenaar. Toe vertrek ons uit Kotor.  

Mure van Kotor


Ons gaan INA toe om diesel in te gooi, maar ons moes eers wag vir 'n groot boot om vas te meer. Uiteindelik is ons vol diesel en oppad na Bigova (42º 21.305 N, 18º 42.226 O), waar ons gaan anker. Dit is 23 myl tot daar.

Ons vaar in die  Golf van Kotor oppad na die oop see. Die wolke pak digter saam, want Gus waai hulle almal op 'n hoop. Gelukkig vaar ons wegger van die wolke.

Oggendskoot - Oortrokke


Ons vaar uit die Golf en span die hoofseil. Ons tref die see en hy is groooot. Die wind is gelukkig van agter en die deinings kom ook van agter wat dit makliker maak. Agter ons lê die Golf van Kotor onder 'n pikswart wolk-reën kombers.

Gus pluk aan die seile en ons trek die hoofseil in en skakel die motor aan. Dit klink anders as gewoonlik! Ek ruik iets soos warm engin! Daar is skrik in Archie se oë. Die motor spoeg nie water uit nie. Dit beteken dat die waterverkoelerding nie werk nie. As dit nie werk nie, kan die motor oorverhit en uitbrand, of iets.

Hy skakel die motor af en gaan ondertoe om ondersoek in te stel en ek moet die helm vat. Maja kan nie stuur sonder spoed nie, maar ek klou verbete aan die helm. Ons is soos 'n dobber op die see! Totaal uitgelewer aan die elemente van die natuur. Sing seeman sing!

Die see gooi ons genadeloos heen en weer. Ek voel totaal magteloos, op hierdie rowwe see, sonder motor en deinings soos berge. Archie werskaf aan die motor se binnegoed, maar  helaas, Maja spoeg steeds nie water uit nie. Nou is ons totaal afhanklik van wind. Ons span die hoofseil, want die wind waai ons in die regte rigting en ons sal móét seil.

Archie is weer af ondertoe, engin toe en ek is alleen op die dek met die helm vasgeklem in my hand. Ek roep (eerder gil) 'n paar keer Archie se naam hard en dringend, maar hy is verbete besig om die motor reg te maak. Die see gooi ons heen en weer. Gelukkig is hy 'n man met baie kennis en na, wat soos 'n ewigheid voel, is dit reg. Die verkoeler verkoel weer, verligting en dankbaarheid spoel soos 'n groot golf oor ons. Archie vat die helm oor. En  steeds is dit sing seeman sing!

Die deinings is baie groot. Ek kan nie agtertoe kyk nie en ook nie vorentoe nie. Die deinings agter Archie lyk soos berge.  Ek sing en sing en word kalmer en kalmer. Ek sal myself nie beskryf as 'n onverskrokke, dapper matroos nie. Nee, eerder 'n banggat! En ek sal nooit weer vloek nie!

Seeman sing en sing. En so nader ons die hawe waar ons gaan anker. Die weer lyk dreigend, dit kan enige tyd begin reën. Ons het vir twee en 'n half uur so gevaar. Die kalm water in die hawe was wonderlik en vervul my met 'n diepe dankbaarheid. Daar is restaurant boeie en ons gryp 'n boei. Dit begin later reën, nee, sous en Gus waai sy hart uit, maar ons is veilig.

Dit sous!


Dit hou op reën teen 20:00 en ons klim in Dinkie en roei Restoran toe. Daar is 'n basaar of iets aan die gang op die kaai in Bigova en dit wemel feestelik van die mense. Ons eet lekker en geniet die uitgelate lewe rondom ons.

Bigovabaai


Ai, die lewe van 'n seilende sigeuner...
Published with Blogger-droid v2.0.10

Friday, August 9, 2013

Môre Montenegro. Dag 103, 104.

8 Augustus 2013. Donderdag

Cavtat tot U Krtole


Om uit en in 'n land te gaan, bly maar 'n beslommernis. Maar dis deel van alles, net om te sorg dat alles nie té maklik is nie. Met moeite is ons uit Kroasië en met moeite is ons in Montenegro, maar gelukkig is die see darem baie kalmer as verlede keer. Sing is nie vandag nodig nie.

Dis 'n baie lang dag en ons kom nie by Kotor uit nie. Ons gooi anker by Krtole nadat ons 32 myl gevaar het. Dit was 'n lang dag, want ons het 07:00 uit Cavtat vertrek en kom eers 17:00 by Krtole aan.

U. Krtole



9 Augustus 2013. Vrydag.


U. Krtole tot Kotor


Vandag is dit Kotor. Ons vertrek laat, so 09:00, want ons wil nie te vroeg daar kom nie. Die mense vertrek gewoonlik eers teen 11:00 uit die kaai. As ons te vroeg daar is, is daar dalk nie plek vir ons nie.

Kusdorpie naby Tivat
Golf van Kotor
Kusdorpie naby Prcanj
Groot en klein


Dis deinserig in die golf van Kotor. Die wind is stil en dit is energieloos warm. Die kaai is taamlik leeg, maar Gus het skielik opgesteek. Nou is vasmeer nie meer maklik nie, maar 'n missie. By Kotor is daar mos nie iemand wat help nie.

Archie tru in die groot leë plek. Daar is nie ander bote naby nie. Teen die tyd dat ek die helm vat, vat Gus ons ook. Arch is op die kaai en Maja word deur Gus bestuur. Ons is later alongside. 'n Man van 'n superjag kom help. Archie klim terug en die man stoot ons weg van die kaai af. Hy wag vir ons op die kaai om die tou aan te gee. Arch maak sy draai, tru in, ek kry die tou en alles verloop vlot.

Ons is vasgemeer en drink ons "cold beverages". Ek staan op die kaai om die toue te bekyk, toe kom die kaaiman op sy klein motorfietsie daar aangejaag. Hy sê ons moet skuif, want drie groot jagte het daardie plekke bespreek.

Maar waar strip ek my moer!  My Duitse bloed (van my ma se kant af) kook skielik. Ek gee hom my vuilste kyk en vra hom hoe moes ons dit geweet het. As hy sy werk gedoen het, sou ons in die eerste plek nie daar gestop het nie.

Ons moet toe alles losmaak en van voor af op 'n ander plek vasmeer. Ek sê al die vloekwoorde op wat ek ken en ek dink ek het nou my papiere as matroos.

Die man help vasmeer, maar hy sien hierdie vroumens is kwaad. Archie betaal en hy sê: "Sorry Captain."
Archie, die ewige optimus sê: "Nou kan ons darem twee keer 'n "cold beverage" drink." (Ons drink altyd iets as die vasmeer of ankergooi of boei gryp suksesvol uitgevoer is.) En ek gooi vir hom nog 'n bier en vir my nog 'n sap!

Kotor bly maar mooi.

Published with Blogger-droid v2.0.10

Koebaai Kroasië. Dag 103

8 Augustus 2013. Donderdag


Vandag groet ons vir Kroasië.

Ons het vir ons kuiergaste, wat saam met ons geseil het, gevra wat vir hulle die hoogtepunt van hulle kuier in Kroasië was. Hulle het so gesê:

Bushy en Grietjie het van Dubrovnik gehou.

Dubrovnik
Dubrovnik




Fanie én Elize het albei Hvar se kaai "vibe", dorp en strand geniet. Na baie dink, het Elize besluit dis eintlik Split.

Hvar
Langbeen-sit op Hvarkaai
Split



Michelle én Anika het die meeste van Korcula gehou.

Korcula
Anika en Michelle 



Gerrit het van Dubrovnik se mure en die oorlogmuseum gehou.

Dubrovnik
Gerrit in oorlogsmuseum



Archie geniet die rustigheid van die ankerplekke die meeste.

Stil oggend by L Lucina ankerplek


Ek is absoluut betower deur die Blougrot en Komiza op Vis Eiland.

Komiza, Vis Eiland
Blougrot

Kroasië is bobaas!

Published with Blogger-droid v2.0.10

Thursday, August 8, 2013

Cavtat. Dag 102.

7 Augustus 2013. Woensdag.



Die dag begin rustig en songlad in Tiha, by Cavtat. So vreedsaam, mens sou nooit kon dink dat dit dieselfde baai was, waar ons lank gelede, so 'n nag van verskrikking beleef het nie.

Ons staan eers laat op. José-hulle kom eers so 12:00 met die bus van Dubrovnik af. Ons hou die kaai dop, want hulle sal roep as Archie hulle met Dinkie moet gaan haal.

Hier is hulle!


Toe staan hulle daar, José, Mart-Marie, met Livvy in die arms en Alex. Archie roei dadelik en hulle word ingelaai. Ons kuier op die dek en Alex swem heerlik. Ons volg sy voorbeeld en kort voor lank, is ons almal papnat. Behalwe Livvy, wat nie lus is vir die geswemmery nie.

Alex en Livvy
Alex leer roei


Later neem José ons uit vir ete. Ek en Archie kies lamstjops met bone en gebakte aartappels. Mart kies dit ook en ek moet sê, dit was heerlik voorberei.

Ons kuier weer by Maja en ek was baie hartseer toe hulle groet. Ek kry die lekkerste soentjies en drukkies by die kinders en skielik is die kuier verby. Na 'n laaste verwoestende waai met die arms, is hulle weg en oppad na die watertaxi, waarmee hulle terug Dubrovnik toe gaan.

Die aand is dit éérs stil op Maja. Geen kindervoete, geen kinderklaagliedere, geen kinderlaggies nie of kindergesiggies nie.

José en Mart-Marie, julle kuier was soos 'n koel bries op 'n snikheet dag.

Op Jose en Mart-Marie


Dis heeltemal té stil op Maja...

Published with Blogger-droid v2.0.10

Wednesday, August 7, 2013

Kuiermense. Dag 101

6 Augustus 2013.  Dinsdag 

Dubrovnik tot Cavtat

Vandag kom hulle! Bekende mense, wat 'n heerlike vooruitsig.

Ons wag. Hulle sal so 09:00 hier aankom met die bus, want hulle gaan tuis in 'n hotel in Dubrovnik. Die Marina is so 10 km uit die dorp uit. Dis later 09:20 en ons wag nog steeds. Elke minuut van wag, voel soos 'n ewigheid. Ek loop om hulle te soek en wie soek, sal vind. Toe sien ek hulle, José, Mart-Marie, Alex (6 jr) en Livvy (2 jr), ons Suid-Afrikaanse vriende wat nou in Spanje bly.

Die Gutierrez familie


Dis 'n nuwigheid vir ons, kinders op Maja. Sal sy bestand wees teen die aanslag van twee kinders aan boord? Hulle kom aan boord. Dis sakke en stootwaentjie en kinders. 

Loop die plank


Dis heerlik! Ons gesels en babbel en lag. Ons het hulle vir jare nie gesien nie. Nadat almal iets nat oor die lippe gehad het, en Alex gesê het hy dog dis 'n trip, vertrek ons. José help tou voor losmaak, onder die wakende oë van Alex. Mart-Marie bied haar dienste vir Archie aan by die toue agter.

Die wind waai vir Maja net waar hy wil, maar onder die kaptein se bekwame leiding, is ons maklik weg uit die Marina. Alex verstom hom aan alles en Livvy sit effe benoud by haar pa. Ons vaar in die rivier af na die see. Alex is so opgewonde soos 'n sesjarige maar kan wees en mens sou dink José en Mart-Marie is ook ses jaar oud!

Leerling stuurman, Alex


Dis lekker warm en die manne wil swem. In spring die manne en  Mart laat haar ook nie twee keer nooi nie en swem soos 'n meermin in die water. Dis net Livvy wat die groot klomp water nie vertrou nie en klou soos 'n klein apie aan haar ma vas.

Diepsee swem
Livvy


Na die swem is daar bietjie wind en ons span die seile. Alex staan weer verstom. Ons seil so bietjie, eintlik net dat ons besoekers seil kan ervaar. Toe die wind te min raak, trek ons maar die seile in. Ons vaar naby Dubrovnik verby en Mart-Marie neem foto's asof sy vir die paparazzi werk. Dis nie aldag wat mens Dubrovnik se ou stad van die kant af sien nie.

Dubrovnik mure
Dubrovnik mure


Ons vaar rustig en al geselsend verder na Cavtat. Ons gaan weer na Uvala Tiha om te anker. Die keer kyk Mart-Marie hoe gooi ek die anker.

Dis warm en almal is lus vir swem. Veral Alex geniet die water. Later speel hy en Livvy, natuurlik onder die wakende oog van moeder, in Dinkie. Tot Livvy skaterlag as Dinkie teen Maja bots.

Almal is honger en ons eet brood, koue vleis en kaas op die dek. Ons kuier so lekker, dat hulle besluit om môre weer te kom. Hulle neem die 19:00 bus terug na Dubrovnik, met twee moeë kinders.

Maja is skielik so stil.
Published with Blogger-droid v2.0.10

Honderd dae. Dag 100.

5 Augustus 2013.  Maandag


Ston tot Dubrovnik

Honderd dae in my nuwe wêreld. Ek leef in 'n wêreld waar niks stagnant is nie. Alles beweeg omtrent altyd.
Water beweeg, vloei. Maja beweeg, selfs op die stilste water, in die  Marinas en langs die kaai. As ek 'n poskaart soek, beweeg dit. Die Konzum wieg as ek kosvoorrade koop. Die storte in die Marina is die ergste. Dit staan vir geen stonde stil nie!

Op die honderdste dag is dit Dubrovnik toe. Ons vertrek 05:30 vanaf die kaai by Ston. Ons kom maklik uit, want die groot Cat wat voor ons vasgemeer was, het gedurende die nag spoorloos verdwyn.  Arch maak toue los en ek bestuur uit.

Oggendskoot - Lagiesberge
Seekranse


Daar is 'n snaakse warm wind wat waai, wat glad nie voorspel is nie. Ons span die seile en seil. Later begin Gus met sy gelol en ruk aan die seile. Dan waai hy net liggies, dan ruk hy homself weer op. Dan waai hy oos, dan wes. Dan waai hy noord, dan weer suid. Geen mens kan met so 'n wispelturige wind seil nie. Af gaan die seile.

Oppad na Dubrovnik

Nader aan Dubrovnik raak Gus bietjie stiller en ons kom so 12:30 by Dubrovnik aan. Die manne wys die plek aan en is gereed om ons te help.

Ons begin skrop en "polish". Ons skrop die dek. Ek skrop vir Maja binne. Elke ding word met 'n nat lap afgevee. 'n Hele bondel wasgoed word na die wassery geneem, handdoeke en beddegoed.

Archie gaan maak die gasbottels vol. Ons is besiger as 'n hele swerm bye. Ons gaan koop kosvoorrade.
Moeg, maar tevrede, kan ons later ontspan. Alles moet piekfyn wees vir José en Mart-Marie en hulle kinders wat môre kom kuier.

Die stort staan nie stil nie...


Published with Blogger-droid v2.0.10

Monday, August 5, 2013

Ston. Dag 99

4 Augustus 2013. Sondag


Saplunara tot Ston


Vandag is ek lus vir lamsboud en gebraaide aartappels. Dis seker omdat dit Sondag is en ek huis toe verlang.

Ons vertrek 07:00, terwyl Saplunara nog rustig slaap. Ons gaan vandag na Ston (42º50.083 N,  17º41.810 O). Dis net 12 myl, maar daar is net vier plekke langs die kaai waar jy alongside kan vasmeer. As jy 'n plek wil kry, moet jy vroeg daar wees.

Oggendskoot - Oppad


Die wind is net reg, en ons seil vir 'n uur. Om na Ston te gaan, moet jy deur 'n nou en baie vlak kanaal vaar. Ons was al daar saam met Elize en Fanie, so ons weet waar en wat. Al wat ons nie weet nie, is of ons plek in die kaai gaan kry.

Ons vaar die vier myl in die kanaal af en die kaai kom in sig. Dit lyk vol. Ons gaan nader. Die wind waai altyd in hierdie kanaal en ek is al klaar benoud oor die vasmeer.

Toe ons nader kom, vertrek een van die jagte. Wat 'n geluk. Ons bespreek ons strategie. Al die toue is gereed. Archie maak sy draai. Kom alongside in. Ek moet die helm oorvat, maar Maja se snoet pyl op die kaai af. Ek hardloop om af te skop.

Ek kyk om en sien Archie is op die kaai met die toue. Hy stap altyd af op die kaai, omdat dit soms hoog en moeilik is, want my knieë is mos moer toe. Ek hardloop helm toe, want Maja kan haarself mos nie bestuur nie. Die wind waai ons agtertoe, vlak water toe.

Ek moet vorentoe ry. Dan moet ek stop. Om te stop, moet ek tru. 'n Man kom help. Ek moet vir hom die agterste tou gooi. Ek gooi dit in die water. Sê: "Ag shit!" Die man sê: "Calm down." En ek kalmeer. Gooi weer die tou. Hy vang dit en maak agter vas, terwyl Arch die voorste toue vasmaak. Ons is vas en veilig. Vasmeer bly maar moeilik as die wind waai.

Ston se kaai (Maja is heel agter)


Ston is bekend vir sy sout wat sedert die Romeinse tyd hier gemaak is in groot, vlak damme èn vir die ou waterfontein waaruit mense nog vandag kom water haal vir huishoudelike gebruik. Net so bekend is die ou mure wat die langste in Europa is en verbind Ston met Mali Ston aan die ander kant van die berg.

Die ou fontein


Ons gaan dorp toe en later gaan loop ons die mure.  Dis hoog en ver en dis warm. Ons drink water vir die vale.

Mure van Ston
Ston met sy soutdamme


Ons loop met die mure langs tot by Mali Ston. Mali beteken klein, so ons loop na Klein Ston, wat dan ook 'n klein dorpie is. 

Mali Ston
Ou muur


Ons stap terug Ston toe en na aandete gaan kyk ons na 'n opelug vertoning van volksdanse. Hulle dans uitstekend.

Volksdans
Volksdans

Wat 'n heerlike dag!
Published with Blogger-droid v2.0.10