5 Augustus 2013. Maandag
Ston tot Dubrovnik |
Honderd dae in my nuwe wêreld. Ek leef in 'n wêreld waar niks stagnant is nie. Alles beweeg omtrent altyd.
Water beweeg, vloei. Maja beweeg, selfs op die stilste water, in die Marinas en langs die kaai. As ek 'n poskaart soek, beweeg dit. Die Konzum wieg as ek kosvoorrade koop. Die storte in die Marina is die ergste. Dit staan vir geen stonde stil nie!
Op die honderdste dag is dit Dubrovnik toe. Ons vertrek 05:30 vanaf die kaai by Ston. Ons kom maklik uit, want die groot Cat wat voor ons vasgemeer was, het gedurende die nag spoorloos verdwyn. Arch maak toue los en ek bestuur uit.
Oggendskoot - Lagiesberge |
Seekranse |
Daar is 'n snaakse warm wind wat waai, wat glad nie voorspel is nie. Ons span die seile en seil. Later begin Gus met sy gelol en ruk aan die seile. Dan waai hy net liggies, dan ruk hy homself weer op. Dan waai hy oos, dan wes. Dan waai hy noord, dan weer suid. Geen mens kan met so 'n wispelturige wind seil nie. Af gaan die seile.
Oppad na Dubrovnik |
Nader aan Dubrovnik raak Gus bietjie stiller en ons kom so 12:30 by Dubrovnik aan. Die manne wys die plek aan en is gereed om ons te help.
Ons begin skrop en "polish". Ons skrop die dek. Ek skrop vir Maja binne. Elke ding word met 'n nat lap afgevee. 'n Hele bondel wasgoed word na die wassery geneem, handdoeke en beddegoed.
Archie gaan maak die gasbottels vol. Ons is besiger as 'n hele swerm bye. Ons gaan koop kosvoorrade.
Moeg, maar tevrede, kan ons later ontspan. Alles moet piekfyn wees vir José en Mart-Marie en hulle kinders wat môre kom kuier.
Die stort staan nie stil nie...
Published with Blogger-droid v2.0.10
No comments:
Post a Comment