Tuesday, June 11, 2013

Ston. Dag 45


Dubrovnik tot Ston (Wit lyn)

Vandag is daar hande. Hande om saam te werk. Maar nee! Archie sê ek en hy moet alleen probeer uitkom by die Dubrovnik Marina. Ons moet kwansuis oefen vir die tye wat ons alleen is. Wat gaan aan met die man? Hier sien ek vir weke uit na Elize en Fanie se kuier, nie net omdat ek verlang nie, maar dat hulle kan help!


Elize en Fanie is toe op roep, in geval van nood. Ons kom maklik uit ons nou vasmeerplekkie en vaar na die petrolstasie toe. Ons moet  "alongside" vasmeer (en ons moet dit weer alleen doen om kwansuis te oefen.) en ek en ou Archie stry en baklei so met die vasmeerdery, dat ons arme gaste seker dink ons huwelik is op die rotse.

Ons gooi diesel in en met 'n lekker vol tenk brandstof, vaar ons weg uit Dubrovnik met al sy mure en toeriste na die onbekende (vir ons nuwe lammers tot slagting).

Ons gaan vandag na Ston (42° 50.073 N  17° 41.811 O). Dis 26 myl soontoe. Die see is nie rof nie, daar is net gemaklike deinings wat nie vir Fanie sal seesiek maak nie. Fanie kan nie wag om seile te span nie en Elize sit daar met 'n onpeilbare uitdrukking op haar gesig. Elize en Fanie kwalifiseer darem hierdie keer om te help. 

Die wind werk in Fanie se guns en kort voor lank kry ons die opdrag van die kaptein: "Span die seile!" Hulle kry hulle lesing. Dis die "mainsail" en genoa en "topping lift" en "boom" en toue en "tack" (dis as jy wind-op seil en jy verander van rigting). Die keer is dit nie my kop wat draai nie, maar hulle koppe draai.


"Span daardie seile!"





Hulle leer vinnig en ek en Fanie "tack" en Elize gee katrolslingers aan en bêre dit weer sorgvuldig, vat die helm en bestuur die boot. Dit is te wonderlik met al die bekwame mense op Maja en ons seil vir die vale.


Elize agter die wiel



Archie is in sy noppies, want dis die eerste keer in 'n lang tyd wat die wind reg is vir seil. Ek en Elize noem die wind "Gus", want die weervoorspellings sê altyd die windspoed is 10 knope "gusting to" 14. Dis hoe die wind "Gus" gedoop word. Gus het later te sterk geword en toe "reef" ons die seile. Dis as jy die hoofseil en die genoa kleiner maak, sodat die boot nie te skuins lê nie. Fanie bluf homself deur te dink hy gaan visvang en maak die lyn nat. Niks gevang nie.


Visserman



Ons nader die nouer gedeelte van Stonski Kanal en die seile moet af. Al die nuwelinge help gretig. Ons vaar verby Broce na Ston en meer "alongside" vas. 


Broce dorp
"Alongside" Ston kaai 



Almal mag weer help. Ston is 'n mooi klein dorpie en ons loop ook na Mali Ston. Daar is ou mure om die dorp wat hulle besig is om te restoureer.


Ston se fort

Ons by Mali Ston
Mali Ston se hawe



Ons braai 'n lekker vleisie op die kaai met Bushy se braai. Ons eet te heerlik. Dankie Bushy.

Braai-broers
Kaai braai






Published with Blogger-droid v2.0.10

Monday, June 10, 2013

Hulle is hier! Dag 43 en 44

Vandag is die dag. Familie uit Suid-Afrika! Ons sien nou nie eintlik bekendes hier rond nie, dus is elke Jan Rap en sy maat welkom by ons. Meer nog Elize en Fanie.

Ek en Archie klim die bus na die busstop. Elize  en Fanie kom 08:32 (Sondag ) in Dubrovnik aan en ons ontmoet hulle by die busstop. Ons wag. Hulle is tien minute laat.

Ek sien eerste vir Fanie. Ek hardloop hom amper onderstebo en druk hom amper dood. Toe sien ek vir Elize uit die bus klim. As Elize in die Bybelse tyd geleef het en werk gesoek het, sou sy werk as roubeklaer gekry het, want sy kan vreeslik goed tjank. En toe huil sy. En toe huil ek. En toe huil ons saam in 'n koeksuster-greep.

Fanie en die koeksusters


Ons klim weer op 'n ander bus terug na die marina, waar Maja nie kan wag om hulle te ontmoet nie.
Elize kyk die loopplank wat haar aan boord moet neem baie wantrouig aan. Versigtig benader sy die loopplank en loop knypboud-benoud oor. Sonder om in te val gaan sy aan boord.

Gereed om aan boord te kom


Fanie, boerseun wat hy is, is met al die rugsakke en al gemaklik oor die loopplank. Hulle lyk maar bra uitgewas, want hulle het die nagbus van Triest in Italië, na Dubrovnik gevat.

Elize lig ons in dat my broer, Basie, iets vir ons gestuur het. Ons maak dit baie nuuskierig oop. Dit is 'n Suid-Afrikaanse vlag! Ons vlaggie het in die storm geskeur. Archie hys dadelik die vlag. Dit wapper trots in die wind.

Ons nuwe vlag. Dankie Basie
Elize en Archie


Ek maak vir hulle 'n lekker ontbyt, gesels so bietjie en hulle pak uit. Later oorval die moeg hulle en Fanie gaan skuins lê. Later volg Elize sy voorbeeld. Die aand, na  'n uurlange Skype met die res van die familie, gaan ons slaap.

Maandag is muurdag. Ons gaan vandag die mure in die ou stad aandurf. Dis maar baie bewolk. Elize en Fanie was veronderstel om goeie weer saam te bring. Hulle pak toe net goeie weer vir Sondag in. Elize het nie plek in haar rugsak gehad vir nog goeie weer nie, want sy het te veel klere gebring. Toe reën dit terwyl ons die mure loop, maar ons geniet die mure terdeë. Dis indrukwekkend mooi.

Drie kerke in Dubrovnik
Dubrovnik mosaïk


Die weer klaar op en ons gaan na die fort. Die uitsigte vanaf die fort is baie mooi.

Uitsig van fort


Die see lyk omgeklits en onthuts. Daar's tot branders wat teen die rotse breek. Môre moet ons weer die see aandurf. Ons gaste is onseker-opgewonde- benoud oor die nuwe ervaring wat voorlê.

Ons gaan koop voorrade by die Konzum supermark om ons koskaste tot oorlopens toe vol te maak.
Die aand eet ons gevulde inkvis. Almal help. Fanie en Elize vul die inkvis met die rysvulsel, ek kook die groenterys en braai die inkvis en Archie skink wyn vir ons en iets ligs  vir die gaste. Dit gaan jolig en gesellig. Dit lag en skerts en gesels. Dit vóél soos huis.

Almal help
Gevulde inkvis met geurrys

Ons eet en kuier en lag.
Published with Blogger-droid v2.0.10

Saturday, June 8, 2013

Wat 'n Nag. Dag 42

U. Tiha (Cavtat) tot Dubrovnik (Blou lyn)


Om 00:05 skrik ek wakker. Dis die wind, dis die woedende wind. Dit klink of die wind viool speel met Maja se toue, 'n totale simfonie orkes.

Ek begin met die nagwaak. Ons word heen en weer geswaai, die kant toe en daai kant toe. Ek hoop net die anker hou! Ek hou wag tot 01:10. Archie vra wat maak ek. Ek sê ek hou wag. Hy slaap so bietjie verder. Op 'n stadium toe ek uitkyk, sien ek ons is baie naby ons buurboot. Hou ons anker ooit nog? Ek maak vir Archie wakker en hy is maar vieserig. Hy dink mos ek is effens paranoïes met die waghouery. Hy stel ondersoek in en sê ons is nog reg.

Ek is op en af, dan lê ek (sommer in die saloon), dan loer ek. Die wind is woedend!
Archie staan op, sê hy kan nie slaap nie. Ek dink toe "join the club". Ons kyk weer na buite. Ons is baie naby die bure en hulle is baie naby húlle bure.

Daar was omtrent agt jagte in die baai. Op al die bote sien jy die donker skimme van die kapteins op dek van hulle bote, besig om soos brandwagte dinge dop te hou.
En die wind wil nie ophou waai nie!!!

02:45 sê Archie benoud dat ons moet skuif. Hy vermoed ons anker sleep. Maja is besig om land toe te waai en teen die bure vas te waai. Ons hoor die motor van 'n ander boot wat ook skuif. Ek is moer benoud.

Dis donker, dis net wind en nou moet ek anker optrek. Ek help kyk dat ons nie in ander bote vasry nie, en Archie soek nuwe ankerplek. Met die optrek van die anker sien ons dat dit verstrengel is met 'n stuk ou tou wat heel waarskylik die rede was dat dit nie gehou het nie.  Ons kry 'n plek en in die donker en in die sterk wind, gooi ons anker.

Ons hoor hoe nog mense hulle ankers optrek en motor na ander beter ankerplekke. Al die kapteins is op hulle dekke. Niemand slaap nie. Archie het die res van die nag ons boot se "track" op die GPS dopgehou. Ons drink koffie en later tee.

Die wind hou 5:30 op waai en ons gaan slaap toe vir 'n rukkie.

Wat 'n nag! As ons in die nag gestrand het, dan kon ons  baie skade gekry het.

Uiteindelik is dit dag. Die son skyn en dis windstil. 

Tihabaai (Uvala Tiha)
Tihabaai (Uvala Tiha)


Ons maak klaar om na Dubrovnik te gaan.
Die see is nog steeds kalm en ons vaar 13 myl na ACI Marina by Dubrovnik. 

Ligtoring naby Dubrovnik


Môre kom Elize en Fanie by ons aansluit vir twee weke. Ek kan nie wag om hulle te sien nie.

Vanaand gaan ek lekker slaap in die veilige beskutting van die marina.


Published with Blogger-droid v2.0.10

Totsiens Montenegro. Dag 41.

Herceg Novi tot Cavtat (U. Tiha)


Vandag gaan ons terug Kroasië toe.Ons groet Montenegro en verlaat die hawe van Herceg Novi.  Ek kan nie help om 'n effense koue rilling te kry as ek aan daardie see dink nie. Ek kan maar net hoop vir die beste. Daar's nie wind nie en die Golf is soos 'n spieël. Ek is vol hoop.

Totsiens Montenegro



Ons vaar eers Zelenika toe, want dit is waar ons by die doeane moet gaan uitklaar. Ons meer "alongside" vas en binne minute het die doeane polisie ons paspoorte gestempel. Ons vaar oop see toe.

Kasteel by uitgang van Golf
Goeters vir Gerrie


Die see lyk kalm van die afstand af. Ons kom nader en nader. Dit lyk goed. Dit lyk meer as goed! Ek slaak 'n sug van verligting en my mond vorm sommer vanself 'n glimlag.





Ons seil vir 'n ruk, maar later gaan die wind lê en ons trek die seile in. Dis 'n ver pad terug, sowat 26 myl.
Ons nader Cavtat en kry al die toue reg vir "alongside" vasmeer. Die doeane by Cavtat lyk soos 'n bynes. Dis seiljagte en groot jagte. Almal kom die land binne. Ons kom met 'n skok agter dat dit nie vandag "alongside" vasmeerdag is nie, maar die ankermetode. Dis wanneer jy anker gooi en dan agteruit na die kaai ry om vas te meer. Ons het dit nog nooit gedoen nie.

Dis vinnig anker toe hardloop en laat sak, arme Archie ry agteruit, kaai toe. Die toue is nie op hulle plekke nie, want dis gestel vir verdomde "alongside". Dis konsternasie! Die bote langs ons, aan albei kante druk net fenders oral in waar ons dreig om hulle te tref. En toe is ons vas aan die kaai en natgesweet.  Ek weet nie eers of die flippen anker gebyt het nie.

Ek pas boot op en Archie gaan doen die doeane-ding. Na, wat vir my soos 'n ewigheid  voel, is Archie terug en ons kan vertrek. Daar het intussen twee ander bote langs ons ingetrek. Ek trek anker op en Archie ry versigtig vorentoe. Ek sukkel met die anker. Dit voel of die ding nie samewerking wil gee nie. Ek hoor 'n lawaai, mense wat roep. Die boot langs ons het hulle anker bo-oor ons s'n gegooi en ek sukkel so, want ek is besig om hulle anker ook op te trek. Weer konsternasie. Archie moet weer agtertoe met 'n steeks Maja. Almal druk weer fenders in en skop die boot weg aan weerskante van ons. Die mooi outjie op die boot langs my kyk my in die oë, glimlag breed en sê: "Sailing is such fun!". Eindelik is ons los en almal wuif en groet.

Ons anker by Tiha, die baai net langsaan, waar ons die vorige keer ook geanker het. Soooo baie om te leer!!!

Na 'n besige dag, 'n rustige nag
Die son sak


Ons klim in ons skommelbed. Die wind het begin waai.

Ek hoop net die anker hou...

Thursday, June 6, 2013

Herceg Novi. Dag 39 en 40

U. Krtole tot Herceg Novi (Rooi lyn)


Ons trek anker op. Vandag gaan ons na Herceg Novi (42°26,990 N  18°32,028 O). Die dorpie lê heel aan die begin van die Golf van Kotor.

Ek wonder wat se dag is dit vandag. Ek het skoon tred verloor met die tyd. Archie sê dis Woensdag en ek glo hom. Ons span so bietjie seile en die wind speel saam. Ons vaar vol seil. Nie lank nie, of die wind gaan lê so bietjie skuins en stuur die reën om ons net so bietjie nat te maak. Dit gebeur toe ook net so, want ons vaar mos sonder 'n bimini! Ons staan  gewapen met ons reënbaadjies in die reën. En natuurlik kom die reën van voor af. Hoe dan anders, reg in ons oë! Dit is gelukkig 'n sagte ou reënbuitjie, maar dit maak nog steeds nat.

Die reën hou op en ons word beloon met 'n skool dolfyne!

Tel die dolfyne


Ons nader Herceg Novi en motor nader, op soek na die hawe. Die boek sê jy sien eers die hawe as jy baie naby is. Toe ons baie naby is, sien ons die hawe! 'n Vasmeerman wys vir ons waar ons moet vasmeer en na 'n bietjie vorentoe en agtertoe ry van ou Arch se kant af, is ons in posisie en die man help vasmeer.

Veilig in die hawe.


En toe gaan ons dorp toe. (My Std 1 juffrou het ons geleer jy begin nie 'n sin met "En" nie. Jammer juffrou). Ons gaan mos altyd dorp toe. Ons koop vis, want vanaand gaan ek probeer vis gaarmaak. Al sê ek dit self, die vis was damn lekker. My se man sê ook so. (Uit "Manakwalanders").

Kalmte oor die Golf van Kotor
Sonsondergang op Herceg Novi


Donderdag breek aan soos enige ander dag. Bietjie bewolk. Hierdie kant van die berg is die klimaat beter as by Kotor. Die baai van Kotor het sy eie mikro-klimaat as gevolg van die katabatiese winde  van die land en see.

Ons gaan drink koffie om internet te kry. Ons gaan maak 'n draai in die stari grad en besoek die Kanli Kula Fort. Na 'n hele klomp trappe is ons bo. Ons loop daar rond. 'n Klein dogtertjie breek die kanon se wiel af. Kinders is baie gevaarlik!

Kanli Kula Fort
Kanli Kula Fort


Die stari grad is nie baie oud nie, want dis in die 19de eeu gebou.

Stari grad


Die son skyn warm op my lyf. Een van die dae gaan ek weer kla oor die hitte.

Môre pak ons weer die groot see aan oppad terug na Kroasië. Ek hoop net die see is nie meer so humeurig nie. Ek hou maar duimvas.

Hoop môre se see lyk so




Kotor en Krtole. Dag 33 tot 38

Kotor tot U. Krtole

Dis Donderdag. Dit reën alweer in Kotor. Dit reën nie. Dit reën. Dit reën nie. Archie klim die bus en vat die bimini Tivat toe. Daar is 'n man wat dit kan regmaak. Ek bly agter in Kotor en gesels met my buurvrou, Julia. Hulle seil al vir vier jaar. Sy is van Brittanje en haar man, Greg, is van Australië. Toe dit weer begin reën, gaan lees ek boek. Archie bly lank weg. Ek maak iets warm om te eet, want as hy terugkom, gaan hy seker papnat en koud wees.

Dit is toe ook net so. Hy kom terug en hy is papnat en yskoud. Hy het terug geloop, want hy het moeg geword om vir die bus te wag. Hy wou kortpad deur die bosse vat, toe is daar nie 'n pad nie. Nou lyk die arme man of hy in die oorlog was - stukkend en gehawend. Die bimini-man, Miho Bilan, sal bel en laat weet of hy die ding kan regmaak.

Vrydagoggend bel Miho en lig ons in dat nie hy of die ander seilmaker kan dit herstel of 'n nuwe een maak nie, want hulle het te veel werk en daar is niemand anders in Montenegro wat dit doen nie. Almal maak reg vir die nuwe seisoen.

Archie kyk op die internet of daar iemand in Dubrovnik is wat seile maak. Hy kry 'n naam, bel die man en sake lyk goed. Dennis sien kans. Ons moet die ou bimini saambring vir 'n patroon. Jy sien, my suster-hulle kom oor 'n week seil en ons wil die afdak hê as hulle kom. Hulle gaan mos goeie weer saambring en dis nie lekker om heel dag in die son te sit as jy seil nie. Ons is bang hulle brand sproete! En ons ontmoet hulle in Dubrovnik.

Saterdag, 8:30 klim ons die bus na Dubrovnik toe. Dis baie vinniger om soontoe te ry as om soontoe te seil. Die busrit neem amper drie ure,  want ons moet deur die doane gaan. Kotor is in Montenegro en Dubrovnik in Kroasië. Ons kry vir Dennis by die marina, hy bekyk die bimini met 'n arendsoog en meet vir die vale.  Hy sê dit sal oor 'n week gereed wees as ons weer in Dubrovnik kom. Wat 'n verligting. Ons kom eers laataand terug by Maja.

Ek dink ek is verslaaf aan kersies.

Daar's net twee oor ....



Sondag besluit ons dat as ons langer by Kotor gaan bly, gaan daar mossels aan ons kiel groei. Dis tyd om te vertrek. Ons bure vertrek vroeg die Sondag. Dis alweer koebaai. Ons verlaat my geliefde Kotor net na twaalf. Dis die eerste keer in 'n lang tyd wat ons op die water vaar. Die wind is nie reg vir seil nie, en ons motor.

Ons vaar verby die eilande van Perast. 

Die eilande van Perast



Otok Gospa od Skrpjela is 'n mensgemaakte eiland. Die mense van Perast het klippe op die rif gegooi en volgens meer romantiese bronne het hulle seerowerskepe vol klippe gegooi en op die rif laat sink. Later (1630) het hulle begin om 'n kerk op die rif te bou.

Kerkie op Otok Gospa od Skrpjela
Gaan dit weer reën?



Die ander eiland is Sveti Djordje, wat eintlik 'n abdy is. Die arme abdy is al twee keer deur die Turke vernietig en ook deur aardbewings beskadig.

 Abdy Sveti Djordje



Ons vaar verder, verby nog 'n eiland-kerk, tot waar ons gaan anker by Uvala Krtole. 

Eiland-kerk



Daar is baie riwwe en rotse, so jy moet maar volgens die boek vaar anders loop jy jou rieme styf. Die eiland van Uvala Krtole was eers 'n vakansie eiland met romantiese grashutte. 

Romantiese grashut !?



Daar is reeds drie ander seiljagte toe ons daar aankom. Ons gaan deur die ankergooi-ritueel en vaar meesterlik. Ons is geanker. En wat 'n verrassing, ons bure is ook hier. Ons groet met die roep van haar naam en vriendelike gewuif.

Daai wolke gooi reën op Kotor!
Baai van Uvala Krtole - ons ankerplek




Ons bly Maandag en Dinsdag op anker in die baai. Ons koop niks, ons loop niks, ons doen niks. Ons ìs net.


Die skemer daal ...
... as die son onder gaan