Herceg Novi tot Cavtat (U. Tiha) |
Vandag gaan ons terug Kroasië toe.Ons groet Montenegro en verlaat die hawe van Herceg Novi. Ek kan nie help om 'n effense koue rilling te kry as ek aan daardie see dink nie. Ek kan maar net hoop vir die beste. Daar's nie wind nie en die Golf is soos 'n spieël. Ek is vol hoop.
Totsiens Montenegro |
Ons vaar eers Zelenika toe, want dit is waar ons by die doeane moet gaan uitklaar. Ons meer "alongside" vas en binne minute het die doeane polisie ons paspoorte gestempel. Ons vaar oop see toe.
Kasteel by uitgang van Golf |
Goeters vir Gerrie |
Die see lyk kalm van die afstand af. Ons kom nader en nader. Dit lyk goed. Dit lyk meer as goed! Ek slaak 'n sug van verligting en my mond vorm sommer vanself 'n glimlag.
Ons seil vir 'n ruk, maar later gaan die wind lê en ons trek die seile in. Dis 'n ver pad terug, sowat 26 myl.
Ons nader Cavtat en kry al die toue reg vir "alongside" vasmeer. Die doeane by Cavtat lyk soos 'n bynes. Dis seiljagte en groot jagte. Almal kom die land binne. Ons kom met 'n skok agter dat dit nie vandag "alongside" vasmeerdag is nie, maar die ankermetode. Dis wanneer jy anker gooi en dan agteruit na die kaai ry om vas te meer. Ons het dit nog nooit gedoen nie.
Dis vinnig anker toe hardloop en laat sak, arme Archie ry agteruit, kaai toe. Die toue is nie op hulle plekke nie, want dis gestel vir verdomde "alongside". Dis konsternasie! Die bote langs ons, aan albei kante druk net fenders oral in waar ons dreig om hulle te tref. En toe is ons vas aan die kaai en natgesweet. Ek weet nie eers of die flippen anker gebyt het nie.
Ek pas boot op en Archie gaan doen die doeane-ding. Na, wat vir my soos 'n ewigheid voel, is Archie terug en ons kan vertrek. Daar het intussen twee ander bote langs ons ingetrek. Ek trek anker op en Archie ry versigtig vorentoe. Ek sukkel met die anker. Dit voel of die ding nie samewerking wil gee nie. Ek hoor 'n lawaai, mense wat roep. Die boot langs ons het hulle anker bo-oor ons s'n gegooi en ek sukkel so, want ek is besig om hulle anker ook op te trek. Weer konsternasie. Archie moet weer agtertoe met 'n steeks Maja. Almal druk weer fenders in en skop die boot weg aan weerskante van ons. Die mooi outjie op die boot langs my kyk my in die oë, glimlag breed en sê: "Sailing is such fun!". Eindelik is ons los en almal wuif en groet.
Ons anker by Tiha, die baai net langsaan, waar ons die vorige keer ook geanker het. Soooo baie om te leer!!!
Na 'n besige dag, 'n rustige nag |
Die son sak |
Ons klim in ons skommelbed. Die wind het begin waai.
Ek hoop net die anker hou...