Thursday, June 6, 2013

Kotor en Krtole. Dag 33 tot 38

Kotor tot U. Krtole

Dis Donderdag. Dit reën alweer in Kotor. Dit reën nie. Dit reën. Dit reën nie. Archie klim die bus en vat die bimini Tivat toe. Daar is 'n man wat dit kan regmaak. Ek bly agter in Kotor en gesels met my buurvrou, Julia. Hulle seil al vir vier jaar. Sy is van Brittanje en haar man, Greg, is van Australië. Toe dit weer begin reën, gaan lees ek boek. Archie bly lank weg. Ek maak iets warm om te eet, want as hy terugkom, gaan hy seker papnat en koud wees.

Dit is toe ook net so. Hy kom terug en hy is papnat en yskoud. Hy het terug geloop, want hy het moeg geword om vir die bus te wag. Hy wou kortpad deur die bosse vat, toe is daar nie 'n pad nie. Nou lyk die arme man of hy in die oorlog was - stukkend en gehawend. Die bimini-man, Miho Bilan, sal bel en laat weet of hy die ding kan regmaak.

Vrydagoggend bel Miho en lig ons in dat nie hy of die ander seilmaker kan dit herstel of 'n nuwe een maak nie, want hulle het te veel werk en daar is niemand anders in Montenegro wat dit doen nie. Almal maak reg vir die nuwe seisoen.

Archie kyk op die internet of daar iemand in Dubrovnik is wat seile maak. Hy kry 'n naam, bel die man en sake lyk goed. Dennis sien kans. Ons moet die ou bimini saambring vir 'n patroon. Jy sien, my suster-hulle kom oor 'n week seil en ons wil die afdak hê as hulle kom. Hulle gaan mos goeie weer saambring en dis nie lekker om heel dag in die son te sit as jy seil nie. Ons is bang hulle brand sproete! En ons ontmoet hulle in Dubrovnik.

Saterdag, 8:30 klim ons die bus na Dubrovnik toe. Dis baie vinniger om soontoe te ry as om soontoe te seil. Die busrit neem amper drie ure,  want ons moet deur die doane gaan. Kotor is in Montenegro en Dubrovnik in Kroasië. Ons kry vir Dennis by die marina, hy bekyk die bimini met 'n arendsoog en meet vir die vale.  Hy sê dit sal oor 'n week gereed wees as ons weer in Dubrovnik kom. Wat 'n verligting. Ons kom eers laataand terug by Maja.

Ek dink ek is verslaaf aan kersies.

Daar's net twee oor ....



Sondag besluit ons dat as ons langer by Kotor gaan bly, gaan daar mossels aan ons kiel groei. Dis tyd om te vertrek. Ons bure vertrek vroeg die Sondag. Dis alweer koebaai. Ons verlaat my geliefde Kotor net na twaalf. Dis die eerste keer in 'n lang tyd wat ons op die water vaar. Die wind is nie reg vir seil nie, en ons motor.

Ons vaar verby die eilande van Perast. 

Die eilande van Perast



Otok Gospa od Skrpjela is 'n mensgemaakte eiland. Die mense van Perast het klippe op die rif gegooi en volgens meer romantiese bronne het hulle seerowerskepe vol klippe gegooi en op die rif laat sink. Later (1630) het hulle begin om 'n kerk op die rif te bou.

Kerkie op Otok Gospa od Skrpjela
Gaan dit weer reën?



Die ander eiland is Sveti Djordje, wat eintlik 'n abdy is. Die arme abdy is al twee keer deur die Turke vernietig en ook deur aardbewings beskadig.

 Abdy Sveti Djordje



Ons vaar verder, verby nog 'n eiland-kerk, tot waar ons gaan anker by Uvala Krtole. 

Eiland-kerk



Daar is baie riwwe en rotse, so jy moet maar volgens die boek vaar anders loop jy jou rieme styf. Die eiland van Uvala Krtole was eers 'n vakansie eiland met romantiese grashutte. 

Romantiese grashut !?



Daar is reeds drie ander seiljagte toe ons daar aankom. Ons gaan deur die ankergooi-ritueel en vaar meesterlik. Ons is geanker. En wat 'n verrassing, ons bure is ook hier. Ons groet met die roep van haar naam en vriendelike gewuif.

Daai wolke gooi reën op Kotor!
Baai van Uvala Krtole - ons ankerplek




Ons bly Maandag en Dinsdag op anker in die baai. Ons koop niks, ons loop niks, ons doen niks. Ons ìs net.


Die skemer daal ...
... as die son onder gaan

Thursday, May 30, 2013

Mure om ons. Dag 32


Archie bak pannekoek vir ontbyt! En dit reën nie eers nie. Nee, moenie my verkeerd verstaan nie, ek kla nie, ek sê net. Wat  'n aanwins vir 'n man is hy nie. Hy meet beslag af, gooi in, draai om en natuurlik is die eerste een 'n flop. Ons eet dit daar en dan op. (Ek dink hy het dit aspris gedoen). Ek strooi die suiker en kaneel oor en kort voor lank sit ons aan. Ons smul aan die soet en dink aan huis.

Pannekoek vir my kinders


Vandag gaan ons daardie eeue-oue mure van Kotor aandurf. Die boek sê dis vir die energieke toeris, want dis 280m op boontoe. Wel, dan is dit natuurlik vir ons bedoel! Waar kan jy nou meer energiek as 'n pensioenaris kry? En ek wil die mure van vergange se dae trap vir trap uitklim. En ons voel baie sterk na die pannekoek.

Ek trek my stapstewels aan en gewapen met my stapstok is ek reg vir die geklim. Archie kom nes hy is, want hy is altyd reg vir alles.

Ons koop ons kaartjies by die vrou op  die stoel, €3 per persoon en toe is die mure ons s'n. Ek verplaas my terug na die 9de eeu, toe hulle begin het om die mure te bou, maar dis so lank terug, ek kan nie tot daar dink nie.

Gewapen met stapstewels en stapstok



Trap vir trap kry ons hoogte en daarmee saam pragtige uitsigte oor die baai. Ons sien vir Maja daar onder in die baai. Sy word al kleiner en kleiner. Dis warm, al is dit bewolk, en ons begin liggies te sweet.

Maja word kleiner en kleiner



Die stari grad lyk anders  van bo af. Dit lyk soos 'n lappieskombers met verskillende skakerings van rooi en oranje.

Die mure neem ons na die klein ou kerkie. Wie sal nou in die ou tyd na die kerkie toe gegaan het?

Halfpad-boontoe-kerkie (1518 NC)



Die St John's Kasteel staan sterk en trots heel bo. Dis nog 'n hele entjie tot daar.

St John's staan trots daarbo



Ons sweet ook nie meer net liggies nie! Van onder tot bo is dit 1350 trappe. Ek het nie self getel nie, want as ek so moet tel, kan ek nie kyk en beleef nie. Die boek sê so.

Ons kom nader en nader aan die kasteel. Langs die pad sit manne wat water en bier uit hul koelbokse uit verkoop, dis nou vir die swetende dorstiges.

Mure om ons
Ons


...1349, nog net een trappie, dan is ons bo! 1350 en ons is bo! Die muur, forte en kasteel is so gebou dat jy die vyand van alle kante af kan sien aankom. Die stari grad lê ver en veilig daar onder.

Lappieskombers


Ons kyk bo rond en begin die aftog blaas. Dis warm en ons stap af en af en af. Maja lyk ook nie meer so klein nie en die lappieskombers, verander weer trap na trap na ou huise. Voor ons ons weer kon kry, is ons binne-in die ou stad.

Terug na ou stad
Terug na ou stad


Die aand, 19:00, gaan ek weer kerk toe en verstaan nog steeds nie 'n dooie woord nie.

Om 21:00 het ons 'n Skype-afspraak met my broer, Gerrie, en sy gesin. Ons internet is maar power, maar ons gaan sit op die dek waar dit die beste is. Na 'n klomp "missed calls" kom Gerrie deur. Ons praat met half-gehoorde sinne en verwronge beelde en sonder beelde, maar ons praat en ons praat hard. Maar ons gee nie om nie, want ek praat met my familie!!

Tuesday, May 28, 2013

Vakansie in Kotor. Dag 29,30,31

Vandag gaan ons terug na Kotor van Prcanj. Ons wag dat die reën opklaar. Dit gebeur gouer as wat ons gedink het. Ons wag totdat dit windstil is voor ons vertrek, want ons moet alleen vasmeer. By Kotor is daar niemand wat help nie. Ons is op ons eie.

Ons vertrek 14:30 na Kotor. Dit is windstil. Daar waai as't ware nie eers 'n briesie nie. Perfekte toestande vir 'n pensionaris en sy benoude vroutjie om alleen vas te meer. Ons beraadslaag soos bendelede in hul kinderdae. As ons daar kom, kry Archie vir Maja in 'n agteruit posisie. Sodra sy in posisie is, vat ek die helm oor en kry vir Archie na genoeg aan die kaai om af te klim met 'n tou. Hy maak dan die tou vas en kry die belangrike voortou  uit die water. Ek haak daai tou met die boothaak en Archie klim terug op die boot. Ek hardloop vorentoe met die tou en maak vas en Archie maak agter vas.

Maja kom stadig nader aan die kaai. Ons weet presies wat om te doen. 'n Kalmte van weet daal oor my neer. Dis steeds windstil. Daar is baie plek in die baai. Archie kies sy plek sorgvuldig uit. Tru in posisie. Ek staan nader om die helm oor te vat. Toe gebeur alles soos in 'n fliek met geen ouderdomsbeperking. SEEPGLAD. Die held en heldin glimlag tevrede. Ons het stoksielalleen vasgemeer. "I think congratulations are in order!"

Ons sit suip langbeen op die dek. Geen wind, geen storm, geen reën. Ek dink ons verdien 'n pizza. Toe die son sak is ons in die stari grad en deel 'n moerse lekker pizza tussen ons. Ons gaan slaap rustig en tevrede. Dit reën in die nag.

***

Ons hou ons lyf ware toeris. Koop kersies en vars groente by die mark, slenter rond, besien die besienswaardighede en hou vakansie.

Ou kerkie langs die pad



Later die middag gaan ons op 'n lekker lang staptog  om 'n goeie uitsig oor Kotor te kry. Hierdie plek is besig om my hart te steel. Die baai lê vreedsaam in die laatmiddagson.

In die veld
Kerk , see en berge
Baai van Kotor
Berge agter Kotor


Ons staan en kyk  na Maja doer onder wat rustig op ons terugkoms wag. Daar's g'n stormwind wat nou aan haar ruk en pluk nie!

Maja lê en wag

Dit reën in die nag.

***

Dis 'n pragtige dag. Ons moet vandag na Tivat toe gaan. Daar is mense wat bimini's maak. Ons klim die bus. Tivat is net 7 km van Kotor. Ons kry die naam van die persoon, maar hy is uitstedig, sal eers Donderdag terug wees. Ons loop rond, gaan terug busstop toe en klim die bus terug na Kotor. Amper sê ek terug huis toe.

Ons gaan eet by 'n restaurant waar die "locals" eet. Archie eet Bumbari. Dis afval (dunderm van die een of ander gedierte) gevul met knoffel en polenta. Ek eet iets anders.

Bumbari
Vleis met kamjak


Die aand gaan kyk ons na die musiekskool se konsert. Ek verlang amper na die skool se konserte.
Dis kindertjies wat sing. Klavierspel en dwarsfluit en nog sang.

Daar staan 'n reuse plesierboot langs die kaai ...

Sunday, May 26, 2013

Terug by Golf van Kotor. Dag 28

Virpazar tot Prcanj via Bar

Al weer reën. Ons pak op en stap na die busstop. Gelukkig reën dit saggies en hou later op terwyl ons vir die bus wag. Ons koop kaartjies na Bar, want daar is nie 'n direkte roete na Kotor nie.

Bar is maar 'n lelike dorp. Ons moet drie ure hier wag vir die volgende bus. Daar is 'n groot hypermark en ons gaan soontoe. Ons koop 'n stuk gerookte vark en brood. Ons gaan kyk hoe lyk die marina. Die ou dorp is ver vanwaar ons is, so ons sal dit later besoek as ons met Maja hierheen kom. Ons eet langs die marina en gaan drink koffie by die hypermark se koffie winkel. Ons stap terug busstop toe en klim die bus.

Ons kom 16:30 by Kotor en kyk gou in Kotor Marina of die Swede nog daar is, maar hulle is weg. Ons stap hierdie keer aan die ander kant van die Golf na Prcanj om ander uitsigte van Kotor te kry.

Kotor met sy muur van oorkant
Kotor aan die einde van die reëboog

Snaakse plek dié. Een oomblik reën dit, die volgende oomblik skyn die son, soms gebeur dit gelyktydig dan is daar 'n reënboog en so gaan dit aan.



Nog 'n reënboog

Dieselfde reënboog

Na 'n uur se stap kom ons by Prcanj Marina aan. Ons stap dadelik na Maja toe. Sy was nou lank alleen. Toe ons haar sien lyk sy so bietjie anders. Ons bimini (afdak) is aan flarde en sy is vasgemeer met nuwe toue.

Bimini aan flarde

Die man op die boot oorkant ons en Mitar vertel dat daar 'n storm met winde van tot 60 knope was saam met hael en reën. Van die bote in die (nie genoeg beskutte) marina se toue het gebreek en Mitar moes inspring om die bote te red en weer vas te maak.

Gelukkig het Maja niks ernstig oorgekom nie. Hulle voorspel reën vir die hele week wat kom. Ons gaan morê terug na Kotor en dan daar wag op beter dae. Ons gaan ook nuwe toue koop en probeer om iemand te kry om 'n nuwe bimini te maak.

Ons doen 'n beroep op Elize en Fanie, wat oor twee weke kom, om vir ons goeie weer saam te bring.

Friday, May 24, 2013

Vreemdes, vetkoek en feta. Dag 27

Skadar Meer ekskursie (Bruin roete)

Ons word wakker en dit reën. Ons het 'n boottoer bespreek vir 10:00 op Skadar Meer. Nogal duur en ons gaan letterlik die geld in die water gooi as dit reën. Dis 'n sien-toer en jy kan nie die mooi sien as dit reën nie. Teen 9:00 sien ons 'n klein stukkie blou lug. Daar's hoop! Ons stap 9:45 na die Pelikan Hotel waar ons by die groep moet inval.

'n Stukkie blou lug

Ons klim op die ekskursie boot. Daar is 'n klomp vreemde mense op die boot. Hulle klink Frans. Ons gaan sit heel voor in die boot dat ons mooi kan sien. Daar heers 'n aansteeklike  vrolikheid op die boot. Dit kekkel en lag. Ons is die enigste ander mense op die boot maar voel gou tuis, want ek is mos eintlik van Franse afkoms. 

Om by die meer uit te kom, vaar ons in 'n kanaal wat deur die vleiland gaan.

Vleiland 
Kanaal deur vleiland

Die toerleier kom daar aan met 'n bottel "water" en plastiese glasies. Sy gooi vir almal van die water in. Tot vir ons. 

Raaswater

Almal trek gesig as hulle dit drink. Dis sterk. Dit slaan jou asem weg, maak jou bolip lam en laat jou sweet. Glo vir my, dis alles behalwe water! Nou kekkel en lag hulle eers. Archie sê dit is hoe my vrouens-etes klink. (Ek dink hy oordryf).

Kekkel en lag

Ons kyk na die meer. Dis mooi en ons is bly die son skyn.

Skadar Meer
Skadar Meer

 Net daarna kry ons vetkoek en feta. Ons eet heerlik saam met die groep.

Vetkoek en feta

Ons vaar verby "Prison Island". Dis 'n baie klein eilandjie wat eintlik 'n tronk was. Daar heers groot opgewondenheid onder die Franse toe ons in die verte 'n pelikaan sien. Toe ons nader aan die grootbek voël kom, probeer hulle selfs stilbly dat hy nie wegvlieg nie. Maar helaas, daar vlieg hy.

"Prison Island"

Ons bootreis duur twee ure, maar die laaste halfuur, met die teruggaan, reën dit. Ons is baie tevrede. Ons het 'n baie lekker Skadar-bootreis gehad.

Terug in Virpazar

Die reën hou gou op en ons stap rond.  Virpazar is 'n besige, lewendige plekkie met baie toergroepe wat hom besoek.

Thursday, May 23, 2013

Binnelanders. Dag 24, 25, 26

Prcanj tot Virpazar


Vandag is net 'n dag van niks doen. Kotor se stari grad (ou stad) is interessant. Ons is te lui om vandag die indrukwekkende mure van Kotor te gaan klim. Ons sal dit doen as ons oor 'n paar dae weer hierheen terugkom.

Kotor
Nes maak
Kotor fort
Kerkplein
Nou straatjie





Ons gee ons oor aan verdwaal in die ou dorp, maar ons verdwaal nie eers nie. Ons eet 'n baie vroeë middagete by 'n baie rooi Chinese restaurant. (11:00).

So by drie uur maak ons reg om na  Prcanj te vertrek. Dis net 'n hanetreetjie, twee myl wat ons moet vaar. Ons het by die klein Marina Prcanj plek vir Maja bespreek. Ons gaan die arme ou dingetjie alleen los vir vier dae, terwyl ons die binneland van Montenegro gaan verken. Ons kan nie vir Maja by Kotor los nie, want daar meer jy langs die kaai in die dorp vas. Almal loop daar verby en dit is nie veilig om 'n boot so lank daar te los nie.

Ons klop ons Sweedse bure op en groet hulle. Dis maar die weë van seilers. Daar is altyd te gou koebaais. Miskien sien ons hulle weer.

Ons moet eers gaan diesel ingooi. Dis nie net van stop by 'n motorhawe en sê: "Maak vol, asseblief" nie. Nee, dis parallel parkeer en vorentoe en agtertoe en toue gryp en vasmaak. Teen die tyd wat jy kan sê: "Maak vol asseblief", is jy natgesweet.

Ons kom by Prcanj Marina aan, meer vas, gee die bootpapiere en ontspan weer. Ons pak ons goedjies vir die volgende vier dae op droë grond.

Dit was aand en dit was môre. Die volgende dag.

Ons sluit vir Maja en groet haar. Mitar, die vasmeerman, laai ons agt uur op om ons oor die water na die ander kant van die baai te vat. Aan die anderkant sal daar 'n taxi wees waarmee ons Kotor toe kan gaan waar ons die bus moet klim na Podgorica, hoofstad van Montenegro.

Mitar vat ons oor die water


Die taxi is nie daar nie en ons wag 'n ruk. Dit kom nie en ons begin stap. Dis veertig minute se stap. Toe begin dit saggies te reën. Ons trek maar ons reënbaadjies aan en stap verder. By Kotor loop ons verby ons vriende se boot. Hulle sien ons en ons groet weer.

Ons klim die bus en ry na Podgorica. Dit is nie 'n mooi stad nie. Baie onversorgde woonstelblokke en almal het wasgoed op die lyn. Ons moet twee ure wag vir ons volgende bus na Virpazar.

Ons stap toe maar dorp toe waar 'n groot mark is. Ons wil twee lamtjops vir die aand koop. Eers verstaan hulle ons nie, maar nadat ek geblêr het, weet hulle ons soek lam. Toe wil hulle heel snitte aan ons verkoop. Hulle roep toe 'n man wat Engels magtig is en ons verduidelik dat ons net twee tjops wil hê. Hulle kap toe vir ons een tjop by die een stuk af en nog 'n tjop by 'n ander stuk. Hulle gebruik nie 'n saag nie, hulle kap dit met 'n kloofbyl af.

Ons klim die bus 14:00 na Virpazar en kom 14:40 by Virpazar aan. Daar is mooi berge en 'n groot binnelandse meer, Skadar Meer, wat ons wil sien.

Uitsig van ons venster op Virpazar
Vleiland 


Dit is baie bewolk en ons stap rond. Dis 'n klein plek. Die aand braai ons die lamtjops op die kamer se tweeplaat-stoof. Die lam is heerlik sag. Archie sê dis die tweede lekkerste lamtjop wat hy in sy lewe geeët het.

Dit was weer aand en is weer môre en dit reën nog steeds. Vandag is daar nie 'n kat se kans om 'n toer op die meer te neem nie, want dit reën katte en honde. Dit lyk eerder na 'n reënwoud. Archie kyk deur die venster en merk op dat dit horisontaal reën, so erg waai die wind.

Die swaeltjies kom skuil onder ons dak teen die reën. Ons hoop die weer laat ons toe om môre Skadar Meer te gaan verken.

Ons balkon se wasgoedlyn