Tuesday, May 16, 2023

 Sorrento. 

14 Mei 2023. Sondag.

Die son skyn amper. Hulle voorspel reën vir vanmiddag. So, ons gaan die oggend gebruik om Sorrento te verken. Ons klim die trein en daar trek ons. Oral langs die treinspoor is boorde vol swaarbelaaide suurlemoenbome. Dit ís voorwaar suurlemoenwêreld hierdie.

Sorrento is pragtig. Die man uit graniet gekap verwelkom ons so hartlik as wat hy kan. Hy het mos maar eintlik 'n hart van klip. Daar heers 'n lewendige atmosfeer in die dorp. Vrolike gelukkige mense benut die reënlose paar ure. Stalletjies en winkeltjies is oral. Met natuurlik suurlemoene oral waar jy kyk. Die kenteken van dié omgewing. Ai, die helderkleurige rokke met die suurlemoene op, is vir my so mooi. Maar duur! Die songeel winkeltjies lyk vrolik en lok jou in. Ek wil net koop, maar gelukkig het ek amper geen ekstra plek in my tas nie. (Ek het in elk geval al my sakgeld op plante vir Marchie's Place spandeer) Al die goed kos 'n fortuin, want ons rand is mos in sy maai. Maar kyk is vry. Én ek kyk en snuffel en bewonder al die pragtige goeters.

Sorrento standbeeld

Voetganger straat

Stalletjies

Suurlemoen tema

Suurlemoen tema

Mandjiesvol granate

Vars granate

Suurlemoeme

Varsprodukte

Varsprodukte

Ons gaan na die kerke. Ek is mos 'n kerkmens en die Roomse kerke is mos vir my vreeslik mooi binne. Ek verkyk my aan die versierde dakke en mure. En die altare en beelde. Pragtig. Ons bekyk ook die "Dominona Seat" van die 14de eeu.                 

Katedraal
 
Katedraal binne

Katedraal binne

Dominova Seat, 14de eeu

Ons kyk na die marina wat daar onder lê. Mense staan in rye om met die toerbote rond te vaar en die Amalfikus van die see te sien. Ai, die alewige rye! 

Ons stap met baie trappe af na die hawe en dink onwillekeurig aan onse kleine Maja wat nou 'n ander heenkome in Istanbul gevind het. Daar gaan volgende week 'n seilwedvaart in die Sorrento, Amalfi en Salermo baaie wees, so die seilers werk en skarrel rond soos miere om hul seile en jagte reg te kry vir die groot gebeurtenis. Archie kyk baie belangstellend na die bedrywighede. Miskien verlang 'n stukkie van hom wél na Maja. Vir my is die strand op stelte, met al die sonstoele, baie interessant. As daar nie plek vir 'n strand is nie, maak jy 'n plan!

Marina
Kyk uit oor marina

Sorrento

Seiljag voorbereiding

Strand op stelte

Ons stap weer boontoe en drink die atmosfeer gulsig in. Elize sal baie van Sorrento hou. Dis 'n toeriste paradys. Archie staan by die ou olyfboom, wat sekerlik Marchie's Place se olyfboom se oupagrootjie kon gewees het. Hierdie Sorrento is 'n plek so na aan my hart.

Ons eet pizza vir middagete en klim die trein om voor die reën tuis te wees. En ons maak dit net. Toe ons tuis is, begin dit sous. Hulle voorspel reën tot en met Woensdag. Donderdag is ons laaste dag hier en dit behoort dan sonnig te wees. 

Ou olyfboom


Monday, May 15, 2023

 Amalfikus. 13 Mei 2023. Saterdag.

Ja, ons is terug. Nie op ons kleine Maja nie. Op Skopelos vanaf middel Maart. Ons het vreeslik aan die huis en in die tuin gewerk. En vreeslik saam met nuwe vriende gekuier. Maar dis anderdag se storie.

Ons gaan Italië toe. Amalfikus, almal raak gaande daaroor. Blykbaar prentjiemooi. So, ons het besluit ons laat Marchie's Place agter en die tuin in die bekwame hande van Anthony, 'n mede-Afrikaner. En daar trek ons, spei ons vlerke, gewapen met 8kg handbagasie en reënklere.

Nou bly ons in Kastellammare di Stabia. Dis 'n dorp wat baie sentraal tussen Napels, Pompeii en Amalfikus is. Ons arriveer saam met tropiese sikloon of iets, want van sonnige Amalfi, is daar geen sprake nie. Saterdag klim ons die trein na Sorrento en daarna die bus na Amalfi. Makliker gesê as gedaan, want jy moet heeltyd in rye staan om bus te kry. Die eerste bus is vol en ons kry plek op volgende bus. Gelukkig aan die regterkant van die bus, want dan kan jy mooi sien. Dis maar 'n gevaarlike pad die, vol draaie en baie smal en loodregte kranse aan die een kant. 

Wel, die busrit is asemrowend mooi, al is dit bewolk. (Foto's is aaklig vanuit 'n bewegende bus met baie swak lig). Ons besluit om nie by Positano af te klim nie, maar deur te ry tot by die dorpie, Amalfi. 

Amalfi is 'n pragtige dorpie. Wemel van toeriste. Dit reën liggies. Ons dwaal in die nat strate rond en elke nou en dan slaan ons die sambreel op. In hierdie geweste loop jy nie sonder 'n sambreel nie. Ons eet pizza so loop-loop, want hulle jaag jou weg as jy op die bankie wil eet.  Ek verstom my aan al die suurlemoene. Dis suurlemoenwêreld die. Oral hang goudgeel suurlemoene aan die bome. Dan word hulle mandjiesvol in stalletjies verkoop. Dis suurlemoenrokkies en lappe en serpe en kouse en kombuisgoed en keramiek en en en. Pragtig geel en sonnig. Dis nou die kleur van suurlemoene waarvan ek praat, want in dié wêreld vergeet die son om te skyn. Bottels Limoncello oral op die rakke.

Wikipedia sê: "Limoncello is an Italian lemon liqueur mainly produced in Southern Italy, especially in the region around the Sorrentine Peninsula and the coast of Amalfi. It is the second-most popular liqueur in Italy and is traditionally served chilled as an after-dinner digestivo. It is also a popular homemade liqueur, with various recipes available online and in print.

Limoncello is made from the zest of lemons and usually has a slightly cloudy appearance, which originates from the presence of small essential oil droplets suspended in the drink."

Dit begin reën en ons klim die bus, nee staan in die ry om die bus te klim. Ons is net te laat om sitplek te kry en ons sê ons sal in die bus staan. Hoop iemand klim af. Wat ook later gebeur en toe sit ons prima-voor in die bus en kan goed sien. Die pad is gevaarlik nat. Ons bestuurder is 'n tipiese joviale Taljaner wat almal langs die pad ken en soene waai. Hy swets ook ander bestuurders deur die oop venster en dan knipoog hy vir ons.

Ai, as die son net wil skyn. Ons kom darem veilig in Sorrento aan. Dit reën nou hard en ons klim die trein terug huis toe. En dit reën reën reën. 

Ek verlang na Skopelos. 



Amalfikus

Positano

Positano

Klou teen die kranse

Amalfi

Amalfi se hawe

Amalfi

Amalfi Katedraal

Trappe op

Fontein

Plein

"When life gives you lemons - make Limoncello"
























































Wednesday, September 28, 2022

Tot Siens

28 September 2022. Woensdag. 

Ons is al weer op die veerboot oppad na Volos. Hierdie keer is dit vir ons Golden Visa. Ons afspraak is Vrydag, 23 September om 8:30. Om seker te maak ons is betyds, klim ons al Donderdagmiddag die veerboot. Deesdae moet ons weer maskers op die veerboot dra. 

Ons ontmoet vir Evagelia voor die gebou en sy is gewapen met ons magdom menigde papiere en dokumentasie. 
Alles verloop verbasend vlot. Alles word ingedien, ons vingersfdrukke word geneem en ons kry ons blou tydelike verblyfpermit totdat ons ons Golden Visa kry. Hulle noem dit jou bloukaart. Dit is 'n groot verligting, want ons visums verstryk Saterdag. Nou is ons weer wettig. 

Archie moet die water op ons naam kry. Hy het dit sommer op Skopelos gedoen. Toe gaan hy in Volos na die elektrisiteit departement toe en kry kry die elektrisiteit op ons naam. Saterdag gaan ons terug na Skopelos. 

Die hele huiskoopproses in Griekeland was 'n lang, pynvolle en moeilike proses, met baie verskuilde kostes. As ons geweet het dis so moeilik, sou ons dalk nie huis gekoop het nie. Maar hier is ons nou in ons nuwe dorp in ons nuwe huis op die straat. En ons bly heerlik. 

Ons eet tuisgemaakte Griekse moussaka, Ek bak lemoenkoek wat eintlik 'n flop is. Maar ons is ingeburger. En moenie dink op die Griekse eilande is nie goggas nie. Stinkgoggas kom loer in. En 'n honderdpoot kom kuier. En 'n groot springkaan dink my plante lyk te lekker.

Marchie's Place

Moussaka op die stoep

Flop lemoenkoek

100-poot kom kuier

Ons verken Skopelos straatjie vir straatjie. En soms, as ons so rondloop en ek sien Sue se huis, dan sê ek saggies in my kop: "Damn you, Sue!" Maar ek is baie gelukkig in Marchie's Place. En ons hou van Skopelos. 

39 Steps huis

Huis in Skopelos

Straat-af

Straat tuin

Alonissos Eiland in die verte

So het ons aan die einde gekom van 'n era van seil, saam met ons geliefde kleine Maja. Sy is nou gelukkig en tevrede in Istanboel. Ek kyk met heimwee na seiljagte wat hier by Skopelos se hawe inkom en vasmeer. Maar daar is vrede in my hart oor seil. Dit was heerlik en opwindend, maar dis nou verby.

In die oggend drink ek my koffie in die bed en kyk hoe die son opkom. Soms is dit doodgewoon, ander kere is dit 'n skouspel van kleure. Dis 'n nuwe onseker lewe. 

Ons is nou Skopelossers. 'n Nuwe era het vir ons aangebreek. Wat dit vir ons inhou, is nog onduidelik. Dit is in die mis versteek. Mettertyd sal die mistigheid opklaar en die toekoms sal duideliker word.

Ons vlieg 11 November terug na Suid-Afrika. Nou ja. Tot siens na 'n vreemde jaar. Tot volgende jaar, waar die toekoms die hede word.

Sonsopkoms
Sonsopkoms

Interessante wolke

Tot siens


Sunday, September 18, 2022

Uiteindelik

 18 September 2022. Sondag.

Al ons verwagtings is in die drein af. Dit voel of hierdie huis nooit gekoop gaan word nie. Dis nou een van twee dinge, óf iets wat regtig die moeite werd is, kom nie maklik nie, óf die heelal wys vir ons dat ons nie die huis moet koop nie. Die eienaar, Giannis, gaan nou Maandag met die vroeë Flying Dolphin kom om te teken. (Dit klink amper vir my na nog 'n Sue-situasie.)

Intussen lê ek met my opgeswelde seer enkel in die lug. Archie moet nou verblyf vir nog drie dae hier in Volos soek, want hierdie plek waar ons nou bly, is vol bespreek. Hy kry gelukkig plek net 240m van hier af en ek loop baie stadig soontoe.

Nou wag ons maar weer. Ek lê op die bed en kyk na die enigste Engelse kanaal op die tv, BBC news. So lê ek vir drie dae en kyk na die koningin se dood. Archie gaan stap so nou en dan om net uit te kom. Van goedkoop kruideniersware en klein matjies koop in Volos, is daar nou geen sprake nie. Ek lê pens en pootjies in die lug en ons weet nie eers of die koop gaan deurgaan nie.

Archie se afspraak is vir Maandag, 10:30 by die bank. Ek kyk Sondag na Poiseidon se windvoorspelling en hulle voorspel wind vir Maandag. En as daar wind is, kan die klein sensitiewe Flying Dolphin nie vaar nie (as sy ooit al reggemaak is)

Maandag is Archie 10:30 by die bank en Giannis (eienaar) het nie opgedaag nie. Die Flying Dolphin kon nie vaar nie. Hy gaan nou met die  groot 14:00 veerboot kom. Die rit duur so 4 ure, dus sal hy so 18:00 in Volos wees. Hulle kry toe alles by die bank gereed en Archie het die tjeks in sy sak, gereed om vanaand, 18:00 aan Giannis te oorhandig.

Die roubeklaers lê blomme ter ere van die koningin, ek rus my voet om reg te wees vir die groot trek en Archie gaan weereens om kontrak te probeer teken. Die spanning! Het Giannis opgedaag?

Dit word later 19:00 en Archie is nog steeds weg. Hoe lank vat dit nou om 'n kontrak te teken. Dit word 20:00 en toe kon ek dit nie meer hou nie en ek bel vir Archie. Giannis het opgedaag en hulle is nog besig. Hy kom net voor 21:00 terug. En ons is toe die trotse bankrot eienaars van Marchie's Place! Die spanning val sommer so van my lyf af.

Archie sê elke bladsy (31 bladsye) van kontrak is gelees én vertaal. Dan stry hulle in Grieks. Dan praat almal gelyk. En Giannis is toe volgens Archie 'n baie gawe man. 

Dinsdag vat ons die 8:30 veerboot huis toe (ja, huis toe) en Safa en Mike wag vir ons op die hawe met die sleutel. Almal is ene glimlagte en ons is tuis. Nou gaan ons eintlik eers regtig sien wat ons gekoop het.

Wel, die uitsig is pragtig! Maar Marchie's Place is nie volmaak nie. Hy front oos, so ons sal pergola moet opsit, anders gaan die oggendson ons uitbak. Mike het gesê al die huise in Skopelos het sommige klam mure en Marchie's Place is geen uitsondering nie. Mens kan sien dis was 'n vakansie huis, want daar is die een en ander wat Mr Fixit moet fieks.

Maar dis 'n heerlike gerieflike mooi huis. Bietjie te na aan die pad,  maar almal sê ek sal gewoond raak aan die padgeluide. Hier gaan ons lekker bly.

Ons bly nou amper 'n week hier en dit voel of ek al maande hier bly. Totaal tuis in die huis. Die pad? Wel, ek is nog besig om gewoond te raak. (Ons was nou die dag by Safa se kantoor in die chora en die motorfietse en kinders het so lawaai dat ek toe dankbaar is vir Marchie's Place se "stilte".

Ons begin in die tuin te werk. Archie moet die buurman se braambosse wat oorhang, snoei. Hy grawe ook 'n gat vir die suurlemoenboom wat ons wil plant. Ons gaan koop baie grond, roosmaryn en olyfboom en dit word geplant. Ook al die steggies wat so mooi op Maja gegroei het, word uitgeplant. Hier is nog baie werk in die tuin, maar die meeste moet in die lente gedoen word.

Dan sit ons op die stoep en bewonder die mooi uitsig. Ai, maar ons bly te lekker in ons huis op straat! En net om heeltemal tuis te voel, bak Archie beskuit. 

Marchie's Place

Sue se huis (regs)

Leë kombuis

Ons trek in

Gastekamers ...

... gereed vir gaste

Werk in die tuin

Snoei braambosse

Olyfboom geplant

Bak beskuit

Ons eerste koffie ...

... op die stoep

Skemerkelkie ...

... met 'n uitsig

Ons afspraak vir ons Golden Visa is 23 September en ons Schengen Visum verstryk 24 September. Praat van "living on the edge". Ons moet die Donderdag, 22 September die veerboot klim. En ek sien alweer daar kom erge wind. Dink darem die ou grote sal kan vaar in sterk wind.