28 September 2022. Woensdag.
Ons is al weer op die veerboot oppad na Volos. Hierdie keer is dit vir ons Golden Visa. Ons afspraak is Vrydag, 23 September om 8:30. Om seker te maak ons is betyds, klim ons al Donderdagmiddag die veerboot. Deesdae moet ons weer maskers op die veerboot dra.
Ons ontmoet vir Evagelia voor die gebou en sy is gewapen met ons magdom menigde papiere en dokumentasie.
Alles verloop verbasend vlot. Alles word ingedien, ons vingersfdrukke word geneem en ons kry ons blou tydelike verblyfpermit totdat ons ons Golden Visa kry. Hulle noem dit jou bloukaart. Dit is 'n groot verligting, want ons visums verstryk Saterdag. Nou is ons weer wettig.
Archie moet die water op ons naam kry. Hy het dit sommer op Skopelos gedoen. Toe gaan hy in Volos na die elektrisiteit departement toe en kry kry die elektrisiteit op ons naam. Saterdag gaan ons terug na Skopelos.
Die hele huiskoopproses in Griekeland was 'n lang, pynvolle en moeilike proses, met baie verskuilde kostes. As ons geweet het dis so moeilik, sou ons dalk nie huis gekoop het nie. Maar hier is ons nou in ons nuwe dorp in ons nuwe huis op die straat. En ons bly heerlik.
Ons eet tuisgemaakte Griekse moussaka, Ek bak lemoenkoek wat eintlik 'n flop is. Maar ons is ingeburger. En moenie dink op die Griekse eilande is nie goggas nie. Stinkgoggas kom loer in. En 'n honderdpoot kom kuier. En 'n groot springkaan dink my plante lyk te lekker.
Marchie's Place |
Moussaka op die stoep |
Flop lemoenkoek |
100-poot kom kuier |
Ons verken Skopelos straatjie vir straatjie. En soms, as ons so rondloop en ek sien Sue se huis, dan sê ek saggies in my kop: "Damn you, Sue!" Maar ek is baie gelukkig in Marchie's Place. En ons hou van Skopelos.
39 Steps huis |
Huis in Skopelos |
Straat-af |
Straat tuin |
Alonissos Eiland in die verte |
So het ons aan die einde gekom van 'n era van seil, saam met ons geliefde kleine Maja. Sy is nou gelukkig en tevrede in Istanboel. Ek kyk met heimwee na seiljagte wat hier by Skopelos se hawe inkom en vasmeer. Maar daar is vrede in my hart oor seil. Dit was heerlik en opwindend, maar dis nou verby.
In die oggend drink ek my koffie in die bed en kyk hoe die son opkom. Soms is dit doodgewoon, ander kere is dit 'n skouspel van kleure. Dis 'n nuwe onseker lewe.
Ons is nou Skopelossers. 'n Nuwe era het vir ons aangebreek. Wat dit vir ons inhou, is nog onduidelik. Dit is in die mis versteek. Mettertyd sal die mistigheid opklaar en die toekoms sal duideliker word.
Ons vlieg 11 November terug na Suid-Afrika. Nou ja. Tot siens na 'n vreemde jaar. Tot volgende jaar, waar die toekoms die hede word.
Sonsopkoms |
Dit was heerlik om te deel in julle vakansie. Geniet die laaste 6 weke. Sien jou een van die dae in SA.
ReplyDeleteEnjoy the rest of your stay - see you soon/ P&MJ
ReplyDelete