Monday, August 15, 2022

Altinkum.

13 Augustus 2022. Saterdag.

Ons vertrek weer douvoordag na Altinkum, 23 myl. Hier werk dit so - ons gaan noord, wind-op, want die Meltemi waai vanuit die noorde of noord-weste of noord-ooste. Hy begin eers later in die dag te waai, so as jy vroeg vertrek, kan jy vêr kom voordat hy begin waai. Jy vaar nog steeds teen die deinings in, maar ten minste sonder dat ook Gus teen jou is.

Douvoordag

Die deinings wissel tussen groot, medium en effe groot. Ons vaar redelike maklik vorentoe, altyd vorentoe. Motorseil ook vir 'n ruk. Ons vaar verby Didum Marina, wat sommer so tussen niks en nêrens gebou is. 

Die boek beskryf vir Altinkum as 'n "hell hole". Die houkrag is wel goed en daar is goeie beskutting teen Gus. Maar die boek sê: "At night the bay resounds to over-amplified music from the clubs and bars so don't expect to get much sleep here. It seems to exist solely for bad tourism that promotes sun, sex and cheap alcohol ... ." Wel, dit was toe ook so. Dit lawaai vir die vale, die hele dag lank, maar aand nog erger. Maar ons is veilig geanker en dit is al wat saak maak. 

Toe ons jonk was, was muur-tot-muur matte die in-ding. Wel hier is muur-tot-muur sambrele die in-ding. Van die weste tot die ooste sien jy net sambrele. Bruin lywe swem. Watersport word in die oortreffende trap beoefen. Jet ski's jaag rond met 'n fenominale spoed. Dis valskerms, motorbote wat gillende jongmense in goeters rondtrek, waterkarre en miljoene gulets wat met harde musiek verbyvaar. Voorwaar 'n helgat.

Wonder bo wonder kan ons wel slaap én geniet die sondigheid amper.

Didim Marina

Lywe
 
Muur ...

... tot muur sambrele

Sonsoekers

Watersport

"Parasailing"

Waterkar

Gulet

Turgutreis

12 Augustus 2022. Vrydag.

Ons besluit om na Turgutreis, net 5 myl te gaan. Hulle voorspel erge middagwinde in al die ankerplekke. Ek is so emosioneel uitgeput, dat Archie besluit ons gaan na 'n marina toe. 'n Veilige hawe dat die geknakte riet rus vir haar siel kan kry. Ek waardeer sy bedagsaamheid regtig baie. 

Sommer gou-gou is ons daar en geluklige is daar vir ons 'n heenkome daar. Die marina manne is op hulle pos om ons te help. Archie doen sy tru-ding meesterlik in ons spasie in. En vas is ons. Veilig en geborge. Geen bekommernis oor Gus vanaand nie. 

Turgutreis Marina

Ons gaan stap in die dorp rond. Aanvanklik amper half doelloos. Later begin ons om die dorp te geniet. 

Blommeboog

Muur mosaïek

Ons stort sommer twee keer en ruik heerlik. Ek kry my welverdiende (baie duur) rus vir my siel en slaap die nag soos 'n baba. 

Saturday, August 13, 2022

Akyarlar

 11 Augustus 2022. Donderdag.

Die weervoorspelling voorspel vandag wind vir die geweste. Hulle sê wel dat die wind teen 21:00 bietjie sal bedaar.

Ons vertrek na Akyarlar, 9 myl. Soos gewoonlik waai die wind vroegoggend nie sterk nie. Dis 'n groot baai waar ons al baie geanker het, ook saam met Gerrie en Ansu in 2014. (Die jaar van my allerergte menopause)

Akyarlar

Akyarlar

Dit gaan aanvanklik goed. Gus waai liggies. Maar hoe later hoe kwater. Toe word dit een van daai ankers wat ek met 'n passie haat. Gus waai laat dit bars met windvlae wat jou herwaarts en derwaarts waai. 'n Hele klomp jagte soek hier skuiling. Almal met net een vraag in hulle harte - gaan die anker hou?

Dit gaan rof in hierdie baai. Ons het lanklaas Gus sò beleef. En om alles te kroon, kom gooi 'n jag met die naam Sue, te na aan ons anker. Hulle trek toe maar anker op, en gooi weer, hierdie keer veilige afstand van ons af. (Ek weet nie hoekom is ek nou skielik lus vir die gebruik van matrooswoorde nie)

Ons kry die nuus van die huiskoop-prokureur, dat die kontrak eers die eerste week in September, of dalk later gereed sal wees vir teken. Ennes, Maja se nuwe eienaar, druk ons vir 'n datum oms ons in Kuşadasi te ontmoet en vra ook wanneer hy ons en ons bootvrag vol huisware, Skopelos toe moet vat. Die arme man moet ook sy reëlings tref. Ons weet ook nie waar ons gaan bly as ons in Skopelos kom nie. Die verkoper sse prokureurs raai die verkoper aan dat die koper nie moet intrek voordat die kontrak nie geteken is nie. Dis hoe dit in Griekeland werk. Nie soos Suid-Afrika waar jy okkupasiehuur kan betaal nie. Nou kan ons ons goed in Marchie's Place se stoorkamer stoor, maar ons kan nie intrek nie.

Al die vrae sonder antwoorde. Al die onsekerheid oor ons toekoms. Gus se gewaai druis in my are en ek voel my hart klop en in my keel kom sit. Archie sê as dit nie vir die bootvrag vol goed was wat ons gekoop het nie, het hy vir hulle gesê hulle kan die huis in hulle gat druk en terug Suid-Afrika toe gegaan. (Hy het dit darem mooier gestel) Ons Schengen dae is net genoeg vir kontrak teken en dan Volos toe te gaan vir vingersfdrukke vir ons Goue visum. Die spanning is net te veel vir my (en Archie).

Gus gaan lê eers na middernag. Maja en haar vriendinne kon toe ontspan, en ek ook. Hy het vir 10  ure aanmekaar met 'n sterk fors en baie erge skeeflê-windvlae gewaai. Van 21:00 gaan lê, was daar nie sprake nie.






Bodrum. Vir oulaas.

 10 Augustus 2022. Woensdag.

Ons is nou op ons laaste been terug na Kuşadasi, waar ons vir Maja gaan verlaat.

Archie maak al die landtoue los, rol dit op en sit dit op Maja om uit te droog. Ons verlaat Cokertme en begin vaar. Die kaptein is net 'n silhoette agter die stuur.  Vandag gaan ons terug na Bodrum, 20 myl, om daar te anker. Ons begin vroeg, voordat die son op is en Gus begin waai. Ons het so bietjie kosvoorraad nodig. Die anker byt en ons is weer in die bekende baai, met sy mooi kasteel.

Vaarwel Çokertme

Vaarwel Çokertme

Nat landtoue

Kaptein

Kasteel

Archie haal vir Dinkie af en ons roei dadelik land toe voordat Gus begin waai. Onthou Dinkie se enjin is mos stukkend. Ons deel Bodrum met die groot passasiersskip, Costa Venezia, wat 4 000 passasiers aan boord kan hê. Met die gevolg is dat hierdie Bodrum pomp. Duisende lywe loop en koop en eet en drink.

Costa Venezia

Haal Dinkie af

Die aand begin met die amper volmaan wat lyk of hy by die berg wil afrol. Groot en rond en wit. Pragtig. Die aand hier in Bodrum het beskillende dimensies van desibels. Vroegaand rustige skemerkelk en meze musiek. Later in die aand is dit eet-musiek. Dan sit die restaurante vol met hongerige plesiersoekers wat die Turke se koskultuur beproef.

Dan begin dit. Eine kleine naghtmuzik. Behalwe dat dit nie eine kleine is nie. Bodrum verander dan na Bodrum drum drum drum. Oorverdowende nagklubmusiek. Ons aanvaar dit maar as deel van ons Bodrum-ervaring en word deel daarvan.

Weereens geniet ons vir oulaas ons geliefde Bodrum, wat so deur die jare heen op ons gegroei het.

Totsiens Bodrum drum drum. 

Sit die bal aan die rol


Thursday, August 11, 2022

Çokertme

9 Augustus. Dinsdag.

En nog steeds gaan ons nie Bodrum toe nie. Vandag gaan ons na Little Switzerland, Çokertme toe, myl. Ons was daar saam met Dirk en Ina én in 2019 saam met Archie se makker, Sullivan.

Çokertme is 'n paradys. Dis lowergroen met bome en berge en dale. Net soos Switzerland. Ons hou baie van die plek. 

Maar o wee! Die berge langs die kus in die omgewing, is afgebrand. Bome is stokke en van die bosse kom plek-plek groen uit. Dit moes so jaar of wat gelede lelik hier gebrand het.

Ons kom by Çokertme en ons sien die lowergroen is nou 'n afgebrande bos wat sy bes probeer om te herstel. Wat 'n hartseer gesig is dit nie. Ons anker met 'n lang tou land toe. 

Sierlike boog

Gus begin waai en ons verblyf op die eens pragtige Çokertme, vul ons met hartseer en weemoed van wat was en wat kon wees en wat nou is.

Afgebrande Çokertme 

Afgebrande Çokertme

Çokertme 2018



Alakisla Bükü

8 Augustus 2022. Maandag.

Ons vertrek voor hanekraai. Ons dink na Bodrum, maar so in die vaar, besluit Archie ons gaan na Alakisla, 32.8 myl. Dis eers om Knidos se punt en toe reguit oor die stuk see na ons bestemming.

Knidos van noorde

Gus waai liggies tot gladnie, nes ek daarvan hou. Ons prrr vorentoe, altyd vorentoe. Toe kom ons by die groen baai en kry 'n ankerplek. Ons gooi en dit byt. Die boek sê dit byt nie oral goed nie, so Archie toets die anker goed en gaan kyk later met die snorkel. Alles is hankiedorie. 

Lowegroen Alakisla

Hierdie is sommer net 'n luilekker baai. Ons bly op Maja en swem om af te koel. Oral aan wal is kampers. Dit lyk amper of hulle permanent daar bly. Seker regte sigeuners. (Nie die seilende tipe nie.)

Gus waai so bietjie in die middag, maar dit pla nie. Nog 'n heerlike anker.

Doodstil baai

Alakisla se inwoners

Wednesday, August 10, 2022

Palamut

6 en 7 Augustus 2022. Saterdag en Sondag.

Ons gaan vir die volgende twee dae na 'n klein hawe, Palamut, 13.3 myl.

Gus waai nie, maar daar is groot deinings. Dit waai mos op 'n permanente basis in die Cyclades. En ons kry hulle deinings hier. Hou nooit op nie.  Al vir twee maande waai Gus daar.  Dis miskien 'n genade dat ons nou so lank in Turkye vaar. Ek sou waarskynlik van my kop afgeraak het in Griekeland se waters.

Ons kom by die klein hawe  en daar is sowaar vir ons 'n plek. Die haweman help ons met die agtertoue en gee die snoettou aan en vas is ons. Dis warm. Dis baie warm.

Maja

Hierdie is 'n tipiese landelike Turkse dorpie. Oral is kleinhoewes en almal het op die soustrein geklim en blyplek vir vakansiegangers op hul kleinhoewes ingerig. Dit wemel van vakansiegangers. Sonsambrele vul al die strande. Met 'n lyf in elke stoel. Dan gaan maak hulle lyf nat en lê daai lywe weer en bak. Mense eet oral in die talle restaurante. En net om die prentjie te voltooi, is daar 'n klomp van Maja se vriendinne geanker in die baai. Somer son en saffier.

Palamut Baai

Sambrele en seiljagte

Strand restaurant

Rol pannekoek uit

Dis so warm dat ek en Archie op 'n gereelde basis die strand besoek.  Dan koel ons in die louwarm see af.

Ons gaan stap ook dieper in die dorp in. Daar waar die regte egte mense bly en hul brood en botter verdien. Hierdie is amandelwêreld en dié bome groei die wêreld vol. Archie tel amandels op en breek dit vir ons oop met 'n klip. Ai, dis lekker om hier te stap. Dis doodgewoon, sonder pretensie. Sonder dat iets vreeslik mooi moet wees vir toeriste om te geniet. Dit is sommer maar net eenvoudige lewe. Die land van oorvloed. Verskillende soorte vrugte groei hier. Bome is oortrek met die belofte van stroopsoet vrugte wat wag op die regte tyd om ryp te word vir mensekinders om te geniet.

Dis baie warm. Sonbesies skril-skree dat jou ore suis. 

Bougainvillea

Amandelbome

Turksvye

Granate

Vye

Druiwe

Grenadella blom

Grenadella vrugte

Soek die sonbesie

In die aand maak die stalletjies oop. Dan verkoop die mense onnodige snuisterye. Mense koop en die uitstallers glimlag breed.

Musiek is oral. Mense sing saam. Meestal Turke. Hier is nie eintlik buitelandse toeriste nie. Ek geniet die twee dae wat ons hier vertief.


Sunday, August 7, 2022

Datça. Noord Baai.

5 August 2022. Vrydag.

Ons het besluit om in die Noord Baai te gaan anker. Ons verlaat Datça se kaai sonder enige gekruisde anker en vaar om na die Noord Baai.

Ons kyk wes

Kampeerterrein

Ons kry 'n geskikte ankerplek en gooi en hy byt. Hier waai Gus liggies.  Dan van die suide, dan van die noorde en ook van die weste. Die jagte kyk oral rond, soos die wind van rigting verander.

Toe gebeur 'n interessante ding met ons anker. Met die draai van die wind,  het die ankerketting om die anker gedraai en Archie was bang hy gaan homself losmaak.  Archie het tekens na die anker gaan kyk en daar was geen manier wat die ketting kon vry kom van sy eie anker nie.

Toe trek ons anker op en gooi weer. Liewers nou oorgooi as wat dit homself in die nag loswoel. Om in die donker anker te gooi, is niks lekker nie.

Ons geniet die Noord Baai. Swem gedurig. Dis wat so lekker van anker is. Salig, veral as Gus net lig genoeg waai om jou af te koel.

Ek verkyk my aan 'n groepie mans (onder die invloed) wat onder die bome langs die see sit en kuier. Hulle dans en gesels 'n hond uit 'n bos.

Wyse manne

Hier is nog steeds baie jagte in die baai en dis ook die ankerplek vir baie groot jagte wat ewe brêggat hier kom anker en weet almal bewonder hulle prag en praal.

Groot jag in aantog

Bemanning van luukse seiljag

Tot die perdebye is groter

Ons kyk suid, Symi in agtergrond

Die aand is die liggies by die restaurante sprokiesmooi. En ons word verras deur 'n musiekkonsert wat in amfiteater gehou word. Ons kan niks sien nie, maar hoor goed genoeg.

Liggies

Dis heerlik hier in Datça se Noord Baai.