10 Augustus 2022. Woensdag.
Ons is nou op ons laaste been terug na Kuşadasi, waar ons vir Maja gaan verlaat.
Archie maak al die landtoue los, rol dit op en sit dit op Maja om uit te droog. Ons verlaat Cokertme en begin vaar. Die kaptein is net 'n silhoette agter die stuur. Vandag gaan ons terug na Bodrum, 20 myl, om daar te anker. Ons begin vroeg, voordat die son op is en Gus begin waai. Ons het so bietjie kosvoorraad nodig. Die anker byt en ons is weer in die bekende baai, met sy mooi kasteel.
Vaarwel Çokertme |
Vaarwel Çokertme |
Nat landtoue |
Kaptein |
Kasteel |
Archie haal vir Dinkie af en ons roei dadelik land toe voordat Gus begin waai. Onthou Dinkie se enjin is mos stukkend. Ons deel Bodrum met die groot passasiersskip, Costa Venezia, wat 4 000 passasiers aan boord kan hê. Met die gevolg is dat hierdie Bodrum pomp. Duisende lywe loop en koop en eet en drink.
Costa Venezia |
Haal Dinkie af |
Die aand begin met die amper volmaan wat lyk of hy by die berg wil afrol. Groot en rond en wit. Pragtig. Die aand hier in Bodrum het beskillende dimensies van desibels. Vroegaand rustige skemerkelk en meze musiek. Later in die aand is dit eet-musiek. Dan sit die restaurante vol met hongerige plesiersoekers wat die Turke se koskultuur beproef.
Dan begin dit. Eine kleine naghtmuzik. Behalwe dat dit nie eine kleine is nie. Bodrum verander dan na Bodrum drum drum drum. Oorverdowende nagklubmusiek. Ons aanvaar dit maar as deel van ons Bodrum-ervaring en word deel daarvan.
Weereens geniet ons vir oulaas ons geliefde Bodrum, wat so deur die jare heen op ons gegroei het.
Totsiens Bodrum drum drum.
No comments:
Post a Comment