Sunday, July 24, 2022

Marmaris Marina. Hittegolf.

 23 Julie 2022. Saterdag.

Ons tyd in die Netsel Marina is besig om uit te loop. Die uurglas het leeggeloop. Ons moet amper vertrek.

Hier het ons saam met die res van Europa die hittegolf beleef. Maja is nie koel nie. Sy is broeiend warm bedags. Tussen 35° tot 40°. As jy roer, sweet jy. As jy loop, sweet jy. As jy asemhaal, sweet jy. Dis ook nie dat die briesie jou afkoel nie, nee, die briesie is warm. En vanaand, dit koel af tot 30°+. Nanag is dit darem koeler, veral as jy op dek gaan lê. Maar ek kla nie, ek sê net. Ons weet mos dis baie warm in Turkye en Griekeland in Julie en Augustus.

Ons stap maar in die hitte dorp toe. Verby al die lewensgetroue standbeelde in Marmaris se strate. En kasteel toe. En waterfront toe. En supermark toe. Gewoonlik wag ons tot namiddag as dit bietjie koeler is. (Wat nogsteeds snikheet is). Ons koop vis by die mark en eet vir 'n slag vis. Heerlik. Die lewe gaan sy gang. Eet slaap sweet herhaal, soos in daai liedjie van daai blonde meisie, ek dink sy is Demi-Lee.

Standbeelde

Kasteel

Oudorp

Oudorp

Ons raak lief vir Marmaris, met sy baie mense en lawaai in die nag. Die plek groei op mens. Dit word jou plek. Jy word deel van die plek.

Ons sien al hoe meer mense wat weer maskers dra. Hoop nie die blerrie covid gaan weer ons lewens oorneem nie.

Verder is Maja nog steeds verkoop en ons gaan op haar seil tot so 25 Augustus. Dan vat nuwe eienaar ons Skopelos toe met ons trek en ons kleine Maja bly agter. Ons koop nog steeds vir Marchie's Place. Dinge daar in Griekeland vorder stadig, maar dit vorder darem. Ons trek hopelik 1 September in ons huis oppie straat in. 

Netsel Marina

Netsel Marina

Vis en tjips

Hierdie is 'n eienaardige en ingewikkelde jaar vir ons met baie verandering, spanning én onsekerheid. Amper erger as die twee covid jare. Mense lieg en bedrieg ons. Ek sukkel om weer mense te vertrou (dankie Sue). Die Skopelos Schramblers was darem baie goed vir ons. Op 'n stadium het ek amoer gevoel of Skopelos ons nie wil hê nie.  


Tuesday, July 19, 2022

Marmaris. Naglewe.

 19 Julie 2022. Dinsdag.

Dit is blink-gesig warm hier in Marmaris. In Maja is dit 40°C in die dag en nag so 30°C. As jy roer, sweet jy. Jy drink boeppens vol water, maar bly dors. In die son, verkool jy.

Hier is 'n baie aktiewe naglewe in Marmaris. Verlede Donderdag aan het ons gaan uiteet by die baie gewilde Memet Ocakbaşı Restaurant. Het sommer reeds die Maandag bespreek vir Donderdagaand 20:00. Daar staan altyd rye vol mense wat wag om 'n tafel te kry om te eet.

Kom toe daar en stap deur na ons tafel by die "venster"  (opening) aan straat se kant. Lekker tafel wat plek het vir 4 mense. Archie bestel Efes bier en ons klink 'n glasie. Dis toe dat my oog 'n man aan die straat se kant van venster vang. Hy is een van die klomp wat vir 'n tafel wag. Een van die onbespreektes. Hy vra toe vir ons deur die opening of hy nie ons tafel met ons kan deel nie. Hy is nie lus om lank in die ry te wag vir tafel nie. So eet ons toe saam met die vreemde man, Hayel. Hy kom van Jordanië, maar bly in Switzerland. Ons kuier heerlik en gesels land en sand. Wat 'n heerlike aand met smaaklike kos saam met die vreemde man.

Hayel en Archie

Ons drie by Memet Ocakbaşı Restaurant

Archie bestel niertjies

Ons hou ook daarvan om in die aand in Bar Street te stap. Die musiek in al die nagklubs en kroeë is oorverdowend en dit wemel van mense. Sommige loop net daar, ander sit suip in die klubs, ander dans. In een klub, wat baie belangstelling uitlok, dans twee meisies met boude op 'n verhoog by ingang. Sommige klubbers gaan in, ander kyk maar net kwylbek vir hulle, of liewers vir hulle boude. 

Oral is laehals-kelnerinne buite die klubs besig om drankies aan jou te probeer afsmeer. Sommige leun op die elmboë op die "counter'. Ek dink dis om die cleavage beter te vertoon. Oral by die klubs se ingangse staan groot ouens gereed om moeilikheidmakers uit te smyt. Hier heers 'n vibe in Bar Street. Miskien sal ek dit nog eendag oorweeg om in te gaan, die dag as ek wild voel.

Black Diamond nagklub

Uitsmyters by klub

Nagklub

Die Musikale Waterfontein lok baie belangstelling. In die aand, 21:00 begin die vertoning. Die water spuit dan op die maat van die musiek. Kinders lag en dans en word dan onverwags nat van die water. Dan jil en gil hulle en wil nog natter word. Dis heerlik om in die aand hier te sit en kyk. Daar is gewoonlik so vyf of ses liedjies. Dan skielik is dit klaar. Die musiek hou op en die gespuit ook. Dan is dot maar net 'n gewone fontein.

Musikale Waterfontein

Musikale Waterfontein

Musikale Waterfontein

Musikale Waterfontein

Musikale Waterfontein

Meermin

Bedags is dit te warm om aktief te wees. In die nag kruip almal uit hul gate uit en is op straat. Baie mense kom loop by die marina se mall rond. Die mall is versier deur liggies. Ek moet sê, die hele Marmaris se strate is versier met standbeelde van die alledaagse lewe en ook liggies.  Hier is 'n groot Grand Bazaar waar honderde winkels is wat toeriste verlei om allerhande onnodige items te koop. Ook vir my. Ek koop twee koel los rokke wat my deur die hitte moet help. 'n Heerlike dorp om in te woon. 

Marina Mall

Klassieke Kat

NS. Maja is verkoop. Die nuwe koper gaan deposito inbetaal en balans einde Augustus betaal as hy ons op 'n groot seiljag Skopelos toe vat. Hy koop Maja vir sy vrou se suster om op te bly. Sy het vir 'n Finansiële Adviseur gestudeer en moet nou vir drie jaar in Istanbul werk. Hulle kry mos nie groot salaris aan die begin nie. Sy gaan heeltyd op Maja bly. In die somer gaan hulle dan ook met haar seil. Koper is baie ervare seiler. Hy is 'n "delivery" kaptein wat seiljagte vir mense op ander plekke gaan haal en terugseil na waar hulle dit wil hê. 

Sunday, July 17, 2022

Marmaris. Maja.

17 Julie 2022. Sondag.

MAJA




Maja is op die Med Sailing Group op Facebook as "Te koop" geadverteer. Ja, ons gaan ons geliefde Maja verkoop. Na talle beraadslaging het ek en Archie besluit dis nou die regte tyd.

Dis nou tyd. Ons wil nou ander dele van Europa ook sien. Archie oorweeg ook rivierboot in die kanale in Frankryk. Ek wil ook by ons huis in Skopelos bly en in SA om kleinkinders te sien. Ek wil nie meer vir 4 tot 5 maande van 'n jaar seil nie. Ek is ook gatvol vir die wind. Hierdie jaar is Gus erger as ooit. Almal op ons seilgroep, Med Sailing, praat daarvan. Die Meltemi waai al vir meer as maand aanmekaar dat jy nie van ooste na weste of andersom kan seil nie. Weet self nie hoe gaan ons kruis nie. So, dis tyd. Ons is baie hartseer, want ons, veral ek, was baie lief vir Maja. Ek het haar soos goud opgepas. Die besoekers op Maja mag niks verkeerd gedoen het nie. Ek was soos Hitler. Maar sy is mooi opgepas. My pa pas ook mos sy goed so mooi op. Ons gaan 'n nuwe hoofstuk begin. Ons moet nou net daai huiskontrak teken.

Ons het reeds sewe wonderlike jare vol kosbare herinneringe saam met Maja versamel. Ons het baie lief en leed en opwinding saam met ons mede-seilers beleef. Niks kan daai momente uit ons geheue-skatkis uitwis nie. Ons het sewe "Seilende Sigeuner, Dagboek van 'n matroos", boeke  van 350 tot 400 bladsye elk wat ons lewe op Maja verwoord en verbeeld. Op tyd op Maja was goed, maar nou is dit verby.

Ons gaan nou nog tot einde Augustus in Turkye seil. Dan terug na Skopelos om ons kontrak vir Marchie's Place te teken en ons skipvrag vol goed af te laai. (Gelukkig wil eienaand nog verkoop.)

Nou praat van die storm wat losbars. Na Archie se advertensie, het sy foon heeltyd "geping". Baie belangstelling van kopers in Turkye. Niemand van ander lande het belangstelling getoon nie.  Asook 'n agent van Fetiya wat vir Maja wil verkoop. Sy is die Vrydag geadverteer en is Dinsdag deur die agent vir die eerste keer verkoop. Probleem is, die koper wil haar dadelik hê, maar ons kan nie voor 15 Augustus, op die vroegste terug Griekeland toe nie. Ons het probleem met ons Schengen dae. Marchie's Place, oftewel Karavos House Sea View,  word tot einde Augustus aan toeriste verhuur. Archie wil nie kontrak teken en dan kry vorige eienaar die huurgeld én die risiko dra dat toeriste huis verniel en hy dan self verantwoordelik is vir skade nie. Nou teken ons einde Augustus en trek 1September in. Ag, dis net alles so ingewikkeld. 

Eerste koper wil dadelik Maja koop en dadelik begin charter, maar wil hê ons moet vir 40 dae in 'n ander seiljag op restaurantkaai bly dan vat hulle ons en ons goed 15 Augustus Skopelos toe. Nee dankie. As hiule eers vir Maja betaal het, watter versekering het ons dat hulle ons wel oor die Aegean See vat Skopelos toe. Archie sê vir agent ons stel nie belang om te verkoop nie. Koop val deur die mat. 

Intussen is daar 'n paar ernstige privaat kopers wat regtig belang stel. Archie gee ons selfaangestelde agent toe nog 'n kans. Die volgende koper koop dieselfde dag vir Maja. Ons moet vir Maja self oorseil na Skopelos en hulle sal met vinnige motorboot soontoe gaan. Ons laai ons goed af, teken oordrag van eienaar en hulle seil Maja terug na Turkye.  Ons aanvaar aanbod. Ruk later bel agent en sê hulle wil nie meer koop nie. Koop val deur die mat.

Intussen ping Archie se foon sonder ophou. Een privaatkoper wil dadelik geld vir ons oorbetaal en hy sal ons met ander seiljag in Skopelos gaan aglaai, maar Archie sê agent het eerste opsie.

Agent sê hy het nuwe koper. Archie sê as die nuwe koper nie koop nie, wil hy die privaatkoper kans gee. Vriend van koper kom kyk en Archie praat met koper oor selfoon. Verduidelik die hele Skopelos storie en koper besluit hy koop nie.

Archie gee toe sy eie privaatkoper die kans. Hy wil koop en ons kan op Maja bly totdat hy ons moet Skopelos toe vat. Archie aanvaar aanbod.

Die aand terwyl ons by restaurant (saam met 'n vreemde man) eet, bel agent en sê sy koper het van besluit verander en wil nou Maja koop. Archie verduidelik dat die koper persoonlik vir hom gesê het hy wil nie koop nie en toe die kans vir sy privaatkoper gegee het. Maja is verkoop.  Agent is woedend. Hy sê hy het soveel moeite gedoen. Hy het seker die koper 'n gat in die kop gepraat. Wel, Archie sê dis nou te laat. Hy het genoeg kans gehad om Maja te verkoop. 

Ons koper kom Maandag na Maja kyk en dan gaan ons oor al die detail van koopkontrak praat.

Maja is in minder as 'n week vier keer verkoop en elke nou en dan vul die hartseer oor haar my hele lyf. Ding is, 'n seiljag is nie net 'n ding nie. 'n Seiljag het 'n siel. En toe grens ek weer.

Friday, July 15, 2022

Marmaris. Netsel Marina


10 tot 14 Julie 2022. Sondag tot Donderdag.

Die baai word loom en langsaam wakker. Enkele seilers sit op hulle dek. Archie maak soos gewoonlik vir my kapteinskoffie en ek is reg vir die dag.

Ek giggel as ek dink ons moet nou-nou hier uit. Ons ry mos gewoonlik vroeër as die laatslapers. Ons is in die binnebaai met een seiljag aan ons regterkant en vier aan die linkerkant waar ons moet uit. 'n Groot Cat is ook in ons ingang vasgemeer.

Stadig maar seker kom daar beweging in die baai. Die vroeëboere begin vertrek. Ons sê vir die toutrekman ons wil gaan. Die Cat vertrek. Toe begin die doenigheid. Die jag langs ons, moet sy snoettou laat sak, want dis in ons pad en hy moet sy enjin laat loop vir ingeval sy boot swaai. Die ander jagte laat hulle snoettoue ook sak en staan voor op hul bote vir ingeval hulle moet wegstoot.  Maja se snoet word aan 'n RIB (groot dinghie) vasgemaak. Hulle gaan ons hier uit tou. Onthou, net 'n entjie voor ons, swem die mense kniediepte. Ek maak die snoettou los en gooi dit in die water. Die ander man maak die agtertoue los en Archie trek dit in. Hy draai die helm in die regte rigting maar stuur nie eintlik nie. Die man in die dinghie trek ons uit. Maklik, sonder einige voorval. Soos hy sê, hulle doen dit elke dag. Ek maak hul dighie se tou los en daar trek ons oppad na Marmaris, 9 myl.

Ons vaar maar rustig met die wind van reg agter. Hoe nader ons aan Marmaris kom, hoe besiger word dit. Cats, seiljagte, motorbote en gulets. 

Ons het plek gekry by die peperduur Netsel Marina (op ons Setur kontrak) en Maja kan gratis daar bly. Hier gaan ons nog van ons Turkse tyd verwyl voordat ons moet terug na Skopelos. Ons Schengen dae is mos min (dankie Sue).

Ons kry ons staanplek en ons is vas en veilig in die marina. 


Netsel Marina

Maja

Maja en Marieks

Die lewe gaan sy gang en ons verken die besige Marmaris. Dit is snikheet hier. Ek koop my vadoeke. Ons koop voorrade by Migros en ook 'n heerlike waatlemoen. In die nag raas Marmaris baie. Al die klubs het luide musiek wat tot vroegoggend gespeel word. Soms net harder as ander kere. Dis 'n malhuis in die nag. Waar al die mense vandaan kom, weet nugter.

Vissershawe

Blommeprag

Verlang na twee kleindogters

Waatlemoen

En nou die lewensveranderende nuus oor Maja ... En 'n storm bars los!

Tuesday, July 12, 2022

Çiftlik

9 Julie 2022. Saterdag.

Ai, dit was darem lekker by Keçi Bükü. Vir my die hoogtepunt van die eienaardige seilseosoen, wat eintlik eenvoudige huiskoopseisoen moes wees. Maar alles is hierdie seisoen so ingewikkeld. Die huiskoop, die seil, die wind. 

Oggendskoot

Ons vertrek vroeg. Keçi slaap nog. Ons wil na Bozuk Bükü gaan en by die restaurantkaai gaan vasmeer.
 
Die Hisarönü körfesie is pragtig. Soos ek vir Turkye ken. Pragtige mistige berge wat geheime van die voorgeslagte bewaar. Gulets wat rustig oppad na êrens is. Blink-grys water wat nie deur Gus omgeklits is nie. Rustig, salwing vir my windverwaaide siel.

Ons vaar so tussen die mooi en groet 'n Bavaria vol vriendelike Turke wat baldadig waai. Kyk, die Turke is wonderlike mense. Sout van die aarde. 

Turkse Bavaria

Ons vaar om die hoek en besluit om eerder na die bekende Çiftlik, 36.4 myl te gaan. Dan hoef ons môre die winddeel te doen nie. Ons stop altyd by Memhet se restaurantkaai. 

Ons kom by Çiftlik en dis net bote waar jy kyk. Maste staan soos ystervarkpenne in die lug. Memhet se kaai is vol en die man van Deniz se restaurantkaai waai. Ons vaar daarheen. Hulle beduie ons na die benoude binnekant van die kaai. Archie moet baie na aan die kaai vaar en toe spring een man met die snoettou  wat doer aan 'n ander kaai vas is, op Maja. Hy en die tou ry saam met ons terwyl die ander man op die kaai waar ons gaan vasmeer,  Archie se agtertou vra. Ek gooi dit vir hom en hy trek Maja na die plek waar ons moet wees. Die man met die snoettou trek dit styf en maak vas. Die agtertou word vasgemaak en ek gooi die ander agtertou en die word vasgemaak. Archie staan maar agter die helm. Toe is ons vas in die hoek. Wat 'n gedoente. As julle nie verstaan hoe alles gebeur het nie, moenie sleg voel nie. Ek het ook nie. Die groot vraag is hoe kom ons môre hier uit, want daar gaan bote langs ons wees. 

Çiftlik

Soos wat die dag verloop, word nog jagte langs ons op dieselfde manier ingetrek. Later is ons binnekaai ook vol. 

Hier is 'n uitbundige vrolikheid wat hier heers. Die Turke het mos vakansie tot 17 Julie. Dis hoekom hier so baie bote op anker is en die restaurantkaaie almal vol is. Ons was in 2018 hier saam met Francois en Roelien, en in 2019 saam met Sullivan. Toe was daar verseker baie minder bote hier. Dit gaan mal hier, want dis mos Turkse spesiale vakansie  langnaweek. Tot die ankerplek loop oor van bote.

Çiftlik 13 Augustus 2018

Çiftlik 10 Mei 2019 

Çiftlik 9 Julıe 2022

Oorvol Çiftlik

Bote op anker

Çiftlik is pragtig. Hoë berge omrand die baai. Water is kristalhelder. Kinders lag en baljaar en spring in die see. Oud en jonk koel in die see af.

Die aand gaan ons na ons restaurant. Ek neem vanaand vir Archie uit vir ete. Ons stap na ons tafel en al die bootmense is besig om te eet. Die hele familie werk by die restaurant. Die jonges dek tafels af. Die oues neem bestelling. Die ander bring die kos. Tot die toutrekmanne bedien.

Ons eet heerlike levrek (vis) en tot Archie is tevrede met die kos. Inteendeel, hy sê dis heerlik. Hy bestel tot baklava vir nagereg. 

Wat 'n heerlike aand. Nóg 'n hoogtepunt van die seilseisoen.

Deniz Restaurant

Deniz Restaurant

Wag vir ete


Monday, July 11, 2022

Keçi Bükü

 8 Julie 2022. Vrydag.

Gus baljaar nog steeds in Datça. Nou nie so entoesiasties soos gisteraand nie, maar steeds. 

Anker op en ons vertrek na Keçi Bükü, 22.4 myl. Francois en Roelien was saam met ons daar in 2018 en dit was Roelien se beste ondervinding. 

Ons seil vir 'n lang ruk en sien hoeveel bote is in die omgewing. Oral waar jy kyk, is bote. Party van die jagte wat in die sterk windstrook is, seil vir die vale. Lê sommer so skeef. 

Oggendskoot

Skuinslê

By Keçi Bükü kry ons 'n anker plek saam met al die ander bote in die baai en vas is ons. Hier was nog nooit so baie bote op anker nie. Later besef ons hier is 'n klomp vakansiedae wat saamgevoeg is en sommige mense het vakansie tot 17 Julie.

Dit is 'n vreeslike mooi baai met "all round shelter" en ek sal niks anders vir my verjaarsdag wou hê as hierdie windstil baai nie. Ons swem en die water is 26°. Heerlik. As Gus besluit om te waai, is dit net om ons bietjie af te koel.

Die toeriste gaan loop op die sandbank. Dinkie se enjin wil nie vat nie en ek en Archie bly gelukkig en tevrede op Maja.

Keçi Bükü

Baie bote op anker

Loop op sandbank

Waterhond

Keçi Bükü

Archie kook peri-peri hoender en rooi rys as verjaarsdagmaal. Ons smul omtrent en drink ordentlike wyn vir die spesiale geleentheid.

Hierdie heerlike stil baai na al die wind wat ons die seilseisoen gehad het, is seker my lekkerste verjaarsdag ooit in die Med.

Smaaklike kos ...

... met goeie wyn (Kom uit 'n bottel)

Datça

 7 Julie 2022. Donderdag.

Hop pla di, hop pla da, Maja hop weer, hier by Mesudiya! Maar wie kla? Nie ek nie, want dit is windstil. Anker op en weg is ons. 

Vandag is dit Datça, 10,6 myl. Ek sien vreeslik uit daarna om vir twee nagte heerlik teen die kaai vas te maak en sommer net in die dorp rond te dwaal om vaste grond onder my voete te kry. Dan is ons sommer ook daar vir my verjaarsdag, 8 Julie. Die gedagte maak my sommer opgewonde.

Nou dis interessant. Poiseidon voorspel winde van so 10 knope vir Datça en Windy voorspel 20 knope "gusting" tot höer as 30 knope. Nou wie glo ons? Poiseidon was reg oor Mesudiye en Windy verkeerd. Natuurlik wil ek vir Poiseidon glo. Ek hou mos van 'n lê wind.

Maja prrr voerentoe, altyd vorentoe. Ons kom naby Datça en ek sien perdjies op die see. Kan nie wees nie. Skielik waai Gus 19 tot 24 knope. Met windvlae van nog baie hoër. Tot 34 knope, nes Windy voorspel het. 

Ons wil kaai toe en ek wonder hoe meer ons in die sterk wind vas. In die hawe is dit bietjie stiller. Ons sien 'n staanplek by die kaai. Baie benoud in die sterk wind maak ek gereed om anker te gooi. Archie tru perfek in. Toe blaas die hawemeester vreeslik fluitjie en jaag ons daar weg. Ek trek maar anker op. Ons kyk, maar sien nie nog 'n oop plek nie.

Ons vaar toe stert tussen die bene ankerplek toe en gooi anker. Toe begin daai wind eers waai. Ek kyk verlangend na die kaai. Ek wou sooo graag daar gewees het. 

Datça

Archie klim in Dinkie en gaan koop internet. Ek bly op Maja om haar op te pas, want Gus waai te sterk. Archie vra toe vir die man hoekom het hy ons weggejaag. Die plek waar ons in getru het, was vir 'n groter seiljag wat al van die vorige dag wag. Hy het vir ons 'n ander plek gehad, maar hy sê toe hy weer sien, gaan anker ons. Hy het verseker nie hard genoeg vir ons geroep nie. 

Toe is ek sommer de moer in. Hier sit ons en draai en swaai in die sterk wind, en ons kon 'n plek op die kaai gehad het. Nou is dit weer net wind wind wind. En ek is só moeg vir wind.