Thursday, September 19, 2019

Roemenië. Sighetu Marmatiei.

16 en 17 September 2019. Maandag en Dinsdag.
Ons klim die 8:15 bus na Gura Humorlui. Dis naby Suceava. Daar klim ons op die volgende 11:00 bus na Sigethu Marmatiei, of Sighet, soos die dorpenaars hulself noem. Ons ry deur pragtige berge met klein dorpies. 

Ons stop vir bene rek en middagete en 'n plaaslike inwoner gesels vreeslik met my terwyl ons koffie drink. Ek verstaan geen woord nie, maar hy praat land en sand. Toe ek moet loop, soen hy my hand en roep weer van die balkon af en waai vreeslik.
Die vallei word verfraai met vreedsame huise en plase. Selfs die huise langs die hoofpad word pragtig versier. Dit lyk of die mense van Roemenië regtig trots op hul huise is. Selfs die meer eenvoudige huise, is trots en goed versorg. 
Landskap
Trotse huis
Toe ry ons verder en ek dink dat hierdie keer gaan ons by 'n baie mooi plek bly. Die pad kronkel deur berge. Dis boom en bos en bergpas. Ons nader Sighet en daar is darem nog berge. Ek is nog steeds vol hoop. Toe klim ons by die busstop af en begin ons tasse na ons blyplek sleep. 

Maar o weë! Hierdie hostel is nou behoorlik aan die gatkant van die dorp. Oor die treinspore, vêr van die sentrum. Ag nee!

Hier is ook nie baie publieke vervoer nie. Busse na besienswaardighede is maar min. Archie soek op die internet, vir ure. Ons wil met die stoomtrein gaan ry. 

Ons gaan toe maar dorp toe en verken die dorp lusteloos.
Kerk
Cinema Mara
Op die hoek
Kerk
Die Memorial Museum is nogal indrukwekkend. Dis 'n memorial vir die slagoffers van die Kommunisme en Weerstandsbewegings teen Kommunisme. Die kommunistiese regering het almal wat hulle teengegaan het, in opstand teen hulle gekom het en selfs net iets negatief oor kommunisme gesê het, vervolg. Self sonder enige bewys van 'n oortreding.

Die Memorial Museum het in 1994 tot stand gekom. Die Sighet tronk is gebruik vir die museum. Dit bestaan uit drie verdiepings en elke tronksel is nou 'n uitstalling. Op die mure is die slagoffer se name geskryf.  Oral is foto's van slagoffers. Verbode briewe wat in die tronk geskryf is en boeke word uitgestal. Ten minste 8 000 mense is in kampe, tronke en in plekke waarheen hulle gedeporteer is, dood as gevolg van die kommunistiese regering se vervolging in Roemenië.
Tronk
3 verdiepings selle
Foto's van slagoffers
Tipiese sel
Ou radio

Daar was ook twee strafkamers in die tronk. As ’n gevangene enige iets verkeerd doen of sê, word hy sonder klere na die stikdonker strafkamer verplaas, sy kosrantsoen is gehalveer, soms gemartel en dan aan die koue grond aan sy enkels vasgeboei, totdat hulle besluit het hy is genoeg gestraf.
Enkelboeie in die strafsel
Dan is daar ook die standbeelde van agtien menslike figure wat na 'n muur toe loop. Dit stel die slagoffers, wat vervolg is deur die kommunistiese regering, voor wat gesterf het vir hulle idees. Dis 'n simbool van wat Kommunisme aan mense gedoen het, hulle propeer breinspoel om nie vir jouself te dink nie. Jou horison vernou. Die beeld met die afkop, wys die rigting aan. Nogal ironies dat só persoon die rigting aanwys! Die kunstenaar was Aurel Vlad en hy het die standbeelde in hout gemaak en  in 1997 het hulle die standbeelde verbrons.
Dit begin saggies te reën. Lyk my die hemele treur en huil ook saam oor wat alles in die tronk en land afgespeel het.
Hele groep
Magteloos
Van alle waardigheid gestroop
Toe stap ons verder. Ons kom op die houtkerk af. In dié deel van die wêreld het hulle houtkerke gebou. Oral langs die pad is hulle te sien en Sighet spog ook met hul eie houtkerk. Alles is hout, die mure, deur, dak en binnekant. Selfs die fresco's is op hout geskilder. Maramures, die streek se naam, is bekend vir hul oorvloed hout.
Bewolkte houtkerk
Fresco op hout
Daar is nog 'n paar mooi ou geboue wat die plek bietjie opkikker. Die weer lyk dik en dit begin weer saggies te reën.

Tuesday, September 17, 2019

Roemenië. Suceava.

15 September 2019. Sondag. 

(Hier is 'n fees in Suceava aan die gang! Saterdagaand kom ons op tradisionele danse en 'n klomp stalletjies af. Kyk te heerlik hoe die paartjies met hulle tradisionele drag dans.

Die mense wemel in 'n vrolike luim op die plein rond. Sowat van atmosfeer! Hierdie Suceava is 'n lekker plek.)

Vandag gaan ons die dorp verken. Eerste op ons lys is die kasteel. Ons stap heerlik deur die bos (ons beland altyd êrens in 'n bos) en klim die klomp trappe tot by die standbeeld van die nasionale held, Stefan cel Mare (die Grote). Toe stap ons verder na die kasteel. Daar is 'n groot grag wat toegang tot die kasteel gee. Aan die oorkant is die dorp.

Loop deur die woud
Stefan cel Mare
Kasteel

Die Klooster van "St John the New", is ook een die minder indrukwekkende geverfde kloosters. Die buitenste muurskilderye is baie dof. Binne is die fresco's baie mooi. Hierdie Roemeniërs is baie godsdienstig, want daar is altyd mense  wat kerk toe stroom. Dis besondere dakke en torings wat die klooster én die kerk het.

Klooster
Ingangstoring
Dak detail

Toe gaan ons na die plein waar die feestelikhede aan die gang is. Die reuke van die braaivleis en pap (ja, pap), maak jou sommer dadelik honger. Die mense in Roemenië eet pap. Pap en vleis, pap en eiers.], pap en bredie. Ek onthou toe ons klein was, het my ma altyd gevra : "Wat wil julle hê vir ontbyt, pap en eiers of pap en melk?" Dan het die twee boeties en my pa pap en melk geëet en ek en Elize pap en eiers.

Daar is sosaties en verskillende soorte wors, gerookte vleis en 'n vark op die spit. Om net 'n paar te noem. Kaas, heuning, konfyt, klere en nog vele meer.

Die stokbrood is iets unieks. 'n Strook deeg word om 'n langwerpige staal vorm gerol en dan word dit op die kole gebraai. Die brood word eers op kouer kole gesit en word dan heeltyd geskuif tot dit voor by die warm kole kom om bruin te word. Dan word dit van die kole afgehaal en in een van drie "coatings" gerol. Jy kan kies tussen nougat, klapper en sjokolade. Hulle bedek dan die hele brood daarmee en haal dit dan af en is gereed vir die koper. Ek moet sê, daar staan toue mense om die brood te koop. Hulle kan nie voorbly nie.

Vark op die spit (voor)
Vark op die spit (na)

Stokbrood

Braaivleis …

… en pap

Kaasstalletjie

Dan is die verhoog nooit sonder kunstenaars nie. Hulle speel orkes, sing en dans. Jolig, alles in hul tradisionele klere. Die mense eet en loop rond en kyk konsert en lag en kuier. Mensig, maar ek geniet dit.

Een van die talle orkeste
Bras blasers

Sangeres
Dansgroep
Kom dans met my
Interessante drag
In aksie

Een vrou wat sing, moet 'n bekende sangeres wees, want die mense kyk en luister met ontsag en amper eerbied vir haar. Die applous is ook harder en almal neem foto's.

Bekende sangeres

Archie is later moeg gefees en ek fees alleen verder. Op 'n stadium, nes in Griekeland, word ek deel van die mense wat voor die verhoog in 'n kring dans. Wat 'n belewenis is die fees. Toe alles verby is teen 20:00, gaan ek doof gefees terug huis toe.

Die lelike Suceava is toe vir my soos die lelike eendjie wat in 'n swaan verander.

Sunday, September 15, 2019

Roemenië. Geverfde kloosters.

14 September 2019. Saterdag.

Suceava is eintlik die plek waarvandaan jy die geverfde kloosters kan besoek. Archie reël vir 'n toer en al wat ons kan kry, is 'n privaat toer vir €100. Dis baie duur, maar nou ja.

Ons toerleier is soos afgespreek, 8:00 hier om ons op te laai en daar trek ons. My arme hart sak weer in my skoene toe ek sien hoe bewolk dit is. Die son is veronderstel om te skyn!

Die rit na die Sucevita Klooster is pragtig. Dis die grootste van Bucovina se geverfde kloosters en gebou tussen 1582 en 1601. Die binnekant is amper heeltemal oortrek met muurskilderye. Daar is ook 'n kloosterdiens aan die gang en die klooster is vol mense. 

Die westelike muur het amper geen muurskilderye nie en volgens legende het die sklider van die steier afgeval en is tragies oorlede.

Die klooster het ook 'n museum met baie pragtig stukke uit die 1600's.

Sucevita Klooster
Kerk
Maagd Maria met rooi sluier
Christen vervolging
Muurskildery
Museumstuk uit 1600's

Die tweede besoek is aan die Moldovita Klooster. Dit is gefortifiseer en die kerk staan manjifiek in die middel. 

Op die suidelike muur is die val van Konstantinopel geskilder. Ook die Laaste Oordeelsdag, alles op 'n blou agtergrond. Daar is soveel fresco's, dat jy nie al die detail kan inneem nie. Al die skilderye dateer vanaf 1537. Daar is ook 'n skildery van Prins Petru Rareş,  stigting van dié klooster. 

Wat my ook opval, is die mooi tuine en blomme. Dit laat my aan my ma dink, want sy was altyd so lief vir blomme.

Klooster
Moldovita Klooster
Suiderlike muur
Muurskildery
Die beleg van Konstantinopel

Derde was die Voronet Klooster. "Die Laaste Oordeelsdag" muurskildery, word beskou as een van die mooiste ter wêreld. Aan die bokant is die engele en die middelste skildery wees hoe die mense kom om geoordeel te word. Aan die linkerkant is St. Paulus wat die gelowiges inbring en regs bring Moses die ongelowiges. Linkerkant is die paradys en die Tuin van Eeden en regs die verdoemenis.

Op die noordelike muur is Genesis uitgebeeld, van Adam en Eva tot by Kain en Abel.

Die blou kleur waarmee geverf is, word voronet genoem en dit is bekend daarvoor dat dit van kleur verander soos die lig verander.

Voronet Klooster
Kloostertuin
Laaste Oordeelsdag
In die Hemel
Hel toe
Detail
Suidelike  muur detail
Noordelike muur - Adam en Eva

Toe is dit middagete en Archie is vreeslik bly. Ons kry groentesop met tuisgebakte brood. Hoofgereg is sappige hoenderborsies en gebraaide aartappels. Heerlik!

Archie en Adrian

Die laaste op die reisprogram is die Humor Klooster. Hierdie klooster het die mooiste fresco's binne-in van al Bucovina se kloosters. Jy kyk en kyk en kyk weer. Van die fresco's is vreeslik wreed. Jy sien net koppe waai wat afgekap word met swaarde.

Op die buitekantse muur van die klooster wat in 1530 gebou is, is die Maagd Maria, die gelykenis van die verlore seun en die lewe van St Nicholas. Weereens te veel muurskilderye om in te neem.

Humor Klooster
Laastre oordeelsdag
Suidelike muur - Lewe van St Nicholas

Binne in die kerk
Binne in die kerk
Binne in die kerk

Nou is dit nie net bewolk nie, dit lyk regtig na reën. Toe ons terugkom by die huis, skyn die son ewe skynheilig. Wat 'n besondere dag! Die geverfde kloosters is jouwaarlik baie spesiaal. Suceava is eintlik nie so sleg nie!