Tuesday, July 16, 2019

Thassos Eiland. Aliki.

13 Julie 2019. Saterdag.

Mourtzeflos tot Aliki

Die donker duisternis omhul die baai. Die slaap ontwyk my. Die deinings rol die baai binne. Dit voel soos op die oop see. Genadiglik lui die alarm 4:45 en Archie staan op. Ons moet net na 5:00 ons kruising na Thassos Eiland, Aliki Baai, 40.6 myl aandurf. Ek voel soos hond.

Ek gooi helfte van my koffie uit. Ek is naar. Archie sê ongenaakbaar dat ons moet vertrek. My kop draai. Ons vertrek.

Ons tref die see en hy tref ons. Deinings rol lustig. Gus waai en ons vaar vorentoe, maar ek wil agtertoe, terug na Myrina. Ek is naar en probeer opgooi. Ek skiet twee piepklein katjies. O, die skande! Die Seilende Sigeuner is seesiek! Vir die eerste keer in sewe jaar!  Die geen slaap, die gerol op anker, die benoudheid oor die onheilspellende wolk duisternis het my seesiek gemaak. Archie hou voet by stuk, ons gaan deurdruk.

Ek sien nie kans vir 40 myl op 'n rowwe see nie. Die kaptein sê ek moet in Elize se kamer gaan lê. Ek lê vir drie ure daar, toe voel ek baie beter en kan selfs die helm vir die volgende uur beman. Die kaptein is toe al moeg agter die stuur.

Ons vaar (Archie het wel vir 'n rukkie gemotorseil) 7h33 min, toe is ons by Aliki. Ons is noord. Ons het ons doel bereik. Ons gooi anker in die baai vol vrolike sonbaaiers en see swemmers. Ek is nog tam en moeg en gaan nêrens heen nie, nie eers die mooi stappad lok my nie. Ek lê net. Die aand draai Gus weer en waai uit die suide en die deinings rol die baai binne. Gelukkig nie naastenby so erg soos die vorige aand nie.
 
Aliki Strand
Vrolike swemmers
 
Ek gaan slaap toe dit nog lig is. Die seesiekpil maak mens mos lomerig. Ek slaap so vas, Archie maak die venster toe toe die reënbui in die nag uitsak. Die "first mate" slaap soos 'n flippen baba!

Sunday, July 14, 2019

Limnos Eiland. Mourtzeflos Baai.

2019-07-12. Vrydag.

Myrina tot Mourtzeflos Baai

Myrina was goed vir ons. Hier het ons veilig geskuil teen sterk winde en heerlik saam met Neil en Sandi gekuier.

Nou is dit tyd om te gaan na Mourtzeflos Baai, 7.6 myl. Dis aan die noordelike punt van die eiland. Die see is kalm en Gus lê. 

Ons kom by die baai, maar dis een van daai plekke waar die see van vêr af kom en in die baai kan rol as die wind van die verkeerde kant af kom, in dié geval suid of wes. Oop aan die suidekant. Ons gooi anker en dit byt dat dit bars. Toe kyk ons gou windvoorspellings net om seker te maak dat daar nie vandag sterk suidewinde kom nie. En ons is tevrede. Niks snaaks word voorspel nie, net ligte suidewinde. Môre is al weer 'n kruising van 40 myl. Dit lyk my ek kom heeltyd dié jaar voor kruispaaie te staan.

Die water is helder en ons swem. Toe gaan ons land toe en bekyk die baai. Maja vertoon pragtig en sierlik daar waar sy so op haar eie staan.

Maja in die baai
Maja

Snaakse baai die. As jy in die werklikheid is, is dit nie mooi nie. Staan jy buite die werklikheid, dan is dit in werklikheid eintlik mooi. Soms moet jy die werklikheid van 'n afstand sien om te besef dat dit werklikwaar eintlik mooi is.

Hier is 'n sandstrook wat die baai in twee deel. Die een kant wil mooier wees as die anderkant. Dis omtrent pragtig. Daar is 'n eensame plaashuise in die vêrte en my pa sê Archie moet die huisie liewers vir my koop, nie die een in Plomari nie.

Stap boontoe
Twee baaie
Plaashuisie

Dit lyk ook of die see rof kan raak in die geweste. Hier spoel baie goed uit en 'n arme waterskilpad lê hier dood. Hartseer. Bokant Archie se kop is 'n groot wolk. Wonder wat gaan hier uitbroei.

Is iets aan die broei?

Die Limnos Eiland s is besig om in my hart in te kruip.

Die nag tref die werklikheid van hierdie baai my. Ek word wakker van golwe. Iets moet verby ons gevaar het. Ek kyk buite of ek iets sien. Daai wolk het bo-op die baai kom lê. Dit lyk soos 'n monster wat ons wil aanval. Ek kan omtrent niks sien nie. Die maan is ook ingesluk deur die monster. Die wind waai sterk uit 'n suidwestelike rigting en die see stroom in. Die res van die nag kan ek nie slaap nie. Dit voel soos in die oop see. Maja staan nie vir 'n oomblik stil nie. My kop draai. My hart voel benoud. My verbeelding hol weg van my verstand. My denke dink alle aaklige scenarios uit. Ek dink ek word naar.

Friday, July 12, 2019

Limnos Eiland. Myrina.

10 en 11 Julie 2019. Woensdag en Donderdag.
Dhiapori tot Myrina

Vandag moet ons skuilplek kry. Ons gaan na 'n plek wat kwansuis goeie houkrag het. Dit is Plati Baai. Ek gooi twee keer anker, maar byt is verniet. Elke keer sleep die anker. Archie sê ek moet weer gooi, maar ek wil nie. Hoe moet ek veilig skuil teen 35 knope winde as die anker nie eers wil byt nie?! Die kaptein sê ek vloek lelik en moet ophou vloek. Toe vaar ons na Myrina se dorpskaai.

Sterk winde aan die kom
Op pad
Op pad
Neil en Sandi is daar en ons kry sowaar plek langs hulle. Archie tru en ons gooi 60m ankerketting uit. Nou behoort ons veilig te wees teen die winde wat vannag 03:00 gaan begin waai. Môreoggend, 6:00 tot 9:00, gaan dit baie sterk waai. Wel, ons is vas.
Vissershawe
Ons groet vir Neil en Sandi. Baie bly om hulle te sien. Almal hier op die kaai, praat net wind. Neil sê hy het 80m ketting uit om hom te beveilig teen die wind. Wel, ons het 60 m uit. Sy bure van Bulgarye, met 'n klein seiljag, praat grootoog van 40 knope wat hulle verwag. Hulle is baie benoud.  Almal wag in spanning vir die winde om te kom. Almal wonder hoe sterk dit gaan wees. Almal hoop en vertou hul ankers kan die aanslag oorleef.

Neil en Sandi nooi ons vir 'n ligte aandete. Ons kuier heerlik en Neil gee inligting oor eiendom koop in Griekeland. Hulle het 'n huis in Skiathos gekoop. Ek wil mos hoeka 'n huis in Plomari hê!
Skuilers
Blondies
Nog blondies
Ons gaan huis toe en Gus begin waai. Eers lig, maar waai al sterker en sterker. In die nag loei dit. Die seiljagorkes is behoorlik in volle swang. Die maste sing, die toue klapper-klap. Die vlae wapper, die"rigging" ring en sing en fluit. Dan hoor jy vir Gus aankom met 'n gehuil en gejuig. Dit gaan rof hier op die kaai. In elke seiljag is daar benoude seilers wat effe onrustig slaap. Maar die ankers hou. Dit is bliksems en donder (ek nou vloek ek nie) en dit reën. 

Die nag word dag en Gus waai nog steeds verwoed. Vanoggend gaan Gus sy toppunt bereik. Dis koud en nat miserabel.  G'n siel op straat nie. Later kruip daar so een of twee uit hul gate uit. Neil gaan loop 'n draai met Scruffy. 

Ons het vir Neil en Sandi vir aandete genooi en ons durf die natuurelemente aan om voorraad te gaan koop. Heelwat later steek die son sy kop uit en skyn so nou en dan. Later bedaar Gus effe en ons stap in Myrina rond. Dis eintlik 'n pragtige dorp.

Archie kook sy berugte ouzo hoender vir die gaste en die reuk hang die kaai vol. Die gaste daag op en daai Sandi lyk te pragtig. Ek en sy flankeer met die manne. Almal is in 'n ligte luim. Die wind het gaan lê, die laatmiddagson skyn. Die storm is verby. Vier Suid-Afrikaanse seilers kuier saam in 'n verre land. Wat meer kan jy vra!?
Myrina strand
Vriende
Neil, ek en Archie
Langs die kaai

Tuesday, July 9, 2019

Limnos Eiland. Freshwater Bay.

8 Julie 2019. Sondag.

Molivos tot Freshwater Bay
 
Ons is vroeg op. Vandag is die lang kruising na Limnos, 51.7 myl, na Freshwater Bay, waar ons gaan anker. Dan is dit sommer ook my verjaarsdag. Ek weet ook nie hoekom ek alewig op kruisings moet verjaar nie. Verlede jaar het ons 'n baie groot see op ons kruising van Ios tot Amargos gehad. 

Ons vertrek 6:00. Maja se rooi en groen vaart ligte is aan, asook die agterlig. Die weer voorspel kalm see. Gewoonlik is hierdie 'n kruising wat wind-op gedoen word, want die Meltemi waai gewoonlik noord-oos. Vir my verjaarsdag wil ek graag 'n kalm see hê en dolfyne sien.

Ek en Archie het halfuur skofte agter die helm. Sy beurt, my beurt, sy beurt, my beurt. Sommer gou sien ons die eerste dolfyne. Te vêr vir foto's, maar hulle gladde lywe vul my met blydskap.

Die see bly kalm. Omtrent geen wind nie. So vorder ons myl vir myl. Vorentoe, altyd vorentoe. Ons steek die skeepsroete na Istanbul oor en op 'n stadium is daar nege groot skepe naby ons. Sommige kom, ander gaan. Sommige is voor ons, ander is agter ons. Sommige is nader, ander is vêrder. Hier moet jy mooi kyk en uit hulle pad uit bly. 
 
Die kleur van die see en die lug word een. Blou blou blou, alles blou. Dieselfde. Eenheid. Harmonie. Die son bak fel van agter, ons kan daai strale nie ontsnap nie. Die kaptein maak 'n plan. Hy gebruik die sambreel om vir hom 'n sonskerm te maak. Slim slimmer slimste. Dis nou my kaptein.
 
MSC
China Shipping Line
Vragskip
Sonskerm
 
Ons kom al nader. Halfpad, twee derdes, driekwart, amper daar. Die see is 'n spieël. Soms net rimpels. Nes ek dit wou hê vir my verjaarsdag. Ons sien weer in die vêrte dolfyne wat baldadig met hulle hele lywe hoog uit die water spring en dan weer terug plons. Wonderlik!
 
Na die 51.7 myl, word ons beloon met 'n eiland wat soos die Karoo lyk. Heel anders as Lesvos, wat pragtig groen is. Anders wat ek in my geestesoog gesien het. Ons ankerplek is ook net 'n plek, maar na 9h17 min, is ons baie bly en dankbaar om hier te wees. Ons gooi anker en vas is ons.
 
Ons eet 'n eenvoudige verjaarsdagmaal. Vleisloos, net geskroeide  groente en pasta. Heerlik!
 
Freshwater Bay
 
Hier in die verre land kyk ek na die mooi verjaarsdagkaartjie wat die familie saam met Elize vir my gestuur het. Ek lees die mooi boodskappe en goeie wense. Hierdie kaartjie is seker met die grootste sorg uitgesoek, want dit is so gepas!

Verjaarsdagkaartjie
Gerrie se gelukwensing op die plat water
Aandete

Ek het vandag baie dinktyd gehad. Ek wonder of  "uit die oog, uit die hart" ook vir familie geld. Miskien wel, ek is elke jaar vir 'n lang tyd weg ... 
 
Die son sak oor hierdie dankbare hart van my. Dit was inderdaad  'n goeie dag.

Oordenking
Die son sak

Lesvos Eiland. Molivos.

7 Julie 2019. Sondag.

Tsonia tot Molivos
 
Vandag gaan ons na die noordelike deel van Lesvos. Dis 'n pragtige dorpie met die naam van Molivos, 11 myl. Dis die plek vanwaar ons die lang kruising na Limnos gaan doen.
 
Oral hier langs die kus is wrakstukke en oranje lewensbaadjies wat teen die rotse uitspoel. Hierdie was mos prima vlugteling wêreld. Mens wonder altyd wat van die mense geword het. Het hulle oorleef? Waar kry hulle kos? En slaapplek? 
 
Oggendskoot
Wrak
 
Ons kom by die kaai en daar is plek vir ons. Ek seil nou al sewe jaar en my keel raak nog steeds droog as ons moet vasmeer.

Archie tru, ek bekyk die bodem, want soms byt 'n anker nie hier nie. Bodem lyk goed, ek gooi. Dis 'n hoë kaai, Archie sal moet klouter. Daar is niemand om te help nie. 

Toe ons by kaai kom hardloop ek agtertoe en vat die helm en daai kaptein klouter teen die muur uit en maak ons vas. Ek gooi die ander agtertou en ons is vas. Archie maak seker die anker is in en ons is tuis, in die dorp met sy kasteel.
 
Molivos kaai
Hawe - Maja vierde van links
Vissershawe
 
Ons stap dorp toe en eet 'n gyro om my verjaarsdag van die volgende dag te vier. Ons gaan nie kasteel toe nie, want ons kom weer hierheen saam met Pierre en Annatjie, dan sal ons gaan. Ons kronkel boontoe en kyk na al die winkeltjies. Pragtig.
 
Molivos
Straatkafee
 
Dis 'n vrolike en gelukkige dorpie hiedie. Gesels en lag is aan die orde van die dag. Ons gaan slaap vroeg, want môre is ons vensterperiode om die lang kruising na Limnos te doen. 

Ek droom die nag die waters van die kruising is rof.

Monday, July 8, 2019

Lesvos Eiland. Tsonia.

6 Julie 2029. Saterdag.

Mytilini tot Tsonia
 
Ai, dit was so lekker in die marina. Ons vul Maja met diesel en weg is ons na Tsonia, 21 myl. Stadig maar seker bekruip ons die 51 myl kruising na Limnos.

Gus waai liggies van voor en ons prrr maar vorentoe, altyd vorentoe. Tsonia is 'n baai by 'n klein dorpie en ons gooi anker. Byt dat dit bars en ons huis is waar die anker val.

Vir die eerste keer in'n lang tyd, swem ons en die water is heerlik. Vir my is die dag op anker heerlik. Ons deel die baai met een enkele eensame skaam dolfyn en 'n oorlogskip. Voel sommer baie veilig.
 
Tsonia
Tsonia
 

Saturday, July 6, 2019

Lesvos Eiland. Mytilini.

5 Julie 2019. Vrydag.

Plomari tot Mytilini
 
Hemel, maar hierdie kaai van Plomari is nooit stil nie. Veral nie in die nag nie. Ek hou vreeslik van Plomari, maar my minder van die kaai. Ons vertrek en ek laat my blou huis hartseer agter.

Ons sien vêrafgeleë dolfyne. Hulle verdwyn in die niet. Asof hulle nooit daar was nie. Ons vaar verder, vorentoe altyd vorentoe.

Ons gaan vandag na Mytilini, 19.5 myl. En nie vir pret en plesier nie. Hierdie boot is vuil. Sy kort water. 'n Behoorlike was. Ons spaar nou al water vanaf Pitagorion, by Samos. Dis waar ons ons laaste water gekry het. Ek kort 'n stort met baaaaie water. Met seepbelle wat in my oë kom. Met shampoo wat teen my lyf afloop en oormaat opknapper wat my hare opknap. Al die oordaad van vrouwees.

Maja prrr ritmies voort en die kasteel verwelkom ons in die vêrte. En daar om die hoek is die Marina. Hulle het mos vinger-pontoons in die marina. Die marinero is op sy pos en vas is ons. Ons gaan miskien vir Maja laat oorwinter in dié marina.
 
Mytilini se kasteel
Marina
 
Ons was boot. Sy is nog vol sout van die storm in Chios. Ons was en skrop en spoel af. Ek was my blink pype wat nog vol sout is. Dit kom amper skoon. Ek en Archie is albei papnat gewas toe ons klaar is. Maja is weer skoon!

Ek gaan was twee bondels wasgoed en stofsuig die vloere. Archie gaan ruil sy storieboeke om. Hy is mos Bennie Boekwurm. Hemel, maar ons werk. Archie stap Hawepolisie toe om ons "transit log" te stempel. Dis mos vlugteling wêreld dié.

Ons wens ons kan nog 'n dag hier bly, maar môre moet ons weer vort. Maandag het ons 'n vensterperiode om die lang kruising van 50 myl na Limnos te doen. Ai, die lewe van 'n seilende sigeuner!

Friday, July 5, 2019

Lesvos Eiland. Plomari.

3 en 4 Julie 2019. Woensdag en Donderdag.

Mandraki tot Plomari

Alles is sopnat gedou. Dis 'n teken van geen wind. Die water is spieëlglad in die baai. Gus is elders.

Ons vertrek 6:00 na Plomari, 31.7 myl, op Lesvos eiland. Die son kom op en verander die landskap na dag. Sekuur bring Archie vir Maja deur die vlak kanaal tussen die eilandjies deur. En ons vat die oop see.

Vroeg op
Kaptein

Dis 'n reguit pad oor die water en ons word verras deur 'n klomp dolfyne wat met ontbyt besig is. Hulle seepgladde blink lywe verskyn so dan en wan bo die water. Pragtig! Ek sien oop 'n enkele vliegvis, die eerste van die seisoen.

Plomari kom nader en daar is baie plek vir ons. Archie tru en ek gooi anker. Gelukkig is daar twee manne op die kaai om te help, want hierdie kaai is hoog. En vas is ons.

Plomari

Henry en Sally, wat nou 'n huis in Plomari gekoop het, kom groet en ons gaan drink 'n drankie onder die groot plataaanboom, by Platanos.

Daarna gaan eet ons saam met hulle. Archie eet mossels, ek calamari en Sally en Henry, mossels en slaai. Hulle vertel van al hulle ervarings en probleme én suksesse met die restourasie van hul huis. Ons kuier heerlik.

Ek, Sally en Henry
Platanos Restaurant
Vars calamari

Vandag is dit tyd om Plomari te ontdek. Ons stap in die straatjies tussen die huise. Hier was mos in 2017 'n groot aardbewing. Sommige huise is gemerk met 'n rooi ∆, dit beteken dat die huis baie skade het, jy mag nie eers daar ingaan nie. Ander het geel ∆, wat beteken "its kind of olraait", en die groen ∆, beteken die huis is weer veilig. Die huise sonder ∆, het nie aardbewing skade gehad nie.
Ons stap langs die rivier en sien 'n mooi huis met 'n tuin wat my hart steel. Ek sal graag hier in Plomari wil bly, in my blou huis.

Plomari
Venster
Huis
My blou huis

Ons bly heerlik hier in die gelukkige dorpie. Ek voel sommer baie tuis.