Wednesday, May 29, 2019

Alimia

29 Mei 2019. Woensdag.

Panormitis tot Alimia Baai
Ons het al sag-wiegend geslaap. MJ het van al die gebalanseer in die nag om nie rond te rol nie, 'n slaapbesering opgedoen. En Paddy slinger al van gisteraand af soos 'n dronkeling. Arme Fallers.

Vandag vat ons die pad na Alimia, 21.8 myl. Dis sommer reguit oor die see. Ons verlaat die mooi Pamoritis en vaar vorentoe, altyd vorentoe. 

Die vrinne is baie bly toe Gus ons toelaat om seil te span. Dit laat my dink aan die liedjie wat ek gedink in 2014 gekomponeer het. 

"Span die seile, span die seile 
Eers die genoa en dan die hoofseil
Span die seile, span die seile
Eers die genoa en dan die hoofseil


Ons seil ons seil op die Aegean See
Die rowwe rowwe Aegean See
Die golwe die golwe sleur ons mee
Op die rowwe rowwe Aegean See."

Ons seil altesaam 1h30min. Vorentoe, altyd vorentoe. Soms is Archie agter die helm. Ander kere kry Paddy en ook ek 'n beurt. Ek vat die helm as Maja ritmies prrr. Los die geseil vir die mans.

Die baai lê voor ons en ons gooi anker. Die eerste keer byt hy pragtig en toe Archie toets, kom dit los. Ek trek op en gooi weer. Dit byt en ons is vas.
Maja in Alimia Baai
Alimia Baai
Kerkie
Ou Gus waai, maar darem nie te erg nie. Ons is alleen in die baai. Te heerlik. Toe gaan ons land toe. Die vrinne roei ons land toe en ek sit ewe vernaam saam met queen Victoria agter in Dinkie.

Op die strand is baie rommel wat tydens rowwe see hier uitspoel. Veral baie plastiese proppies sonder die bottel. Wonder waar al die bottels is. 
Stap op strand
Ou klooster by strand
Ons stap na die ou klooster met sy bouvallige geboue. Paddy wonder oor alles. Oor die geboue, oor plante, oor die vlag met die arend. Dan vra hy vrae en gee self die antwoorde. Die ou kerkie is verlate en lyk so hartseer, maar dit lyk darem of hulle dit probeer regmaak.
Geraamte
Arch en ek
Kerkie
Binne die kerkie
Kerkmuur
Ai, dis vir my lekker om te stap. Almal stap op hulle eie spoed terug na Dinkie. Gus het intussen gaan lê en die vrinne roei maklik terug. 
Denneboom
MJ op die pier
Uil op 'n kluit
Maja en kasteel
Nou is dit vir ons swem bad. En dis heerlik. Ons almal voel verkwik en skoon. Die aand is heerlik windstil en Archie skink 'n skemerkelkie. Paddy drink bier, ek en Archie wit wyn en MJ kasaterwater. Dit een deel wyn gemeng met tien dele water. Jig!

Ons eet "bulgar wheat" slaai vir aandete, wat heerlik is. Toe was die Fallers skottelgoed en sorg vir soveel pret terwyl hulle was dat ons behoorlik skaterlag. Wat 'n lekker dag!

Gus begin weer te waai en toe gaan kruip hy in. Ons ook.

Tuesday, May 28, 2019

Symi eiland. Panormitis.

28 Mei 2019. Dinsdag.

Symi tot Panormitis via Seskli Eiland
 
Soos Archie sê, ons het 'n "love/hate relationship with Symi". Ons hou regtig baie van Symi, maar is altyd bly om daar weg te kom. Daai hawe is nie heeltemal veilig nie, want daar kom groot deinings van die veerbote in. Dan ruk en pluk al die bote. 

Ons groet die pragtige plek, Paddy trek die anker op en ons vat die pad na Seskli Eiland, 10 myl. Die boek sê dit is meer 'n swemplek as oornagplek en toe swem die vrinne in die kristalhelder water. Na middagete vertrek ons toe na Panormitis, 5 myl verder.
 
Seskli Eiland
 
Die baai is mos baie beskut, maar nou nie eintlik Archie se gunsteling plek nie. Ek hou van dié ankerplek, want dit het oraloor skuiling en die klooster van St. Michael is hier.

Ons klim in Dinkie en gaan besoek die klooster en Paddy en MJ (Mary-Jane) is baie beïndruk met die plek. Die klooster het die recoco styl troukoek kloktoring wat dateer uit 1740.
 
Klooster
By die klooster
Deur
Paddy en MJ
St. Michael
 
Baie toeriste kom besoek die klooster en 'n groot veerboot kom ingevaar met honderde nuuskierige agies. Almal is hier om die kloktoring te kom bewonder. 

Veerboot
 
Die klooster het 'n koepelvormige ingang en die vloer is uitgelê met klein swart en wit marmer klippies.
 
Ingang
Klippiesvloer
Patroon

En daai kloktoring! Ek kan sien hoekom hulle sê dis een van die  mooiste kloktorings in die Aegean See. Dis pragtig versier. Ons kan nie ophou om daarvoor te kyk nie. MJ wil so graag die klokkespel op video opneem, maar verniet. Die klokkespel speel nie saam nie.

Kloktoring
Kloktoring
 
Later roei ek en Paddy vir MJ, wat soos queen Victoria agter sit en mooi lyk, terug na Maja. Die kaptein verwelkom ons terug aan boord. Hy was besig om die autopilot, wat nou weer so steeks soos 'n donkie is, reg te maak. Hoop dit werk weer.
 
Ek en MJ gaan swem. Die inklim is koud, maar daarna word dit heerlik. Die meerminne verlei tot vir Paddy (wat nie wou swem nie) om ook die water aan te durf. 
 
Maak autopilot reg
Meerminne
 
Die lug is betowerend mooi en die sagte lig val streelsag op ons gesigte en die bemanning word model-mooi.
 
Archie en ek

Mary-Jane en Paddy

Vrinne

By Panormitis




























Monday, May 27, 2019

Symi. Koebaai Turkye, hallo Griekeland.

27 Mei 2019. Maandag.

Datça tot Symi
 
Na 'n hele klomp formaliteite en die Hawe Polisie wat ons kom identifiseer, is ons gereed om te vertrek. Ons verlaat vandag vir Turkye en gaan na Symi, 20.6 myl.

Dis nou die gaste se nooiensvaart en die kaptein gee die bevele. Ek moet uitry, Mary-Jane moet met die een agtertou werk en Archie wys vir Paddy hoe om anker op te trek. En daar trek ons op Paddy en Mary-Jane se eerste seilavontuur. 

Die kaptein gee 'n instrument les en daarna neem Paddy die helm oor en geniet dit vreeslik. Halfpad hys Archie die Griekse vlag. Nou is ons amptelik in Griekse water. 

Instrument les
Kruis die grens
 
Die kanaal tussen Symi en Nimos Eiland is mos vreeslik vlak en die twee brandwagte "con the way through". Paddy natuurlik met my magic bril in sy hand.
 
Kyk vir vlak water
 
En toe lê Symi voor ons en die gaste is betower. Hulle kyk en hou van wat hulle sien. Ons kry alles reg vir die vasmeer by die dorpskaai. Die Fallers sit die fenders uit, Archie kry sy posisie en tru. Ek gooi die anker en die kaaiman help met die toue en ons is vas.
 
Bly om in Symi te wees
Lief vir jou
 
Sommer gou is daar anker opwinding by die kaai. Hierdie dorpskaai is mos berug vir ankerkruisings. Die seiljag se anker is vas aan die motorboot se ketting. Gus waai en hulle sukkel. Ons kyk onbeskaamd. (En ek kan sweer Mary-Jane geniet dit!) 'n Man op 'n dinghie gaan help en uiteindelik, na 'n lang gesukkel, is hulle vry. Ek slaak 'n sluk van verligting namens hulle en Mary-Jane is spyt die opwinding is verby.
 
Gekruisde anker
Kyk onbeskaamd
 
Die Fallers gaan verken Symi, maar dié twee se paaie skei. Paddy soek vir Mary-Jane, maar sy is skoonveld. Soos 'n groot speld verdwyn. "Niemand is so blind as die een wat nie gesien wil word nie". Almal is toe later weer herenig en vredig op ons kleine Maja.

Ek en Archie gaan stap boontoe en sien die baai van bo af, uit 'n heel ander hoek. Dis warm en ons sweet. Doer onder lê Maja. Die Symi bly maar pragtig. Ons loop die lang af-pad terug.
 
Kloktoring by ingang
Symi
Maja (4de van links)
Ekke
Mooi deur
Mooi Symi
 
Toe begin Archie met die groot taak om ons ingeklok te kry. Dis eers die paspoort polisie. Paddy kom oop en toe by ons aangeloop. Hy kom haal ons, want die polisie wil ons sien en identifiseer. Ons slaag die toets kan terug boot toe gaan. Toe moet Archie nog na die doeane én toe na die hawe polisie. Die hele eskapade neem 2h30 min. Toe is Archie baie moeg en ons is wettig in Griekeland.

Dis lekker hier. Ek voel sommer tuis!

Friday, May 24, 2019

Datça. Nuwe gaste.

23 tot 26 Mei 2019. Donderdag tot Sondag.

Knidos to Datça

Roete tot op datum

Knidos is stil in die oggend. Baie jagte het vertrek. Ons volg in hul waterspore en ons vertrek na Datça, 20.3 myl. Dis hier waar ons Maja gaan skrop en polish (soos my oorle ma altyd gesê het).

Paddy, nog 'n ou skoolvriend van Archie, en sy vrou Mary-Jane, ontmoet ons Sondag by Datça om vir so paar dae saam met ons te kom seil. Ons sien uit daarna om hulle te sien.

Eindelik is dit sukke tyd. Die nuwe gaste daag op. Paddy en Mary-Jane is hier.
 
Hulle is hier
 
Archie is bly om sy ou skoolmaat te sien. Paddy is eerste aan boord. Hy lyk gretig om die blog wat hy so getrou gelees het, eerstehands te beleef. Mary-Jane kyk daai plank so uit die hoek van haar oog. Maar toe kom sy ook veilig aan boord, nadat Paddy handjie bygesit het.
 
Paddy kom aan boord
Mary-Jane volg
 
Hulle is lekker moeg en koffie is net die regte ding om hulle aan die gang te hou. Nadat ons ietsie geëet, en lekker gesels het, gaan ons dorp toe. Hulle verken die dorp alleen verder en ek en Archie gaan terug na Maja.

Ai, Datça se seefront is darem mooi. Oral is sukke eienaardige marmerbeelde en Maja se mense en die honne verfraai die beelde nog meer. Die restaurante langs die waterfront verlei mens om daar te sit. Ons weerstaan die versoeking en neem maar net droëbek- glimlaggend foto's. Gail en Norman van Mosselbaai loop daar verby en poseer saam. Hulle is nie seilers nie, maar kuier in Turkye.
 
Seefront honne
Ou vrinne
Gail, Norman, Archie, Paddy en Mary-Jane
Uitsig
Terug by Maja
 
Dit is gesellig op Maja se dek en Paddy en Mary-Jane is baie bly om hier te wees. Later word aandete bedien. Eenvoudige Turkse kos. Mantie en Ayran.

Die son sak langsaam en die dag kom tot 'n einde. Saam met skemer kom die soel aandlug van die amper-somer.