Saturday, May 18, 2019

Okluk Köyü

17 Mei 2019. Vrydag.

Şehır Adaları tot Okluk Köyü
Die dag breek en hou die belofte in om 'n pragtige dag te word. Ons het vandag sommer 'n kort pad. Net 7.7 myl tot by Okluk Köyü. So, ons gaan laat vertrek en het baie tyd.
Sonsopkoms
Archie besluit ons gaan Slang Eiland besoek om die grafte te soek waarvan die boek praat. Dié klein eilandjie is net oorkant Şehir Adalari. Ons klim in Dinkie en daar trek ons. Die makkers roei die lang pad en ons is daar. Maak Dinkie vas en ons is reg om die eiland te verken.

Soos gewoonlik sit Archie sy bril in sy hempsak om beter te kan sien. En hy sien nogal goed, want hy sien die skilpad wat nes klip lyk, dadelik raak. Skilla is seker nog besig om wakker te word na sy winterslaap, want hy roer nie. 
Skilla
Die pad is maar rof en die twee makkers is regte padvinders. Maar die paadjies is maar skaars en ons loop moeilik. Ons loop 'n ruk op die rotse langs die see. Doer voor loer sukke nuuskierige bokke vir ons. Hulle kyk ons omtrent aan. So asof hulle vra: "Nou wat soek julle eintlik hier?" Lyk kompleet of hulle kan diep dink.
"Hier kom die Bokke …"
Bokke en Marieks (Marieks staan aan die regterkant)
Ons kry 'n paadjie en stap verder. En daai bokke agtervolg ons. As ons stop, stop hulle. Dit lyk kompleet of dit ons kudde is. Ek en Sullivan lag te lekker toe ons poseer vir 'n foto en die bokke kom al nader. Regte nuuskierige agies.
Ons kudde
Ou bok soek mos jong blare
Bok en Blaar
Die uitsig is pragtig hier met die hoë berge in die agtergrond. Die see is blou en alles is net perfek. Die makkers klipspring op 'n rots skree soos Tarzan. Of miskien soos "George of the jungle", of miskien soos makker uit Suid-Afrika. Maar skree, of is dit brul, dit doen hulle hard en duidelik. Toe poseer die twee weer by die ligtoring. Mens sal dink hulle is modelle, so geniet hulle die kalklig.
Bergbokke
By die ligtoring
Langs die pad sien ons seemeeukuikens wat tussen die rotse skuil. Hulle moet seker vreeslik bang wees as die groot monsters so vir hulle loer. Ons stap terug, die makkers 'n ander roete as ek, hulle pik my met Dinkie op en ons roei terug. Dit was 'n heerlike uitstappie.
Skaam skuilende seemeeukuiken
Archie soek sy bril, maar dis skoonveld. My oorle ma sou vreeslik lelik gesê het "dis moerland toe". Ons kyk op die foto's of hy die bril in sy sak gesit het en sien op Sullivan se foto dat hy dit in sy hempsak gehad het toe ons uit Dinkie geklim het. Op 'n latere foto was die bril nie meer in sy sak nie. Die raaisel is opgelos. Die blêrrie bril het op die eiland verloor, uit sy sak geval.

Ai jai jai jai jai. Toe klim ons maar weer in Dinkie en roei die vêr pad eiland toe. Nou moet ons presies in Archie se spore loop. Eers by die skilpad. Niks! Archie loop op die plek waar hy 'n pad gesoek het. Hy het gebuk om te kyk of hy 'n pad deur die bos kan sien. Hy buk weer en soek die bril en so wrintie. Daar kry hy sy bril. Ons hoef nie eers so vêr geloop het nie. Ai, die vreugde!

Archie roei ons terug na Maja en ons maak klaar om te vertrek. Anker op en daar gaan ons. Gus waai van voor, maar ons kan darem op "close haul" met die genoa seil vir  omtrent 'n uur.

Sullivan vleg deur die klein eilandjies en voor ons is die restaurant kaai. 'n Man waai 'n vlag en ons mik dadelik daarheen. Nou al die tru en toue en vasmaak, is ons veilig. Dis 'n pragtige plek.
Die makker neem so sit-sit afskeid van die rooi stoel. Sit te lekker op die kaai. Dan sit die een so bietjie, dan sit die ander een. Hulle mik-mik om te besluit om die stoel te hou, maar ek sit my voet neer. Ons het nie plek op Maja vir 'n stoel nie. Hulle trek eintlik net my been. Die stoel word aan Apo geskenk.
Apo se plek
Seestoel
Koffiestoel
Vanaand is ons afskeidsete en Sullivan neem ons uit vir aandete. Dis die laaste restaurant op ons roete. Ons stort so tussen die muskiete in die mooi storte en ons lyk alte pragtig.

Die tafel is reeds gedek en Apo wag ons in. Sullivan moet die wyn goedkeur en hy sê dit proe vorentoe. Apo skink. Sullivan bestel vis, Archie calamari en ek lamstjops. Dit was omtrent lekker. "Dankie Sullivan, ons het dit terdeë geniet. Weereens heerlike kos, wonderlike atmosfeer en kuier saam met 'n baie goeie vriend.
Makkers
Makker en meisie
Apo en Sullivan
Koebaai-sê ete


Friday, May 17, 2019

Şehir Adalari

16 Mei 2019. Donderdag.

Çökertme tot Şehir Adalari

Vandag is dit een van ons gunsteling ankerplekke, Şehir Adalari, 21 myl.

Ons groet die ander Maia en vertrek. Dis 'n lang pad en ons prrr maar net, want Gus waai nie. Sullivan vat die helm en die kaptein maak tee.

'n Vreemde drywende voorwerp dryf in die see rond. Uit blote nuuskierigheid vaar ons in dié ding se rigting. "Man over board" word geoefen en sukses! Het hom! 'n Rooi plastiese stoel! Dis in elk geval baie goed om dit uit die see te haal, want dit kan net skade aan die jagte veroorsaak.

Kaptein se nuwe rooi stoel

Ons vaar verby Ören, die kragstasie, vir ure aaneen. Tyd en afstand op ons kleine Maja staan soms stil. Myl vir myl sleep die tyd langsaam verby.

Ons kom by Şehir Adalari en Sullivan gooi anker en na die tweede probeerslag byt daai anker. Vas en veilig. Ek het gemengde gevoelens oor die gooiery. 'n Deel van my hou nie daarvan as iemand my anker gooi nie. Maar nou ja ...

Ons klim in Dinkie en gaan land toe. Cleopatra se beroemde strand is hier. Die storie word vertel dat sy só lief vir Anthony was, dat sy sand van vermoedelik Egipte af laat kom het om vir hom 'n lekker stand te maak. Hy was baie lief vir swem. Hulle het die sand ondersoek en bevind dat dit nie plaaslike sand is nie.
Maak Dinkie vas

Jy loop op sukke groen en rooi growwe matte tot in die see en dan mag jy swem. As jy bietjie sand huis toe wil vat, gaan jy in die tronk beland. So, hou jou hande tuis. Ek swem heerlik. Hou my ek's Cleopatra.

Cleopatra se strand
Ek swem
Moderne Cleopatra
Anthony?
Nog appelliefies vir my pa

Die makkers gaan verken die ou stad en geniet die stap tussen die ruïnes. Hulle kom terug en die twee ou fossiele wil nie eers op Cleopatra se strand swem nie. Nou vra ek jou met trane in my navy blou oë (ons het op skool so gesê) hoe kan jy dan nou na die geskiedkundige strand toe kom en nie swem nie?! Sê hulle sal eerder by Maja swem. Ek is sommer lus om my op te ruk, maar hou my in. Hulle verlies!

Teater
Uitsig oor baai vanaf teater
Ou hawe
Op die kaai

Ons roei terug en die twee makkers swem by Maja. Ag siestog! Maar darem is die water kristalhelder en verfrissend en hulle geniet die swem terdeë.

Die skemer daal en nog later oorval die aand ons soos 'n gehekelde kombersie. Aan die oostekant beloof die maan dat hy aanstons volrond sal wees. Şehir Adalari is pragtig.

Skemer
Sonsondergang

Çökertme

15 Mei 2019. Woensdag.

Bodrum tot Çökertme

Çökertme is 19.9 myl vanaf Bodrum en ons vertrek. Al weer nie genoeg wind vir seil nie. Ons besluit ons gaan na een van die drie restaurant kaai toe. Ons sal die een wat met die grootste vlag waai, ondersteun.

Ag, ons vaar te heerlik. Die makkers gesels en ek luister heerlik na hulle. Brei ook sommer 'n blokkie vir my kombers. Dis heerlik gemoedelik en rustig op Maja. Myl vir myl vaar ons vorentoe, altyd vorentoe. Tussen eilande, verby vakansie akkommodasie, dorpies en berge.

Rafelhoed

Toe kom ons naby Çökertme en ons sit fenders uit en wag dat die restaurant eienaar se wedywering begin met hulle vlae en fluitjies om ons te werf. Maar niemand hardloop uit nie! Niemand waai hul vlae nie! Niemand blaas hul fluitjies nie. Niemand wil ons hê nie! 

Ons voel afgehaal. Eindelik, toe ons nie eintlik weet waarheen om te gaan nie, kom 'n man na die kaai toe en beduie ons kan kom. Archie tru, ek staan gereed met die boothaak en Sullivan staan gereed om die snoettou by my oor te vat. Maar hulle gooi sommer die tou wortel en tak vir hom. Sjoe, maar was dit 'n skewe vasmeer! Die tou en boot en kaai is nie in lyn nie en ek sê vir die man ek hou nie van die "angle" nie. Ons kry toe die vasmeertou van langsaan en toe lê ons pragtig in lyn en ons is tevrede.

Çökertme Restaurant
Maja by die kaai
Langbeen sit

Dis nog nie in seisoen nie, daarom is al die restaurant kaaie waarvan die biek praat, nog nie in werking nie. Maar hier is ons. Later kom nog 'n boot en sowaar! Haar naam is Maia. Ons eie Maja se naamgenoot.

Maia en Maja

Ons gaan stap. Dit raak bewolk, maar die stap is nog steeds heerlik. Onder lê die baai met die berge wat daaroor troon. Lanings olyfbome. Beeste wat in die pad loop. 'n Vrou wat 'n ruk saamloop. Wonderlik landelik. Ek geniet die omgewing, die stap, die uitsig.

Blommespel
Makkers en tannie
Oren in die vêrte
Sullivan en olyfbome
Çökertme Baai

Çökertme Baai
Plaastante


Die aand gaan ons uiteet. En wat 'n aangename verrassing. Die eienaar is baie vriendelik en ons bestel sonder 'n spyskaart. Heerlike voorgereg. Visrol, gevul met garnale met 'n ryk borriesous. En die sous het sowaar 'n sampioen of twee in. Dit was behoorlik smaaklik. Ryk en lekker.

Hoofgereg is 'n groot vars levrek vir die tafel, aartappels en slaai. Met 'n bottel van hul goedkoopste witwyn. 'n Ware feesmaal! Sullivan sê dis van die lekkerste vis wat hy nog geëet het. Dis nou behoorlik 'n kompliment vir die kok!

Reg vir uiteet
Mooie makkers
In die restaurant
Gevulde levrek rol
Gebraaide levrek