15 Mei 2019. Woensdag.
 |
Bodrum tot Çökertme |
Çökertme
is 19.9 myl vanaf Bodrum en ons vertrek. Al weer nie genoeg wind vir
seil nie. Ons besluit ons gaan na een van die drie restaurant kaai toe.
Ons sal die een wat met die grootste vlag waai, ondersteun.
Ag,
ons vaar te heerlik. Die makkers gesels en ek luister heerlik na hulle.
Brei ook sommer 'n blokkie vir my kombers. Dis heerlik gemoedelik en
rustig op Maja. Myl vir myl vaar ons vorentoe, altyd vorentoe. Tussen
eilande, verby vakansie akkommodasie, dorpies en berge.
 |
Rafelhoed |
Toe
kom ons naby Çökertme en ons sit fenders uit en wag dat die restaurant
eienaar se wedywering begin met hulle vlae en fluitjies om ons te werf.
Maar niemand hardloop uit nie! Niemand waai hul vlae nie! Niemand blaas
hul fluitjies nie. Niemand wil ons hê nie!
Ons
voel afgehaal. Eindelik, toe ons nie eintlik weet waarheen om te gaan
nie, kom 'n man na die kaai toe en beduie ons kan kom. Archie tru, ek
staan gereed met die boothaak en Sullivan staan gereed om die snoettou
by my oor te vat. Maar hulle gooi sommer die tou wortel en tak vir hom.
Sjoe, maar was dit 'n skewe vasmeer! Die tou en boot en kaai is nie in
lyn nie en ek sê vir die man ek hou nie van die "angle" nie. Ons kry toe
die vasmeertou van langsaan en toe lê ons pragtig in lyn en ons is
tevrede.
 |
Çökertme Restaurant |
 |
Maja by die kaai |
 |
Langbeen sit |
Dis nog nie in
seisoen nie, daarom is al die restaurant kaaie waarvan die biek praat,
nog nie in werking nie. Maar hier is ons. Later kom nog 'n boot en
sowaar! Haar naam is Maia. Ons eie Maja se naamgenoot.
 |
Maia en Maja |
Ons
gaan stap. Dit raak bewolk, maar die stap is nog steeds heerlik. Onder
lê die baai met die berge wat daaroor troon. Lanings olyfbome. Beeste
wat in die pad loop. 'n Vrou wat 'n ruk saamloop. Wonderlik landelik. Ek
geniet die omgewing, die stap, die uitsig.
 |
Blommespel |
 |
Makkers en tannie |
 |
Oren in die vêrte |
Hoofgereg is 'n groot vars levrek vir die tafel, aartappels en slaai. Met 'n bottel van hul goedkoopste witwyn. 'n Ware feesmaal! Sullivan sê dis van die lekkerste vis wat hy nog geëet het. Dis nou behoorlik 'n kompliment vir die kok!
 |
Reg vir uiteet |
 |
Mooie makkers |
 |
In die restaurant |
 |
Gevulde levrek rol |
 |
Gebraaide levrek |
No comments:
Post a Comment