28 September 2018. Vrydag.
Vandag
skyn die son in Kazbegi. Daar is berge reg rondom ons. Dis eintlik 'n
pragtige dorpie. Mens kan sien die weer is beter, want dis net toerite
waar jy kyk. Almal het uit hulle gate uitgekruip.
Op ons
agenda vandag is die Tsminda Sameba Kerk (Holy Trinity Church). Die 14de
eeuse kerk is amper 'n simbool van Georgië oor sy ongelooflike
fotogeniese ligging op die berg met die magtige Berg Kazbek op die
agtergrond. Hoe hulle daai kerk daar gebou het, weet ek nie. En hoekom hulle dit daar gebou het!
 |
Ons doelwit, die kerk bo-op die berg |
Ons
begin ons staptog en loop na die dorpie, Gergeti. Daar verlaat ons die
grootpad en begin die op stap. Ons stap verder om die kliptoring. Hierdie
paadjie is by sekere plekke nogal styl. Dis omtrent op opper opste.
Tree vir tree vorder ons. Vorentoe, altyd vorentoe. Net soos met onse
kleine Maja.
 |
Kliptoring |
 |
Op opper opste … |
Die magtige Kazbek berg skuil agter die wolke. Net soms loer die skaam wit reus vir ons deur die wolke, dan kruip hy weer weg.
 |
Amper bo |
 |
Sku en skaam |
Ons
bereik die top en ek is lekker moeg en uitasem en dors. Dis net bussies en
taxi's waar jy kyk wat die meer gemaksugtige (en lekkerder ruikende)
toeriste aanry na die kerk. Die ou klipkerk staan trots bo-op sy bergie
met reuse witbesneeude Kazbek wat oor hom waak.
 |
Toe word ek dors |
 |
Tsminda Sameba Kerk |
 |
Kerktoring |
 |
Tsminda Sameba Kerk |
 |
Uitsig oor Kazbegi |
Oral
sit toeriste en wag dat Kazbek moet ooptrek, maar verniet. Party van die jonger, meer soepel toeriste, wag nogal op interessante maniere vir die wit reus om oop te trek. Ons moet
maar tevrede wees met stukkies en brokkies van sneeubedekte bergtop. Elke keer as die wolke so bietjie padgee, trek die toeriste hul asems hoopvol in. Net om dit dan weer teleurgesteld uit te blaas, want ooptrek is verniet. Dis
yskoud hier as die wind waai en later vat ons maar die hasepad.
 |
Toeris wag |
 |
Stukkies en brokkies |
Ons
loop 'n ander roete terug na Kazbegi. Die eerste stuk loop ons op die
motorpad en later op 'n stappad. Dis 'n heerlike stap en glad nie so
steil soos die op-pad nie. 'n Klomp perderuiters is ook op die pad. Jy hoor die klap-klap van hul hoewe teen die klippe. In die agtergrond verras Kazbek ons so elke dan en wan met 'n glims van sy glorie. 'n Vrou is besig om aartappels uit te haal. Dis vreeslik landelik en vreedsaam hier. 'n Heerlike stap!
 |
Ruiters in die pad |
 |
Ruiters |
 |
Uitsig |
 |
Afstap |
 |
Kazbegi |
 |
Oes aartappels |
Eindelik is ons weer in Kazbegi. Ons gaan drink koffie en koop vir ons 'n schwarma wat ons op 'n bankie sit en eet.
 |
Middagete |
Op pad huis toe kyk ons hoopvol op na die berge. Miskien is ons gelukkig en sien vir Kasbek in al sy glorie. Maar helaas! Bo-op die berg staan die eensame kerk en Kazberg skuil nog steeds agter sy wolk.