Friday, September 28, 2018

Kazbegi. Tsminda Sameba Kerk.

28 September 2018. Vrydag.
 
Vandag skyn die son in Kazbegi. Daar is berge reg rondom ons. Dis eintlik 'n pragtige dorpie. Mens kan sien die weer is beter, want dis net toerite waar jy kyk. Almal het uit hulle gate uitgekruip.

Op ons agenda vandag is die Tsminda Sameba Kerk (Holy Trinity Church). Die 14de eeuse kerk is amper 'n simbool van Georgië oor sy ongelooflike fotogeniese ligging op die berg met die magtige Berg Kazbek op die agtergrond. Hoe hulle daai kerk daar gebou het, weet ek nie. En hoekom hulle dit daar gebou het!
 
Ons doelwit, die kerk bo-op die berg
 
Ons begin ons staptog en loop na die dorpie, Gergeti. Daar verlaat ons die grootpad en begin die op stap. Ons stap verder om die kliptoring. Hierdie paadjie is by sekere plekke nogal styl. Dis omtrent op opper opste. Tree vir tree vorder ons. Vorentoe, altyd vorentoe. Net soos met onse kleine Maja.
 
Kliptoring
Op opper opste …
 
Die magtige Kazbek berg skuil agter die wolke. Net soms loer die skaam wit reus vir ons deur die wolke, dan kruip hy weer weg. 
 
Amper bo
Sku en skaam
 
Ons bereik die top en ek is lekker moeg en uitasem en dors. Dis net bussies en taxi's waar jy kyk wat die meer gemaksugtige (en lekkerder ruikende) toeriste aanry na die kerk. Die ou klipkerk staan trots bo-op sy bergie met reuse witbesneeude Kazbek wat oor hom waak.
 
Toe word ek dors
Tsminda Sameba Kerk
Kerktoring
Tsminda Sameba Kerk
Uitsig oor Kazbegi
 
Oral sit toeriste en wag dat Kazbek moet ooptrek, maar verniet. Party van die jonger, meer soepel toeriste, wag nogal op interessante maniere vir die wit reus om oop te trek. Ons moet maar tevrede wees met stukkies en brokkies van sneeubedekte bergtop. Elke keer as die wolke so bietjie padgee, trek die toeriste hul asems hoopvol in. Net om dit dan weer teleurgesteld uit te blaas, want ooptrek is verniet. Dis yskoud hier as die wind waai en later vat ons maar die hasepad.
 
Toeris wag
Stukkies en brokkies
 
Ons loop 'n ander roete terug na Kazbegi. Die eerste stuk loop ons op die motorpad en later op 'n stappad. Dis 'n heerlike stap en glad nie so steil soos die op-pad nie. 'n Klomp perderuiters is ook op die pad. Jy hoor die klap-klap van hul hoewe teen die klippe. In die agtergrond verras Kazbek ons so elke dan en wan met 'n glims van sy glorie. 'n Vrou is besig om aartappels uit te haal. Dis vreeslik landelik en vreedsaam hier. 'n Heerlike stap!
 
Ruiters in die pad
Ruiters
Uitsig
Afstap
Kazbegi
Oes aartappels
 
Eindelik is ons weer in Kazbegi. Ons gaan drink koffie en koop vir ons 'n schwarma wat ons op 'n bankie sit en eet.
 
Middagete
 
Op pad huis toe kyk ons hoopvol op na die berge. Miskien is ons gelukkig en sien vir Kasbek in al sy glorie. Maar helaas! Bo-op die berg staan die eensame kerk en Kazberg skuil  nog steeds agter sy wolk.

1 comment:

  1. Gosh, what a beautiful area! You must be feeling the cold when you have virtually moved from a hot summer to a freezing winter overnight! But I see Archie is back in his shorts - very brave. Unbelievable to see that the church was built out of huge blocks - must have been an enormous challenge getting them up there. Enjoy the rest of your trip!

    ReplyDelete