Tuesday, September 25, 2018

Davit Gareja

23 September 2018. Sondag.

Ons eet 'n heerlike ontbyt. Dit is 'n baie gewilde dis in Georgië. Hulle noem dit khachapuri acharuli. Dis 'n broodboot gevul met gesmelte kaas met 'n eier bo-op. Heerlik!

Khachapuri acharuli
 
Oorkant ons sit twee jongmanne. Vir ontbyt eet hulle elk 'n koffie, 'n bier, so pizza ontbyt ding, eiervrug met neute gevul en vra toe vir ekstra brood. Daai manne is honger hoor. Hulle sal my twee broers en swaer Fanie onder die tafel in eet.

Ons gaan vandag die kloosters van Davit Gareja besoek. Die jongmanne wat so lekker geëet het, is ook op die toer. Hulle staan boeppens-tevrede en wag saam met ons en die res van die skare op die bus. Ons ry met drie bussies. Die rit daarheen neem so 2h30min om daar te kom op nogal lelike paaie. Ons stop darem vir 'n bietjie bene rek.

Archie en ons bussie
Bene-rek uitsig

Op die grens tussen Georgië en Azerbaijan, is die antieke klooster kompleks van Davit Gareja. Dis een van die mees besondere historiese terreine van Georgië. Hy is ook hier begrawe.

Dis geleë in 'n semi-woestyn landskap wat in die somer verander in 'n groen blomryke oase. Daar was aanvanklik vyftien kloosters wat oor die afgesonderde terrein versprei was. Die besoekers sien net twee kloosters. Die pamflet sê hier is slange, adders, akedisse, sklippaaie en baie rare voëlspesies. Die adders pik net as selfverdediging, so moet asseblief nie op 'n adder trap nie.
 
Die een klooster is Lavra, wat nou reggemaak is en daar bly na bewering tien monnike hier. Lavra is gestig deur Davit Gareja. Hy was een van die twaalf of dertien Siriese Vaders wat in die 6de eeu van die Midde Ooste af teruggekeer het om die Christendom in Georgië te kom versprei. Die Mongole het die kloosters in 1265 vernietig.

Na nog 'n klomp aanslae en heropbou van die arme kloosters, het dit nooit weer hulle belangrike plek ingeneem nie. Tydens die Soviet era, het die weermag die area gebruik vir hul militêre oefening en die kloosters erg verniel.
 
Lavra Klooster
Lavra Klooster
Lavra Klooster
Grot oppad na Udabno Klooster
 
Die Udabno klooster bestaan uit 'n klomp grotte wat hulle gebruik het as kapelle, kamers vir die monikke en werkskamers. Frescoes uit die die 10de tot 13de eeu kan nog gesien word. Dit kyk uit oor die pleine van Azerbaijan.
 
Pleine van Azerbaijan
Udabno klooster grotte
Frescos
Fresco
Fresco
Udabno grot
Udabno grot
"Chapel of Resurrection"
Uitsig
 
Dit neem sowat twee tot drie ure om die sirkelroete te stap.

Dit was voorwaar 'n baie interessante stap om die kloosters én die omgewing te ervaar. Ons klim in on bussies en ry na Udabno waar ons aandete geniet. Ons eet 'n beesvleispastei. Nogal heerlik!
 
Kudari
 
Dit was 'n aangename uitputtende dag en ons is pê toe ons tuis kom in ons nuwe woonplek, wat toe pragtig is!

Saturday, September 22, 2018

Tbilisi.

22 September 2018. Saterdag.

Vandag is eintlik 'n rusdag. Ons gaan die dorp maar verder verken. Af af af stap ons na die metro en klim die ondergrondse trein na die mark. In my geestesoog sien ek al die kleurspel van die groente en vrugte ryp en aanloklik in die stalletjies.

Ons kom daar, maar helaas! Net stalletjies met klere en skoene en kase en brode en speelgoed en koeke. Waar is die groente en vrugte? Hier en daar is 'n stalletjie met  die opbrengs uit die aarde. Wat 'n teleurstelling.
 
Churchkhale
Mark
 
Ons eet wel 'n kaaspastei wat vir my heerlik is (maar vir Archie minder heerlik) en so ander swaar sjokolade brood ding wat vir Archie lekker is (vir my minder lekker). Toe stap ons weer die metro om ons pad terug te vind. 
 
Eet khachapuri (kaaspastei)
 
Jy stap met sukke trappe af om die besige straat onder die pad te kruis. Maar goeie genugtig, wat 'n doolhof. Onder die straat is net stalletjies. Soms moet jy gebukkend stap en waar is die uitgang? Dit voel of ons al in die rondte stap. Vreeslik baie skoene, allerhande soorte. Tekkies, sandale, hoë hakke, kinderskoene. Skoene skoene skoene net waar jy kyk. Verder aan is dit weer net denims. Eindelik kry ons die uitgang en is verlig om die son weer op ons te voel skyn. Toe klim ons weer op die metro en ry na die busstasie.
 
Volgende op ons lys is die Mtatsminda Park, hoog teen die berg. Ons klim die bus en ons ry daarheen. Hier is 'n pretpark en ons twee verliefdes besluit om die "great wheel" te ry. Dis hoog en ek hoor hoe waai Gus teen ons vas. Hy sing en loei soos by die Aegean See. Te gou is die rit verby.
 
Pretpark
"Great wheel"
"Great wheel"
"Great wheel"
Uitsig oor Tbilisi
 
Toe vat ons die funicular af ondertoe en ons stap verder huis toe. Môre gaan ons na 'n ander hostel in Tbilisi wat meer sentraal geleë is vir al ons dagtoere vir die volgende drie dae.

Tbilisi Staptoer.

21 September 2018. Vrydag.

Hoe heerlik het ons nie geslaap nie! Die eerste slaap na twee nagte van min slegte slaap. Ons staan verkwik op, hoewel nog steeds bietjie styf van die lang sit.

Ons gaan vandag die stad verken. Archie is gewapen met sy kaart, selfoon met Google Maps en 'n elektroniese Lonely Planet hoofstuk oor Georgië en daar trek ons. Ek kyk na ons woonstel se deur en dit lyk vir my erg kommunisties! Af af af stap ons tot by die beginpunt van ons staptoer. Ons eerste stop is die Shota Rustaveli monument. Hy was 'n digter en voordraer van epiese en heldhaftige verhale.


Ons woonstel se ingang
Shota Rustaveli monument
Shalikashvila Teater


Die Akademie van die Wetenskappe met sy informele mark met al wat 'n kaggelkakkie, is omtrent iets om te sien. Die verkopers stal hul goeters sommer so op die trappe uit. Ek verkyk my aan al die goed. Wil 'n paar goed koop, maar weerhou my, want ek sal alles in my rugsak moet dra.

Informele mark

Die Opera en Ballet Teater is volgende. Ek sou baie graag 'n balletuitvoering hier wou sien. Dit is in 1896 gebou.

Ons stap na Vredesplein. Hier staan St George hoog en torts in goud beslaan, omdat hy die draak verslaan het.

Opera en Ballet Teater
St Gearge en die draak

Ons loop verder en sien nog mooi en interessante geboue. Die ou stadsmuur staan nog met redelike nuwe geboue wat bo-op dit gebou is. Dis ook naby die muur waar ons by 'n baie oulike restaurant met 'n heerlike atmosfeer khinkali eet. Dis is 'n Georgië spesialiteit amper soos manti of ravioli, net groter. Geurig en heerlik.

Ou stadsmuur
Wag vir khinkali

Shavteli straat is 'n heerlike straat. Hier is geen motors nie en hope atmosfeer. Toeriste sit en eet en koffie drink. Oral is kunswerke uitgestal. Ai, dis my suster, Elize, se tipe plek!

Toe gaan ons na Tbilisi se snaakste en oulikste gebou toe. Dis die Gabriadze Teater en die kloktoring is so effe skeef. Op elke uur kom 'n engel uit en laat die klok lui. Ons sal amper 50 minute moet wag om dit te sien, toe loop ons maar verder. Hier is nog baie ou geboue, soos die Anchiskhati Basilica.

"Quirky" kloktoring
Basilika
Shavteli straatgallery
Marieks en die manne
Prettige kuns
"Kom eet by ons"

Alles hier is nie oud nie! Die moderne Vredesbrug oor die Mtkvari rivier is die bewys hiervan. Hier kan jy die stad inadem en beleef.

Ons koop 'n churchkhale. Dit is 'n klomp neute aan 'n toutjie vasgemaak wat in 'n rubberige gel gedompel is. Jy eet dit as 'n versnappering. Ek moet nog besluit of dit vir my lekker is. Later besluit Archie dis vir hom lekker en hy eet alles op.

Ons sien ook 'n paar katedrale, wat ek as kerkmens baie geniet.

Vredesbrug
Mtkvari rivier

Katedraal

Die laaste stop is die Narikala fort bo-op die berg, waar jy die stad baie mooi kan sien. Aan die oorkant van die rivier, sien jy ook die huise en geboue wat op die steil walle van die rivier gebou is. Ek wil nie hier in my slaap loop nie! Dis 'n steil pad boontoe. Op opper opste! Uiteindelik bo.

Die belangrikste landmerk hier, is die standbeeld van Moerder Georgië. Sy is twintig meter hoog en van aluminium gemaak. Sy is die simbool van Tbilisi, in die een hand hou sy 'n swaard vas en die ander hand 'n koppie wyn. Dis tipies van Georgië se karakter - 'n hartlike welkom aan die gaste en 'n passievolle geveg om die vyand af te weer.

Kranshuise
Narikala fort
Narikala fort
Archie en ek
Moeder Georgië standbeeld
Uitsig oor stad

Voorwaar 'n heerlike dag van stap en sien en beleef. Ons stap terug op 'n wandelpad tussen die bome. Ek hou van Tbilisi. Terug by die woonstel, na omtrent 10 km se stap, gaan lê ek uitgeput op die bed.

Boomryke wandelpad

Friday, September 21, 2018

Busrit na Georgië.

18 tot 20 September 2018. Dinsdag tot Donderdag.

Maja is veilig op haar stelte en reg vir haar winterslaap. Ian kom groet en ons gaan sê gou vir die Koekemoers koebaai. Ons is gepak en stiptelik 19:30 daag die taxi op om ons otogar toe te vat. Ek "pat pat" Maja liggies op haar pens en weg is ons.
Koebaai Koekemoers
Ons klim 20:30 ons eerste bus na Ankara en ry dwarsdeur die nag. Ons kom 7:30 daar aan, moeg en styf. Wag vir twee ure vir die volgende bus wat 9:30 na Tbilisi vertrek. En ons ry. En ons ry en ry en ry. Dit word aand en ons ry nog steeds. Gelukkig stop die bus darem elke nou en dag vir bene rek, toilet en kos. En nog om by elke busstasie nog mense op te laat. 

Dit word nag en ons ry sonder ophou. 2:45 kom ons by die grenspos aan en moet die hele bus ontruim. Sak en pak stap ons die laaaang pad van die Turkse grenspos na grenspos van Georgië. Ons word ingestempel en toe begin die groot wag vir die bus om deur die doeane te kom.

Ons wag vir twee ure toe kom sê die buspersoneel daar is iets fout, ons sal nog moet wag. Nou wat die probleem was, weet ons nie eintlik nie, want daai mense praat gladnie Engels nie. 'n Meisie van Georgië wat bietjie Engels kan praat, probeer vir ons verduidelik wat die probleem is, maar ons verstaan nie wat sy probeer sê nie.
Nou wag ons. Sommer in die straat met al ons bagasie. Dis nag en word koud. Een van die jong meisies kry vir ons 'n trollie om op te sit. Nou het ons blokkiesboude. Dit word kouer. Dan kry jy 'n nood en moet 'n piepie in 'n stink hurktoilet gaan koop. Ek gril my dood en wil opgooi. Met konsentrasie onderdruk ek die naarheid. Almal is erg moedeloos. Wel, 5:15 daag ons bus uiteindelik op en ons klim. En toe ry ons verder asof niks gebeur het nie. Die buspersoneel sprak g'n sprook. Maar daai mense op daai bus is moeg en moedeloos en moerig.
Ons wag en wag …

Op 'n stadium is daar pandemonium agterin die bus. Dis toe jong knape wat mekaar wil gryp (dis seker die wat moerig was). Almal rek hulle nekke "om beter te kan sien, my kind". Hulle word uitmekaar gemaak deur die omstanders en die buswaardin en toe ry ons weer verder. Ons kom toe 12:00 (ons het Dinsdagaand vertrek en dis nou al Donderdagmiddag) in Tbilisi aan. Sowat van busry het ek nog nooit ondervind nie. Dankie tog ons is veilig hier.
Nou soek ons 'n taxi. Die bestuurder weet nie waar is die woonplek nie. Nou staan al die ander taxibestuurders nader. Daar is blykbaar twee strate met dieselfde naam. Archie het sy selfoon met die aanwysings en hulle kyk en bespreek. Klink vir my na 'n klomp speeus op 'n telefoondraad.  Uiteindelik het hulle konsensus bereik oor waar die plek is en ons klim. En daar trek ons en wonder bo wonder kom ons by ons woonplek.
Archie stap gou af om te sien waar die woonplek presies is. Hy en die landlord  kom en hy gryp my sakke en daar trek ons. Nadat ons ingeburger is, gaan wys hy vir Archie waar die  hy geld kan wissel, die supermark, die metro en gaan koop sommer saam met Archie kruideniersware en help dit terug dra. En dis baie vêr af. Toe bring hy vir ons druiwe uit sy tuin (met 'n spinnekoprak of wat). 'n Baie gawe man.

Nou lê ek eers met my voete in die lug, want my enkels is geswel.