Saturday, September 22, 2018

Tbilisi Staptoer.

21 September 2018. Vrydag.

Hoe heerlik het ons nie geslaap nie! Die eerste slaap na twee nagte van min slegte slaap. Ons staan verkwik op, hoewel nog steeds bietjie styf van die lang sit.

Ons gaan vandag die stad verken. Archie is gewapen met sy kaart, selfoon met Google Maps en 'n elektroniese Lonely Planet hoofstuk oor Georgië en daar trek ons. Ek kyk na ons woonstel se deur en dit lyk vir my erg kommunisties! Af af af stap ons tot by die beginpunt van ons staptoer. Ons eerste stop is die Shota Rustaveli monument. Hy was 'n digter en voordraer van epiese en heldhaftige verhale.


Ons woonstel se ingang
Shota Rustaveli monument
Shalikashvila Teater


Die Akademie van die Wetenskappe met sy informele mark met al wat 'n kaggelkakkie, is omtrent iets om te sien. Die verkopers stal hul goeters sommer so op die trappe uit. Ek verkyk my aan al die goed. Wil 'n paar goed koop, maar weerhou my, want ek sal alles in my rugsak moet dra.

Informele mark

Die Opera en Ballet Teater is volgende. Ek sou baie graag 'n balletuitvoering hier wou sien. Dit is in 1896 gebou.

Ons stap na Vredesplein. Hier staan St George hoog en torts in goud beslaan, omdat hy die draak verslaan het.

Opera en Ballet Teater
St Gearge en die draak

Ons loop verder en sien nog mooi en interessante geboue. Die ou stadsmuur staan nog met redelike nuwe geboue wat bo-op dit gebou is. Dis ook naby die muur waar ons by 'n baie oulike restaurant met 'n heerlike atmosfeer khinkali eet. Dis is 'n Georgië spesialiteit amper soos manti of ravioli, net groter. Geurig en heerlik.

Ou stadsmuur
Wag vir khinkali

Shavteli straat is 'n heerlike straat. Hier is geen motors nie en hope atmosfeer. Toeriste sit en eet en koffie drink. Oral is kunswerke uitgestal. Ai, dis my suster, Elize, se tipe plek!

Toe gaan ons na Tbilisi se snaakste en oulikste gebou toe. Dis die Gabriadze Teater en die kloktoring is so effe skeef. Op elke uur kom 'n engel uit en laat die klok lui. Ons sal amper 50 minute moet wag om dit te sien, toe loop ons maar verder. Hier is nog baie ou geboue, soos die Anchiskhati Basilica.

"Quirky" kloktoring
Basilika
Shavteli straatgallery
Marieks en die manne
Prettige kuns
"Kom eet by ons"

Alles hier is nie oud nie! Die moderne Vredesbrug oor die Mtkvari rivier is die bewys hiervan. Hier kan jy die stad inadem en beleef.

Ons koop 'n churchkhale. Dit is 'n klomp neute aan 'n toutjie vasgemaak wat in 'n rubberige gel gedompel is. Jy eet dit as 'n versnappering. Ek moet nog besluit of dit vir my lekker is. Later besluit Archie dis vir hom lekker en hy eet alles op.

Ons sien ook 'n paar katedrale, wat ek as kerkmens baie geniet.

Vredesbrug
Mtkvari rivier

Katedraal

Die laaste stop is die Narikala fort bo-op die berg, waar jy die stad baie mooi kan sien. Aan die oorkant van die rivier, sien jy ook die huise en geboue wat op die steil walle van die rivier gebou is. Ek wil nie hier in my slaap loop nie! Dis 'n steil pad boontoe. Op opper opste! Uiteindelik bo.

Die belangrikste landmerk hier, is die standbeeld van Moerder Georgië. Sy is twintig meter hoog en van aluminium gemaak. Sy is die simbool van Tbilisi, in die een hand hou sy 'n swaard vas en die ander hand 'n koppie wyn. Dis tipies van Georgië se karakter - 'n hartlike welkom aan die gaste en 'n passievolle geveg om die vyand af te weer.

Kranshuise
Narikala fort
Narikala fort
Archie en ek
Moeder Georgië standbeeld
Uitsig oor stad

Voorwaar 'n heerlike dag van stap en sien en beleef. Ons stap terug op 'n wandelpad tussen die bome. Ek hou van Tbilisi. Terug by die woonstel, na omtrent 10 km se stap, gaan lê ek uitgeput op die bed.

Boomryke wandelpad

No comments:

Post a Comment