Monday, September 10, 2018

Yesilköy en Gemiler.

8 en 9 September 2018. Saterdag en Sondag.

Kaş Marina tot Yesilköy

Yesilköy tot Gemiler

Ons is nou besig om aan die einde van Yvon en Louise se kuier te kom. Dis nou net na Yeşilköy, naby Kalkan, 14.4 myl waar ons anker.

Kalkan

Daarna na Gemiler, 29.7 myl. Hier is mos die sewe kape wat baie moeilik kan wees. Weereens was die kape goed vir ons en na 'n tweede probeerslag is ons vas by Gemiler. So vol het ons nog nooit die ankerplek beleef nie.

Indrukwekkende sonsopkoms

Vol seile
Kaap 5, 6 en 7 (van wes tot oos)
Kaap 1 en 2
Dolfyn
Oorvol Gemiler ankerplek


Kaş Marina.

6 en 7 September 2018. Donderdag en Vrydag.

Polemös Bükü tot Kaş Marina

Die pad na Kaş is 18.8 myl. Dit voel lank na die heerlike kort dae in Kekova. Naby Kaş begin Gus vreeslk te waai en die golwe is baie groot. In die Kaş marina is daar geen wind nie.

Ons gaan pomp eers swartwater uit. Ons staan "alongside" by die pomp, maar niemand help ons nie. Hulle drink tee. Ons wag maar geduldig. Toe kom een van die teedrinkers vir ons sê uitpomp is "self service". My donder, twee weke terug was ons hier vir uitpomp en hulle het gehelp met uitpomp. Nou is dit kastig "self service". Nog nêrens in Turkye het ons self ons swartwater uitgepomp nie. Maar ek vererg my!

Na ons self uitgepomp het, neem die marinaman ons na ons plek en vas is ons. Toe  hy vra of daar enige vrae is, vra ek toe oor die swartwater. Na 'n hittige gesprek met die arme man, is die gaste grootoog en geskok en Archie vies vir my. Ek is kwansuis aggressief. Hy (die man by die pomp) kan bly wees hy het nie 'n klap gekry nie.  Diplomatiese Archie het toe by die marinakantoor voorgestel dat hulle 'n kennisgewing opsit om te sê uitpomp is "self service".

Gus begin later baie erg te waai en almal praat oor die groot see Kalkan se kant toe. Die kaptein besluit ons gaan twee nagte hier oornag.

Die Kanadese neem ons uit vir aandete en dis 'n aand met heerlike kos. Archie is pragtig uitgevat met sy Maja hemp wat Yvon en Louise spesiaal vir hom gemaak het en ek dra my spesiale Maja handsakkie.
 
Uitgevat
Louise en Yvon
Aandete
 
Die volgende dag is daar 'n boeremark en daai groente en vrugte roep my. Na Archie en Yvon ons aankope by die boot gaan aflaai het, skei ons paaie en ek en die kaptein geniet dit om in Kaş rond te dwaal en die atmosfeer te geniet.   
 
Boeremark
Boeremark
?
Straattoneel
"King's Tomb"

"King's Tomb"
Kaş

Kaş Hawe

Ek maak die aand lamskenkels en groenbone gaar vir aandete.  Dit ruik heerlik met die roosmaryn,
uie en knoffel wat saam met die lam prut-braai. Ek sit die maaltyd met trots voor. Maar o wee! Die gaste eet maar langtand aan die vleis wat ek met soveel sorg stadig gepotbraai het. Soveel dae, soveel dinge.

Friday, September 7, 2018

Pölemos Bükü

5 September 2018. Woensdag.

Üçağız tot Pölemos Bükü

Alweer 'n hanetree na Pölemos, 3.6 myl. Ek het dié baai mos verlede jaar, saam met Till en Andree herdoop na windbaai.

Ons gooi anker en ons is vas. En ons stap dadelik na Aperlae, die antieke Lycian stad. Hier het mense gewoon vanaf 4de eeu v.C. tot die 7de eeu n.C. Die pad is lank en warm en sweet is ons voorland. Hier is baie karobbome. Die blare en die peule word gebruik vir voer vir diere. Die woord "karob" hou verband met die hedendaagse term "karaat" (waarin edelgesteentes gemeet word), omdat elke saad omtrent 0.2 g weeg.  Sommige mense dink dis die waarheid, ander beweer dis 'n mite.
 
Lang warm pad
Karobboom
Karob peul en pitte
 
Dit wemel hier van gesonke fondasies en sarkofae. 'n Ou muur wat rondom die stad was, is nog te sien en ek gaan verken die binnekant van die muur terwyl Archie, Yvon en Louise êrens anders heen loop.
 
Gesonke gedeelte van die stad
Yvon, Louise en Archie
Sarkofaag
Ek op die fondasie
Stadsmure
Archie en ek
Mooi sarkofaag
Sarkofae
Binne-in die muur
 
Ons stap die lang pad terug en skrik nie vir die voëlverskrikker nie, want ons is mos nie voëls nie. Ons drink by die nors man bier en coke, omdat ons vie Dinkie by sy restaurant vasgemaak het.
 
Voëlverskrikker
 
Die herdoop van die baai is nie om dowe neute nie. Gus begin waai en Maja word heen en weer geswaai.  Ek hoop die ander drietjies geniet die blêrrie wind, want ek geniet dit gladnie. Dit raas en irriteer my oë. Kry vir julle! Kaas dit en geniet dit!

Wednesday, September 5, 2018

Üçağiz

4 September 2018. Dinsdag.

Gökkaya tot Üçağiz

Ag, vandag is dit weer net 'n hanetree na Üçağiz, 5.3 myl. Van hier gaan ons die pragtige Kale Köy besoek. Ons gooi anker in die oostelike deel van die baai en daai anker byt behoorlik in die vlak water. En vas is ons.

Üçağiz Baai
 
Ons het vroeg gewikkel om in die koeler deel van die dag te stap, want dit is nog vreeslik warm hier. Ons roei land toe en begin die stap na die kasteel. Op sweter warmste!

Die klein kasteel van Kale Köy is pragtig, gedeeltelik omdat dit in 'n pragtige omgewing geleë is. Jy kan pragtige uitsigte oor die omgewing kry en Maja pronk ook so ewe pragtig stoksielalleen in die baai.
 
Uitsig
Maja alleen
Mure
Uitsig oor Kale Köy
Ek en Yvon
 
Binne-in die kasteel is 'n klein teater wat in die klip uitgekap is. Die mense van toentertyd was darem lief vir hulle teaters. Kultuur was altyd vir hulle baie belangrik. 
 
Teate
 
Ek, Yvon en Louise stap heerlik in die kasteel rond en het verbeeldingsvlugte oor tonele uit vergange se dae. Hulle nou is vir ewig verby. Verlede, hede, toekoms! Vandag se hede (ons) is môre se verlede. Tyd, ewigheid, lewe, dood. Alles deel van die beloop van die geskiedenis. 

Op die hange van die berg is baie sarkofae te sien. Die goed betower my mos en vir Louise ook. Hulle is uit klip gekap en amper onvernietigbaar. 'n Ou omie kom rus langs Archie by die sarkofaag en praat onverstaanbaar land en sand. Hy is 'n prentjie van oudwees toe hy hinkepink wegstap. 'n Vrou dra 'n bondel karob takke vir haar bokke. Hierdie mense leef in eenvoud na aan die aarde.
 
Sarkofaag
Yvon en Louise
Archie en Oom Bakkies
Hinkepink
Ou vrou met karobblare
 
Hierna loop ons na die antieke gesonke stad van Simena, waar jy die sarkofaag wat in die see staan, kan sien. Hier is 'n hele ou stad onder hierdie water. 
 
Kale Köy is 'n besondere plek en dis verseker vir my 'n hoogtepunt in die geweste.
 
Gesonke sarkofaag
 
Ons pluk seebone vir die aand se slaai. Daar is maar min te oes. Elkeen kry 'n handjievol, net genoeg vir een keer se slaai. Dit word dan vinnig in vars kookwater gekook vir een minuut, daarna in koue water gedompel en dan is dit reg vir die slaai.
 
Pluk seebone
 
Ons gaan gooi in die westelike baai anker om nader aan die dorp te wees, want ons moet voorrade koop. Hy byt dat dit bars en ons al vier klim in Dinkie en gaan dorp toe. Terug by Maja het ons 'n nuwe buurman gekry. 'n Vreeslike eienaardige doenigheid. Ons weet aanvanklik nie waar voor of agter is nie. Van voor af lyk dit of die gedoente enige tyd kan opstyg. Adastra kos maar net 'n skrale $15miljoen!
Adastra
"Ready for take-off"