Saturday, August 11, 2018

Keçi Bükü.

10 Augustus 2018. Vrydag.

Symi tot Keçi Bükü

Die vraag is: "Gaan Maja vorentoe kan ry?" En die antwoord is nee! Die gom het nie gewerk nie. Nou moet Francois die rat per hand in die vorentoe rat sit. Hy gaan ondertoe, na die enjin. Ek is voor by die anker om op te trek. Archie gee vir Roelien die teken om vir Francois deur die venster te sê hy moet dit in rat sit. En as ons eers vorentoe vaar, kan ons nie agtertoe vaar nie. Alles verloop goed en ons vorentoe, (nie) altyd vorentoe.

Symi is in die oggend nóg mooier.  Die huisies glimlag in die oggendson. Poskaartmooi. Roelien is verlief op Symi!
Symi
Symi
Ons vaar ons in die bloedige hitte na Keçi Bükü, 18.1 myl. By Symi was dit gister 43° en dis vandag nie veel koeler nie. Ons kan nie wag om te swem nie. 
Op pad
Ons vaar by die baai in en almal is op hul pos om die rat van vorentoe na agtertoe te verander. Francois is in die kookpot, Roelien by die venster en ek by anker. Toe ek anker gooi, gee Archie die opdrag en met sy hand verander Francois die rat sodat Maja agtertoe kan vaar dat ons die anker kan gooi en toets. Eureka! Wel gedaan bemanning!

Archie en Francois maak toe die kabel reg. Dit moet net hou tot Marmaris, nog drie dae. Dis omtrent 'n prettige besigheid om dit reg te maak. Die mans is onder en Roelien bo om die rathefboom vorentoe en agtertoe te skuif. Dan praat hulle deur die noedel. "Bravo 1 Bravo 1 kom in." Dan sê iemand met 'n baie lae stemtoon, (soos in daai Schuster fliek waar die kleurling na die hoederpoeholletjie kyk):"Agtertoe. Stadig vorentoe." Dan lê ons soos ons lag!
Bravo 1. Bravo 1. Kom in !
Die mans het net soveel pret in die water. Hulle spring met reguit bene, hande langs die sye in die water. Dan kurkprop hulle uit die water omdat daar so baie sout in die see is. 

Francois en Roelien gaan klim die koppie met die ou kasteel en kry die mooiste uitsigte oor die baai.
Op die koppie
Keçi Bükü
Francois
Kasteel muur
Sonbesie
Die ding om hier te doen, is om op die sandbank te loop. Busvragte en veerbootvragte vol toeriste kom hierheen om die loop te loop. En ons loop saam. Francois swem soontoe en ons drie ry in Dinkie. Amper vaar 'n seiljag oor ons. Roelien kyk toevallig agtertoe en sê:" Hier kom 'n boot!" Ek gil dat die kranse antwoord gee (almal kyk) en Archie swenk uit. Hy tref ons amper. Volgens die seereëls het ons "right of way" gehad.
Ons loop heerlik op die sandbank en Archie trek vir Dinkie agter hom aan. Ons al vier klim in Dinkie, want ons wil dorp toe, maar ons is te swaar en water stroom in Dinkie.  Francois klim uit en loop maar. Die water is later so vlak dat Dinkie se enjin in die modder ploeg. 'n Bruin streep volg ons. Soms voel dit vir my of ons Meneer en Mevrou Boon is. Díé keer is ons skoondogter, Boonjie, saam in Dinkie. Ons seun, Groenboon, stap maar so deur die vlak water.
Stap op die sandbank
Francois en Roelien
Boontjie
Toe gaan ons na die mini mark en koop roomys en ys. Archie en Francois gaan eerste terug na Maja en daarna kom haal Archie vir my en Roelien. 

Ons swem om af te koel in water wat 29° is. Maar dis vir ons lekker hier by Keçi Bükü.

Friday, August 10, 2018

Symi. Verrassing.


9 Augustus 2018. Donderdag.
 
Datça tot Symi
Hoe dapper voel julle? Hoe wettig wil julle wees? Wil julle Symi toe gaan? En ja is die antwoord! Archie pomp eers swartwater uit, die kinders gaan winkels toe en nadat ons vir Francois en Roelien op die bemanningslys het, trek ons die anker moeiteloos op en vertrek na Symi, 10.7 myl. 
 
Roelien, Badem, Francois en ek
Winkels toe
Swartwater uitpomp
 
Dis Roelien en Francois se nooiensvaart en Francois sê ons moet "burn". Nou ek weet nie of mens vyf knope "burn" kan noem nie, maar toe "burn" ons maar!
 
Naby symi moet ons eers deur die vlak lanaal vaar. Plek-plek lyk dit so vlak dat dit voel of ons gaan strand, maar Maja kom deur sonder om te strand.
 
Nooiensvaart
Helmsman
Deur die vlak water
Nimos kanaal
Roelien
 
By Symi, 10.7 myl, gekom, kry ons 'n plek. Hier sal ons maar 'n lae profiel handhaaf om geen aandag op ons te plaas nie oor verskeie redes.  Archie tru, ek gooi anker en die twee Vissers staan reg om af te keer. Toe Archie vir Maja by die kaai wil stop deur vorentoe te ry, breek daai ratkabel weer. Ek gee 'n gil van skrik wat deur die hele Symi eggo. En dit nou dat ons 'n lae profiel moet hou. Gelukkig dat die hawe polisie nie kom kyk het wat aangaan nie. 

Naby Symi
 
Wel, toe is ons vas en Archie moet weer plan maak om dit te fix. Hy werk al swetende, want hierdie Symi is warm. Maksimum temperatuur van 43°. Die sweet tap ons af. Die kinders gaan swem by die strand. Die arme goed is gewoond aan winter! Symi bly maar pragtig. Roelien sê die huisies lyk soos poskaarte. 
 
Symi
Symi
Symi kaai
 
Die aand vat Francois en Roelien ons uit vir ete. Vir hoofgereg eet Archie baba bok met suurlemoensous en ons drie gevulde calamari. Heerlik!
 
Uiteet
Uiteet
Gevulde kalamari
Nodeloos om te sê, Katoi Cafe bar hou ons tot laataand, nee vroegoggend wakker. Tussen die musiek en die hitte het ons maar sleg geslaap.

Datça.

7 en 8 Augustus 2018. Dinsdag en Woensdag.

Knidos tot Datça

Hier is ons weer n goeie ou Datca, 20.3 myl. Ons gaan hier wag vir my oudste seun, Francois, en sy vrou, Roelien. Hulle gaan net vir sewe dae saam met ons seil.

Dis warm hier in Datça. Ons koop voorrade en maak reg vir die kinders se koms. En uiteindelik breek die dag aan. Hulle kom vandag! Hulle verpas hul vlug na Dalaman en eers hier teen 18:30 sien ek vir Francois langs die kaai loop. Hy soek vir Maja.
Waar is Maja?
Ons groet en ek stap saam om vir Roelien te kry waar sy soos 'n uil op 'n kluit by die bagasie sit en wag.
Sak en pak
Die aan boord kom is maar moeilik met die groot tasse wat die twee het. Hulle kom vir 'n maand hier toer. Eers Griekeland en daarna Italië.
Hoe kom ons oor die plank?
Gee aan
Dis 'n dun plank die!
Hulle is behoorlik moeg gereis en in die warm Datça is 'n yskoue lafenis baie welkom. Dan sê ons ook weer: "Baie welkom julle!" 
Baie welkom julle
Francois, Roelien en Archie
Toe die twee eindelik besef dat hulle baie honger is, val hulle weg aan die hoender en aartappelslaai en eet asof hulle 'n werk laas geëet het.

Doodmoeg soos wat hulle is, gaan stap hulle eers bietjie 'n die dorp rond voordat hulle soos twee vrot velle op die banke in die saloon aan die slaap raak.

Tuesday, August 7, 2018

Dirk en Ina

Dirk.

Dirk
Dirk is nog steeds so bedagsaam en behulpsaam soos altyd. Hy is 'n aanwins op die boot. Hy bring sy deel en help waar hy kan. Hy het baie geleer van seil en hoe om Maja te hanteer en beheer.

Dirk het die seilervaring vreeslik geniet en ons vreeslik bederf met baie biltong. Omtrent genoeg vir die Turkse weermag. Baie dankie vir alles wat jy vir ons gebring het.

Dirk skryf so oor sy beste ondervinding:

"Behalwe vir al die seillesse was Rotti (die rot op Maja) nogal opwindend, verbasend en skrikwekkend. Skrikwekkend, om 'n rot in Katsie (die basil plant) te ontdek. Verbasend, dat 'n rot vir amper 'n minuut onder water kan swem. Opwinding, om vir Rotti van Maja af te hou.
So maak mens waterpomp reg!
My beste plek was Çökertme. "Krismis in July" is 'n vreemde konsep. Ek weet dis nou eers Augustus, maar Çökertme was my "Krismis in July". Lieflike stap teen die berg uit. Koue bier, lemoensap, limonade en Coke Zero. Ek het heerlik geskerts met die restaurant eienaar en 'n gratis water taxi terug na Maja. Die aand is afgesluit met'n gesellige ete en vier drywende gullet kersbome en spieëlgladde water. Hoe geseënd kan 'n mens wees.
Stap by Çökertme
Water taxi
Dankie Archie en Marietjie dat julle die mooi met ons deel."


Ina.
Ina
Ina het die hele seilondervinding met 'n eerlike en opregte eenvoud geniet. Sy was altyd op haar pos met die koue drankies na 'n anker of vasmeer."Baie dankie vir al die lekkernye wat jy saamgebring het!"

Ina het dit vreeslik geniet om agter die helm te sit en Maja op koers te hou. Sy was soos 'n meermin in die water en elke minuut benut om voluit te leef.
Ina skryf:

"Tuzla Köyü was die lekkerste plek. Ek stap aan wal van een van die kleinste eilande in Turkye. My eerste rit op Dinkie wat ons sonder moeite vorentoe beweeg het. Ek het omtrent die hele tyd geswem. Ons eet koue salmon.
Roei na klein eilandjie
Lekker swem
Die interessantste plek was Knidos. Dit was die eerste keer dat ek met Dinkie roei. Sukkel, sukkel!  Die ou stad was baie interessant en ons ontmoet vir Erkan. Ons drink 'n bier.
Sukkel, sukkel!
Dan was daar 'n "scary" plek. By Sehil Adalari was daar woeste winde van voor en ons was vêr van die land. Ons het gesukkel met die roei. Ek het ook 'n aaklige, grillerige ondervinding met 'n rot gehad.

Marieks en Archie, baie baie BAIE dankie!"

Baie dankie julle twee vir 'n heerlike kuier!

Monday, August 6, 2018

Bodrum. Tot siens. Knidos.

5 en 6 Augustus 2018. Sondag en Maandag.

Çökertme tot Bodrum tot Knidos

So breek Dirk en Ina se laaste vaart aan. So gou verby. Vandag gaan ons na Bodrum Milta marina, myl.

Dis windstil tot in Bodrum en ons pomp eers swartwater uit en gooi diesel in. Toe neem die marinaman ons van 'n piepklein spasie, waar Archie meesterlik, met die hulp van die stampe en stote van die man in die dinghie, inkom. Toe moet Ina vinnig daai laaste koue drankie skink, want na die spanningsvolle vasmeer, het ons dit nodig.
Archie kry 'n agent om Dirk en Ina van die bemanningslys af te haal. Toe was ons drie die boot. Dis omtrent harde werk. Omtrent soos "uit die sweet van jou aangesig sal jy jou brood verdien". Ons aangesigte het geblink van die sweet. Toe is Maja silwerskoon binne.

Dirk en Ina gaan na hamman vir 'n welverdiende masering en ek en Archie gaan koop bietjie voorrade. Ons maak ook klaar vir ons afskeidsete.
20:00 gaan ons Zazu restaurant. Wat 'n goeie keuse! Die kos was heerlik. Ek eet lamskenkel, Archie en Dirk beeswange en Ina gebraaide salmon. Die rooiwyn was van hoogstaande gehalte. Daar was ook twee manne wat baie mooi gesing het. Amper Grieks. Ina het heerlik gedans.
"Dankie julle vir 'n heerlike aand!"
Uitgevat

By Zazu restaurant

Aaa! Ou Dirk.

Musikant

Maandag staan ons op en na 'n laaste kapteinskoffie, staan Dirk en Ina sak en pak op die kaai. Ons groet en weet ons gaan hulle mis. Nou is ons weer alleen leen leen.

Die marina man kom help ons uit ons klein spasie en ons vat die pad na Knidos, 23.4 myl. Ons sien 'n klein waterskilpad wat siek lyk. Archie duik om te kyk of alles reg is, maar hy swem weg. Hy is hopenlik reg. Sowat van hartseer skillie het ons nog nooit gesien nie.

Woensdag kry ons vir Francois en Roelien in Datca. 

Sak en pak

"Ons gaan Maja mis"

Visserboot

Skilpadjie