Monday, July 23, 2018

Alimia Baai. Alimia Eiland

22 Julie 2018. Sondag.

Potamus Baai tot Alimia Baai


Ons het vandag net 'n hanetree om te gaan na Alimia Eiland, 8 myl. Ons is weer terug deur die vlak water en vaar verby Khalki. Dit is datem 'n mooi ou dorpie. 

Die see is maar rof, maar Gus waai nie erg nie. Ons vaar by die suidbaai in, maar gooi nie daar anker nie, want dis diep. Nou is die noordbaai ons voorland. Gus waai nou sterk. Hier is sand en seegras, maar Maja word so heen en weer in die wind geslinger, dat ek die eerste drie keer net seegras raakgooi. Byt is verniet. Die vierde keer gooi ons daai anker sekuur en vas is ons.

Ons gaan stap op die land. Maar sowat van rommel op 'n strand, het ek lanklaas gesien. Die hele Aegean See se rommel spoel hier uit!

Rommel

In die ou dae was hier 'n hele nedersetting met kasteel en al. Hier is ook 'n ou klooster, nie baie groot nie en 'n kerk. Nou se dae loop hier net bokke rond.

Kerk1
Kerk 2
Kerk 2
Klooster
Klooster

Maja en nog 'n paar seiljagte draai en swaai en waai rond in die baai, natuurlik onder Gus se toesig. Dit waai glad nie so sterk soos in gister se baai nie.

Alimia Baai
Alimia Baai

Ons eet vir die derde aand in 'n ry heerlike hoenderkerrie wat die kaptein gekook het. Ja nee, 'n man van vele talente.

Sunday, July 22, 2018

Potamus Baai. Khalki Eiland.

21 Julie 2018. Saterdag.

Livadhi tot Potamus Baai

Vandag is dit Khalki, 'n splinternuwe eiland. Ons pak die 20.6 myl dag aan na Potamos Baai op 'n lewendige see. Altyd rollend. En ons seil vir twee ure. Die res van die tyd motorseil en later motor ons.

Ek moet sê, ek hou meer van motor as van seil, maar laasgenoemde is darem vinniger. Archie maak weer die hoofseil vas dat dit nie kan rondswaai nie, want in hierdie agterwinde is dit maar moeilik om te seil.

Deur die vlak plekke en Khalki lê sjarmant voor ons. Vir my lyk dit soos 'n mengsel tussen Symi en Kastellorizon. Pragtig. Ons vaar verby die dorp en neem die kleurvolle huise van die see se kant af in. 
 
Khalki
Khalki  hawe
 
Toe vat ons nog vlakker water aan en vaar na Potamos Baai. Dis 'n gewilde strand met vreeslik deurskynende water. Die anker byt sommer maklik en stewig. Oral is lywe besig om die water te geniet.
 
 
Ons sit voet aan wal op die dorre eiland en stap na Khalki dorp. Dis net 600 m oor die bult. En is dit pragtig! Restaurante onder bome, kleurvolle huise, kerke. 'n Gelukkige plek. Hulle het ook 'n tydelike kaai vir jagte, wat maar goed wankelrig is.
 
Dorre eiland
Skoen aan voet
Khalki
Khalki
 
Ons eet lekker roomys op iemand se trappies en stap terug, oor die bult na Potamos Baai. Ons kyk hoe lê Maja en 'n onbekende vriendin in die baai.
 
Potamos Baai
Potamus Baai
 
Warm gestap kom ons terug by Maja en ons baai saam met die res van die baaiers in die mooi baai.

Ag nou ja, net om seker te maak dat ons dit nie te véél geniet nie, peper Gus ons van laatmiddag tot diep-nag met rukwinde. Wat is die slaap, 'n wondersoete ding ... . Dis nou vir dié wat in die lawaai kan slaap. Ek drink maar 'n diep-nag koppie tee. Later oorval die wondersoete ding my tog.

Saturday, July 21, 2018

Livadhi. Tilos Eiland.

20 Julie 2018. Vrydag.


Paloi tot Livadhi

Vandag gaan ons na Tilos, 18.1 myl. Ons anker is op sonder probleme. Hierdie Nisiros is bekend vir ankerkruisings. En weg is ons.

Dis 'n lekker agterwind en met al Archie se toue om die hoofseil in posisie te hou, seil ons vir drie ure. Tilos kom nader en ons hoop daar is plek vir ons.

Ons seil
By die kaai is daar 'n gaatjie vir ons, nadat die simpel buurman sy dinghie uit die pad gevat het. Die vriendelike Fransman gee die snoettou vir ons aan en ons meer vas. Ons is hier. In Tilos, waar ons in 2016 so lekker saam met Elize en Fanie gekuier het.

Livadhi

Livadhi kerk
Maak gereed vir vasmeer

Dis sommer 'n luilekker dag. Geen besoek aan choras of iets nie. Ons was nou al soveel keer daar. Ons stap  maar net in die klein dorpie rond en geniet die vibe. Die restaurant waar ons vir Elize se verjaarsdag baba bok geëet het, lyk nog net so mooi soos altyd. Tilos is so oulike plekkie. Ons kry rus vir ons siele en geniet dit.

Friday, July 20, 2018

Niseros Eiland. Wedvaart en Mandraki.

19 Julie 2018. Donderdag.

10:00 begin die wedvaart. Dis 'n jaarlikse wedvaart wat by Kos begin, dan Kalymnos, Niseros, Symi en by Rhodos eindig. Dit word die Rhodos Cup 2018 genoem. Daar is behoorlik aktiwiteit op hierdie kaai. Almal maak gereed en spanfotos's word geneem. Daar is nogal baie Russe wat deelneem. Al 75 jagte  moet losmaak en in die see gaan wag vir die horing om te blaas.

Wag vir wedvaart

Spanfoto

Hulle vaar een vir een uit die hawe, in sukke rye. Dan wag almal vir die aksie in die see voor die hawe. Verskillende kleure vlae word opgesteek. Elkeen beteken iets. Dan blaas daar 'n horing en die manne maak gereed. Op die volgende blaas begin die jagte wat in die spesifieke divisie deelneem, te seil. Hulle moet eers wind-op om 'n boei seil en dan vat hulle die langpad na Symi. Daar is vier verskillende divisies en hulle begin op verskillende tye te seil.

Wag vir begin sein

"… and they're off!"

Weg is hulle

Dis net jagte waar jy kyk. En dié  manne ken van seil. Dit lê behoorlik skeef en die spoed! As hulle die pad wind-af vat, word die spinnakers en genakers gehys en dan bol daai kleurvolle seile in die wind. Die eerste klomp trek al doer in die verte toe die laaste klomp wegspring.

Weg is hulle!

Dit was omtrent 'n gesig om te sien.  Ons kyk hoe verdwyn al die deelnemers in die verte en stap terug na Maja. Ons maak reg, want vandag gaan ons die bus klim na Mandraki, die ou hawe. Ons was al twee keer by die vulkaan, so vandag is dit nie op ons program nie.

Verdwyn in die verte

Mandraki is nog net so mooi soos altyd. Die see slaan die branders teen die rotse stukkend. Die dorpie staan amper in die water. Oral is daar restaurante en die seekatte word sommer op 'n draad gedroog. Die reuke en geure van heerlike kos hang in die lug en ons monde water behoorlik. Ek en Archie swig voor 'n heerlike gyro en die bier daarmee saam is yskoud.

Klein Venesië

Mandraki
Restaurant langs die see

Seekatte op die draad

Gyro en bier

Bo in die rots, is die klooster wit teen die swart lawa rotse. Ons stap op die mooi paadjie na die lawa strand waar die swart klippe oral te sien is. Archie was toe ook sommer die doepa wat wat winkelassistent op sy hand gesmeer het om dit sag en soepel te maak. En jou waarlik, daai hand voel sagter.

Strandklippe
Paadjie langs die see

Dis regtig 'n mooi dorp en ons dwaal sommer rond, eet roomys en kyk vlugbal op die strand. Toe is dit weer tyd om die 19:00 (die laaste) bus terug te klim na Paloi, waar die hawe is. Wat 'n lekker dag!

Paloi kerk
Baie leë hawe







Thursday, July 19, 2018

Poloi. Nisiros Eiland.

18 Julie 2018. Woensdag.

Maltezana Baai tot Poloi

Deur die nag begin die wind erg te waai. Tot 22 knope. En ons moet kruis! Ons kyk weer na die windvoorspelling. Het dit dan verandering? Ons sien dat dit 'n landwind is en van die weste kom, nes Poseidon voorspel het. Wind of te nie, ons moet kruis, want môre begin die Meltemi weer in die seestraat te waai. Dis nou of nooit.

Dis nog amper donker toe ons 5:20 die anker begin optrek. En ons verlaat vir Astipalaia Eiland waar ons so lank moes skuil. Ek besef dat as Gus nie so onaangenaam was nie, so dié eiland een van my gunsteling eilande gewees het. Ons vertrek in 25 knope wind na Niseros, 39 myl. Ons hoop net die see is nie meer so groot nie. As Gus vir 'n week stormsterkte gewaai het, is daai see reusagtig. Gister het die wind begin bedaar, maar ons het juis nie toe gekruis nie, want ons hoop die see het bietjie gaan lê.

Westewinde beteken dat Gus van agter af waai. Ons is net 'n ent weg van die ankerplek, toe is die wind baie stiller. En ons vat die pad. Op die oop see is die golwe reusagtig. Dis gelukkig van agter en dit gooi ons nie só erg rond nie. Maar dit lyk soos berge wat ons van agter inhaal. Ek kan nie na hulle kyk nie en lê op die vloer van die dek. Wat die oog nie sien nie, kan die hart nie ontstel nie. En daar gaan ons, met die hoofseil vasgemaak dat hy die agterwind kan vang.

Later waai Gus nog ligter en die golwe word kleiner. Ek kan al vir hulle kyk. So moterseil ons golf vir golf, myl vir myl. Kwartpad, halfpad, driekwartpad en ons nader ons eindbestemming van ons kruising. Wat 'n genade! En dit was nie eers so erg nie. En op die halfpadmerk word ons beloon met 'n skool dolfyne wat vinnig in die rowwe see verby swem.

Ons vaar die hawe binne. Wat 'n gesig! Wat 'n skok! 75 Seiljagte wat aan die Rhodos Cup 2018 deelneem is in die hawe. Hulle alongside tot ses langs mekaar. Dis stampvol. Waarheen nou? Ons sien een benoude gaatjie tussen 'n klomp alongside jagte en 'n gewone jag en ons maak gereed. Dis die enigste plek in die hele hawe. Wat 'n geluk! En vas is ons.

Maja - tweede seiljag van links

Ses bote langs mekaaar van gemeer

Malhuis

Ons hoor daar is 'n wedvaart en hulle het vandag 'n afdag op Niseros. Die Rus van langsaan sê ons is uiters gelukkig om 'n plek te kry, want die jag wat hier getaan het, het 'n ruk gelede vertrek. Sjoe, maar toe vul dankbaarheid éérs my hart. Ons is hier én ons het 'n plek gekry.

Ons gaan stap die aand in die dorpie en is net betyds om die prysuitdeling van die vorige dag te sien. Twee omies speel Griekse musiek en 'n klomp mense dans in die straat. Ai, maar dis lekker in Griekeland!





Tuesday, July 17, 2018

Maltezana Baai. Astipalaia Eiland.


16 en 17 Julie. Maandag en Dinsdag.

Skala Astipalaia tot Maltezana Baai

Ag maar Gus se gewaai maak my mismoedig! Ons is nou al vyf dae hier by Skala, maar ophou is verniet. Vlaag na vlaag hardloop van die berg af en val ons aan  Die anker hou. Ons besluit ons wil net van plek verander en vaar na Maltezana,4.7 myl. Volgens die boek is daar goeie skuiling en houkrag met min rukwinde.

Al die baie toue word losgemaak en Archie is omtrent natgesweet van al die werk. Ons trek die anker op en vaar uit die mooi hawe van Skala wat ons nou al so goed ken. Maar ek besef toe eers ons hawe is baie beskerm teen Gus. Op die see waai hy erg. Sommer gou is ons by Skhinounda Baai, naby Maltezane. Daar is een boot op anker wat daar skuil.

Archie tru ek ek gooi anker. Byt is verniet. Net seegras! Toe ons weer gooi, skree die Duitsets hulle het 80m ankerketting uit. Ons kan nie daar gooi nie. My magtig! 80m in 5m water. Ek skree vir haar terug en vra of hulle mal is! Ons gooi daai anker drie keer en elke keer trek ek 'n seetuin op. En die blêrrie boek sê goeie houkrag. Hy lieg! Ek vloek effens. Ons gee die baai vir die Duitsers. Met hulle 80m ankerketting, neem hulle die hele baai in beslag en ons vaar na Maltezana. Wat 'n fout was dit om vir Skala te verlaat en hierheen te kom! Maar spyt kom altyd te laat. Gooi anker en dit byt dadelik. Toe is ons vas.

Die Duitsers in Skhinounda Baai

Maltezana

Vroegoggend Skala Astipalaia vanaf Maltezana

Gus waai al die pad. Dwarsdeur die dag. Dwarsdeur die nag. En net om my siel verder te versondg, gaan die ankerfoon se alarm af. Ons hou die saak dop, maar dit was 'n vals alarm. Maar dink jy ek kan toe slaap! Nee, lê oop-oog in die bed en luister hoe Gus waai. Hy vreet my hart en siel op met sy gewaai en lawaai.

Genadiglik gaan die nag verby. Ons gaan eers Woensdag kruis, want dit gee die see kans om te gaan lê. Vir die eerste keer in sewe dae is daar effense lewe op die water. Party manne pak hulle tog aan.

Môre is dit ons beurt. Vandag is Gus baie stiller hier by ons en my gemoed begin lig. Ons hoop vir die beste vir ons kruising.

Sunday, July 15, 2018

Skala Astipalaia. Wag vir winde.

15 Julie 2018. Sondag.

Ons skuil nog steeds in Astipalaia (sien windkaart hieronder).

Winde nog te sterk vir kruising (Fors 7)

Saturday, July 14, 2018

Skala Astipalaia. Chora en skuil.

 12 tot 16 Julie 2018. Donderdag tot Sondag.


Windvoorspelling
Ons volgende krusing is na Niseros Eiland (sien bo). Maar die weervoorspelling in die seestraat tot Dinsdagmiddag lyk sleg. Die winde is Fors 7, amper stormsterkte ("near gale force"), met 'n spoed van 28 tot 33 knope (50 tot 61 km/u) en die see is baie rof met golwe van 4 to 6 m hoog. Dis waarom ons moet skuil.

Gus waai reg van voor af op die anker, en Archie gaan doen inspeksie. Ons anker is begrawe. Hy sal hou. Die vrou wat 'n rekenaar vir ons soek, het nog niks laat weet nie. Archie probeer die  stukkende rekenaar oopkry. Dit sukkel, want hy kry nie die een hoek oop nie. Uiteindelik ontdek hy 'n verskuilde skroefie en oop is dit. Hy bekyk die besigheid en sien dat 'n konnektor losgekom het, en hy prop dit weer in. Hy sit die rekenaar weer aanmekaar en siedaar! Dit is soos 'n wonderwerk. Weereens, bravo kaptein!

Hy gaan kanselleer die rekenaar onmiddellik. Die vrou het in elk geval nog niks aan die saak gedoen nie. Ons bly maar die dag op Maja en pas ons anker op as ander mense inkom om vas te meer. Ons moet nog lank hier skuil en wil onder geen omstandighede hê ons goeie anker moet opgelig word nie. Archie help ander seilers vasmeer in die sterk wind.

Die laatmiddag verlaat ons vir Maja en stap op na die chora. Maar mensig, daar waai Gus mens behoorlik van jou voete af! Dis 'n pragtige intressante chora met 'n kasteel wat baie vervalle is. Baie van die mure staan nog, maar by sekere dele mag jy nie stap nie, want dis gevaarlik.

As die wind net nie so gewaai het nie! Ek kan net nie deel word van die eiland nie. My siel is te windverwaaid. Niks kry vir Archie onder nie en hy geniet die chora terdeë. Die windmeulens staan rooidak-trots in 'n ry. Dis is tóg mooi hier.

Ons raak honger en gaan eet baba bok met rooi sous en fricassee (bok met suurlemoensous en spinasie) by die Ageri restaurant. Uitstekende waarde vir geld en heerlike kos. Twee groot porsies en 500ml wyn, met brood, jaag ons net € 17.50 uit die sak! En ons kry gratis spanspek en kersies vir nagereg.

Livadhi Baai

Skala hawe

Op pad na kasteel

Ingang van die kasteel

Kasteelkerk
Kerk en kasteel
Ander kasteelkerk
Uitsig oor chaora vanaf kasteel
In die kasteel

Kasteel en chora

Windmeulens

Windmeulens

Ons stap terug na Maja en nog 'n wind-aand lê voor. Die groot winde is eers Saterdag hier!

Ons oorleef nog en dis 'n winderige sonnige Saterdagoggend. Ons stap maar weer chora toe, want die wind is in die oggende ligter as die res van die dag. Gus waai ons amper onderstebo bo in die chora. Dit waai erger hier as in die hawe. Ons dwaal maar rond en kyk hier en daar. As die wind net nie so gewaai het nie!

Winderige sonnige Saterdagoggend
Langs die kaai

So skuil ons maar weer voort. Ons lees boek en pas die meeste van die tyd vir Maja op. Die ure sleep verby en ons sleep saam. Maja is behoorlik vasgemaak met 'n spinnerak vol toue. Dis agtertoue, nog skuins toue agter en toue na voor. Alles om seker te maak dat die anker hou en Maja nie swaai nie.

Spinnerak toue