Monday, June 11, 2018

Palaio Baai en Monemvasia. Wag en wag en wag.


9 tot 12 Junie 2018. Saterdag tot Dinsdag.

Ieraka tot Palaio Baai tot Monemvasia

Roete tot op datum - Aktio Marina tot Monemvasia

So moet ons nou nog vir vier dae wag.  Ons wag en wag en wag. Dis nou vir Elize en Fanie wat Dinsagaand kom.
Ons het eers op Ieraka gewag en nou gaan ons vir twee dae na Ormos Palaio, 7 myl. Dis 'n ankerplek wat oraloor skuiling bied. Ook maar goed so, want Gus waai vir 17 ure aanmekaar, sonder ophou teen 20 knope. Ek is later moeg gewaai, maar Gus waai voort. Ek weet nie waar kry hy al die blaas vandaan nie.

Ruïne by Palaio Baai
Palaio Baai
Palaio se visserhawe
My linkeroor is bottoe en dit suis teen 40 knope. Ek is horende doof. Dower as Archie. Teen 2:00 die nag blaas Gus sy laaste asem uit en dis eensklaps doodstil. Wonderlik.

Die volgende dag bly ons weer by die plek en Gus is net 'n ligte briesie. Dis heerlik en rustig in die baai. Ons sit nie eers voet aan wal nie.

Toe is dit terug na Monemvasia, 4.3 myl. Daar is baie plek by die kaai en ons maak alleen vas. Ou Gus begin te waai en ek hoop net ons anker hou.

'n Ander jag probeer inkom, maar hulle strand. Vermoedelik op 'n rots. Hulle kan nie herwaarts of derwaarts nie. Hulle is vas. Die arme drommels. Ek kry hulle so jammer. 'n Vissersboot kom help en trek hulle. Hulle is vas. Eers na 'n paar probeerslae kom hulle los. Nou het hulle nig die vrees dat hulle kiel seergekry het. My hart bloei vir hulle.
Gestrande jag
Uiteindelik los
Eers gaan ek dokter toe met my oor. Dit  suis en druis. Dit maak my gek. Die  dokter se ontvangsdame sê hy kan nie Engels praat nie. Ek begin solank in my kop  te oefen hoe gaan ek met gebaretaal verduidelik. Toe stap die apteker daar in en sê vir ons die dokter het hom gebel om te tolk. So tolkende bevestig die dokter my vermoede dat my oor vol was is. Ek kry druppels by  die apteker wat oor twee tot drie dae sal werk. Nou hou ons maar duivas.

So wagtende was ek toe maar al suisende en bruisende wasgoed en dit wapper in die wind. Niks verskaf my meer vreugde as skoon wapperende wasgoed op Maja nie. Ek begin ook te skrop en polish vir die vername gaste wat op dié stadium nog rondjakker in die mooie Malta. 

En so gaan ons môre maar nog wag, want Elize en Fanie kom eers 22:00.

*******

 
Uiteindelik is hulle hier! Baie welkom julle.

Susters groet

Sak en pak

Fanie

Saturday, June 9, 2018

Ieraka

7 & 8 Junie 2018. Donderdag & Vrydag

Monemvasia tot Ieraka
 
Ons wag nou eintlik vir Elize en Fanie. Hulle kom volgende Dinsdag. Nou gaan ons maar vir 'n paar dae êrens anker. Ons keuse val op Ieraka, 8 myl. 
 
Ieraka
 
Dis 'n pragtige klein vissersdorpie, waarheen ons weer volgende week saam met Elize en Fanie kom besoek. Ons gooi twee keer anker voor hy byt en vas is ons. Die water is heerlik, glad nie koud nie en ek doen my biokinetiese oefeninge. Te heerlik. Later gaan ons grot toe en roei met Dinkie na binne. Dis pragtig.

Grot

Grot

Dinkie, Archie en die vullis

 Die volgende dag kom Sakari en Riitta ook ingevaar vir ons afskeids-ete voordat ons paaie skei.

Ons klim in Dinkie en ry na Belle amie vir die laaste avondmaal. Sakari kook. Vor voorgereg is dit Riitta se tradisionele tamatie, kapers en basiliekruid slaai. Daarna hoofgereg. Heerlike pasta met maalvleis in 'n ryk tamatiesous. Nogal met parmasaankaas uit Sisilië. Ons smul behoorlik.

Bavaria

Die sjef

Riitta

Pasta
 
Ons sluit die maaltyd af met koffie en tuisgebakte Griekse koekies met sagte sjokolade verdoesel en weggesteek in die middel van die koekie.
 
Koebaai julle
 
Toe is dit die groot koebaai-sê. Ons groet soos familie en spreek die wens uit dat ons mekaar eendag weer sal sien.

Tot siens Sakari en Riitta. Dit was wonderlik om julle te ontmoet en dankie vir al die spesiale tye saam.

Monemvasia. Dag 2.

6 Junie 2018. Woensdag.


Die skilpaaie swem hier rond of die hawe aan hulle behoort.

Ons geniet die rustigheid hier in die klein dorpie. Ons gesels met die bure, lê en lees en gaan dorp toe. Meestal waai die wind vanuit die suide, soms suid-wes. Ons maak die watertenk vol, asook die dieseltenk. Ek stofsuig vir Maja en was wasgoed.

Die aand het ons 'n ete-afspraak met Sakari en Riitta. Hulle het vir ons 'n kamera as geskenk gegee. Watter wonderlike vriende is hulle nie! Ons gaan taverna toe en neem foto's met die kamera. Die man van die taverna sê sy Griekse mama kook Kalf Stifado en ons bestel. Dis heerlik en geurig, maar ou Archie sê ek kook beter.
 
Sakari en Riitta

Mmmmm!

Monemvasia

Uiteet
 
Sakari nooi ons vir koffie op Belle amie en dit rond 'n heerlike gesellige aand saam met goeie vriende pragtig af.

Wednesday, June 6, 2018

Monemvasia

5 Junie 2018. Dinsdag.

Palaiokastro tot Monemvasia

Vandag is die groot dag. Ons gaan na Monemvasia, 28 myl. Rondom Kaap Malea. Die windvoorspelling lyk baie goed. Alles behoort glad te verloop.

Die boek sê as die Melteme waai, kan die rukwinde wat van die berg af waai jou seile skeur, maste breek en jou ook laat omslaan. Dan moet jy 3 myl van die kus af seil. Vandag is hier nie wind nie. Die see is glad. Deinings rol nog van gister se wind en al die skepe wat hier vaar. Ons kan baie na aan die kus vaar.
 
Vragskip
 
Naby die punt van die vinger is 'n eensame klooster. Geen motor kan daar kom nie. Daar bly nog 'n paar monikke daar. Die boek sê mens moet onthou om vir hulle te waai. En ek maak toe ook net so. Die oomblik is baie groot. Om so naby die klooster en die gevreesde Kaap Malea verby te vaar, bring trane in my oë.
 
Kastyberg
Verlate klooster
Waai vir die monikke
Klooster by Kaap Malea
 
Om die punt, op 'n seepgladde see en daar is die ligtoring. Hier êrens onder die see, lê 'n skeepswrak. Dit word op die Navionics kaart aangedui. Iemand anders was nie so gelukkig nie.
 
Kaap Malea se ligtoring
 
Nou is dit die langpad na Monemvasia. Ek en Archie maak beurte agter die helm, halfuur skofte. Ons Autopilot is mos stukkend. Gelukkig kom Monemvasia stadig maar seker nader.

Ons vaar by die hawe in en daar is net een plek. Archie tru, ek gooi en die ankerketting maak dit met twee skakels. Ons is nog bietjie vêr van die kant, maar die kaptein sal dit later kom fix.

Ai, dit voel heerlik om hier te wees. Baie van die jagte wat hier is, het die pad saam met ons gevaar. Ons is almal regte seilers. Geen charter bote nie, net egte seilers. Op almal se gesigte is genoegdoening. Gelukkig en tevrede. 
 
Welkom in Monemvasia
Monemvasia se kaai
 
Ek lê langbeen op die dek. 'n Seemeeu duik sekuur en vang 'n vis. Die Oostenrykse buurvrou sit op hul boot se snoet met haar poedel. Die Engelse buurvrou speel kitaar en sing saggies. Die kaptein lees boek.

 
Oostenrykse buurvrou
Engelse buurvrou
Kaptein
 
Die Finne, Sakari en Riita, nooi ons vir koffie. Hulle bederf ons met mastik, 'n drankie wat van boomtrane gemaak word, vrugteslaai, mastik-teebrood en koekies. 
 
Mastiklikeur
Mastik-teebrood

'n Reuse skilpad swem in die hawe rond. Ek het sowaar nog nie só ou grote gesien nie. 'n Visserman werk met sy nette. Dis heerlik in Monemvasia.
 
Reuse skilpad
Visserman
 
Ons koop tradisionele wors en nooi die Finne vir ete. Riita bring tamaties, met kapers, basiliekruid en feta as voorgereg. Ons eet wors, kapokaartappels en rooikool. Sakari is vreeslik lief vir aartappels. Ons lag omtrent vir hom toe hy nóg wil skep terwyl hy alreeds 'n berg aartappels in sy bord het. Ai, maar dis 'n heerlike aand saam met sukke goeie vriende.
 
Riitta, Sakari en ek
Riitta se voorgereg
 
Ons gaan slaap dankbaar en gelukkig, moeg en uitgeput. Ons is hier. Ons leef en beleef, bestaan en verstaan. Ons is.

Monday, June 4, 2018

Palaiokastro

4 Junie 2018. Maandag.

Frangos Baai tot Palaiokastro

Vandag is ons dag voor die groot dag. Môre is dit Kaap Malea. Ons groet die Finne wat vandag die groot tog aanpak. Ons sal hulle môre by Monemvasia sien. En weg is hulle.

Finne kom groet
Ons besluit ons is nie lus vir hop nie en gaan kyk hoe Palaiokastro, 5.5 myl, lyk. Dan is môre 2 myl korter. Dis aan die Peloponnisos se kant en beskut teen suidewind. Hier is dit heerlik rusti en geen gehop en gerol nie. Heerlik!

Dis maar 'n doodgewone klein hawe en glad nie mooi nie. Dis net 'n plek, ver verwyder van die prag van Frangos. Dis werklike doodgewone bestaan. Twee verlate seiljagte lê op hulle pense op die kaai, net effense gestut.  Hartseer.
Verlate seilbote
Ons gaan land toe. Palaiokastro beteken "ou kasteel". Van die ou kasteel is niks te sien nie. Dit is nou net 'n gedagte in die geskiedenis. Hier is darem 'n mooi kerkie. Ons stap terug en Archie vat die klouter-pad en ek vat die gewone pad.
Palaiokastro
Stap na die "kasteel"
Klouter-pad
Kerkie

Langs die see was daar eienaardige rotsformasies wat heel skulpe bevat het. Lyk soos 'n skulp wat in die rots vasgemessel is. Dis nie los nie, maar deel van die rots. Baie snaaks en interessant.

Eienaardige rotsformasie

Ek geniet die doodgewone plek, as doodgewone meisie saam met 'n besonderse kaptein.