Wednesday, May 16, 2018

Zakynthos. Die laaste vaart.

15 Mei 2018. Dinsdag.

Sullivan se roete - Preveza tot Zakynthos
Poros tot Zakynthos

So, daar gebeur dit! Sullivan se laaste vaart op sy seil avontuur. Ons strand toe nie by Poros se vlak water nie en begin ons laaste tog van Sullivan se vakansie en wel na Zakinthos, 25.1 myl.

Soos ek vir Gus ken, waai hy vandag lastig op Maja se snoet, vanuit die suide. Ewe moedswillig, 15 knope. Sullivan neem die helm oor (ek dink hy is met die helm gebore). Ons ons vaar reg teen die wind. Dis bewolk en koud en winderig. Maar ons vaar vorentoe, altyd vorentoe. Die pad raak darem deining vir deining, knoop vir knoop, myl vir myl korter.

Laaste vaart

Eers was Zakynthos in die deinserige gesigeinder, maar hy word darem duideliker, totdat hy naby is. En ons weet die einde is in sig. Sullivan se laaste vaart.

Die man wat vir Archie 'n nuwe geyser vir Maja gekry het, staan op die kaai, gereed om ons in te help. Die wind waai darem minder hier in die baai en die vasmaak is darem nie moeilik nie. En hier is ons. Dis maar winderig in die baai en 'n Hanse boot (twee bote van ons af) wil vertrek. Daar is 'n man wat vreemde tale praat en 'n vrou met 'n baie lae hals op die boot. Sy hang nou behoorlik uit! Sy is agter die stuur en hy beveel haar om baie vinnig uit te vaar en sy gee vet.

Die boot langs ons se anker beweeg verraderlik. Hulle het sy anker. Daar is niemand aan boord nie en die man met die vreemde tale, spring in sy Dinkie en los die vrou alleen op die boot. Hy roei land toe, spring op die buurboot en skakel die enjin aan en laat die anker sak.

Dis nou net toe dat die barmhartige Samaritaan op ons boot (Sullivan) hom vra of ons kan help. Ons weet nie eintlik wat die man se plan van aksie was nie, maar hy kry 'n glinster in sy oog en sê: "Help woman!" So 'n adder! Hier moet Archie en Sullivan die situasie red en dié bogger doen, wel ek weet nie eintlik wat nie. Ek moet sê, as Archie in so 'n situasie vir my alleen op die boot los en ander mans moet my kom help, sal ek baie de moer in wees.In elk geval, Archie en Sullivan klim in die ou se dinghie en roei na die boot toe. Dit was 'n groot deurmekaarspul. Hanse se ankermotor is so swak, dit kan nie eers die anker optrek nie.

Klim op Hanse
Trek anker met hand op

Alles loop toe verkeerd. Gus waai die boot na ons en ons Finse bure langs ons toe. Dit word toe 'n vreeslike spektakel. Almal keer af en stoot weg, Archie en Sullivan help die vrou. Later oorverhit Hanse se "bow thruster" en hulle kan nie sywaarts beweeg nie en kom al nader aan ons. Die Finne het die meeste rede tot kommer, want Hanse is met hul kiel oor hul ankerketting. Sowat van chaos het ons lanklaas beleef. Na baie baie, vreeslik baie probleemoplossing en gesukkel, is die situasie opgelos en hulle is weer vas aan die kaai. Almal slaak 'n sug van verligting!

Sullivan en ons Finlandse bure stoot af
STOOOOOT!
Uiteindelik kaai toe

Twee dinge wat nie moes gebeur het nie. Eerstens moes die vrou van Hanse, wat glad nie 'n ervare skipper is nie, nie in die wind uitgevaar het nie. Tweedens moes die man (wat eintlik die skipper van die boot wat se anker hulle beetgehad het) nie die Hanse verlaat het en totaal sy probleem Archie en Sullivan s'n gemaak het nie.

Hoekom hy eintlik aan boord op Hanse was, weet ons ook nie. Hy het miskien geweet dat die vroumens van Hanse oor dy anker was en nie op haar eie kon uitkom nie en hy haar wou help.

Wel, Archie en Sullivan kry die Wolraad Woltemade toekenning as die helde van die dag.

Toe almal tot verhaal kom, gaan soek Sullivan vir ons 'n restaurant waar ons die dankie-sê ete kan gaan geniet. Hy kom terug met die goeie nuus dat hy 'n restaurant gekry het waar daar skaapskenkels op die spyskaart het. Dadelik begin ek en Archie se monde te water en is skielik rasend honger. 

Dis koud en ons trek maar warm aan en weg is ons. Ons sit aan en bestel wyn en kleftiko (lamskenkels).  Ons eet en kuier heerlik. "Baie dankie Sullivan vir 'n heerlike ete. Dit het vorentoe gesmaak!"

Warm aangetrek










Ons sit aan
Skink wyn
Lam kleftiko
Pannacotta en kaaskoek

Tuesday, May 15, 2018

Poros


14 Mei 2018. Maandag.

Ay Andreas tot Poros

Andreas se baai is doodstil toe ons opstaan. Vandag is Sullivan se tweede laaste dag op Maja. Hy hou sy sjarmante lyf model en glimlag verleidelik vir die lens.

Sullivan
Sjarmante Sullivan

Archie gaan maak die landtoue los, Sullivan trek dit in, Archie trek die anker op en ek vaar uit die baai. 

Ons gaan vandag na Poros, 10 myl, ook op Kefalonië Eiland. Ag, ons vaar maar net. Sullivan is agter die helm en dis een reguit pad na Poros. Niks buitengewoon nie, net doodgewoon vorentoe. Altyd vorentoe.

Poros

Die middel van die hawe is vlak, Maja se dieptemeter skree heeltyd om hulp. So met die die geskree saam, gooi ek in 2m anker. Dis blêrrie vlak. Daar staan klaar 'n man op die kaai om te help vasmaak. Ons is sommer maklik gevestig in ons nuwe huis. Ek hoop net ons strand nie môre as ons hier uitvaar nie.

Sullivan gaan stap en ek  en Archie sukkel met internet en dit neem twee ure om een blog te pos. Toe is dit tyd dat om dorp toe te gaan. Ons gaan altyd dorp toe.

"Oh! Where did you get that hat …"
Op pad dorp toe

Sullivan koop geskenke vir sy vrou en ons kry ook iets. Die dierbare Sullivan gee vir ons die mooiste olyfhout slaaibak as 'n geskenk. Die slaaibak steel my hart, so mooi is dit. "Dankie Sullivan!" Ons geniet die dorp. Poros is eintlik pragtig. Gesellig, vriendelik.

Ons eet die aand penne met heerlike maalvleis en slaai in Sullivan se slaaibak. Die slaai smaak sommer lekkerder in die mooi bak.

Nuwe olyfhout slaaibak. Dankie Sullivan.

Monday, May 14, 2018

Ayios Andreas


13 Mei 2018. Sondag.
 
Efimia tot Ayios Andreas

Ons maak gereed om te vertrek. Elkeen kry sy opdrag en ons verlaat die dorpie, Efimia, wat ons vreeslik geniet het.

Ons vaar na Ayios Andreas, 6.6 myl. Ons gaan daar anker met 'n lang tou na die land. Ons eerste vir die seisoen. En natuurlik 'n eerste vir Sullivan. Ons vaar by die baai in en daar is reeds 'n boot. Ons geliefde plekkie is egter steeds oop en ons vaar dadelik soontoe. 

Archie tru, ek gooi die anker en toe is dit sukke tyd. Archie duik met sy sierlike boog om die tou land toe te swem. Hy snuffel 'n goeie klip uit en maak vas. Terug Maja toe, vat die ander tou en swem weer land toe. Maak vas aan 'n rots. Sullivan trek die toue in en maak vas. Toe staan Maja netjies vasgemaak in die baai.

Maak reg
Trek toue

Dis pragtig hier. Die water is kristalhelder verleidelik turkoois-blou. Ek swem heerlik. 

Dinkie neem ons na die land en ons stap op die rowwe stappaadjie na nêrens. Draai maar weer om. Maja voel tuis in die pragtige baai en ons kry bure. Die Engelse van die seiljag Wanderer, is baie edel van inbors. Hulle tel al die rommel op die strand op en gooi dit in sakke. "Goed gedoen julle!" 

Ayios Andreas Baai
Ayios Andreas Baai

Dinkie neem ons terug Maja toe en dis tyd vir die groot spring van Maja se snoet af. Ons al drie willig in om die groot sprong te neem. Archie hef die hande na bo, ek val na benede en Sullivan spring met vliënde vaandels! Sowat van pret!

Archie spring …
… ek spring …
… maar Sullivan vlieg

Terug by Maja, besluit ons dit is braai-aand. Die makkers soek 'n geskikte plek op die rotse en die braaibenodigdhede word toulangs met Dinkie rots toe vervoer. 

Toulangs
Braaiers

Alles is gereed en die vuur word aangesteek. Ons braai in ons Bushy braai (ons buurman, Bushy, het in 2013 die braai vir ons as 'n geskenk van Suid-Afrika af gebring). "Yamas Bushy en Grietjie!"

Bushy se braai
"Yamas Bushy en Grietjie"

Ai, maar die ankers is betowerend. Die brandende braaibrikette, Griekse wyn, twee ou vriende op die rotse. Toe die vuur reg is, sit die makkers die souvlakia op die kole. Archie versorg drie souvlakies en Sullivan die ander drie. Daar is 'n samehorigheid tussen die twee makkers.  Die jare tussenin het weggeval en hulle sit doodeenvoudig hulle vriendskap voort asof niks verander het nie. En ek is maar net die Seilende Sigeuner.

Ons geniet die kameraderie, die eenvoud, die vriendskap. Die wonder van aand-word speel voor ons oë af. Dis 'n verandering wat altyd dieselfde en tog so anders is. Laat dit so wees ...

Efimia.

12 Mei 2018. Saterdag.

Sarakiniko Baai tot Efimia

Agge nee! Die see het in die baai gerol en Maja het heen en weer gewieg. Soos gewoonlik slaap die kaptein soos 'n flippen baba en die blêrrie Sullivan ook! Dis net ek wat weereens soos Sherlock Holmes probeer om al die irriterende geluide op te los
Wel, toe ek uiteindelik aan die slaap raak en wakker word, is dit 'n nuwe dag. Nog 'n dag vol nuwe dinge wat ons gas, Sullivan, sal beleef en agterna met heimweë terugdink. 

Pelagia noctiluca
Strekoefeninge

Ons gaan vandag na Eufimia, 11 myl. Die makkers trek anker op, en ons vertrek. Ons vaar tussen . Ithaca - en Pera Pigadi Eiland en Sullivan moet behoorlik koers hou, want dis maar vlak, sowat 4 m. Archie "put me upfront to con the way through", en so tussen my wat die pad aanwys en Sullivan agter die helm, én die kaptein wat 'n wakende oog hou, vaar ons met vleuende vaandels deur!

Ons vaar maar net, vorentoe, altyd vorentoe! Niks buitengewoon gebeur nie. Dis net 'n heerlike gemoedelike dag tussen twee ou skoolvriende en 'n eienaardige vroumens op 'n seiljag in die Ioniese See. Kosbaar en spesiaal.

Efimia lê voor ons en die kaptein gee die opdrag en ons kry alles gereed. Die haweman staan gereed op die kaai. Archie tru, die haweman gee die bevel om die anker te gooi en ek gooi maar (ek wou eers bietjie stry). Sully help met die balfender en agtertoue en ons is maklik vas. En hier is ons.

Ek gaan dorp toe en koop vir my drie seuns elk  'n geskenkie

Dorpskaai
Efimia se kaai
Archie en ek

Ons gaan vandag, 11:00 met 'n taxi na die Melissani Grot toe. Die grot se water kom van die see by Argostoli 15 km vêr, en neem 14 dae om ondergronds tot by die grot te kom. Dit loop dan verder onder die grond tot by Sami waar dit in die see loop. Dit borrel eintlik in die see in.



Borrrel in die see in


Ons vaar op die meer in 'n tipe gondel en die man wat roei, sing en fluit te vrolik. Hy is vreeslik gaaf en neem ook gretig foto's. (Ek dink dis om sy "tip" bakkie vol te kry.)  Daar hang die mooiste stalaktiete van die grot se dak. 'n Deel van die dak het 5 000 jaar gelede ingeval. Die water is pragtig blou soos die son daarop skyn. Ons verkyk ons aan die gragtige grot. 

Grot van bo gesien

Gondels

Melissani Grot

Melissani Grot
Stalaktiete
Ek en Archie op die gondel
Kydaar

Marina, die vrou wat die taxi bestuur, neem ons terug na Efimia.

Sullivan nooi ons uit vir ete en ek is vreeslik opgewonde. Dit beteken net een ding - ek hoef nie vanaand te kook nie! Ons maak gereed en ek moet sê, die makkers lyk glad nie te sleg nie. Vreeslik aantreklik! Dis een van die beste restaurante in Efimia (Marina, ons taxibestuurder het so gesê). Sullivan eet "Red snapper"en ek en Archie eet haas. Ons het behoorlik gesmul!

Op pad na restaurant
Yamas
Eet haas