Friday, May 11, 2018

Sarakiniko Baai


11 Mei 2018. Vrydag.

Syvota tot Sarakiniko Baai

Ons verlaat Syvota sonder voorval en vat die pad na Sarakiniko, 17.6 myl. Daar is vandag bietjie wind en ons seil sowaar. Ons span die genoa en die hoofseil. Sullivan help met seilspan en toe vat hy weer die helm. En ons seil vir 50 minute. Te heerlik, met 'n ligte 8 knope wind van skuins agter.

Vroegoggend Syvota
Sully span die seile
Seile

Ons sou eers na Vathi gaan, maar die kaptein besluit ons gaan na Sarakiniko. Die baai bied skuiling van die noordwes en westewind, maar nie van suid of oos nie. Natuurlik kry ons 'n bietjie suid-ooste wind, net om my siel te versondig. Gelukkig waai dit net liggies. Ons gooi anker en ons dink dis te naby die kant en ons gooi weer. Die nuwe anker byt dat dit bars.

Jellievis

Ons besluit ons stap na Vathi, so 'n uur se stap van ons af. Ek wik en weeg of ek moet saamgaan, want ek wil nie vir Maja so lank alleen los nie. So 'n uitstappie sal omtrent so vier ure neem. Archie oortuig my om saam te gaan en ek saal op. Dis skoene, hoed, stapstok, lipstiffie, kamera! Toe is ek ook gereed en ons klim in Dinkie en die twee makkers roei wind-op, want Gus waai nou vanuit die noordweste. Nes ons dit wil hê.

Toe is dit met dapper en stapper na Vathi. Eers heuwel-op en daarna heuwel-af. Ons kry mooi uitsigte van arme Maja wat alleen in die baai is en die wind moet trotseer. 

Sarakiniko Baai
Sarakiniko Baai

Vathi Baai is baie pragtig, maar ek is bly ons is nie hier op anker nie. Die wit perdjies ry op die deinings die baai in. 'n Klomp arme drommels staan in die deinings en hop. Op die kaai staan nog 'n paar bote vasgemeer. Dit lyk beter daar, maar ek is bly Archie het ons eie baai gekies. 

Kerktoring
Vathi Baai
Weste winde waai
Vathi se kaai

Dis verseker nog nie seisoen in die geweste nie, want baie winkeltjies is nog besig met hul winterslaap. Bottoe.

Ons stap rond, eet roomys en vat die pad terug na Sarakiniko. Ek gooi my hande in die lug van vreugde toe ek vanuit die hoogte sien dat die kleine Maja nog veilig in die baai draai  en na Gus se pype dans.

Ons klim in Dinkie en is gou veilig op Maja. Archie kook sy spesialiteit, Ouzo hoender en ons smul behoorlik.

Thursday, May 10, 2018

Syvota


10 Mei 2018. Donderdag.

Elia Baai tot Syvota


Elia Baai was mooi in die laatmiddag en is steeds mooi in die vroegoggend. Die kapteinskoffie smaak soos gewoonlik vorentoe.

Die nuwe Mantus anker het goed gebyt en die makkers trek dit op. Ek vaar uit die baai en toe vat Sullivan oor. Ek dink hy is verlief op die helm! Ons gaan vandag na Syvota, 12.6  myl.

Ons vaar nog so lekker toe sien ek dit. 'n Vin in die vêrte! Dis dolfyne! Hulle swem baie na aan Maja. Ons geniet dit om te sien hoe hulle met Maja speel. 


Dolfyne

Dolfyne

Die eerste stop is Papa Nicolis Grot. Daar word vertel dat  'n mini-duikboot gedurende die Tweede Wêreldoorlog in die grot geskuil het. Die makkers gaan na die grot kyk, terwyl ek op die boot bly. In 2014 het ek, Leon en Dirk na die grot geroei terwyl Archie op die boot gebly het. Nou is dit sy beurt. Die twee klim in Dinkie en roei daarheen. Ek en Maja sirkel voor die grot rond. Hulle bekyk die bekende grot soos wat dit 'n toeris betaam en roei terug. Ek pik hulle op en ons is reg om verder te vaar. 

Op pad na Syvota
Papa Nicolis Grot
Maja vanuit die grot

Sullivan kan nie wag om die helm oor te vat nie (ek sê mos), en ons vaar verder. Voor ons lê die ingang van Syvota. Archie neem oor en ons vaar in. Ek en Sullivan dit die fenders uit en Archie kry die toue reg. 

Ons besluit op die suidelike kaai en Archie kry ons posisie reg en tru. Ek gooi die anker en Sullivan is gereed om enige opdrag van die kaptein uit te voer. Daar is reeds manne op die kaai om die toue te vang. Seilers is darem sulke gawe mense! Alles verloop volgens plan en ons is vas. Welkom in Syvota.

Wel, dit ís die Syvota wat ek onthou, want ons is skaars hier, of die drama begin. 'n Boot kom in en Gus waai hom skeef. Die helpers help om die boot van die kaai af te stoot en dis omtrent 'n doenigheid. Ek kyk van 'n afstand af, maar dit lyk vir my maar taamlik dramaties. Archie en Sullivan sit 'n handjie by.

Almal staan paraat
Uiteindelik vas

Snaakse weer hier in Syvota. Dan waai Gus, dan lê hy weer. Dan is dit bewolk, dan skyn die son, dan reën dit. Ons sit op dek en eet 'n heerlike luukse middagete -  salm, avo, feta en olywe. Archie gaan koop 'n vars brood by die bakkery.

Luukse middagete

Ons gaan dorp toe en stap rond, maar dié plek is nog nie gerat vir die seisoen nie. Van die supermarkte is nog toe. Hier is wel baie bote wat hier vasmeer. Die kaaie is nogal vol, maar dis net die restaurante wat hulle eie restaurant kaaie het, wat vol is. Die ander restaurante is leeg. Dis vir ons 'n hartseer gesig om te sien. Toemaar, sodra dit hoë seisoen is, sal hulle almal weer vol laggende, etende mense wees.

Op die kaai
Dorp toe

Ons eet die aand sommer pasta en pesto met 'n slaai. Eenvoudig en heerlik.

Wednesday, May 9, 2018

Elia Baai


9 Mei 2018. Woensdag.

Port Leone tot Elia Baai

Dis weer Skip-skop, pak jou goedjies op jou kop... . Dis oppak, optrek en oppad. En ons verlaat 'n stil Port Leone en vaar na Elia Baai, 8.9 myl. Sullivan vat die helm en ons vaar rustig, geselsend na ons nuwe bestemming. Ons weet eintlik die houkrag is sleg in die baai, omdat daar so baie seegras is. Maar Maja prrr ritmies voort. Vorentoe, altyd vorentoe.

Helmsman

Toe is dit sukke tyd. Ons soek 'n plek, maar byt is verniet. Ek trek 'n seetuin op. Ons probeer weer, maar sonder sukses. Verlede keer, in 2013, het ons tien keer hier in die baai anker gegooi voordat hy gebyt het. Die derde keer word daai sandkol raakgegooi en daai anker byt en ons is vas. Dis 'n pragtige baai, geen ander bote is hier om die vroulike Maja geselskap te hou nie.

Ontspan op dek
Elia Baai

Ons klim in Dinkie en die twee makkers roei ons land toe. Ons stap bult-op na Katomeri. Dis 'n klein plekkie, met baie Griekse weduwees in swart getooi.

Ons en Maja

Ons stap verby 'n baie ou tannie wat sit en weef. Sy wink ons nader. Die weefmasjien het aan haar voorouers behoort. Dit neem haar twee dae om 'n serp (of is dit 'n tafellap?) te voltooi.

Sullivan koop toe een die die besondere, handgeweefde lappe. Die dierbare tante wil net saam met ons poseer vir foto's. Sy is 'n weduwee en raak toe sommer baie opgewonde toe Sullivan langs haar gaan sit. Toe woel haar handjies en voetjies vreeslik vinnig!

Weefmasjien
Tante en Sullivan

Ons stap rond en geniet dit vreeslik. Ons kom op 'n grenadella af met die mooiste blomme. 'n "carpenter bee" is besig om al in die rondte te beweeg en in die proses versamel hy stuifmeel op sy rug. Dis te pragtig. Die blom en die by.

Ons stap nog verder en Sullivan raak aan die gesels met 'n vriendelike Griek. Die mense in die klein dorpie is omtrent vriendelik.

Grenadellablom met "carpenter bee"
Sullivan maak kennis met "locals"

Ons pak die terugtog aan en die twee makkers kyk na die pragtige Maja wat nog steeds alleen in die baai lê. In die vêrte pryk die hoofland se berge met hul wolkkombers. Ai, dis pragtig hier!

Maja alleen






Die laatmiddag is magies-mooi in die baai. Die son is ryk en strelend, met 'n gloed van goud. Daar is drie mense in die baai en 'n seiljag. Daar is skaterlag wat die baai vul en glimlag op hul gesigte. Daar is heerlike kos en KWV wyn (wat Sullivan gebring het). Dit word 'n mistieke aand om nooit te vergeet nie.

Magies-mooi
Gloed van goud
Yamas