9
Mei 2018. Woensdag.
 |
Port Leone tot Elia Baai |
Dis weer Skip-skop, pak jou goedjies op jou kop... . Dis
oppak, optrek en oppad. En ons verlaat 'n stil Port Leone en vaar na Elia Baai,
8.9 myl. Sullivan vat die helm en ons vaar rustig, geselsend na ons
nuwe bestemming. Ons weet eintlik die houkrag is sleg in die baai, omdat daar
so baie seegras is. Maar Maja prrr ritmies voort. Vorentoe, altyd vorentoe.
 |
Helmsman |
Toe is dit sukke tyd. Ons soek 'n plek, maar byt is verniet.
Ek trek 'n seetuin op. Ons probeer weer, maar sonder sukses. Verlede keer, in
2013, het ons tien keer hier in die baai anker gegooi voordat hy gebyt het. Die
derde keer word daai sandkol raakgegooi en daai anker byt en ons is vas. Dis 'n
pragtige baai, geen ander bote is hier om die vroulike Maja geselskap te hou
nie.
 |
Ontspan op dek |
 |
Elia Baai |
Ons klim in Dinkie en die twee makkers roei ons land toe.
Ons stap bult-op na Katomeri. Dis 'n klein plekkie, met baie Griekse
weduwees in swart getooi.
 |
Ons en Maja |
Ons stap verby 'n baie ou tannie wat sit en weef. Sy wink
ons nader. Die weefmasjien het aan haar voorouers behoort. Dit neem haar twee
dae om 'n serp (of is dit 'n tafellap?) te voltooi.
Sullivan koop toe een die die besondere, handgeweefde lappe.
Die dierbare tante wil net saam met ons poseer vir foto's. Sy is 'n weduwee en
raak toe sommer baie opgewonde toe Sullivan langs haar gaan sit. Toe woel haar
handjies en voetjies vreeslik vinnig!
 |
Weefmasjien |
 |
Tante en Sullivan |
Ons stap rond en geniet dit vreeslik. Ons kom op 'n grenadella af met die mooiste blomme. 'n "carpenter bee" is besig om al in die rondte te beweeg en in die proses versamel hy stuifmeel op sy rug. Dis te pragtig. Die blom en die by.
Ons stap nog verder en Sullivan raak aan die gesels met 'n vriendelike Griek. Die mense in die klein dorpie is omtrent vriendelik.
 |
Grenadellablom met "carpenter bee" |
 |
Sullivan maak kennis met "locals" |
Ons pak die terugtog aan en die twee makkers kyk na die pragtige Maja wat nog steeds alleen in die baai lê. In die vêrte pryk die hoofland se berge met hul wolkkombers. Ai, dis pragtig hier!
 |
Maja alleen |
|
|
|
|
|
|
Die laatmiddag is magies-mooi in die baai. Die son is ryk en strelend, met 'n gloed van goud. Daar is drie mense in die baai en 'n seiljag. Daar is skaterlag wat die baai vul en glimlag op hul gesigte. Daar is heerlike kos en KWV wyn (wat Sullivan gebring het). Dit word 'n mistieke aand om nooit te vergeet nie.
 |
Magies-mooi |
 |
Gloed van goud |
 |
Yamas |
No comments:
Post a Comment