Sunday, August 27, 2017

Michelle en Johan





Michelle.

Michelle

Michelle het lank uitgesien na die seil. Sy was al twee keer vantevore op ’n seiljag en het geweet wat om te verwag. Sy het knap werk gedoen met die getrek van toue en was altyd gereed om af te fend en het oral hulp verleen. ’n Aanwins vir enige seiljag. ’n Goeie dogter van haar moeder.

Dit was ook haar werk om die “cold beverage” na elke suksesvolle vasmeer te bedien en ons het verseker nooit dors gelei nie. Dan kan sy nog boonop kook ook!

Michelle se gunsteling plek was die pragtige Poros. Sy het van die kloktoring gehou en ook om op die berg en in die bos te stap en na die pragtige uitsigte van Poros te kyk. Hulle het heerlik op die dek gesit en sy het dit baie geniet om na al die mense op die kaai te kyk. Die gedans en die musiek op die kaai was vir Michelle ’n heerlike belewenis. Sy dink Poros is inderdaad pragtig.

Poros

Die ervaring wat die grootste indruk op haar gemaak het, was die tog deur die kanaal van Korinte. Die hoë rotswande wat bo die kanaal uittroon was indrukwekkend en die ry bote wat so agtermekaar deur die kanaal vaar, het aan haar hart gepluk. Sy het ook voor op Maja se snoet gesit en vir die mense op die brûe wat na ons kyk, gewaai asof sy ’n kroonprinses is. Voorwaar ’n besondere belewenis!

Hoë rotswande

Dan het Michelle ook van Tselevinia gehou waar hulle in die kristalhelder water baljaar het en vreeslik baie gesnorkel het. Sy was letterlik en figuurlik soos ’n vis (haar van is Visser) in die water in die mooi baai.

Tselevinia Baai

Baie dankie Michelle dat jy saam kom seil het. Dit was vir ons baie lekker om jou aan boord van Maja te hê. Jy kan maar weer kom.



Johan.

Johan

Dit was Johan se eerste keer op Maja en hy was gou tuis. Hy is effe aan die lang kant en het gedurig die een of ander liggaamsdeel gestamp. Hy was ook te lank vir die toilet.

Hy het gou van al Maja se toue geleer en het in ’n bobaas toutrekker ontaard. Dankie, vir al jou hulp met die seil span.

Die plek waarvan hy die meeste gehou was jouwaarlik ook die pragtige Poros. Hy sê: ”Hierdie dorpie het so baie energie, hoor! Seker omdat dit so mooi daar is. Die mense was ook vriendelik, vrolik en hulle hou van partytjie, hoor! Dit was so lekker om tot die vroeë oggendure vir hulle op die dek te lê en kyk. O. ja, Idhra was ook mooi en vol geskiedenis.

Poros
Idhra

Die beste ervaring was ook die Kanaal van Korinte. Johan sê: ”Kon waarlik een van die wêreld wonders gewees het, al die geskiedenis wat daarin lê. Dis soos tannie Marietjie sê: ”Ek word sommer emosioneel.”

Kanaal van Korinte

Woorde wat in Johan se kop vassteek is – “Archie, ek wil nie so skuinslê nie!” “Ag vrou, dis nie so erg nie!”

Johan, dit was ook lekker om jou aan boord te hê. Jy het baie gou-gou aangepas en jy kan ook weer kom.

Koebaai julle. Ons mis julle al klaar
Geniet die res van julle reis

Itea.



26 Augustus 2017. Saterdag.

Isidoro Baai tot Itea

Isidoro het toe darem stiller geword in die nag. Gus was minder hewig en en kon heerlik slaap. Johan trek anker op en ons vertrek na Itea, 21 myl.

Isidoro is eintlik in ’n baie mooi omgewing en toe ek terugkyk na die baai, besef ek eers hóé mooi dit eintlik daar is. Dis hoeka ook die mooi, hoë berge wat die rukwinde veroorsaak.

Kaptein en Isidoro Baai
Hoë berge

Hoe later, hoe kwater! Ek nou verwys ek eintlik na Gus. Hy begin met mening te waai. Die see hardloop teen die land af. Dit waai tot 34 knope. Toe ons om die hoek gaan, wil die kaptein seil span. Die boek sê jy moet 2 myl van die land af seil, anders kan die windvlae jou skade aandoen. Dis by hierdie kus waar ons in 2014 op mense afgekom het wie se hoofseil en genoa in die rukwinde aan flarde geskeur is. Toe moet jy my hoor kla.

Ons seil en elke nou en dan vat Gus ons stewig vas en ons lê vreeslik skuins. En dit met ’n reeds verkleinde genoa. Dan kla ek eers. So nou en dan het daar selfs ’n matrooswoord uit my mond geglip. En dit voor die kinders!

Ons seil vir 2 ure met ’n topspoed van 7.3 knope. Nader aan Itea begin Gus bedaar en ons motor vêrder. Snaakse kus dié.

Itea

Ons kry alles reg vir alongside. Michelle en Johan sit die fenders uit. Archie kry die toue reg. En toe is ons slaggereed. Archie vaar meesterlik in die spasie langs die kaai en Johan klim af met die middel tou en maak vas. Ek gooi vir Michelle, wat soos ’n ribbok van Maja afklim, die snoettou en sy maak vas. So maklik met soveel werkende hande op Maja. Archie verstel die toue hier en daar en die drie van hulle is heel tevrede met hulle werk. 

Maak vas
Vasmaak span
Maja langs die kaai

Michelle sorg vir die laaste koue drankies van hul seilvakansie en hier is ons by hul eindbestemming. Die jonges gaan swem op die strand en geniet dit terdeë in Itea. Hulle stap omtrent die wêreld plat. Hulle kry ook vir ons ’n restaurant waar ons die aand kan gaan eet.

Laaste "cold beverages"
Jonges

Na die laaste skemerkelkie op Maja se dek, stap ons al langs die see na die eetplek en  smul aan ons laaste avondmaal, ’n bord vol calamari en slaptjips. Heerlik!

Oues
"Cheers"

Saturday, August 26, 2017

Isidoro Baai.



25 Augustus 2017. Vrydag.

Vathi Baai tot Isidoro Baai

Gelukkig het ons nie gestrand nie en die anker word opgetrek en ons vertrek so gou as moontlik na die volgende baai, Isidoro, 25 myl. Die blerrie Gus waai dat dit bars en die deinings rol die baai in.

Ons vaar om die hoek en toe vat ons die see aan. Dis ’n lang pad en ons seil vir twee ure. So seil ons en lê skuins en stry ons al die pad. Later ruk Gus hom op tot 34 knope met tye. Die seile is gelukkig af en Maja beur teen die wind. Vir my is dit niks lekker nie. 

Johan en Michelle
Oggendskoot

Ons kom by ons baai. Die see is gelukkig stil en plat, maar Gus waai uit volle bors. Ons gooi anker en is stewig vas en Maja tol en draai en swaai en dans na Gus se pype. Michelle en Johan is bietjie terleurgesteld dat hulle nie op hul laaste dag van anker heerlik in die see kan baljaar nie. Nee, ou Gus het ’n stokkie daarvoor gesteek.

Vang vis
Isidoro Baai

Die jonges is dapper genoeg om met Dinkie land toe te roei. Hulle stap oral rond en verken die plek. Die dorpie is pragtig en die berge baie hoog en majestieus. Gelukkig bedaar Gus wel ’n bietjie en ons ontspan heerlik op die dek terwyl ons aandete geniet.

Dapperes
Isidoro Baai

Later die aand gaan lê Gus en die stilte daal strelend en salwend op ons siele neer. Op die strand is daar ’n tipiese Griekse partytjie en die musiek hou aan en aan tot hanekraai, met die vuurwerke wat soos gewoonlik 02:00 afgevuur word dat hoor en sien vergaan. Hoor is hard, maar sien is mooi!


Friday, August 25, 2017

Vathi Baai.



24 Augustus 2017. Donderdag.

Daskalio tot Vathi Baai

My jongste seun, Gerrit, verjaar vandag. "Baie geluk, Gerrit."

Vroegoggend is pragtig by Daskalio. Ons klim in Dinkie en gaan land toe. Die son se warm gloed verlig die baai en spoel sy sonstrale oor almal. Dis pragtig.

Ons stap op en die uitsigte van bo af is asemrowend mooi. Daskalio, my Daskalio. Ons drink die omgewing in. Die hoë berge daar vêr. Hulle troon mistiek mooi oor die blou-blou see uit, soos bewakers van die skoonheid. Statig, stemmig, staties, sonder stem.

Hoofland berge

Ons stap verder. Die rotse is kontras-wit met die blousel-blou see. Ek en Michelle sit en geniet die bekoorlike uitsig. Doer vêr onder in die baai lê Maja tevrede en wag op ons terugkoms.

Daskalio. my Daskalio
Dogter en Ma
Daskalio Baai

Om elke hoek wil die uitsig mooier wees. Al wat ons kan doen, is om ons te verlustig in die skepping en die volmaaktheid daarvan. 

Archie, ek en Maja
Daskalio Baai
Michelle en Johan

Die ou tjor staan nog op dieselfde plek waar ons verlede jaar ook gesien het. Groen en verroes, ’n blyplek vir seemeeue. Ons lyk omtrent of ons die nuutste vakansieklere vir ’n modetydskrif modelleer! Ons stap terug en Dinkie neem ons terug na Maja en ons maak gereed om te vertrek. 

By die ou tjor
Stap terug

Weereens is dit anker op en Johan kry die eer om dit op te trek en weg is ons na Vathi. Ons besef eers hoe goed is die skuiling by Daskalio toe ons uit die baai ry. Gus waai  dat die wit perdjies op die deinings ry. Ons span seil en seil vir ’n ruk. Ek hou mos nie eintlik van die geseil nie, veral as ons skuinslê, maar Michelle en Johan geniet dit saam met die kaptein.

Naby Alyki

Ons gooi eers by Alyki anker en Michelle en Johan gaan supermark toe om ’n paar voorrade te koop. Gus waai nogal en die twee roei dat dit klap. Dis nie lank nie, of hulle is terug met ’n klomp pakkies. Hulle het te lekker gekoop!

Archie en Michelle roei weer land toe om die vullis te gaan weggooi, want ons het vergeet om dit vir die twee jonges te gee. Toe almal weer aan boord is, trek Johan anker op en ons vertrek. 

Michelle en Archie

Ons kyk eers die sake by ’n ander baai uit, maar na hewige warm samesprekings besluit ons dat Vathi ’n beter opsie is. Dis ’n groot baai wat lank diep bly en dan skielik vlak word en ons gooi (te naby die land) anker. Vas is ons en amper op die strand. So naby was ons lanklaas aan die land. Archie swem en gaan toets die diepte en bevestig dat ons veilig is.

Die kinders gaan snorkel en ons swem. Vir my is die baai eintlik ’n anti-klimaks na so ’n mooi plek soos Daskalio. Ons eet sommer ontbyt vir aandete, pap en eier en Griekse spek.

Die aand rol Gus die see by die baai in en ons spoel nog nader aan die strand. Ek staan ’n paar keer in die nag op om seker te maak dat ons nie al gestrand het nie.

My Daskalio-borrel bars, want dit voel nou vir my of die skepping nie meer volmaak is nie.