Monday, July 24, 2017

Skiathos Eiland. Platanias Bay.



5 Julie 2017. Woensdag. 

Nea Klima tot Platanias Baai via Skiathos

Vandag vlieg Marietjie terug na Suid-Afrika om by haar Ma te wees in dié se laaste ure. Nea Klima tot Platanias Baai via Skiathos 15.2 myl en ons seil 1 uur.

Voor ons haar afsien word Maja deeglik skoongemaak – binne en buite. Gelukkig het ’n Goeie Samaritaan ’n klomp geld op die kaai se waterpilaar oorgelaat en ons kan ruim water gebruik.

Daarna is die uitvaar terug na Skiathos, 8 myl. Die wind waai reg is ons seil vir 1 uur. Onder Marietjie se valkoog word die anker in Skiathos Baai suksesvol gegooi. Volgende keer moet Pieter en Zané dit self doen.

Dinkie is baie klein en dit neem twee trips om almal by die land te bring – eers Pieter en Zané en dan Marietjie. Daar is geen busse na die lughawe nie maar ons is mos almal stappers, party van ons met splinternuwe knieë, en ons durf die 1.6 km pad aan. Soos by Kilimanjaro word “pule-pule” (stadig-stadig) gestap want die dag is warm en ons kan nie ons skoon lywe natsweet nie.

Pieter en Zané gaan land toe
Maak Dinkie vas

Marietjie word gegroet en ons oorblywende drie stap terug via die supermark om die nodige proviand te koop. Hoender, aartappels, lemonade en beskuitjies is ruim ingepak.

Tot siens Marieks. Sterkte.
Zané, Marietjie en Pieter

Trek anker op en vaar net om die hoek na Platanias Baai , 7.2 myl, waar ons die nag wil deurbring. Dis Pieter en Zané se eerste alleen anker gooi en die baai besluit dit gaan ’n goeie leerskool aanbied. Na oneindige probeerslae (wel meer as tien) is ons uiteindelik vas. Die anker word geïnspekteer en verklaar as “bomb proof”. Almal het ’n beurt gekry om te gooi en op te trek. Ons is nou goed geoefen! Marietjie waar is jy?

Die graduasie as ankergooiers word gevier met baie whiskey en ons eet twee dae se kos (Turkse wors en pasta) sommer eensklaps op. Drink koffie en gaan slaap. Dit is ’n doodstil nag.

Tuesday, July 4, 2017

Kennisgewing

Daar sal van 5 Julie tot 23 Julie 2017 geen blog verskyn nie. My ma is baie siek en ek vlieg terug huis toe. Sal weer blog plaas as ek terug is in Griekeland. Pieter en Zané se wedervaringe sal ook dan eers geplaas word.

Dankie vir die begrip.

Seilende sigeuner.

Neo Klima. Fotosessie.



4 Julie 2017. Dinsdag.

Ons het twee topmodelle genader vir ’n fotosessie op Maja en hulle het ingestem om vir ons te kom poseer, ten spyte van hul besige program.

Hulle het gesê: ”Ons sal altyd in ons besige skedule tyd maak vir Maja. Solank ons dan net twee weke saam op haar kan seil.” En toe is dit afgespreek. Ons kry ons foto’s en hulle seil saam. Die een hand was die ander. (Solank ons net nie water mors nie, Reël 14)





Skopelos Eiland. Rond Ry.



3 Julie 2017. Maandag.

Ons is nou lekker ingeburger in ons skuilplek en vandag is die groot verkenning van die eiland van Skopelos. Archie huur ’n baie duur karretjie en ons is in en daar trek ons.

Ons eerste stopplek is Milia, een van Mamma Mia se strande. Die see is rof en die branders breek op die strand. Enkele swemmers is in die water. Ek is in my noppies met al hierdie Mamma Mia plekke. Ons spring in die karretjie en ry verder.

Milia Srand

Skopelos se dorp is pragtig. Dit is so teen die bult gebou. Dit is ’n skouspel van wit huise met helder rooi en oranje dakkies. Ons stap na die groot wit kerk. Dis op opper opste en die kerke is wit witter witste. Die lug is baie skerp en op die kaai wieg al die seiljagte. Ons eet ’n lekker gyro en die hongerpyne is gestil. Dit is warm. Dit is baie warm.

Skopelos
Kerk
Uitsig
Nog 'n kerk
Skopelos Hawe
Eet gyros

Na Skopelos dorp is dit uittog na die kloosters. Die paaie is klein, smal en met tye weggeval van reënskade en oorstromings. Van die kloosters word nog gebruik en ander is verlate. Ek bly maar ’n kerkmens en geniet die kloosters baie. Pieter navigeer pragtig en ons verdwaal nie regtig baie nie. Ek en Zané sit agter en gesels en kyk na alles wat te sien is. Ons besoek die kloosters, maar baie van hulle is gesluit. 

Uitsig oor Skopelos
Berg kerkie
Klooster

Toe vat ons die pad na Glossa en eintlik na die Mamma Mia kerk. Dit is mos een van my drome om by die trappies van die kerkie op te klim. Ons sien die kerkie in die verte en my opgewondenheid is net so groot soos verlede jaar saam met Yvon en Louise. 

Mamma Mia kerkie

Ek klim al daai trappies met my nuwe knieë spesiaal vir die Franse Kanadese. Pieter, Zané en Archie stap natuurlik so bietjie vinniger as ek, maar agteros kom ook in die kraal. Dis lekker hoog en die kerkie is maar net ’n klein kerkie. Maar dit maak nie saak nie, dis die ondervinding wat belangrik is.

Maak reg vir klim
Ons klim
Mamma Mia kerkie
Binnekant
Uitsig oor die baai

Ons stap af en ry terug. By die uitsigpunt stop ons weer en Tegnologiese slim Pieter kry vir ons Mamma Mia se musiek en hy speel dit kliphard. Ons meisies dans en is verpot. Aan vrolikheid is daar nie ’n gebrek nie. Ons gooi ook ’n paar dansdraaie met die kerkie wat op die agtergrond toekyk. Ai, watter vreugde! Gesigte is oopgebreek in glimlaggies en die kraailaggies van genot vul die lug.

Ek en Archie
Mia Mammas
"Kom dans Klaradyn … "
"… kom dans weer met my"

Ons ry verder en kyk hoe lyk die hawe by Loutraki waar ’n klomp jagte skuil teen die winde wat kom. Ons ry terug na Nea Klima en Maja is nog veilig teen die kaai. Reg vir die winde wat die nag kom.

En het daai winde nie gekom nie! Uit volle bors.

Monday, July 3, 2017

Gaste.



2 Julie 2017. Sondag.

Skiathos tot Nea Klima

Vandag is die dag. Zané en Pieter kom. Ons is behoorlik al moeg gewag hier op die raserige kaai van Skiathos. Dis warm en Gus het nie eers ’n asempie nie. Hy maak blaas bymekaar vir Maandagnag wanneer hy volgens voorspellings uit volle bors gaan blaas.
 
Ons kyk vir oulaas of alles in Maja in orde is en stap dan hawe toe waar die veerboot hulle gaan aflaai. Die reuse ou veerboot kom en daar is hulle, lyk soos pakesels, met ’n rugsak van voor en ’n rugsak van agter.

Zané en ek
Hulle is hier

Hulle loop die plank en eers is Zané aan boord en toe Pieter, op hulle huis op water vir die volgende paar dae. Hulle word plegtig ingelig van die planne dat ons vandag nog na Nea Klima toe moet vertrek om daar te gaan skuil teen die winde.

Zané eerste
Pieter loop die plank
Baie welkom julle!

Hulle gaan verken dadelik vir Skiathos en natuurlik moet Zané haar yskasmagneet, wat aan haar standaarde voldoen, koop. Nog voor 13:00 is hulle terug by die boot ek trek die anker op, die gaste help met die agtertoue en weg is ons na Nea Klima, 8.2 myl. Die hawe het goeie skuiling teen die Meltemi, wat uit die noord-weste gaan waai.

Skiathos
Soek yskasmagneet

Ons seil lekker vinnig, met ’n topspoed van 6.3 knope, vir 55 minute. Die hawe kom nader en ons kyk ewe benoud of daar plek vir ons is. Die plek is stampvol skuilers en ons moet vir Maja inwurm in ’n spasie wat die buurboot eers toue moet verstel om vir ons genoeg plek te gee.

Nea Klima hawe

Stap in Nea Klima


Vas en veilig is ons en die sweet tap ons af. Dis baie warm. Archie gaan kyk na die anker met die snorkel en dit is piekfyn.

Teen laatmiddag kom daar ’n motortjie op die kaai aangejaag en sê ons drie bote moet skuif, want ons staan op die toerboot se plek. Maar spring ons op ons perdjies. Sê nou waar moet ons heen? Ons skuil! Veral die buurman van Taiwan staan sy man en ek en my Noorweegse buurvrou weier om te skuif. Gelukkig gaan maak die toerboot toe op ’n ander plek vas en ons kan bly. Wat ’n verligting!

Zané en Pieter kry Ouzo hoender (wat eintlik met Yeni Raki gemaak is, maar hulle weet dit nie) en ons smul daaraan. Hoe lekker is dit nie om hulle aan boord te hê nie.