Sunday, July 2, 2017

Skiathos Eiland. Skiathos.



30 Junie en 1 Julie 2017. Vrydag en Saterdag.

Loutraki tot Skiathos

Die tweede Julie kom Zané en Pieter. Ek sien so uit om hulle te sien. Dis Pieter se eerste keer op die boot, maar Zané was al hier saam met haar broer, Chris (wat nou vreeslik jaloers is dat sy sussie weer kom).

Ons trek die anker op en vertrek na Skiathos, net 6 myl oor die see. Skiathos kom vinnig nader en ons moet besluit of ons in die baai wil anker en Saterdag ’n plek by die kaai probeer kry en of ons sommer reguit kaai toe moet gaan. Na vele samesprekings besluit ons dis sommer reguit kaai toe. 

Skiathos

Die wind waai net liggies en ons meer maklik langs die kaai vas. Die haweman vang die toue en ons is vas. Dis warm op hierdie kaai. Ons gaan kaiings uitbraai op hierdie kleine Maja.

Ons gaan hier bly tot Sondag, wanneer die gaste kom en dan moet ons besluit of ons hier wil bly tot Woensdag, as die winde bedaar het en of ons dadelik na Neo Klima toe wil gaan. Dis ’n klein dorpskaai wat ook goeie skuiling teen die Meltemi het, nes Skaithos. Ons kan nie eers Maandag vertrek nie, want dan is daar ’n kans dat ons nie plek by Klima gaan kry nie. Onthou, almal moet Maandagnag en Dinsdag op ’n goeie skuilplek wees vir die fors 7 wind wat kom.

Saterdag gaan ons na die St Evangelistas Klooster toe. Dis ’n werkende klooster met monnike wat daar bly en werk. Verlede jaar het ons 'n bottel mee (“mead”) vir my pa daar gekoop. Dis soos witblits likeur met heuning. Ek weet dit maak nie sin nie en klink snaaks, maar glo vir my, dit proe ook snaaks. 

Klooster kerk
Klipkerk

Ek koop vir my twee dogters, Michelle en Roelien, elkeen ’n klein geskenkie daar wat die monnike spesiaal vir hulle gemaak het. Ons geniet die rustigheid van die klooster en die pragtige blomme wat oral in die blombakke oordadig blom. 

Bekyk likeurs in wording
Kloosterblomme vir my Ma
Nog blomme vir my Ma

Die monnik wat ons verlede jaar gesien het met sy volle monnik-mondering, is vandag in gewone klere. Dis seker sy vry dag, maar hy is nóg steeds doenig rondom die kerk. Altyd besig. 

Ons monnik

Ons minibusbestuurder het gesê om moet 13:45 gereed wees dat hy ons kan terugneem na Skiathos, want dit is sy laaste rit. Hy kan g’n niks werk as dit so warm is nie. Dis sy derde hemp wat hy vir die dag al aangetrek het en hy gaan nou huis toe en slaap. (En eintlik volgens die bussie se tydtafel moet hy eintlik nog die heeldag ry. ) Se moer daarmee!

Ons gaan dorp toe net om nie op Maja te wees nie en ek koop vir my drie seuns, Francois, Gerrit en Johan, ook elkeen ’n geskenkie. My kinders word darem vreeslik bederf!

Ou Hawe

Wat ’n geluk! Daar is vanaand tradisionele Griekse danse en ons is daar! Ek moet nou wel die kaptein dwing om te gaan, maar daar sit ons toe in die tweede ry van voor. Tipies Grieks, begin die verrigtinge nié 21:00 nie, maar nader aan 22:00. Die mans skop so op met hul rokkies, heerlike loergenot. Archie vind dit later vervelig en loop, maar ek sit bankvas tot die einde. Ai, maar ek geniet sukke danse!

Dansers

Saturday, July 1, 2017

Skopelos Eiland. Loutraki.



29 Junie 2017. Donderdag.

Rousoumi Baai tot Loutraki

Die see het 02:00 begin rol en darem 04:00 opgehou. Toe ons opstaan, is dit weer ’n plat see. Die omie met die anker wat nie gebyt het nie, trek sy anker op en vertrek eerste. Toe vertrek ons na Skopelos Eiland.

Ons kyk na die wolke in die berge. Alonissos se noordelike deel van die berg het ’n hoed op. Archie kyk in die groot Griekse boek en die man sê as die wolk so op die berg lê, beteken dit dat die Meltemi gaan waai. Hulle voorspel ligte suidelike winde vir vandag, maar verder is dit doodstil. Ons sukkel vreeslik met ons internet en kan net soms die weervoorspelling sien.

Wolkkombers oor Alonissos
Wolke
Ons almal seil

Archie sien wel dat hulle vir Maandagnag en Dinsdag sterk wind voorspel. Ons sal moet sorg dat ons vir Zané en Pieter in die veilige hawe van Skiathos of iewers moet hê.

Ons gaan kyk eers hou lyk die ankerplek by Panormou, maar dis daai landlyn anker waarvan ek niks hou nie en die boek sê die bodem is seegras. Ons anker byt glad nie in seegras nie en ek is nie lus vir ’n gesukkel nie. Archie se hart trek met ’n punt na die baai toe, maar ons vaar toe maar vêrder na die veilige en bekende baai van Loutraki, 19 myl, waar ons verlede jaar saam met die Franse Kanadese was.

Naby Loutraki

Hier is plek-plek sand en die res is seegras en ons gooi drie keer anker voordat ons tevrede is. Die anker het elke keer goed gebyt, maar die bodem is vol holtes en hope en ons wou seker maak dat dit op ’n plat stuk is. As die wind draai, moet die anker ook draai en as dit op ’n hoop is, kan dit homself loswikkel met die gedraai. Toe is ons tevrede en reg vir die nag.

Loutraki Hawe met Glossa hoog teen die berg

Ons bly heeldag op Maja. Verlede jaar het ons na die chora toe gestap en toe nóg vêrder gestap om die Mamma Mia kerk te sien, maar die kerk was te vêr, ons het nie daar uitgekom nie. Ons sou nie voor donker terug gewees het by Maja nie. Vandag is dit snikheet en ons koel gereed in die lou water af. Vir vêr stap, sien ons nie kans nie.

Ons kyk hoe die ander jagte sukkel om te anker in die seegras en is dankbaar ons is so stewig vas. Dis warm. Dis baie warm. As jy roer, sweet jy.

Thursday, June 29, 2017

Alonissos Eiland. O. Rousoumi.



28 Junie 2017. Woensdag.

Kyra Panagia tot Rousoumi Baai

Ek kan nie glo dat die lang dae so vêr agter ons lê nie. Dis nie 58 myl of 45 myl nie. Nee, dis nou net 14 myl. Dis eintlik net ’n hanetree vêrder na Rousoumi Baai. ’n Ormos is mos die Griekse woord vir baai. So O. Rousoumi is eintlik is Afrikaans Rousoumi Baai.

Ons is op pad na Alonissos Eiland. Die hoofdorp is Patitiri, maar ons bestemming is net langs die hawe. Ons het verlede jaar vreeslik geskud en gehop op daai kaai van Patitiri. Ek onthou nog dat Archie en Yvon in die nag opgestaan het om die vasmeertoue te verstel dat Maja nie moet seerkry nie. So vandag gaan ons anker gooi in die buurbaai, Rousoumi. Ons is eerste daar en kry weer die beste plek en gooi tussen die seegras, op ’n groot sandkol ons anker.

Patitiri

Die baai is eintlik ’n gelukkige vakansie strand. Mense, groot en klein, oud en jonk, vet en maer, mooi en lelik (nee, almal is mooi, want hulle klink so gelukkig) geniet die warm Griekse dag op die strand. En dis nogal ’n sandstrand, nie klippies nie.

En as jy nou wil sien hoe geniet die kinders die branders, dan moet jy sien as die groot veerbote na Patitiri se hawe gaan. Dan maak die ou reuse mos golwe wat op Rousoumi se strand uitspoel. Dan speel almal in die luuksheid van branders, totdat die see weer gaan lê. Een seuntjie het skoon weggehardloop oor die branders so “groot” was. Ek sal graag wil sien wat maak die kinders met Suid-Afrika se branders.

Ander tieners spring by die kranse af in die see. Ai, maar dis lekker om alles om my gade te slaan. Ons kyk ook hou sukkel die ander mense om hul ankers te laat byt. Seegras is maar ’n bogger om ’n anker in te laat byt.

Ons vat vir Dinkie en gaan land toe. Ek laat eintlik my knieë rus, so ek loop net die trappe op en kyk oor die baai uit. Archie loop verder. Die strand is vol mense en ek kyk na stralende gelukkige gesigte en hoor laggende kinders.

Strand

Onder in die baai lê Maja, saam met al haar vriendinne. Terug by die boot, gaan kyk Archie met die snorkel in die helder water of die anker nog reg is en sommer ook na die anker van ’n Franse omie wat alleen sy anker gegooi het en dit nie eers getoets of dit gebyt het nie. Archie kom terug en doen verslag – ons anker lyk pragtig, maar die omie se anker lê sommerso bo-op die sand, glad nie gebyt nie. Ek hoop vir sy part dat die wind nie vannag gaan waai nie.

Rousoumi Baai

Dit is ’n windstil aand, maar die see rol van vêr af in en ons wieg saam. Die omie se anker hou…

Kyra Panagia Eiland. O. Kyra Panagia



27 Junie 2017. Dinsdag.


Planitis Baai tot Kyra Panagia Baai

Anker op en weg is ons, soos gewoonlik. Altyd op pad. Ons vaar al langs die mooiste klippe en kranse en rotse en grotte. Dis regtig ongerepte natuur in die omgewing. 

"Waar die kranse antwoord gee …"

Ons vaar verby ’n klooster, hoog op teen die berg. Nie baie mooi nie, maar dis ’n regte egte werkende klooster. Selfvoorsienend. Daar groei olyfbome, plant groente en het hulle eie sonpanele. Ek staan altyd verstom as ek na kloosters kyk. Soveel toegewyde edel harde hande-arbeid. 

Klooster

Ons vaar om die hoek en nader ons baai. Ons is omtrent eerste daar en kry die beste ankerplek. Dis pragtig in die baai en die water lok mens na binne. Dis nou verseker somer in Griekeland. Ons swem gedurig om af te koel. Die lou water is ’n lafenis is die snikheet sonwarm dag.

Later kom anker nog ’n klomp seiljagte hier. Ek het nie geweet die baai het plek vir so baie bote nie.

Kyra Panagia Baai

Ons geniet dit hier in die pragtige baai.