Saturday, June 24, 2017

Lesvos Eiland. Tsonia.


23 Junie 2017. Vrydag.

Mytilini tot Tsonia


En ons wag. Nog niks. Aruna van SA Sailing het gesê sy sal die lisensie eerste ding Vrydagoggend pos. Van eerste ding weet ek nie so mooi nie, want teen 13:00 kan ek dit nie meer verdra om so rond te sit en te wag nie en sê vir Archie hy moet nou maar mooi broodjies by die hawepolisie gaan bak dat ons net hier kan wegkom. Die lawaai van die verkeer maak my mal! En hier is boonop nog mense wat baklei, vuiste en al. En dit skree en neuse wat bloei. Ag nee man, ek is nie lus daarvoor nie.

En daar trek hy toe met rekenaar en al. Hy sal verduidelik en al die dokumente én die bewys van betaling vir die lisensie vir hulle wys. En hoop hulle verstaan. Jy sal my nie glo nie, maar terwyl hy so verduidelik, kom daar ’n e-pos deur en dis SA Sailing! Met die lisensie! En alles val in plek. Ons kry alles gereed en vertrek 13:45 na Tsonia, 20.8 myl.

Ons laat vir Mytilini en sy kasteel agter en vaar vorentoe. Altyd vorentoe. Gus waai van vooraf, regop Maja se snoet. Die sagte water verander in deinings, met so hier en daar ’n perdjie op die deining. Maar gelukkig kom Tsonia stadig maar seker nader. Die water lyk maar rof in die baai en ons hoop vir die beste. 

Barmpalias Eiland
Aandskoot - Amper daar

Gelukkig toe ons die diepte op 10 m trek, is die see stil, alhoewel Gus nog waai. Hier is nie ’n fetch nie. Ons gooi anker in 7m water en maak seker die anker byt en vas is ons. Ons wag vir die windvlae waarvan die boek praat, maar gelukkig is dit net ligte rukkies en plukkies.

Hoe heerlik om in ’n rustige baai te sit sonder die verkeer wat so lawaai. Die aand kom en ons sit op die dek. Archie hoor iets soos iemand wat asem uitblaas. Nee, nie soos in die laaste asem uitblaas nie, eerder soos iemand wat snorkel. Hy lig met sy flou flits, maar ons sien niks nie. (Ek dink ek gaan vir hom ’n sterk flits vir Kersfees koop.) Ons hoor net die asemhaling. Die water lewe hier, want die visse spring vreeslik baie. Die aand raak later doodstil. Geen wind. Heerlike soel somersaand.

Friday, June 23, 2017

Lesvos Eiland. Mytilini. Thermi.



22 Junie 2017. Donderdag. 

Nog geen lisensie is per e-pos gestuur nie. So, ons is nog stééds gestrand hier in Mytilini. Ons besluit ons klim die bus na ’n klein dorpie met die naam Thermi. Dis meestal Grieke wat hierheen kom vir ’n pelgrimstog. Baie heilige plek.

Ons klim af en stap dorp toe. Ons besoek die kerk van die Maagd Maria. Die kerk was toe, maar die deure se handvatsels was vir my so mooi. Ai, ek bly maar ’n kerkmens.

Thermi
Deurhandvatsels

Ons stap na die dorpsplein toe, maar ons dwaal af en soos wafferse pelgrims pak ons die tog na die Klooster van St Raphael aan. Ons kronkel saam met die mooi paadjie. Dis warm. Dis twaalfuur. Maar ons stap en stap. En toe is die klooster voor ons. 

Ons eie pelgrimstog
Uitsig oor Thermi

Hier is die agtergrond van die klooster.

The Monastery of Agios Raphael is located on the hill of Karyes, very close to Thermi village.
The monastery is dedicated to three saints (agios in Greek) – Agios Raphael, Agios Nikolaos, and Agia Irini– and it’s one of the most famous places of pilgrimage in Lesvos. Every year it attracts many visitors who are fascinated from the history of the monastery which is accompanied by miracles and supernatural phenomena. The present Monastery was built in the 1960s, on the ruins of the former one which operated in two different periods of the Byzantine era and was burned to the ground from the Ottomans in 1463. The three saints became martyrs during the invasion of Ottomans as they refused to deny their Christian faith and become Muslims.
According to the tradition, a monk was appearing alone in the area of Thermi and then he was vanishing in a flash of light. This vision belonged to Agios Raphael who wanted to tell the inhabitants about his martydorm. The archive records of the Patriarchate ensured the revelations of the vision.
Because of the many miracles that were worked by the three saints, Agios Raphael Monastery is still awe-inspiring. 

Kloosterkerk

By hierdie klooster is nie net monnike, maar ook nonne. Hulle is te sien in die kerke. Die mure en plafon van die kerk is pragtige versier met muurskilderye. Ek verkyk my na al die Bybel verhale wat uitgebeeld word. Kan natuurlik niks verstaan nie wat hulle skryf nie. Vir my is dit Grieks.

Oorskot van St. Raphael
Muurskildery
Koepel 

Nadat ek weer deur die plek geloop het om die heiligheid in te adem en weer die kerk te besoek, vat ek en Archie die warm pad terug na Thermi. Af af af loop ons tot by die dorpsplein en sien die restaurantjies. Ons gaan sommer na die naaste een toe en probeer by ’n ou tannie met ’n kierie iets bestel. Al woord wat sy sê wat ons ken is bira en ons bestel toe ’n bier wat ons deel. Sy trek ’n stoel nader en kom sit by ons. Ons probeer ’n gesprek voer, maar dit gaan maar moeilik.

Ek en die tannie

Daarna gaan eet ons by die volgende restaurant waar die man Engels kan praat. Archie bestel groentepastei en ek bestel hoender met ouzo. Wel, ek moet sê, daai kos van Archie was iets heel besonders. En my hoender was net so lekker. Ek wil vir Zane en Pieter hoender met ouzo maak as hulle oor ’n week kom kuier.

Restaurant Sav Allote
Groentepastei
Hoender met ouzo
Motorfietsryer, Griekse styl

Ons vat die bus terug na Mytilini en kom by ’n baie warm Maja aan. Dis voel soos somer in Griekeland. Daar is nog geen lisensie van Durban nie, maar wel ’n belofte dat ons dit môre sal kry. Nou hou ons maar duim vas.

Thursday, June 22, 2017

Mytilini.


20 en 21 Junie 2017. Dinsdag en Woensdag.

Çamlik Köyü tot Mytilini, Lesvos

Archie het gister al die nodige draaie geloop van die hawemeester, hawepolisie en die doeane en nou is ons amptelik uitgeklaar, vry om te gaan. Klaar met Turkye, miskien vir lank. Ons het gister na nêrens gevaar en êrens in Niemandsland geanker.

Tot siens Turkye

En vandag gaan ons Griekeland toe. Lesvos Eiland na die hawe waar ons gaan inklok, Mytilini, 18.8 myl. Hulle het sterk winde oorspel vir vandag, maar gelukkig van skuins agter. Ons pak die stuk see tussen Turkye en Lesvos aan en ons seil vir twee ure, net met die genoa. Die wind waai tussen 18 en 23 knope en ons laat waai behoorlik.

Mytilini kom nader en sy groot kasteel staan trots oor die see en uitkyk. Ons kry alles reg, want ons moet alongside by die hawepolisie vasmeer om in te klok.

Archie roep die polisie op kanaal 12 en hy wag ons in op die kaai. Hy blaas sy fluitjie ongeduldig. Ons is nie vinnig genoeg na sy smaak nie. Archie vaar langs die kaai in, ek gooi die toue en die polisieman maak vas. Hy sê daar kom oor 20 minute ’n veerboot en dan moet ons weg wees. En ek dink: ”In your dreams.”

Archie gryp sy lêer en daar trek hy. Ek moet op die boot bly want as die reuse veerboot wat in die baai lê, wil vertrek en iets loop skeef, moet ek vir Maja wegvat. Ek sit op Maja en ek sien Archie wink vir hy. Hy lyk amper soos ’n windmeule soos hy wink. Ek klim af en stap na hom toe. Die polisieman spring op en kom vinnig na my toe en vra waarheen gaan ek. Ek moet moes op die boot bly. Die doeane polisie soek my. Hy sê ek moet dan maar gaan en hy gaan staan by Maja. Hy sê ek moet hardloop. Ek loop toe op my vinnigste.

Hulle wil toe my vingerafdrukke neem en toe hulle klaar is, gaan ek weer terug na Maja en Archie gaan na die Doeane vir ons "transitlog". Die polisieman staan ewe gertou nog by Maja. Ek klim op en sit op Maja.

Na ’n tyd kom daar ’n veerboot en meer baie na aan ons vas. Dis toe die veerboot wat oor twintig minute sou gekom het. Daar is gelukkig genoeg plek vir hom en ons is veilig. Maar daai Archie bly lank weg. Dis later ’n uur, nog later, amper na twee ure kom hy terug en sê sy kapteinslisensie het verval. Dis die eerste keer in die vier, nou ons vyfde jaar, wat ons seil dat iemand daarvoor vra. En die blerrie ding het 21 Mei 2017 verval.

Nou moet ons die SA Sailing in Durban, waar ons ons lisensies gekry het, kontak en hulle moet die ding hernu. Ons kry nie die "transitlog" voordat ons nie die nuwe lisensie kan toon nie. Ons mag Mytilini nie verlaat nie.

Ons gaan maak toe maar "alongside" by die kaai vas. Maar dis omtrent 'n lawaai-kaai. Erger as Johannesburg se middestad. Dis motors en busse en motorfietse wat op en af voor ons verby ry.  Archie gaan dadelik dorp toe om internet te gaan koop sodat hy die mense in Durban kan kontak. Die vrou in Durban pos toe vir hom ’n vorm om in te vul en hy doen dit en betaal die R465.00 vir die nuwe lisensie. En nou wag ons al vir twee dae en nog niks. Miskien sal Zané en Pieter hulle vakansie op Mytilini moet deurbring …

"Alongside" Mytilini dorpskaai
Gaan stap
St. Therapon se kerk

Ons gaan besoek die kasteel, maar dit is gesluit na die aardbewing, om veiligheid redes. Ons moet maar tevrede wees met beperkte uitsigte op die kasteel. Dis ’n reuse kasteel en moes baie indrukwekkend gewees het in sy gloriedae. 

Kasteelmuur
Noord hawe met ou breekwater
Ou hek
Seemuur
Fort

Ons stap rond in Mitilini en sien baie min aardbewing skade. Hier is baie meer mense as wat hier verlede jaar was. Die plek lewe en dit raas. Dis nie net Grieke wat hier bly nie. Hier is baie vreemde nasies met vreemde afkoms. Sommige mense lyk baie verwaarloos.

Vryheidsmonument
Stap langs die see

Ons hoop dat ons môre die lisensie kan kry dat ons kan vertrek. Die Hawepolisie kom sê vir ons ons moet skuif en ons beland so wragtig langs ons ou bure van Ayvalik.

Sunday, June 18, 2017

Ayvalik.


18 Junie 2017. Sondag.

Ayvalik Marina

Ons wou vandag na die antieke stad van Pergamon toe gaan. Maar helaas, dis bewolk en hulle voorspel reën. So ons bly maar by die huis. Ons wag dat dit lyk of dit effens ooptrek en toe gaan ons dorp toe. Zafer het gesê ons moet by Paşa gaan eet, want hulle olive oil cooking is uit die boonste rakke. Dis mos Turkse familie kos.

Ons stap al die pad dorp toe, terwyl die lae wolke dreigend in die lug hang. Dit kan enige tyd reën. Ons kry die Paşa restaurant, maar hy is toe op ’n Sondag. Dooiemansdeur. Net soos baie ander winkels en restaurante. Ons dwaal rond op soek na nog olyfolie kookkuns. Maar puur verniet. Die meeste is toe. 

Vars groente

Ons vind weer vir Violetta, die pers winkel waar ek verlede jaar vir my vriendin oorkrabbetjies gekoop het, maar sy is ook toe. Dis amper soos Laurika Rauch se liedjie “Alles is blou …”, maar dis nou die geval van “Alles is toe …”

Violetta se winkel
Kleurvolle kas
Plaveisel
Tweedehandse winkel

Die honger knaag en die een restaurant se kos sal eers 13:00 gaar wees en dis nou maar eers 11:30. Dis te lank. Dit kom daarvan as mens te vroeg dorp toe gaan. In hierdie geweste begin die lewe baie later as by ons in Suid-Afrika. Ons eet toe maar by so ’n kafee ding aan die gatkant van Ayvalik. Ons was nie lus vir duur betaal nie. En nogal lekker, die kos. Nie wow nie, maar lekker. 

Restaurant

Ons stap terug en koop vir oulaas voorrade voordat ons die land gaan verlaat. Die goed is goedkoper hier in Turkye as wat dit in Griekeland is. Môre gaan Archie die langsame proses van uitklaar doen en as dit nie te laat is nie, gaan ons Lesvos, Griekeland toe. As dit te lank neem, gaan ons maar weer by ’n baai anker en dan Dinsdag die pad na Griekeland toe vat.

Ons eet heerlike vis wat ek self gaarmaak om ons toer in Turkye mee af te sluit.