Monday, June 12, 2017

Yenifoça.



11 Junie 2017. Sondag.

Eğri Limanı to Yenifoça

Vandag is dit ’n lang pad van 33.33 myl na Yenifoça. Ons trek die anker op en dit het regtig goed gebyt en verlaat die baai wat ons gedeel het met die visplaasbote. Weereens vleg ons deur visplase.

Die eerste deel van die pad is rustig en die see platterig. Ons vaar voort sonder enige moeite. Toe gaan ons op die draai en wag vir die wind wat van die weste af moet kom, soos hulle voorspel het. Dan kan ons seile span en met meer spoed die lang pad vinniger korter maak. 

Mimas Piek

Maar wil jy glo! Die wind kom van die Noord-Ooste, reg op Maja se snoet. Van seil span is nie nie sprake nie en ons spoed verminder drasties. En die pad langer. Die boek praat van die stuk see by die Izmir Körfezi wat ’n “confused sea” het en hy lieg nie, die see is konfoes!

Dis sukke vet golwe wat nie weet waarheen om te gaan nie. Sukke kort golwe, soos ’n dogtertjie wat knyp-knyp vorentoe trippel-trippel hop-hop, as sy knyp omdat sy dringend wil pieppie. Hemel en ons vaar hopelik vorentoe! Maja se snoet tref die deinings en verander hulle tot seeskuim.

Seeskuim

Die pad raak langsaam korter, baie langsaam. Halfpad, ’n ewigheid verder, driekwart pad, na nog ’n ewigheid, vat ons die draai na Yenifoça se baai. Ons was verlede jaar hier saam met Deon en Ryna. 

Yenifoça

Ons soek plek vir ankergooi. ’n Groot boot staan  vasgemaak aan ’n boei op ’n simpel plek en ’n klein motorbootjie is ook in die pad. Ons weet egter hy sal later ry en ons kry die bes moontlike plek en gooi. Die anker byt end it lyk of alles OK gaan wees. Ons is bietjie naby die ou grote, maar niks ernstig nie.

Ankerplek


Anker werk so. As die water 8 m diep is, moet jy vier maal die diepte se ketting gooi. Hoe meer ketting jy uit het, hoe minder is die kans dat jou anker sal sleep. Ek het 35 m ketting uitgegooi en Archie gooi nog 5 m uit vir die winde wat so waai. En alles lyk nog reg.

Toe draai die wind en Maja draai saam. Die ou groot boot wat aan die boei vas is, draai anders as ons, want sy het mos nie ankerketting uit nie, net ’n kort tou wat aan die blok onder die water vas is. Toe begin die gemors. Ons swaai te naby aan hom en Archie trek die ankerketting op sodat daar net 32 m in die water is. Dan is dit vier keer, dis voldoende.

Maar, o wee, ons kom nog te naby aan ou grote. Archie trek nog ketting in, nou is daar daar 27 m in die water. Net meer as drie keer die diepte. Gus waai met fors en ons ankerketting is so kort. Ons hou die sake dop. Gus waai ons na die boot toe, maar dit lyk of ons nie te naby kom nie. Dan waai Gus weer en ons is vêr van hom af. Dan naby, dan vêr.

Ou Grote

Toe die nag kom, waai die blêrrie Gus eers erg. En ons ankerketting is so kort. Ons kyk waar kan ons gooi, maar daar is net plek in die deel van die baai waar die deinings, saam met hul perdjies inwaai. Toe is dit nagwaak. Archie vat die eerste skof tot 01:00. Ons anker hou!

Ek vat die tweede skof nagwaak tot 06:00. Ek rig my in op die dek. Dis komberse en my kussing om my teen Gus se koue aanslae te beskerm. Die anker hou!

Ai, wat ’n seiler nie alles moet deurgaan nie. Alles is verseker nie aaltyd maanskyn en rose nie. Dankie, in elk geval vir die maanskyn sonder die rose. Die maanlig het genoeg lig gegee om die swart van die nag te versag en sien maak alles minder "scary".


Sunday, June 11, 2017

Eğri Limanı.



10 Junie 2017. Saterdag.

Çeşme to Eğri Limanı

Ons wik en weeg, bly of ry?  Ons kyk na al die windvoorspellings. Kyk weer en weer. Ons besluit ons wil nie nog €59 vir die marina betaal nie en ons gaan na Karaada, 10 myl. Sondag is die wind stiller, dan sal ons die lang pad vat na Yenifoca. Die marina man kom help ons om uit te kom en Maja val 09:30 in die pad.

Op pad na Karaada besluit ons dat ons liewers na Egri Limanı, 16.8 myl moet gaan. Daar gaan wind wees, maar ons hoop vir die beste. Ons vaar wind-op, Maja vat die deinings een vir een aan.

Ons moet al weer deur die visplase vleg, want hier is omtrent baie. Egri Limanı kruip goed weg en ons sien eers die ingang toe ons naby is. In die baai moet jy versigtig wees, want dit word baie vinnig vlak. Ons kyk eers by die vêrste punt, maar dit lyk nie so goed nie. Toe gaan ons weer na die plek waar ons in 2014 geanker het. Die boek sê die houkrag is nie so goed nie en ons maak seker dat die anker goed byt. En hy byt met mening.

Ons deel die baai met baie visplaas bote wat op boeie staan. Daar is ook baie bedrywighede aan die gang. Dis vragmotors wat dreun en die viskos in die bote laai, dwarsdeur die nag. Dit is baie lig in die baai. Die maan is vol en die werkers se ligte is skerp.
Eğri Limanı

Maar ons anker hou goed. In die nag waai Gus bietjie, maar niks om oor bekommerd te wees nie. Dit was ’n goeie besluit om hierheen te kom en dan môre se baie lang pad ’n bietjie korter te maak.

Saturday, June 10, 2017

Çeşme.


8 en 9 Junie 2017. Donderdag en Vrydag.

Negris Limanı tot Çeşme

Ons het voorrade nodig. Deesdae is dit net anker. Lang dae, baie myle en anker. Vandag gaan ons na Çeşme Marina, 22 myl.

Toe ons die beskutting van ons baai verlaat, groet die deinings ons. Gus waai deur die valleie en windvlae tref die see. Later kom die wind reg en ons vir seil vir 2h20min, verby Mersin Körfesi waar die wind vir ons, Gerrie en Ansu so wild en wakker gewaai het. Dit is veronderstel om redelik windstil te wees. Maar moenie glo nie. Ons kry winde van tot 20 knope.

Die wêreld is mos vrot van die visplase. Jy moet behoorlik tussen hulle deurvleg. Ons maak die laaste draai en vat die stuk see na Çeşme. Gelukkig waai Gus van skuins agter en ons seil voort.

Visplaas

Çeşme se kasteel is nog net so mooi. Dit is 'n kenmerk van die marina. Ons voel sommer of ons tuis kom. Ons het mos in 2014 lank hier gebly toe Maja se enjin gebreek het.

By die marina moet ons eers diesel ingooi en swartwater uitpomp, maar hulle swartwater pomp is stukkend en ons kan nie uitpomp nie. Met ’n vol pens vol diesel volg ons die marina-man na ons staanplek. Toe is ons vas en gaan hier vir twee dae skuil. Die wind begin waai en loei, speel tussen die jagte se maste en toue rond. Ons is veilig. 

Çeşme Kasteel

Ek lê op die bank en kyk hartverskeurend op Facebook na foto’s van al die brande in Knysna, toe iemand buite roep. Ek dog eers dis Archie, maar toe ek opstaan en kyk, is dit vreemdes wat ’n bekende taal praat. Hulle het ons vlag gesien en hulle is ook van Suid-Afrika. Hentie en Diana Koen van Bloubergstrand!

Hulle kom aan boord en is hulle gawe mense! Ons gesels te lekker en ek sê ons sal later oorkom na hulle jag dat ek vir Archie aan hulle kan voorstel. Ons gaan drink ’n skemerkelkie saam met hulle en ons babbel en klets en lag, soos ou vriende.

Uitgevat vir kuier
Hentie, Archie en Diana

Die dorp is pragtig. Oral het hulle struike en blomme geplant. Dit is ’n lus vir die oog. Ons stap dorp toe en op die plein staan Ataturk in sy goue glorie. Ons doen bietjie inkopies vir my skoonsuster, Ansu. 

Ataturk
Marina met Maja net onder die eenhoring
Kleurvol
Kasteel

Die aand 18:00 kom kuier Hentie en Diana kuier. Ons sit op Maja se dek en geniet mekaar se geselskap. Hulle kyk hoe lyk Maja binne en ek voel so trots, want hulle hou van wat hulle sien. Toe is dit weer koebaai sê tot n volgende keer. Miskien sien ons hulle in Griekeland.


Diana en Hentie kuier op Maja
Archie en ek

Ons het ’n moeilike besluit om te maak. Moet ons môre vaar of moet ons bly. Maandag is daar weer kwaai winde en ons het ’n vêr pad om te ry. Sondag is die ’n goeie, stil dag om te ry, maar dan moet ons 47 myl ry. As ons môre ry, kan ons of na Karaada of Egri Limanı gaan, maar hulle voorspel nog winde vir môre.

“What to do, what to do?!”

Sarpdere, nee Negris Limanı.



7 Junie 2017. Woensdag

Körmen Adası tot Negris Limanı


Hierdie noordelike deel van Turkye kan moeilik raak.

So gaan slaap ons rustig by Körmen en ’n dreuning word deel van my drome. Toe skielik klink en lyk dit soos oordeelsdag. Ek word uit my slaapnewels geruk met harde woorde en skerp ligte! Wat is ek besig om te droom? Ek sit regop in die bed en hoor dit is ’n luidspreker en iemand wat praat. Die kaptein slaap natuurlik soos ’n flippen baba.

Ek loer uit en ek dink dit is ’n disko. Dis rooi ligte wat draai en blou ligte wat swaai en 'n  oogverblindende skerp wit lig wat op ons skyn. Ek maak die kaptein wakker en hy dink ek sê :”Lig op, lig op!” Hy dink die anker sleep en ons moet dit optrek omdat ons te na aan die land is. Ek sê vir hom baie hard en duidelik hy moet opstaan, dis die polisie.

Ek loer weer uit die die polisie boot is teen ons, nog steeds pratende. Natuurlik Turks, wat ons nie verstaan nie. Ons sit ligte in Maja se kajuit aan en Archie gaan uit. Hulle vra allerande vrae en ook “where you from’. Ons antwoord en hulle verstaan nie. Hulle bekyk ons en ons bekyk hulle. Die polisie sê iets van ’n roetine patrollie. Hulle is tevrede en vertrek. Dis die eerste keer dat dit ons oorkom. Om in die middel van die nag wakker gemaak en op geskree te word, is nie lekker nie.

Ons harte pomp, die adrenalien vloei en ons oë is groot en toe moet ons weer probeer slaap. Gelukkig is Klaas Vakie daar en strooi sy sand in ons oë en die slaap oorval ons.

Nou is ons op pad na Sarpdere, 23 myl. Gus lê en die see is plat. Ons vaar vorentoe, altyd vorentoe. Ons nader die ankerplek en daar is ’n westelike baai en ’n oostelike baai. Ons gaan oos en gooi anker en die tweede keer dat ons gooi, byt hy en ons is vas. Toe waai die wind Suid-Wes en die see begin inrol. 

Vissermanne
Sarpdere oostelike baai

Die deinings raak groter. ’n Ander jag kom in en draai in sy spore om na nog ’n baai in die suidelike punt. Hy is seker nie lus vir ’n rondrollery  nie. Later vra ek vir Archie of ons ook maar na die Suid Baai, Nergis Limanı, toe kan skuif. Dit gee beter beskutting teen die wind wat ons nou so vertoorn.

Op met die anker en ons vaar soontoe. Daar lê al klaar vier bote op anker. Die water is heerlik stil en gelukkig is daar vir ons ook ’n plek. Ons gooi anker en geniet ’n rustige middag en nag in Negris Limanı.

Amper volmaan