Wednesday, June 7, 2017

Altikum, Port St. Paul en Körmen Adası.



4-6 Junie 2017. Sondag, Maandag en Dinsdag.

Turgutreis tot Körmen Adası

Noord, ons gaan noord met ’n stink spoed. Ayvalik toe. Terwyl die weer en wind gunstig is, wil ons soveel as moontlik water onder Maja se pens laat deurvloei. Ons het in die drie dae 80 myl gevaar.  Elke dag is dit vroeg opstaan en vertrek. 

Vroeg uit die vere

Ons gooi anker in half lelike Didum Baai (Altikum), 25 myl, heerlik windstil. Hier is behoorlik nie veel om te sien nie en te doen nie.

Varknek en aspersies vir aandete

Daarna was dit Port St. Paul, ook 25 myl, waar Gus ons met sy windvlae gepeper het. Die wind maak dit koud en misluk. Ons gaan nêrens nie, lees en doen takies op die boot. Dis hier waar oorlede Paulus van die Bybel, op pad na die gemeente van Efese, geanker het terwyl hy vir die Meltemi geskuil het.


Tipiese oggendskoot

Toe vat ons weer die langpad, 30 myl, verby Samos Eiland, reguit oor die see na Körmen Adası, waar ons nou in ’n heerlike windstil baai sit en in die warmbronne gaan swem het. Ons het naby Samos ’n pap drywende bootjie in die water gesien dryf. Gelukkig was daar nie ’n lewende of dooie vlugteling op nie. Ek was gereed om oor die radio te roep as daar dalk ’n mens op was.

???
Middagete by Körmen Adası
Körmen Adası

Die lang dae put mens nogal uit en ons sal binnekort bietjie moet rus.

Sunday, June 4, 2017

Turgutreis.

3 Junie 2017. Saterdag.

Knidos tot Turgutreis

Ons koppe staan na die noorde. Ons doel is om voor 20 Junie by Ayvalik uit te kom en dan ons groot kruising na Griekeland te maak om vir Zané en Pieter te ontmoet.

Ons verlaat vir Knidos vroeg en vat die lang pad na Turgutreis, 23.myl. Ons gaan daar na die marina, want ons kort ’n lekker lang stort met baie water. Ons vaar verby die Griekse eiland Kos. Verlede jaar was ons daar saam met Elize en Fanie.

Ons nader die marina, roep oor die radio en die manne kom. Maar sowat van ongeorganiseerd het ek lanklaas gesien. Hulle sukkel met die voortou en is amper te laat vir die agtertou. Maar ons is vas.

Ligtoring by ingang

Turgutreis is vernoem na Admiraal Turgut Reis wat in die vroeë 16 de eeu hier gebore is. Hy was die bevelvoerder van die Ottoman vloot tot met sy dood in 1595, tydens die beleg van Malta teen die Ridders van St John.

Ons sukkel om ons gas te hervul in Turkye. Archie het al in verskeie dorpe gesoek vir gas, maar tervergeefs. Hy vra by die marina en hulle sê hulle kan ons nie help met die gas nie. Glo onwettig of iets om dit in Turkye te hervul. Toe vat hy maar sy ou gasbotteltjie en daar trek hy. Hy vra toe by al wat  'n hardeware winkel en ander gasplekke om die bottel te hervul, maar verniet. Toe uiteindelik, na baie myle se gestap, kom hy by Bezimgaz en jou wrintie, hulle kan hom help. Sukses!! Nou is ons gasbottel weer vol.

Turgutreis se water is ’n blinknat spieël.

Turgutreis Marina
Blinknat spieël

Saturday, June 3, 2017

Knidos.

2 Junie 2017. Vrydag.

Datça tot Knidos

Ons is weer alleen. Chrismari het 9:00 die bus geklim na Marmaris om haar pad huis toe te vind. Sy het toe nooit vir ons laat weet waarvan sy die meeste gehou het nie. So dit sal maar ’n geheim bly totdat dit dalk later openbaar word.

Vandag vat ons weer die bekende pad na die antieke stad van Knidos, 20 myl. Ons was al vier keer daar op anker. Ons ken die plek. Die pad is doodgewoon. Turkse berge gly verby, nie mooi nie, nie lelik nie. Sommer net berge. En see en water en wolke. Alles ongewoon doodgewoon.

“The road is long" en die kaptein sit en bekyk sy GPS. Ek weet nie eintlik wat sien hy daarop wat hom so fassineer nie. 

Kaptein en sy GPS

En ek sit maar net en oordink dinge. Diep dinge. Uitpluis dinge wat ek nie verstaan nie. Van mense en hul dinge.

Knidos kom uiteindelik nader en ons gooi daai anker dat hy byt. Die baai word voller en voller. Een vir een kom die seiljagte grasieus ingevaar, soek ’n geskikte tuiste en gooi anker. Ons bring die hele middag op Maja deur. Ons rus en lees boek. Die ou stad lê bekend in die son en bak. Ons gaan nie vandag weer geld betaal om dit te besoek nie. 

Ons is nou behoorlik lui. Ons enigste aktiwiteit vandag op anker is om die seemeeus te voer met ou brood. En selfs dít put ons uit!

Meeu

Die dag verander in aand en Gus waai liggies.

Datça.


1 Junie 2017. Donderdag.

Symi tot Datça


So kom die Symi-sprokie tot ’n einde en ons vaar terug na die werklikheid. Ons gaan vandag na Datça,10.82 myl. Ons seil nie, Maja prrr ritmies voort. Vorentoe, altyd vorentoe.

Symi visserman
Symi-sprokie
Tot siens, Symi

Archie vaar reguit hawe toe en die hawemeester is op sy pos en blaas die fluitjie. Ons doen die ding nou al amper outomaties. En vas is ons. Chrismari skink vir oulaas koue drankies, want môre-oggend gaan sy Maja verlaat.

Laaste "cold beverages"

Archie vul sy vorms in, want Chrismari moet nou van die bemanningslys afgehaal word. Hulle help hom sommer gou en maklik en toe is sy nie deel van die bemanning nie.

Die aand neem Chrismari ons uit vir ete en ek eet ’n garnaalbredie en die ander twee eet vis. Smaaklik en heerlik. Dankie, Chrismari!

Dankie en tot siens, Chrismari

Friday, June 2, 2017

Symi. Roof besoek. Griekeland.


31 Mei 2017. Woensdag.

Datça tot Symi


“What to do, where to go?” Dis die vraag wat nie antwoorde het nie. Ons het ’n ekstra dag en weet nie waarheen om te gaan nie. Toe besluit die kaptein om die stoute skoene aan te trek en ons gaan na Symi, 9.5 myl.

Ons vaar uit die körfezi en reguit na Symi, sonder ompad of kortpad. Ons volg net soos wetsgehoorsame burgers die reguit pad.

Die beeldskone Symi se huisies word kleurvol-klein-knus teen die koppie uitgepak, soos pophuisies. Die hawe is nog net soos besig soos altyd met toerbote, maar daar is baie plek by die seiljaghawe en die haweman wys vir ons ’n plek aan. Archie tru en ek gooi anker, die haweman vang die agtertoue en vas is ons.

 Hierdie Symi is bekend vir gekruisde ankers. En dis ook nie lank nie, of die aksie begin. Die gullet trek sy anker op en trek die buiurman s'n saam op. Hy pyl op ons ankers af en al die kapteins skree vir hom van hulle jagte af. Behoorlike chaos, almal is in rep en roer.

Gekruisde anker …
… en die kapteins kyk bekommerd

Hierdie keer is ons aan die anderkant vasgemeer, nie soos verlede jaar waar die raas-kafee ons die hele nag wakker gehou het nie. Ek en Archie geniet die plek se atmosfeer vreeslik baie en Chrismari geniet haar storieboek net so baie in die saloon. Daai vrou kan lees, hoor. Aldag en elke dag. Vir langbeen sit op die dek, is daar nie sprake nie. Sy is verdiep in die boek.

Ons gaan stap later in die dorpie rond. Ek is lus om iets te koop, maar allemintig, maar die goed is duur. Ek is nie meer gewoond aan Euro’s nie! Koop niks nie. Van oral is daar mooi uitsigte op die hawe en huise. Ek kyk en kyk en kyk nog. Ek lief Symi.

Symi
Symi

Ons sit op Maja se dek en kyk hoe die lewe sy gang gaan. Ons kyk na die straatlopers en hulle kyk na die bootmense. Ons wonder oor hulle en hulle wonder oor ons.

Ons leef in ’n wonderlike wêreld.

Wednesday, May 31, 2017

Kuruca Bükü. Hisarönü Körfezi.


30 Mei 2017. Dinsdag.

Kuyulu Bükü tot Kuruca Bükü


Dis bewolk. Baie bewolk. Dit lyk na reën. Dit gaan reën. Vandag gaan ons na Çiftlik, dis ’n nuwe baai naby Kuruca, 11.3 myl. Ons verwag om enige tyd nat te reën.

Ons sit bedremmeld buite op die dek, almal met reënjasse aan. Dit begin saggies te reën. Chrismari gaan sit binne, in die veiligheid van Maja se pens.

Die reën word al hoe harder en ons is nie lus om by Çiftlik te gaan sukkel om ’n plek te kry nie en die kaptein besluit om na die bekende waters van Kuruca te vaar.

Ek gooi in die reën anker en die eerste keer byt dit nie. Ek trek ’n tuin vol seegras op en Archie kry ’n ander plek en ons gooi weer en die keer met groot sukses in 5 m water. Papnat en tevrede drink ons die té koue beverages. (Onthou, ons is nat en koud).

Dit reën die middag liggies en ons gaan eers 15:30 land toe. Die lug is weer pragtig en die landskap lyk skoongewas vars. Ons stap die koppie uit en kyk hoe helder is die water. Die seegras is duidelik te sien. Dis die donker dele tussen die turkoois water. Ons stap op die pier en die berge is daar vêr in die agtergrond. Ag, maar dis mooi hier. Ek raak sommer opnuut weer lief vir Turkye.

Kuruca Baai
Kuruca Baai
Kyk vir die wêreld
"Sitting on the dock of the bay … "
Chrismari en Kat

Ons kyk hoe lyk Çiftlik Baai, waar ons sou gaan anker het. Die twee baaie word net met ’n sand landengte van mekaar geskei. 

Landengte tussen Çiftlik Baai en Kuraca Baai
Çiftlik Baai

Ek maak die aand groente saam met so stuk gedroogte wors wat ons gekoop het. Maar mensig, is dit vir my sleg. Die ander twee eet maar getrou al wurgend aan die kos. (Hulle sê dis lekker, maar ek dink hulle jok).

Dis ’n pragtige windstil aand, net soos ek daarvan hou.

Tuesday, May 30, 2017

Kuyulu Bükü. Hisarönü Körfezi.


29 Mei 2017. Maandag.

Keçi Bükü tot Kuyulu Bükü

Ag wat, ons hou lui-lekker vakansie. Vandag is dit weer net ’n entjie se vaar na Kuyulu Bükü, 3.8 myl. Dis baie mooi in die körfezi en Chrismari sit dekoratief op Maja se snoet.

Chrismari

Ons gaan eers swartwater by Marti Marina uitpomp. Seilende Sigeuners? Nee, eerder Stinkende Sigeuners. Van seil is daar nie sprake nie én ons kort dringend 'n stort. Alles verloop vlot en ons begin die nuwe tog. Na ’n uur vaar ons die baai in en ons is die enigste jag. Die baai is net ons s’n en ek gooi daai anker dat hy byt. ’n Boot is nooit vry nie, sy is altyd geanker aan die grond. Sy is die marionet van haar kaptein. Maja aanvaar haar lot en swaai haar stertjie liggies soos wat Gus haar swaai en draai en waai.

Kuyulu Bükü

Hulle voorspel reën en die lug is oortrokke, swanger met vog. Êrens is daar donderweer weer en ’n veraf gerammel is hoorbaar. Teen 16:00 gaan ons land toe en die skepping lyk so vars, asof dit nou net geskape is. Die kleure is helder en die berge in die verte donker. Heeltyd reën dit elders. Ons stap te heerlik.

 
 
 
        
 

Sowat van mooi het ons lanklaas gesien. Alles lyk perfek. Maja eensaam, dog tevrede in die baai. Drie mense in visuele ekstase oor dit wat aan hulle gebied word. Mooi, mooier, mooiste. Wat meer kan ek sê?

Tevrede

Dit reën nie meer elders nie, maar hier by ons. Die nat dring ons neusgate binne en ons adem dit in. In die verte verskyn die reënboog. Ons gee nie om vir die effe nat nie en klim in Dinkie en ry in die nat terug na Maja.

Reën

Hoe wispelturig is die körfezi nie. Die son skyn en ons swem. Vir my is dit die lekkerste swem van die seisoen.

Archie kook manti en ons eet dit saam met 'n heerlike tamatie pesto en Nandos peri-peri sous.