Monday, May 15, 2017

Ortisim Bükü. Skopea Limanı


14 Mei 2017. Sondag.

Gelukkige Moedersdag!

Pilloried Cove tot Ortisim Bükü

Ons plan is om na Boynüz Bükü te gaan en ankerplek daar te soek. Onder geen omstandighede wil ek by hulle restaurant kaai vasmaak nie. Na verlede jaar se slegte, duur kos, is ek klaar met hulle. Ons maak Maja los van die boei en vertrek.

Die rit is kort en ons draai by die ingang van die baai in. Maar helaas, die ankerplek is oorvol en ons draai maar in ons spore in en gaan na Ortisim Bükü, 7.5 myl. Ons gooi anker en Archie neem die tou met Dinkie (onder enjin) land toe, Maar is dit ’n gesukkel. Dinkie volg haar eie kop en rigting, die tou dreig al om in die propeller te kom. Die sirkels wat hy gooi om hom en sy tou by die land uit te kry, laat Mr. Bean na ’n amateur lyk. Nee wat, swem sou baie vinniger gewees het. Gelukkig is dit windstil, anders sou dit nogal kon gelol het. 

Ingang
Ortisim Bükü

By die land maak hy die tou aan die “bollard” vas. Die ander tou swem hy sommer land toe. Natuurlik duik hy met ’n sierlike boog in die water in. Die see is nog steeds koud. Ek meet die watertemperatuur met my knieë. As hulle binne koud kry, weet ek die water is baie koud. Vandag is daai water koud, want die vreemde voorwerpe in my knieë vertel my.

Swemmer

Ons bring die dag rustig op Maja deur, want daar is geen voetpaadjies in die baai nie. Die aand versondig Gus my siel tot 0:30 en toe gaan slaap ek.

Saturday, May 13, 2017

Pilloried Cove.

12 en 13 Mei 2017. Vrydag en Saterdag.

Fethiye tot Pilloried Cove

Die anker het behoorlik gebyt. Hy kom vol modder uit die water. Op is hy en weg is ons na Pilloried Cove, 13.8 myl in die Skopea Limanı. Ons vaar die hele pad, want Gus gedra hom baie stil. Vêr, in die berge na Fethiya se kant toe, pryk die sneeu nog skitterwit en glinster in die oggendson.

Sneeuberge

Ons vaar reguit na Pilloried Cove, in die Sarsala Büku, want daar is boeie om te gryp. Dan hoef jy nie te anker nie. Ek skuif agter die helm in en vaar reguit op die boei af en Archie moet dit gryp. Dis swaar en Archie moet al sy armspiere inspan om die ding uit die water te lig. Dan moet die tou deur die boei se ring kom en word dan aan Maja se snoet vasgemaak. Archie gaan maak later Maja se agterstewe met ’n tou aan die land vas, want al wat ’n groot boot wil ook vanaand hier oornag.

Die Kaptein …
… kry die boei …
… en maak Maja vas

Ek is deesdae ’n oorblywende Sigeuner, want ons bly twee dae hier. (En ons het drie dae in Fethiye oorgebly). Te lekker. Rustig. Dis nie elke dag oppak en nuwe heenkome vind nie.

Ons staan rustig op en later die middag gaan stap ons ’n deel van die Sarsala staproete na Wall Bay. Ons stap tussen die bome, oor klippe en rotse, met elke nou en dan ’n mooi uitsig. Ou Maja lê daar in die baai, rustig en tevrede tussen haar vriendinne.

Maja in die baai (4de van links)
Uitsig

Archie stap lekker vinnig voor en ek kom agterna. My spoed is nog nie wat dit moet wees met my nuwe knieë nie. Maar dis heerlik om so in die natuur op droë grond te stap. Deel te word van die vlinders en toktokkies wat die roete met ons deel.

Woudnimf

Ons kom aan die einde van ons staproete en Skopea Limanı lê pragtig voor ons, omring met berge wat in die plasse water staan. Enkele seiljagte seil skuins-skeef na êrens. Stippels wit in die blousel blou baai. Almal is altyd op pad. Soos verbygaande skepe …

Skopea Limanı

Ons stap terug, stil tevrede. Ons klim in Dinkie, die enjintjie vat en ons spoed terug na Maja. En ons is tuis, want Maja is huis.

Friday, May 12, 2017

Fethiye.



9 tot 11 Mei 2017. Dinsdag tot Donderdag.

Kalkan tot Fethiye

Ons staan behoorlik saam met die hoenders op. Ons het ’n vêr pad om te ry, 41 myl na Fethiye. Dis die Sewe Kape vandag. Ons trek die anker 06:00 op en hoop vir die beste. En wonder bo wonder, die anker lig sonder enige probleme. Wat ’n verligting!

Die wind waai van agter en die see is groot. Die golwe rol van agter af, haal ons in en rol onder ons deur. Dan ry ons op die kruin van die golf en anderkant af. Gelukkig voel dit nie so erg as dit van agter afkom nie. Ons hoop net die wind word nie te sterk nie. Ons is so dankbaar vir die agterwind wat tussen 19 tot 30 knope waai. Ons sit natuurlik ewe “opgedress” met ons lewensbaadjies op Maja. En ons knaag te heerlik aan die droëwors en biltong wat Gerrie vir Archie vir sy verjaardag gegee het.

Eet Gerrie se droëwors

Die dag is grys-grou. Dof en onduidelik. Die son kruip weg en dit wil-wil reën. Wolke vul die uitspansel. Die Kape se kake kruip dreigend in die see. Ons seil stadig maar seker verby die een Kaap tot die volgende een, totdat ons al sewe agterlaat. Maja seil voort, net met die bollende genoa. En ons seil saam vir 3h45min.

Oggendskoot - Grys-grou

Ons is dankbaar dat dit so goed gaan. Halfpad. Die son is nog steeds nêrens te sien nie. Die see lyk nors en onvriendelik. Die berge lyk doer vêr van die dynserigheid. En ons vaar maar net vorentoe, altyd vorentoe. Stadig, maar seker. Myl vir myl, knoop vir knoop.

Ons gaan om die draai en pak die laaste 15 myl aan na Fethiye. Die pad word nie korter nie, maar al hoe langer. Uiteindelik is ons in die beskutte baai en ons soek plek om anker te gooi. Maar byt is verniet. Toe die anker na die vierde probeerslag byt, blaas die hawepolisie hul fluitjie en sê ons moet skuif. Ons gooi weer  en hy byt net-net, nadat Archie ’n ruk met die anker tru en hy uiteindelik in die modder vasgryp. Wel, ek het die een en ander matrooswoorde geuiter.

Ingang tot Fethiye Baai

Annemarie en Brian kom later ook hier aan en gooi anker. Maar ons is eers baie moeg en gaan slaap vroeg, nadat ons heerlike warm bredie en potkoek (soos my ma altyd die kluitjies genoem het) geëet het.

Groenboontjie met potkoek (kluitjies)

Die volgende oggend staan ons laat en uitgerus op en gaan dorp toe. Ons het inkopies om te doen en die aand kom kuier Brian en Annemarie vir ons op Maja. Dis heerlik om mense in die vreemde te leer ken en kuiergaste te kry. Ons slaap vir drie nagte in Fethiye.

Brian en Annemarie kom kuier
Skemerkelkies

Thursday, May 11, 2017

Till en Andree.



So kom die Kapenaars, Till en Andree, by Maja aan en in ’n oogwink verlaat hulle ons weer. Waarheen het die seil dae so vinnig heen verdwyn?


Till.


Till

Till en Archie ken mekaar al donkiejare en het ’n baie nou band. Till is altyd gereed met ’n storie wat hy in Engels en Afrikaans kan vertel, met ’n vreeslike Oostenrykse aksent. Hy het ’n aansteeklike lag. Sy vermoë om inligting wat hy gelees het, te onthou, is fenomenaal. Hy het ’n fotografiese brein, ’n besondere intelligente man. Till en Andree het ook ’n hoendersop gemaak wat op enige duur restaurant ’n ding of twee sal wys.

Die plek waarvan hy die meeste gehou het, was Karaloz, waar ons geanker het. Daar het hy vir Archie gehelp met die intrek van die landtoue. Daar was net een ander jag (met ’n man en ’n Oosterse vrou aan boord) in die baai en die isolasie was vir hom heerlik. Hy het ook hier in die skoon water geswem.

Karaloz Baai

Die beste ondervinding was die boottoer vanaf  Ücagiz. Hulle het saam met die visserman-kaptein na Tersane se gesonke stad en Kale Köy se kasteel en onderwater stad gaan kyk. Till het nie besef dat in die geweste sulke ou beskawings was nie.

Boottoer na Kale Köy


Andree

Andree
 
Andree het ’n vreeslike mooi stem. Sy kan nogal baie praat, maar met so ’n mooi stem, gee ons glad nie om nie. Sy kan ook baie lekker lag. Sy sê dat ek ook so ’n lelike lag soos sy het. Dit borrel so uit die maag en ontplof dan hard as dit uit die mond kom. Ons het ’n hele paar keer geskaterlag dat die berge antwoord gee..

Sy het die koue drankies na ’n vasmaak geskink. Sy kry vreeslik maklik koud en soek dan die knusheid van Maja se saloon op.

Andree het die swem op Gökkaya baie geniet. Sy het ook die afgesonderdheid van ons anker op Karaloz gehou. Die interessante dorpies met hul ruïnes het haar bekoor.

Phaselis ruïnes
Gökkaya Baai


Sy het ons goeie geselskap geniet en Archie se goeie organisasie waardeer. En sy het heerlik aan boord geëet.

Dankie dat julle vir ons op Maja kom kuier het. Ons hoop julle het dit baie geniet!

Kalkan.



8 Mei 2017. Maandag.

Kaş tot Kalkan

Ons staan vroeg op, want Till en Andree moet klaar inpak. Hulle laai al hulle bagasie in die trollie en daar trek hulle. Ons wag vir die taxi net buite die marina se hek. Die geel gevaartetjie kom, laai hulle en hul bagasie op en weg is hulle. Nou is ons weer alleen leen leen.

Vroegoggend Kaş
Sak en pak
Koebaai julle

Ons was vir Maja, kry alles reg en vertrek na Kalkan, 14 myl. Ons wil daar in ’n baai gaan anker. Die wind kom van die suid-ooste af en die baai waar ons wil anker, is nie beskut teen die wind nie. Ons gaan dus vir die eerste keer na Kalkan se hawe. Die klein, oorvol hawe is bekend vir gekruisde ankers. Vandag het ons geen keuse nie en ons vaar die hawe binne. Die hawemeester wys vir ons ’n plekkie aan en  Archie  tru soos ’n pro in die spasie en ek gooi die anker. Die man help met die toue en vas is ons in Kalkan.

Kalkan hawetjie

Kalkan is verwoes in ’n aardbewing en die regering het besluit om nie die ou huise te herstel nie, maar nuwe huise hoër teen die heuwel te bou. In 1980 het ryk sakemanne die meeste van die verwoeste huise opgekoop en dit gerestoureer. Hulle het ook ’n klein hawe gebou en vandag is Kalkan ’n vooruitstrewende klein dorpie met hotelle, interessante winkels en restaurante. Hier is ook omtrent 300 Britte wat permanente inwoners is.

Kleurvolle trappe
Straattoneel
Blommie!

Ons geniet dit om in die dorpie rond te dwaal en is baie bly dat die wind ons hierheen gewaai het. Terug by Maja begin die sports. Die Russe wil vasmeer, maar dis chaos. Eers trek hulle amper die groot boot se anker los en daarna kos dit ’n hele klomp van die Russe aan boord om af te stoot. Almal staan op die jagte en kyk. Of om soms liewers jou oë toe te maak om nie te sien nie! Na ’n lang gesukkel en met baie hulp is hulle vas.

Die Russe keer

Langs ons kom Engelse in. Hul jag is soos ’n steeks donkie en wil nie tru nie. Dan ry hulle vorentoe en probeer weer. Gelukkig waai die wind hulle weg van ons af. Na ’n lang gesukkel, is hulle darem ook vas en veilig. Dis ’n klomp mans aan boord en ruik al die geurige boontjiebredie-reuke wat uit Maja kom. Hulle sê net vir Archie hoe gelukkig hy is om ’n vrou te hê wat vir hom kook. Ek stem saam! Nodeloos om te sê, ons het heerlik aan die kos gesmul en het vroeg gaan inkruip, want môre moet ons douvoordag  wikkel. 

Ons het ’n lang dag van 42 myl wat wag. Ons doen die berugte Sewe Kape en dit kan nogal rof raak. Ons verwag sterk winde van agter af en groot see. My hart mis een slag. En ons hoop nie ons anker is gekruis met iemand anders s’n nie …