Friday, May 5, 2017

Karaloz.


4 Mei 2017. Donderdag.

Gökkaya tot Karaloz

Ons het vandag weer nie vêr om te gaan nie, want ons gaan na Karaloz, net 4.1 myl. Maja lê in ’n bad water, so stil is die baai. Ons vertrek 9:00 en vaar al die pad. Die grot lê blou uitgegrawe in die rotswand. ’n Paar toeriste op ’n klein bootjie doen ondersoek en bekyk die grot.


Blou Grot

Toe is dit om die hoek na Karaloz, wat sy eie grotterigheid het. Dis ’n mengsel tussen grot en uitgrawing. Ons vaar die baai binne en Archie kry al die toue reg vir die lang tou na die land tipe anker. Ek hou mos glad nie daarvan om so vas te maak nie. 

Grot by Karaloz se ingang

Archie tru, ek gooi anker, Archie duik met sy tradisionele sierlike boog in die water en ek vat die helm oor. Till en Andree help met die toue. En na ’n bietjie onderhandelings is ons vas aan die land. Dis ’n pragtige baai. 

Archie en sy landlyn
Till trek tou
 
Gus waai en ek en Andree is nie lus vir swem nie. Till is egter dapper genoeg om die water aan te durf. Hy het ’n ingeboude termometer en verklaar die water tussen 17° C en 18° C. Archie het ook geswem, net omdat daar ’n doel daarvoor was – hy moes met die tou land toe neem.

Twee van die bemanning gaan lê skuins, baie skuins, want eers baie later kom hulle weer regop. (En dis nie ek of Archie nie) Die kaptein verlaat die skip en gaan verken die land. Klim die kop soos een van die boerbokke uit, al is hy eintlik ’n Engelsman. Ek wuif vir hom vanaf Maja se snoet. Ek gaan nie saam nie, want ek laat my knieë vandag rus. 

Karaloz Baai
Ek bly agter en waai
Besoeker by

Die res van die dag gaan rustig verby. Die mans lees, Andree is soos ’n tiener op die selfoon en ek luister musiek op die dek. Dis koud, want die wind waai wild en wakker.

Die hoendersop word verhit en vars sop noedels word gekook en weereens smul ons heerlik aan die geurige sop. Dankie, julle. Dit is die regte medisyne vir so ’n winderige aand.

Bo-baas hoendersop
 
Die maan hang aan die hemelruim en begin groei. Dit laat my dink aan ’n ou liedjie wat ek as kind gehoor het, “liewe maan jy seil so langsaam”. (Die res het ek vergeet) Die donker aande word saggies deur halwemaan verlig. Ek wonder waar is die ander helfte van die maan …

Thursday, May 4, 2017

Gökkaya



3 Mei 2017. Woensdag.

Finike tot Gökkaya

 Ons gaan vandag na Gökkaya, 15.7 myl, in Kekova Roads. Die gaste pronk gou vir oulaas tussen die jagte op die pier. Toe is hulle ook aan boord. Till en Andree help met die agter toue en ons kom seepglad uit Finike Marina. Sonder sukkel. En toe vat ons die pad. Gus lê en Maja prrr ritmies voort, vorentoe, altyd vorentoe. 

Finike Marina
Till op plank
Laat staan die lawwigheid
 
Die see is blou, die water kalm en sommige van die bemanning word vreeslik lomerig. Daar is niks soos ’n uiltjie knip om skoonheid te behou nie. Andree maak seker sy bly pragtig! Till praat en vertel en gesels. Hy kan ook vreeslik lekker lag. So vaar ons voort, op pad na ’n nuwe heenkome, nuwe ondervindings en nuwe horisonne. Ons maak herinneringe bymekaar om eendag, as ons oud is, te vertel. Almal met sy eie gedagtes, belewings en ervarings. Elkeen is sy eie ek, subjektief self.
So kom ons in Gökkaya aan en die huis is waar die anker val. En die anker val, byt vas en ons is tuis. Op ons eie kleine Maja.

Kaptein
"First Mate"

Andree is baie flink met die skink van die koue drankies, soos die skinker van ouds in die Bybel en sommer gou is ons aan die teug aan ons onderskeie drankies. Vir hierdie Kapenaars is dit nooit te vroeg vir wyn nie en Till en Andree drink elkeen ’n glasie rooiwyn.

Ons vier besluit dis tyd om land toe te gaan en ons klim in Dinkie. Sonder dat enige iemand oorboord val, is al vier van ons in en ek en Archie roei Dinkie met ’n oorvol vrag land toe. 

Ons stap na die murasie op ’n soort van ’n voetpad en Andree besluit sy is nie lus vir die paadjie nie en sy fladder soos ’n pragtige vlinder terug in die rigting van Dinkie. En dit was die laaste sien van die blikkantien.

Voet aan wal
Andree, Till en Maja
Staptog begin

Ek, Archie en Till stap verder. Ons kom stadig maar seker nader aan die murasie. Daar is ’n mooi uitsig en ons kyk hoe vreedsaam en rustig lê die vier seiljagte in die baai. Ons pak die terugtog aan en roei terug na Maja. 

Daar's Maja
Uitsig oor die ankerplek
 
Almal durf die water aan en veral Till laat hom nie afskrik deur die koue nie. Hy is sommer gou in en soos ’n vis in die water. Andree volg in sy voetspore en geniet die swem in die baai. Archie swem net om praktiese redes en dit is om skoon te kom. Hy is mos ’n man met ’n doel. Later waag ek dit ook en hang eers ’n ruk aan die leer. Sjoe, maar dis koud! Ek kan nie laat los nie, want dit voel te koud. Ou Till spoor my aan om die koue water te trotseer en moet twee keer tot drie tel, voordat ek die leer los en in die water gly. Met ’n gil gee ek my oor aan die verfrissende koue van die baai. Toe swem ek heerlik en kan nie uitklim nie.

Die aand is dit Till en Andree se beurt om aandete voor te berei. Met Till as hoofkok en Andree as bekwame super-assistent, tower die twee die heerlikste, geurigste hoendersop op.

Maak hoendersop

Wednesday, May 3, 2017

Finike. Vriende.



2 Mei 2017. Dinsdag.

Çineviz tot Finike

Weereens is dit mistig. Ons sien is min en ons sig is swak. Ek mis die mooi van die berge wat my verlede so betower het. Ons vertrek na Finike, 27.2 myl. Daar swem dolfyne in die vêrte. Hulle verdwyn in die gladde nat.

Çineviz vroegoggend

Ons vat die pad. Vanaand sien ons vir Martin en Shiree. Ons vaar en vaar en vaar.  Taşlik Burnu kom nader en nader.  Maar my maggies, is daai see omgeklits! Die twee seestrome kom bymekaar en dit skuim bruisend wit. Dit lyk of die strome kwaad vir mekaar is en vreeslik met mekaar stoei. Ons vaar daardeur en ek is bly ek is in die veiligheid van die  kleine ou Maja. Toe lê Finike voor ons, daar doer in die vêrte. Ons vat die lang pad en kruis die groot baai.

Nog steeds koud
 
Ons eerste taak is om die swartwater tenk te laat uitpomp. In die verlede sou ek so vreeslik senuweeagtig gewees het. Nou is ek so kalm met die “alongside”, dis skrikwekkend. Ek laat sak die fenders kalm, ek gooi die tou kalm, ek gooi die volgende tou tou kalm. Soooo kalm!

Archie vaar na ons plek by die kaai en met die hulp van die marina man, Till en Andree, is ons maklik vas. Toe tree die huisvrou in my en Andree na vore en ons gaan was wasgoed dat die seepbelle waai. En watter vreugde as die skoon wasgoed liggies in die wind wapper.

Andree  by Finike Marina
Archie met skeepspapiere
Finike Marina
 
17:00 het ons ’n afspraak met Gumnuts se mense, Martin en Shiree. Martin het mos sy voet gebreek en is nou as’t ware bedlêend. Ons stap na die hotel waar hulle nou tuisgaan en was ons bly om hom en Shiree te sien! Hulle vertel dat die dokter sê dat hy vier tot ses weke in gips gaan wees en hy mag nie nou op die voet trap nie. 

Die pasient
Suster Shiree

Hulle nooi ons vir ete en ons stap na die restaurant. Martin hop op sy krukke tot daar. Dis effens opdraande en ons moet so nou en dan rus. Ons eet en gesels en kuier en lag heerlik saam met hulle en maak net planne om mekaar weer êrens in Griekeland te sien. Wat ’n voorreg om sulke vriende te hê. Martin en Shiree en Till en Andree.

Hinke-pink restaurant toe
Shiree en Martin
Ek en Archie

Çineviz


01 Mei 2017. Maandag.

Phaselis tot Çineviz

 Vandag is dit nie ’n vêr pad nie, dis net 10.33 myl na Çineviz. Daar hang ’n geheimsinnige mistigheid oor die môre wat die berge skaam laat skuil. Ons trek die anker op, wat behoorlik gebyt het. En weg is ons.

Berg Olympus

 
En wat ’n vreugde was dit nie toe ons speelse dolfyne sien nie! Hulle flankeer nou behoorlik met Maja. Hulle swem en draai op hul rûe by Maja se snoet.  Hulle laggende vriendelike gesigte straal liefde en aanvaarding uit. So asof Maja een van hulle is. Dan swem hulle weg, draai om en kom speel weer. Ons geniet nou behoorlik die skouspel en Till en Andree is in hulle noppies met die vertoning. Dankies Dolfies!

Dolfyne

Ons probeer seil, maar ou Gus laat ons in die steek en die seile word weer laat sak. Ten minste het Till en Andree darem ook ’n bietjie geseil. Ons kom by Cineviz Baai en dis pragtig. Die hoë reus hou wag oor die baai. Natuurlik swem Till, en Andree laat haar twee keer nooi en toe is sy ook in. Die water word as “verfrissend” beskryf. Niemand sê  dis koud nie. Tot Archie het lyf natgemaak!

Andree en Till
 
Gus begin te waai soos hy maar hier doen en Andree is nie lus vir land toe gaan nie. Ek, Archie en Till klim in Dinkie en ons sit voet aan wal. 

Ons stap na die Suid Baai en dit is pragtig. ’n Hond loop al die pad saam met ons. Nadat ons die uitsig ingedrink het, stap ons terug en Maja draai spoggerig, stadig en stadig in die baai rond. Verbeel haar dis haar baai, want sy is die enigste skoonheid in die baai, behalwe natuurlik Andree wat aan boord is en saam draai.

Suid Baai
Ekke by Suid Baai
Maja en die manne
Maja

Ons is maar die res van die tyd op Maja en die aand eet ons manti, sulke Turkse gevulde pasta, saam met tamatie pesto, eenvoudig en heerlik. En toe begin die vonke spat. In alle rigtings. Die manne begin te sing. Sulke liedjies wat in die vorige eeu ontstaan het. Hulle sing en dan drink hulle as ’n beloning omdat hulle so mooi sing. Hulle dink natuurlik hulle sing vreeslik mooi, want dis die een beloning na die ander.

Saloonkonsert

Andree val later ook in en sing saam, soms al drie op hulle eie wysies. Maar dis so mooi. Archie het ’n baie mooi stem. Ek lê op die dek en verlustig my aan die konsert in die saloon. (Ek sing nie, Archie het my mos verbied. Sing te lelik).

Andree haal uit

Die baai word gevul met harmoniese (soms nie) klanke. En dit was omtrent ’n saloonkonsert. Hoe later, hoe kwater. Hoe rooier, hoe mooier… En hulle is mos natuurliefhebbers, hoog in die takke van al daardie tiermelk.