Friday, September 23, 2016

Göreme. Staptog.



23 September 2016. Vrydag.

Dit reën. En dis koud en ek wag vir die weer om op te klaar. Dit word ’n pragtige dag en 15:00 gaan stap ek in die valleie naby die opelug museum. Ek dink dis ’n deel van die Kılıçlar vallei. Ou Archie is nog besig met sy bedrus sodat hy môre gereed en reg kan wees vir ons toer.

Ek stap vrou-alleen in die eienaardige spitsvondige landskap met die amper bonatuurlike rotsformasies wat oud, trots en regop in die vallei staan. Dit lyk soos ’n ander wêreld, asof dit nie op ons aarde hoort nie, maar eerder op die maan of ’n onbekende planeet. 

Vreemde vallei
Spitsvondig
 
Die meeste van die rotse is eintlik wonings en ook kerke. Mense het vir baie lank in hul grotwonings gewoon. Vensters, deure en kamers is in die rots uitgekap en omvorm tot huise. Dit is fassinerend en amper ongelooflik.

Wonings
Uitsig
 
Die meeste mense besoek die deel met perde, ATV’s en selfs motors. Dis net ek wat stap, so met moer toe knieë en my stapstok. Ek geniet die laatmiddag baie. Die sonlig gooi sy welkome ligstrale op Göreme en gaan rus op die rotse en valleie.

Ruiters
 
Ek bekyk en bewonder en beleef dit wat aan my gebied word en wonder wat mens doen as jy nie meer kan stap nie. Ek sit vir ’n ruk in die stilte en kyk net. Dis so ontsaglik mooi. Wat ’n voorreg om dit te beleef.

Spitse
Rotsformasies
 
Dit word laat en ek stap terug na die werklikheid.

Göreme. Turkse aand.



22 September 2016. Donderdag.

Vanaand is die aand. Die Turkse aand. Ons kry die bussie 19:30 na Evranos Restaurant in Avanos. Dis so snaakse mikro bussie waar jy nie agter mekaar sit nie. Jy kyk na mekaar toe. Ons is laaste om in te klim. Een man sit voor langs die bestuurder en ses van ons sit agter. Nou weet jy mos hoe dit is. Amper soos in ’n hysbak. Jy kyk nie direk vir die vreemde mense nie. Nou kyk jy maar nikssiende nêrens.

Gou is ons daar. By ons tafel is dit ek en Archie en die jongman, Stephen. Die mezes is keurig op die tafel uitgepak. Baie daarvan. Daar is ook ’n bottel rooi en wit wyn, ’n bottel Raki, water en koeldrank. Alles by die prys ingesluit.

Archie en Stephen
Archie en ek
 
Ons begin aan die mezes te peusel. Die ligte verdof en die skouspel begin. Dit is drie “Whirling Dervishes”. Hulle draai om en om en om. Sonder dronk word. Die wit rokke maak sulke punte en bly swaai in die lug. Ongelooflik.

Ons tafel bestel almal lam vir hoofgereg. Die volgende was ’n drieman orkes. Hulle speel sulke snaakse musiek. Dis nie eintlik musiek nie, dis net oorverdowende aaklige lawaai. Ek vat maar nog ’n sluk wyn om die pyn draagliker te maak. Ons slaak ’n sug van verligting toe hulle klaar is en klap vreeslik hard hande. Almal is verheug dat dit verby is.

Orkes?
 
Dan kom die volgende groep dansers in. Dis gewoonlik so vyf of ses dansers van albei geslagte. Ek het geen kennis van die danse nie, maar iets is beslis Russies geïnspireer. Vreeslike vinnige voetwerk. Ons geniet dit! 

Dansers
Draai en swaai
 
Die hoofgereg kom en die kos is vreeslik smaaklik. Nog dansers kom in en doen hulle ding. Almal eet en drink gesellig. Daar is ’n heerlike atmosfeer in die plek.

Hulle betrek elke dan en wan die gaste. Op ’n stadium sit almal in ’n kring op die grond (behalwe Archie met sy knie). Hulle stel ’n seremonie voor waar die man om die vrou se hand vra. ’n Vrou (word deur die dansers voorgesê wat sy moet doen) sit in die middel op ’n stoeltjie. Hulle kies ’n man uit die gehoor. Hy moet nou allerhande snaakse goed doen om die vrou se guns te wen. Dit was absoluut skreeusnaaks. Ons almal in die kring lê soos ons lag.

Toe kom die “belly” danser. Sy beweeg haar anatomie en velle in alle rigtings. Ons staan verstom. Sy kies ook toe later twee mans uit om haar bewegings na te boots. Hemel, dit was snaaks. Ek lag uit my bellie uit.

"Belly" danser
 
Na nog ’n paar danse, is dit toe die laaste item, waar hulle die Turkse volkslied sing (dink ons) en met ’n groot Turkse vlag.

Dansers
 
Watter aand was dit nie. Ons ry in die bussie terug en ons en die vreemde mense kyk vir mekaar en gesels te heerlik.

Thursday, September 22, 2016

Göreme. Çavuşin.



22 September 2016. Donderdag.
 

Dit reën in die nag. Ons staan op in ’n papnat Göreme. Hulle voorspel nog reën vir vandag. Dit is bewolk.

Archie se knie is beter, maar nog geswel. Hy kan darem al weer loop, maar nog ’n dag van bedrus is sy voorland. Nuwe pleisters word geplak en ons is reg vir ’n heerlike ontbyt onder die wolkkombers.

Ek besluit om die dolmus te klim na Çavuşin. Die dorpie is halfpad tussen Göreme en Avanos. 

Çavuşin - nuwe dorp
 
Daar is 'n bondel huise wat verlate in die kranse uitgekap is. Ek stap en bewonder die landskap aan die noordekant van die dorp. Dit lyk soos duiwe huise in die rotse.

Landskap
"Duiwe huise"

"Fairy Chimneys"

’n Deel van die roosvallei is ook hier te sien. Die landskap lê roospienk deinend soos borste in die vêrte. Ai, maar dis vir my mooi. Waar is ou Archie nou.

Roospienk
 
Die kerk van Johannes die Doper is hier te sien en jy kan van die ou huise binne verken. So op eentjie doen ek al die dinge. Ek wens Elize was hier dat sy dit saam met my kon geniet. 

Johannes die Doper se kerk
Boog
Muurskildery

Göreme. Dag 1.



21 September 2016. Woensdag.

Ons ry die nagbus na Göreme, Archie met ’n hinke-pinke knie. Hy weet nie eers wanneer of hoe het hy dit seergemaak nie. Dis net skielik seer. So seer, dat hy nie daarop kan trap nie. Dan doen die gebuigde knie posisie van die bus nou nie eintlik die knie goed nie.



Ons kom by Göreme aan en daai man se knie is seer. Ek dra van sy goed en ons kom 7:00 sukkel-sukkel by die Cappadocia Cave Rooms aan. Daar is niemand by ontvangs nie. En ja, ontvangs is heel bo-op die terras.

So 8:00 kom die vrou wat ontbyt maak daar aan en sy sê later ons kan maar ontbyt geniet. Al die tafels wat buite staan is nat van die reën. Die uitsig vanaf terras is baie mooi in die warm gloed wat die son oor die amper magiese landskap strooi.

Vroegoggend Göreme
 
Die personeel kom 9:00 en sê ons kamer sal eers 12:00 reg wees. Sowat van ’n onbeskofte en onbehulpsame jong Turk het ek lanklaas gesien. Die kombuis is vol vuil skottelgoed, daar lê komberse en skoene rond. Nee wat, dit is net nie aanvaarbaar nie. Intussen beweeg die kreupel Archie nêrens heen nie. Hy sit waar hy sit.

Teen 12:00 is ons toe in die kamer en ons plak TransAct op Archie se knie en gee hom pille in. Hy kort bedrus. Hy lê en lees en ek vat maar die pad dorp toe.

Ek soek vir my ’n rugsak (handsak tipe) en kry ’n mooie.

Wel, wat ’n onbevredigende eerste dag in Göreme. Hulle voorspel reën vir môre.

Wednesday, September 21, 2016

Kemer. Tata Maja!



20 September 2016. Dinsdag.
 

Ek word wakker deur druppels wat teen die luik val. Soos blits spring ek op, want daar is wasgoed op die draad. Dit reën liggies. Dit was die afgelope tyd so vrekwarm, gedog iets gaan uitbroei. Dis nou net jammer die bimini is nou nat en dit moet nog afgehaal word.

Die reën hou nie lank aan nie. Toe dit ooptrek, is daai berge eers mooi. Een vir een word die pieke deur die son verlig. (Die berge roep my, ek sal volgende jaar moet gaan hoor wat hulle vir my wil sê.) Die marina skitter in die son en alles lyk vars. 

Vars na die reën
Gulets staan gereed

Die bimini word gelukkig drooggebak en ons haal dit gou af voordat die volgende buitjie val. Archie haal ook die helm af. Ek hang die wasgoed weer op en toe dreig die reën om weer te val. Wasgoed op, wasgoed af. Dis een van daai dae. Nou hoop ons net die reën hou op voor vanaand. Ons is nie lus om in die reën na die bushalte toe te loop nie! Ons gaan vanaand die bus klim na Göreme.

Reën in die lug
 
Archie doen nog vir oulaas goedjies en maak seker daar is nie toue wat in die wind gaan klapper nie. Maja is nou behoorlik kaalgestroop! Sy lyk vir my skoon olik.

Maak toue stil
Kaal gestroop


Ons pak ons rugsakke en ons is reg vir die lang pad. Die luike word deeglik toegemaak, alles word dubbeld gekontroleer, ons sluit die deur en groet vir Maja.

En daar trek ons. Nog is seisoen is verby. Ek kyk om en met ’n laaste “tata Maja” en ’n traan in die oog, stap ons weg van ons geliefde Maja wat so eensaam en verwese op haar stelte lyk. 

Tata Maja
 
Archie verrek ’n spier, of iets …