Monday, August 29, 2016

Baba Adası.




25 Augustus 2016. Woensdag.

Ekinçik tot Baba Adası
 
Dis een van daai dae. Van net anker optrek en vaar. Na ’n plek waar ons al twee keer vantevore was. Dis die probleem van Turkye, daar is nie soveel nuwe plekke nie.

Ons gaan na Baba Adasi, 36°41.781 N, 28°41.859 O, 12.5 myl. Die optimistiese kaptein probeer een keer seil span, maar ou Gus verdwyn en ons trek maar weer die seile in. En ons vaar verder.

Die ankerplek is agter ’n eiland en ek gooi anker en Archie tru. Die anker byt en toe Archie later die snorkel vat om na die anker te gaan kyk, sien hy ek het die anker amper bo-op Skillie gegooi. Hy sit so ewe langs die anker en vreet. Hy wonder seker wie is die effe blink sexy skilpad wat hier langs hom sit. Skillie het daar en dan verlief geraak op ons anker.

Baba Adası
Baba Adası ankerplek
Antieke vuurtoring
 
Die see wemel van mense wat watersport beoefen. Daar is klein seil dinghies, bote wat valskerms trek, mense wat met vlieërs vlieg en bote wat wurms trek. En so tussen die geroesemoes van mense swem Skillie en sy vrinne rond. Jy sien net so nou en dan steek hulle die kop bo die water uit. Te dierbaar. As hulle sien iets pyl op hulle af, verdwyn hulle net onder die water.

Skuinslê
Seewurm
 
Ag en die hele tyd wieg ons in Maja, want die see rol met ligte deinings in. Wieg en wieg en wieg.


 

Thursday, August 25, 2016

Ekinçik.


24 Augustus 2016. Dinsdag.

Marmaris tot Ekinçik


My jongste seun, Gerrit, verjaar vandag. Baie geluk hoor!

En weg is ons na Ekinçik, 36°49.782 N, 28°33.106 O, 20.1 myl. Marmaris is stil en stemmig vanoggend. Gus lê en die see is stil. Ons vaar uit die baai.

Die Turkse kuslyn is baie mooi. Ek sien dit elke dag as ons vaar. Dis groots en mens kan dit nie op film vaslê nie. Ons vaar en vaar en vaar.

Rotse
 
Ons sien ’n reuse ou skilpad en net as ek ’n foto wil neem, duik hy ewe aspris onder die water in en verdwyn vir ’n wyle. Dan steek hy sy groot kop weer by ’n ander plek bokant die water uit. Te dierbaar! Hier is ook sulke seeplante wat in die see ronddryf. Dis seker seelelies. Ons vaar en vaar en vaar.

Waar is Skillie?
Seelelie
 
Ekinçik is die plek waar jy jou seiljag los as jy die Dalyanrivier wil gaan doen. Dan huur jy ’n rivierboot en die kaptein neem jou op die ekskursie. Ons het dit verlede jaar saam met Dirk en Leon gedoen. Dit was baie spesiaal en nogal duur. Hierdie jaar gaan ons net hier anker.

Naby Ekinçik
Ekinçik Baai
 
Die baai is oop vir die suide en ek maak my klaar vir ’n wiegelied. Al waai die wind nie sterk hier nie, hy waai in die see en ons kry die deinings. Dit is maar stil hier. Verlede jaar was hier ’n klomp bote wat die volgende dag Dalyan wou doen. Ons is nou net twee bote op anker en geen bote by die kaai nie.

Buitelandse toeriste is nie meer so volop hier in Turkye soos verlede jaar nie. Selfs Marmaris was dolleeg.

Een van die restaurante het ’n sanger wat daar sing en ons sit al wiegend op Maja en luister. Van die liedjies is baie mooi.

Dit word deesdae vroeër donker. Die slaap ontwyk my vanaand. Maja se gewieg en die harde musiek beroof my van droomland.


Wednesday, August 24, 2016

Marmaris.



23 Augustus 2016. Dinsdag.

Çiftlik tot Marmaris

Vandag is net ’n werksdag. Dinge doen dag. Ons gaan na Marmaris, 36°49.572 N, 28°18.853 O, 15.0 myl.

Ons moet voorrade gaan koop en ons swartwater weer laat uitpomp. Ons vaar in die groot baai van Marmaris in. Dis ’n besige plek hierdie. Groot gullets en ekskursie bote kom en gaan. Sommige is net meer indrukwekkend as ander. Almal het mense met lywe aan boord. Almal is halfnaak. 

Seerowers!
Plesiersoekers

Die kasteel kruip agter die houtmaste van die gullets weg. Ons gaan anker in die baai naby die dorp. Gus waai in hierdie baai. Ons moet vir Dinkie opsaal en ons vertrek dorp toe. Die deinings spat oor Dinkie en ons word nat. 

Marmaris se kasteel

Ons koop groente en vrugte en hoender en nog ’n paar goed. Twee rugsakke vol. Terug in Dinkie, swaar gelaai en ons vat die pad na Maja. Die deinings stort die water binne-in die arme Dinkie. Archie sê hy hoop nie ons val om nie.

Ons bokspring tot by Maja en moet ernstig konsentreer om uit die klein bootjie en op Maja te klim, sonder om in die see te val. Ek gee die twee rugsakke en al die ander pakkies vir Archie en sonder enige invallings is alles en almal aan boord.

Toe is dit marina toe om swartwater uit te pomp. Gus waai laat dit bars. Dis lekker stil by die pompe en ons pomp uit. Leeg is die tenk en weg is ons na die ankerplek. Dis naby ’n klein hotel vir jagte, steeds in Marmaris Baai. 

Pupa Hotel ankerplek

Ons anker en toe kan ons vir die eerste keer vandag ontspan. Die laatmiddag bring vir ons ’n ligte wind en die aand ’n windstilte. 

Laat middag

Iemand sing in die agtergrond.