Sunday, July 17, 2016

Lipsi Eiland. Dag 2.



16 Julie 2016. Saterdag.
 
Ons bly nog ’n dag in Lipso. Ons moet eers volgende Saterdag in Kalymnos wees om my suster, Elize en haar man Fanie, daar te ontmoet. Ons moet dus baie stadig vaar, want ons is redelik naby aan die eiland.

Ons klim die minibus en ry na ’n strandjie met die naam Platis Gialos. Dis ’n pragtige strand en die baaiers geniet hulle gate uit in die deurskynende water.

Platis Gialos strand
Platis Gialos baai

En ek en Archie? Ons het nie eers ons swembroeke gebring nie. In die bloedige hitte gaan ons nie swem nie, nee ons gaan stap ’n ent. Die pad is op en warm. Die uitsigte is nie so mooi nie, maar ons geniet die stap. Later is die pad af en warm.

Warm pad
Uitsig

Terug by die strand pyl ons reguit op die koelte van die taverna af. Skaduwee! Die honger oorval ons en swig voor oond vark met rys en is net betyds om die bussie terug te neem na die hawe.

Ons vriende Deon en Ryna, was in Istanbul tydens die staatsgreep en ons hoop hulle het ongedeerd daarvan afgekom. Hulle laat weet later hulle is veilig en ons is verlig. Hulle moet vanaand terug Suid-Afrika toe vlieg.

Ons hoor later hulle vlug is gekanselleer …

Saturday, July 16, 2016

Lipsi. Lipsi Eiland.



15 Julie 2016. Vrydag.

Dhiakoftou Baai tot Lipsi
 
’n Nuwe dag, ’n nuwe eiland. Ons vertrek na Lipsi, 37°17.695 N, 26°45.995 O, net 10 myl. Nog ’n lekker kort dag.

Gus waai net sterk genoeg dat ons kan seil en ons seil 1h05 min. Ons moet seker maak dat ons Maja se motor ook gebruik, want die batterye moet gelaai word. Dis ’n taamlike reguit pad na Lipsi en ons is sommer gou-gou daar.

Archie stuur reguit na die dorpskaai en ’n haweman wink ons nader. Ons doen die Griekse ding, kry Maja in posisie, gooi anker. Tru agteruit en maak aan die kaai vas. So maklik soos boomklim as die wind nie waai nie.

Lipsi is ’n klein kleurvolle eiland. Oral is mooi prettige vissersbote in die hawe. Dis asof hulle ’n besluit geneem het dat al die bootjies mooi geverf moet wees. 

Lipsi Hawe
Kleurvolle bootjies
Ou Pinke
 
Daar is ’n klomp jagte by die dorpskaai en nog ’n paar staan vreedsaam op anker in die baai. 

Lipsi Baai
Swemstrand
 
Die aand kruip almal uit hulle gate uit en al die tavernas sit vol honger, etende mense. Ons stap verby al die eetplekke en roofkyk in die mense se borde. Dis so interessant om te sien wat almal eet. Ons het natuurlik klaar geëet en word nie honger van al die reuke nie. Ons geniet net die atmosfeer. Dis gratis en verniet.

Die dag glip deur ons vingers en dit word nag.


Dhiakoftou Baai. Patmos Eiland.



14 Julie 2016. Donderdag.

Skala Patmos tot Dhiakoftou Baai
 
Vandag gaan ons net ’n hanetreetjie verder. Dis na die mooi Dhiakoftou Baai, 37°17.598 N, 26°33.759 O, 4.4 myl, nog steeds op Patmos Eiland. 

Grikou en Dhiakoftou Baai
 
Die klooster en chora bly deel van ons prentjie. Hou wag oor die sondes van die baai. Hier het soveel heiliges al geleef dat jy maar in jou spoor moet trap en die sondes van die mens moet vermy. 

Klooster en chora vanaf Maja
 
Die bodem van die see is oortrek van die seegras en ons kry ’n kol sand in 15 m water. Dis bietjie te diep na ons smaak, maar ons gooi anker en dit byt wonderbaarlik. Ons is toe heerlik geanker in die middel van ’n groot baai. Almal kom en gaan en vaar rondom ons. 

Dhiakoftou Baai
 
Die water is heerlik en ek sê ek gaan vier keer swem. En ek het. Dis heerlik om weer op anker te wees en in die water te klim as jy warm kry.

So gaan ’n luilekker dag verby, sonder Gus wat pla. Net soos ek daarvan hou.

Thursday, July 14, 2016

Skala Patmos. Patmos Eiland.



13 Julie 2016. Woensdag.

Port Augusta tot Skala Patmos
 
Patmos. Paulus se Patmos eiland. Dis waarheen ons vandag op pad is. En wel na die dorpskaai van Skala Patmos, 37°19.686N, 26°32.629 O, 10.5 myl. Ons groet vir Arki en vat die water.

Wat ’n verandering. Gus hou hom intoom, die see is nie groot nie. Dit is vir my ’n wonderwerk. My wens van gister is bewaarheid. Ou Archie wil wel seile span en ons seil vir 25 minute en motorseil vir 45 minute.

Die pad is kort en gou kom ons by die eiland wat deel is van Unesco se wêrelderfenisgebied. Daar is hope plek by die dorpskaai en Archie neem posisie in en tru. Ek gooi anker en daar is niemand op die kaai om ons te help nie. Koel en kalm doen ek en die kaptein dit sommer self. En hier is ons. 

Patmos chora en klooster
Skala Patmos
Skala Patmos
 
Dis vreeslik warm en ons sit maar rond totdat dit koeler word en toe durf ons die klooster van St Johannes en die chora (dorp bo-op die berg) aan. Ons klim die bus en gou is ons bo. 

Uitsig op Skala baai en dorp
Eensame kerkie

Die klooster lyk soos ’n Bisantynse kasteel en bouwerk het in 1088 begin. Die museum was ongelukkig gesluit en ons kon dit nie besigtig het nie.  Dit is baie indrukwekkend en daar is ’n doolhof van gange en trappe. Agter die toe deure bly die monnike. Ek wens ek kan sien hoe hulle kamers lyk, maar nou ja.

Klooster
Klonk-klonk klokke
15 m hoë mure
 
Die Roomse Kerk (deel van die klooster) is pragtig, met mooi plafonne en muurskilderye. Foto’s word baie baie plekke verbied en ek is so spyt dat ek nie die houtsneewerk van die altaar kon vaslê nie. Twaalf beeldhouers het in 1820 daaraan gewerk. Dis asemrowend mooi. Archie sê ook so, al is hy nie ’n kerkmens nie.

Mosaïek
Archie op dak
 
Nadat ons in al wat gang en trappe rondgeloop het, verlaat ons die klooster en loop in die chora rond. Die winkels is gesluit, want dit begin saans te lewe.

Ons loop op die klippaadjie na die heilige grot van Johannes. Hy is in 95 n.C. verban en het na Patmos gekom waar hy in ’n grot gebly het en die Apokalips geskryf het. Foto’s word verbied.

Op pad na St Johannes se grot
 
Ons klim die bus en gaan huis toe. Patmos is voorwaar ’n baie besonderse en mooi eiland. ’n Ware toeriste-aantreklikheid!