Saturday, July 16, 2016

Lipsi. Lipsi Eiland.



15 Julie 2016. Vrydag.

Dhiakoftou Baai tot Lipsi
 
’n Nuwe dag, ’n nuwe eiland. Ons vertrek na Lipsi, 37°17.695 N, 26°45.995 O, net 10 myl. Nog ’n lekker kort dag.

Gus waai net sterk genoeg dat ons kan seil en ons seil 1h05 min. Ons moet seker maak dat ons Maja se motor ook gebruik, want die batterye moet gelaai word. Dis ’n taamlike reguit pad na Lipsi en ons is sommer gou-gou daar.

Archie stuur reguit na die dorpskaai en ’n haweman wink ons nader. Ons doen die Griekse ding, kry Maja in posisie, gooi anker. Tru agteruit en maak aan die kaai vas. So maklik soos boomklim as die wind nie waai nie.

Lipsi is ’n klein kleurvolle eiland. Oral is mooi prettige vissersbote in die hawe. Dis asof hulle ’n besluit geneem het dat al die bootjies mooi geverf moet wees. 

Lipsi Hawe
Kleurvolle bootjies
Ou Pinke
 
Daar is ’n klomp jagte by die dorpskaai en nog ’n paar staan vreedsaam op anker in die baai. 

Lipsi Baai
Swemstrand
 
Die aand kruip almal uit hulle gate uit en al die tavernas sit vol honger, etende mense. Ons stap verby al die eetplekke en roofkyk in die mense se borde. Dis so interessant om te sien wat almal eet. Ons het natuurlik klaar geëet en word nie honger van al die reuke nie. Ons geniet net die atmosfeer. Dis gratis en verniet.

Die dag glip deur ons vingers en dit word nag.


No comments:

Post a Comment