Monday, June 27, 2016

Mytilini. Lesvos Eiland.



26 Junie 2016. Sondag. 

Kaloyerou Baai tot Mytilini
 
Vandag gaan ons na die hoofdorp van Lesvos, Mytilini, 39°05.862 N, 26°33.449 O, 10.5 myl. Hier gaan ons twee dae bly en ook uit Griekeland klok. Deon en Ryna ontmoet ons in Turkye.

Ons vaar rusig, want daar is nie haas nie en sommer gou-gou lê die dorp voor ons. 'n Pragtige kasteel pryk bo-op die heuwel.

Oggendskoot
Mytilini se kasteel
Mytilini
 
Ons vaar by die groot hawe in en vind ons weg na die Setur Marina waar ons gaan oornag. Die vasmeer is ’n nuwe ervaring vir ons in Griekeland, want hulle het vinger pontoons. Dis pontoons wat soos vingers uitsteek en jy maak langsaan vas, met snoettou en al. Ons is nie onbekend met die vasmeer metode nie, want in ons kursus in Durban het ons dit so gedoen.

Vinger pontoon
 
Die marinaman help ons met die toue en ons is vas. Dis ’n pragtige nuwe marina. Ek was eers gou wasgoed en toe gaan ons dorp toe. Mytilini is, nee was ’n toeriste-aantreklikheid.

Ons stap dorp toe en word talle kere gekonfronteer met kinders wat bedel. Gypsie kinders. Hulle vat nie nee vir ’n antwoord nie, totdat die juffrou stem sê: “NO!” Daarna is dit weer ’n seuntjie wat saam loop en hy hy net oë vir my kamera. Sy handjie kom na my toe, maar ek stoot dit weg en sê vir hom nee. Dit laat my soos 'n skurk en die vark in die verhaal voel.

Ons loop verder en mense, wat lyk soos Siriërs (ek weet nie eintlik hoe lyk Siriërs nie, maar hulle is nie Grieke of gypsies nie) val ons weer lastig en geld vra. Toe lyk almal vir my verdag. Elke mens op straat is ’n potensiële vlugteling en ek is ook lus om te vlug.

Ons stap in die oudorp rond. Dit is nou wel Sondagmiddag, maar dit lyk soos ’n spookdorp, ’n droewige dorp. Ek voel net so “sad” soos die dorp. Wat eens 'n besige, polsende toeriste dorp was, is depressief en dood. Baie straatkafees is toe. Die ander se stoele en tafels is uitgesit, maar dit staan leeg. 

Op die kaai
 
'n Siriër pa met ’n kleintjie in ’n stootwaentjie volg ons by ’n winkel in, al vraende vir geld. Die eienaar verwilder hom. Die hele dorp lei onder die vlugteling krisis. Toeriste kom nie meer na Mytilini toe nie. Wie wil nou heeldag met ’n skuldige gewete in ’n dorp rondloop omdat jy nie al jou skatte aan die armes wil uitdeel nie. 
 
Ons kyk darem na twee kerke. Die kerk van St Therapon is een van die mooiste kerke wat ek nog op die Griekse eilande gesien het.

Kerk van St Therapon
Binne
 
Ons stap terug marina toe en vermy die bedelaars. Pizza Fan verlei ons tot ’n pizza, wat goedkoop is en ons smul op Maja se dek. Een van die lekkerste pizza wat ek in ’n lang tyd geëet het.

’n Skielike wind- en reënstorm jaag ons in, koel die wêreld af  en in ’n japtrap is dit verby en die aand neem rustig by die dag oor.

Môre is dit boot en wasgoed was en skrop en polish vir ons gaste Deon en Ryna, van Aliwal-Noord se wêreld, wat Dinsdag by ons aansluit.


Kaloyerou Baai. Lesvos Eiland.

25 Junie 2016. Saterdag.

Skala Loutron tot Kaloyerou Baai

Wat ’n heerlike nagrus. Gus het so nou en dan gewaai, maar ons was stewig vasgeanker in ’n heerlike beskutte baai. 

Beskutte baai van Skala Loutron

Ons gaan vandag net ’n kort entjie vaar na Kaloyerou Baai, 39°00.989 N, 26°32.686 O, 5 myl, nog steeds in die Golf van Geras.
St Vasileios Rots met Pyrgoi in agtergrond

Daar is ’n mooi klein kerkie in die baai. Alleen staan hy daar met sy blou dak. Wag net vir ’n bruid om daar te trou. Ons bring die dag rustig deur, lees boek, swem , drink koue water, swem, eet ietsie, swem. Ons swem nie vir die lekker nie, nee, ons swem om af te koel. Dit is verskriklik warm.

Swem

Daar kom ’n eenvoudige klein ekskursie boot aan en ek dog hy is besig om af te brand. Daar kom rook agter uit en daar is n rooi gloed. Maar wat sien ons daar!? ’n Bruid en bruidegom is aan boord. En die rook kom van 'n "flare". Dis ’n troue! Hulle meer vas en klim uit, wit rok en al. Die musikante speel en sowaar, hulle stap op na die kerkie met al die gaste agterna. Ek hou hulle dop met die verkyker. Daar is nie plek vir al die gaste in die kerk nie. Die meeste staan buite. Te romanties. Die kaptein kry toe ’n brijante idee as my dogter, Michelle, eendag wil trou. Sy moet ’n bikini troue hê en in Griekeland in die ou kerkie trou!

Trou kerkie

Die nag 02:25 kom daar ’n jag in die baai aan en gooi anker. Baie snaaks. Ek wonder of daar nie Siriese vlugtelinge aan boord was nie. Ons is baie na aan Turkye … Ek bespied hulle met die verkyker, maar kan niks sien nie.

Friday, June 24, 2016

Skala Loutron. Lesvos Eiland.



24 Junie 2016. Vrydag.

Plomari tot Skala Loutron

Die wind draai in die nag … En in watter rigting? Hy waai nou vanuit die suide, reguit in die hawe. Nou staan sake so – Gus se rukwinde waai vanuit drie verskillende windrigtings en as hulle ons klaar geruk het, waai hy sieklik weer suid. Maja se anker is voor in die water en sy is vasgemaak met die twee vasmeertoue en twee ekstra “ springlines” aan die kaai. Nou word sy heen en weer geruk deur Gus en die golwe spoel by die hawe opening in en dan word ons heen en weer geslinger deur die golwe.

Natuurlik maak ek nie ’n oog toe nie en die kaptein? Slaap soos ’n flippen baba! Gus hou so teen 3:00 op waai en toe spoel daai golwe net groter in. Ek hou maar wag en kyk wat gebeur, dat ons nie teen die kaai vas gewaai word nie, want die anker is heeltyd onder spanning deur die wind en golwe. Iets na drie sluimer ek in en is weer 4:30 wakker.

Die Franse langs ons het genoeg gehad en vertrek en ek sê vir Archie ek bly nie vir nog ’n dag al hoppende hier nie. My hart is seer oor die Griekse aand wat ek gaan misloop en ons het nog nie eers die dorp verken nie.

Ons vertrek na Skala Loutron, 39°02.702 N, 26°31.688 O, 13.8 myl. Iewers het wind gewaai, want die deinings is groot. O, ek is moeg vir wind!

Die eiland is groen en baie mooi. Om omseil al die klippe in die see en kom by Golf van Yeras aan. Dis weer klippe en rotse en vlak water omseil en toe is ons by Skala Loutron. Daar staan drie ander bote op anker. Ons gooi en die anker byt goed. Ons moet reg wees vir die Fors 5 winde wat vanmiddag kom. En hulle het gekom!

Isidoro net oos van Plomari
Mooi berge en kranse
Omseil die klippe
Gevaarbaken
Skala Loutron

By die kaai staan ’n groot boot van YWAM – Youth with a mission. Hulle help met die Siriese vlugtelinge. Dis seker hulle af dag, want hulle baljaar op daai boot. Vrolike gelag klink in die baai op.

YWAM

Dis baie lekker op anker, want dit is beslis nou somer in Griekeland. So elke nou en dan koel ons in die see af.

Ons eet heerlike avokadopeer broodjies. Salig op die tong, soos engelpippie!

Heerlik


Plomari. Lesvos Eiland.



23 Junie 2016. Donderdag.

Mandraki tot Plomari
 
Ek lê nog in die bed met my koffie in my toe die kaptein se stem dringend sê: ”Ou vrou, ons moet gaan!” Vrydag lyk skielik erger en Saterdag, wat ’n stil dag sou wees, nog erger. Ons sal moet gaan.


Ons kry die boot inderhaas reg, trek toue in, anker op en uit die hawe na Plomari, 38°58.464 N, 26°22.161 O, 32.3 myl. Toe ons uit die hawe is, waai Gus dat dit klap, met rukwinde tot 29 knope. En dit van voor. Ek sê vir Archie ons moet teruggaan, maar dapper kaptein sê dat ons eers kyk hoe dit in die oop see lyk. Hy het mos hoeka gister gaan kyk hoe lyk die oop see en gesien dit lyk nie so erg vanuit die hoogte nie. Ons trek ons lewensbaadjies aan, want Maja se reëls sê met winde hoër as 20 knope, moet ons dit dra. Die deel tussen Chios en Oinoussa is bekend vir sy sterk winde. Gelukkig weet ek my suster Elize, is aan die bid.

Maja lig so aan die een kant op en dan sak sy weer as Gus se rukwind verby is. Ons vaar deur die windstraat, ek bedoel seestraat en die deinings in die oop see is groot. Nie so groot soos daai tyd met Elize en Annette nie, maar groot. Gus het bietjie bedaar en later word die see se deinings kleiner en Gus waai ligter, maar steeds op Maja se snoet. Ek sing nie, ek sit net en kyk vir daai golwe, een vir een.

So vaar ons myl vir myl, knoop vir knoop voort in die onbekende. Later kan ons die deinserige buitelyne van Lesvos sien. My hart is dankbaar. Oral in die geweste is kuspolisie wat die see patrolleer vir Siriese vlugtelinge. Een van hulle vaar reg op ons af en ek sit die radio gou aan vir ingeval hulle ons roep. Hulle roep nie, maar vaar naby ons verby en bespied ons met vêrkykers.

Die 32 myl gaan gouer verby as wat ons gedink het en ons nader Plomari. Ons gooi anker, Archie tru in en daar is niemand om te help nie. Ons bure by Mandraki het ons gewaarsku dat die kaai hoog is en Archie klim daai muur soos ’n rotsklimmer uit, maak die tou vas en gooi dit vir my. Toe is ons vas en ons gaan vir twee dae hier bly.

Plomari
Die hawe
Plomari
Kerk

Ons gaan dorp toe net om van Maja af te kom, want dit is snikheet en drink iets by ’n kafee onder ’n boom. Ons sal môre die dorp gaan ondersoek. Archie het my ook genooi vir Griekse kos, musiek en danse wat Vrydae aangebied word. En dis mos mos more Vrydag!

Gus waai hier baie deurmekaar. Van alle rigtings. Dan kom die windvlae van die noorde, dan van die weste en ook van die ooste. Die hawe is nie beskut teen die suide nie.

Die wind draai in die nag …